Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

Die groot menigte ander skape loof God en Christus

Die groot menigte ander skape loof God en Christus

“Redding het ons te danke aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.” – OP. 7:10.

LIED 14 Loof die aarde se nuwe Koning

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter uitwerking het ’n toespraak by ’n byeenkoms in 1935 op een jong man gehad?

DIE jong man was 18 jaar oud toe hy in 1926 gedoop is. Sy ouers was Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies daardie tyd genoem was. Hulle het drie seuns en twee dogters gehad, en het hulle grootgemaak om Jehovah God te dien en Jesus Christus na te volg. Net soos al die ander Bybelstudente van daardie tyd, het hierdie opregte jong man elke jaar by die Here se Aandmaal van die brood geëet en die wyn gedrink. Maar sy hoop vir die toekoms het verander toe hy ’n geskiedkundige toespraak met die titel “Die groot menigte” gehoor het. Hierdie toespraak is in 1935 deur J.F. Rutherford by ’n byeenkoms in Washington, D.C., VSA, gegee. Wat het die Bybelstudente by hierdie byeenkoms geleer?

2. Watter opwindende waarheid het broer Rutherford in sy toespraak verduidelik?

2 In sy toespraak het broer Rutherford verduidelik wie die “groot menigte” is wat in Openbaring 7:9 genoem is. Tot op hierdie stadium het die Bybelstudente gedink dat die groot menigte ’n groep mense was wat hemel toe sou gaan, maar wat nie so getrou soos die gesalfdes was nie. Broer Rutherford het die Bybel gebruik om te verduidelik dat die groot menigte nie gekies is om in die hemel te lewe nie, maar dat hulle Christus se ander skape * is wat die “groot verdrukking” sal oorleef en vir ewig op die aarde sal lewe (Op. 7:14). Jesus het belowe: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook inbring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word” (Joh. 10:16). Hierdie “ander skape” is lojale Getuies van Jehovah wat die hoop het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Matt. 25:31-33, 46). Kom ons kyk hoe hierdie straal van nuwe geestelike lig baie van Jehovah se knegte se lewens verander het, insluitende daardie 18-jarige broer s’n. – Ps. 97:11; Spr. 4:18.

DIE NUWE LIG VERANDER DUISENDE LEWENS

3-4. Wat het duisende mense by die byeenkoms in 1935 oor hulle hoop besef, en hoekom?

3 Dit was ’n opwindende oomblik by die byeenkoms toe die spreker die gehoor gevra het: “Sal almal wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief staan?” ’n Broer wat by daardie byeenkoms was, het gesê dat meer as helfte van die mense in die gehoor gestaan het. Toe het broer Rutherford gesê: “Kyk! Die groot menigte!” Daarna het almal in die gehoor uitgeroep van vreugde. Dié wat gestaan het, het besef dat hulle nie gekies is om in die hemel te lewe nie. Hulle het geweet dat hulle nie met God se gees gesalf is nie. Die volgende dag by die byeenkoms is 840 nuwe Getuies gedoop, en die meeste van hulle was deel van die ander skape.

4 Ná daardie toespraak het die jong man wat vroeër genoem is en duisende ander, opgehou om by die Here se Aandmaal van die brood te eet en die wyn te drink. Baie het dieselfde gevoel soos een nederige broer wat gesê het: “Die Gedenkmaal van 1935 was die laaste keer dat ek die brood geëet het en die wyn gedrink het. Ek het besef dat Jehovah my nie deur middel van sy heilige gees gesalf het om in die hemel te lewe nie. Ek het eerder die hoop gehad om op die aarde te lewe en om te help om dit ’n paradys te maak” (Rom. 8:16, 17; 2 Kor. 1:21, 22). Vanaf daardie tyd het die groot menigte al hoe meer geword, en hulle werk saam met die gesalfdes wat nog op die aarde is.

5. Hoe voel Jehovah oor persone wat opgehou het om van die Gedenkmaalembleme te gebruik?

5 Hoe voel Jehovah oor persone wat ná 1935 opgehou het om van die Gedenkmaalembleme te gebruik? En hoe voel Jehovah oor ’n gedoopte Getuie vandag wat glo dat hy of sy van die Gedenkmaalembleme moet gebruik, maar later besef dat hy of sy eintlik nie met heilige gees gesalf is nie? (1 Kor. 11:28). Party wat van die embleme gebruik het, het verkeerdelik gedink dat hulle met heilige gees gesalf is. Maar as hulle erken dat hulle ’n fout gemaak het, ophou om van die embleme te gebruik en aanhou om Jehovah getrou te dien, sal hy hulle as deel van die ander skape aanvaar. Al gebruik hulle nie van die embleme nie, woon hulle nog steeds die Gedenkmaal by omdat hulle baie dankbaar is vir wat Jehovah en Jesus vir hulle gedoen het.

’N WONDERLIKE HOOP

6. Wat het Jesus vir die engele gesê om te doen?

6 Omdat ons so na aan die groot verdrukking is, sal dit aanmoedigend wees om te kyk wat Openbaring hoofstuk 7 verder sê oor gesalfde Christene en die groot menigte ander skape. Jesus sê vir die engele om die vier winde van vernietiging terug te hou. Hulle moenie hierdie winde oor die aarde loslaat totdat alle gesalfde Christene geseël is, dit wil sê finaal deur Jehovah goedgekeur, is nie (Op. 7:1-4). As ’n beloning vir hulle getrouheid, sal Christus se gesalfde broers saam met hom in die hemel as konings en priesters regeer (Op. 20:6). Jehovah, Jesus en die engele sal baie bly wees wanneer hulle sien hoe die 144 000 gesalfdes hulle hemelse beloning ontvang.

Die groot menigte het wit klere aan en staan voor die stralende heerlikheid van die troon van God en voor die Lam met palmtakke in hulle hande (Sien paragraaf 7)

7. Wie het Johannes volgens Openbaring 7:9, 10 in ’n visioen gesien, en wat was hulle besig om te doen? (Sien prent op voorblad.)

7 Nadat Johannes oor hierdie 144 000 konings en priesters gepraat het, sien hy iets opwindends: “’n Groot menigte” wat Armageddon oorleef. Hierdie tweede groep is baie groter as die eerste groep, en ons weet nie presies hoeveel daar van hulle sal wees nie. (Lees Openbaring 7:9, 10.) Hulle “het wit klere” aan. Dit wys dat hulle hulle nie laat “besmet” het deur Satan se wêreld nie en dat hulle lojaal aan God en Christus gebly het (Jak. 1:27). Hulle roep uit dat hulle gered is as gevolg van wat Jehovah en Jesus, die Lam van God, gedoen het. En hulle het palmtakke in hulle hande, wat wys dat hulle Jesus as Jehovah se aangestelde Koning aanvaar. – Vergelyk Johannes 12:12, 13.

8. Wat sê Openbaring 7:11, 12 oor Jehovah se hemelse familie?

8 Lees Openbaring 7:11, 12. Wat gebeur wanneer dié in die hemel die groot menigte sien? Johannes sien dat almal in die hemel vreugdevol is, en hulle loof God wanneer hulle die groot menigte sien. Jehovah se hemelse familie sal baie bly wees om die vervulling van hierdie visioen te sien wanneer die groot menigte die groot verdrukking oorleef.

9. Wat doen die groot menigte volgens Openbaring 7:13-15 nou?

9 Lees Openbaring 7:13-15. Johannes het geskryf dat die groot menigte “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”. Dit wys dat hulle ’n skoon gewete en Jehovah se goedkeuring het (Jes. 1:18). Hulle is toegewyde, gedoopte Christene, wat sterk geloof in Jesus se offerande het en wat ’n verhouding met Jehovah het (Joh. 3:36; 1 Pet. 3:21). Daarom het hulle God se goedkeuring en kan hulle “dag en nag heilige diens” in die aardse deel van sy geestelike tempel verrig. Selfs nou is hulle ywerig en doen hulle die meeste van die predikings- en dissipelmaakwerk omdat God se Koninkryk die belangrikste ding in hulle lewe is. – Matt. 6:33; 24:14; 28:19, 20.

Persone wat deel is van die groot menigte ander skape kom uit die groot verdrukking en is baie vreugdevol (Sien paragraaf 10)

10. Watter versekering het die groot menigte, en watter belofte sal hulle sien waar word?

10 Die groot menigte wat uit die groot verdrukking sal kom, het die versekering dat God sal aanhou om vir hulle te sorg omdat “die Een wat op die troon sit . . . sy tent oor hulle [sal] uitsprei”. Die belofte waarna die ander skape uitsien, sal uiteindelik waar word: “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” – Op. 21:3, 4.

11-12. (a) Watter seëninge sal die groot menigte volgens Openbaring 7:16, 17 ontvang? (b) Wat kan die ander skape doen deur die Gedenkmaal by te woon, en wat motiveer hulle om dit te doen?

11 Lees Openbaring 7:16, 17. Op hierdie oomblik ly party van Jehovah se knegte honger omdat hulle nie genoeg geld het om kos te koop nie, of as gevolg van politieke probleme of oorloë. Ander is in die tronk as gevolg van hulle geloof. Maar persone wat deel is van die groot menigte, is baie bly omdat hulle weet dat nadat hulle die vernietiging van hierdie slegte wêreld oorleef, hulle altyd genoeg fisiese en geestelike kos sal hê. Wanneer Jehovah Satan se slegte wêreld vernietig, sal hy die groot menigte teen die “verskroeiende hitte” van sy woede beskerm. Ná die groot verdrukking, sal Jesus dié wat oorleef na die “waters van die [ewige] lewe lei”. Dink net aan die wonderlike hoop wat die groot menigte het. Van al die miljoene wat al ooit gelewe het, sal hulle dalk nooit sterf nie! – Joh. 11:26.

12 Die ander skape het ’n wonderlike hoop en waardeer regtig wat Jehovah en Jesus vir hulle gedoen het! Alhoewel Jehovah hulle nie gekies het om in die hemel te lewe nie, is hy net so lief vir hulle as wat hy vir die gesalfdes is. Albei groepe kan God en Christus loof. Een manier hoe hulle dit doen, is deur die Here se Aandmaal by te woon.

LOOF GOD EN CHRISTUS HEELHARTIG BY DIE GEDENKMAAL

Die brood en wyn wat by die Gedenkmaal omgestuur word, herinner ons dat Jesus gesterf het sodat ons kan lewe (Sien paragraaf 13-15)

13-14. Hoekom moet almal die Herdenking van Christus se dood bywoon?

13 In onlangse jare gebruik omtrent 1 uit 1 000 mense wat die Gedenkmaal bywoon, van die embleme. In die meeste gemeentes gebruik niemand van die embleme nie. Die meeste mense wat die Gedenkmaal bywoon, het die hoop om op die aarde te lewe. Hoekom woon hulle dan die Here se Aandmaal by? Hulle woon dit by vir dieselfde rede as wat mense ’n vriend se troue bywoon. Hulle woon die troue by omdat hulle wil wys dat hulle die paartjie wat trou, liefhet en ondersteun. Net so woon dié van die ander skape die Gedenkmaal by omdat hulle wil wys dat hulle Christus en die gesalfdes liefhet en ondersteun. Die ander skape woon ook die Gedenkmaal by om te wys dat hulle dankbaar is vir Jesus se offerande, wat dit vir hulle moontlik maak om vir ewig op die aarde te lewe.

14 Nog ’n belangrike rede hoekom die ander skape die Gedenkmaal bywoon, is omdat hulle gehoorsaam wil wees aan Jesus se opdrag. Toe Jesus saam met sy getroue apostels was en die Here se Aandmaal ingestel het, het hy gesê: “Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my” (1 Kor. 11:23-26). Daarom hou hulle aan om die Here se Aandmaal te herdenk, solank daar gesalfdes op die aarde is. En hulle nooi almal om die Gedenkmaal saam met hulle by te woon.   

15. Hoe kan ons God en Christus by die Gedenkmaal loof?

15 By die Gedenkmaal het ons die geleentheid om God en Christus te loof wanneer ons saam sing en bid. Die tema van die toespraak wat hierdie jaar gehou gaan word, is: “Waardeer wat God en Christus vir jou gedoen het!” Dit sal ons waardering vir Jehovah en Christus vergroot. Terwyl die brood en wyn omgestuur word, sal ons die geleentheid kry om na te dink oor wat dit verteenwoordig – Jesus se liggaam en bloed. En ons sal dink aan die liefde wat Jehovah aan ons bewys het toe hy toegelaat het dat sy Seun sterf sodat ons vir ewig kan lewe (Matt. 20:28). Almal wat lief is vir ons hemelse Vader en sy Seun sal die Gedenkmaal wil bywoon.

DANK JEHOVAH VIR DIE HOOP WAT HY JOU GEGEE HET

16. In watter opsig is die gesalfdes en die ander skape dieselfde?

16 Die gesalfdes en die ander skape is vir Jehovah ewe kosbaar. Jehovah het dieselfde prys vir al twee groepe betaal, die lewe van sy kosbare Seun. Die verskil tussen die twee groepe is dat hulle nie dieselfde hoop het nie. Al twee groepe moet lojaal aan God en Christus bly (Ps. 31:23). En onthou, Jehovah gee sy heilige gees aan elke persoon volgens wat hy nodig het, maak nie saak of hy gesalf of deel van die ander skape is nie.

17. Waarna sien die gesalfdes wat nog op die aarde is, uit?

17 Gesalfde Christene word nie gebore met die hoop om in die hemel te lewe nie. God gee hulle daardie hoop. Hulle dink aan hulle hoop, hulle bid daaroor en hulle sien daarna uit om hulle beloning in die hemel te kry. Hulle kan hulle nie eens indink hoe hulle geestelike liggaam sal wees nie (Fil. 3:20, 21; 1 Joh. 3:2). Maar hulle sien daarna uit om Jehovah, Jesus, die engele en die res van die gesalfdes te ontmoet en om saam met hulle in die Koninkryk in die hemel te wees.

18. Waarna sien die ander skape uit?

18 Die ander skape het die natuurlike begeerte om vir ewig op die aarde te lewe (Pred. 3:11). Hulle sien uit na die dag wanneer hulle kan help om die hele aarde in ’n paradys te verander. Hulle kan nie wag vir die dag wanneer hulle hulle eie huise sal bou, tuine sal plant en hulle kinders sal grootmaak in ’n wêreld sonder siekte nie (Jes. 65:21-23). Hulle sien daarna uit om die aarde te verken – sy berge, woude en oseane – en om Jehovah se skeppingswerke te studeer. Maar hulle sien veral daarna uit dat hulle vriendskap met Jehovah vir ewig al hoe sterker sal word.

19. Watter geleentheid gee die Gedenkmaal elkeen van ons, en op watter dag sal dit hierdie jaar gehou word?

19 Jehovah het vir elkeen van sy toegewyde knegte ’n wonderlike hoop vir die toekoms gegee (Jer. 29:11). Die Herdenking van Christus se dood gee elkeen van ons ’n wonderlike geleentheid om God en Christus te loof vir wat hulle vir ons gedoen het sodat ons die ewige lewe kan geniet. Die Gedenkmaal is sonder twyfel die belangrikste vergadering vir ware Christene. Dit sal op Saterdag 27 Maart 2021 ná sononder gehou word. Hierdie jaar sal party hierdie belangrike vergadering bywoon al word hulle vervolg. Ander sal die Gedenkmaal herdenk al is hulle in die tronk. Dit is ons hoop dat elke gemeente, groep en persoon die Gedenkmaal sal geniet terwyl Jehovah, Jesus en die hemelse deel van God se familie vanuit die hemel kyk!

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

^ par. 5 27 Maart 2021 is ’n spesiale dag vir Jehovah se Getuies. Daardie aand sal ons Christus se dood herdenk. Die meeste mense wat daardie Herdenking sal bywoon, is deel van die groep wat Jesus “die ander skape” genoem het. Watter opwindende waarheid het Jehovah se Getuies in 1935 geleer? Watter wonderlike hoop het die ander skape wat die groot verdrukking sal oorleef? En hoe kan die ander skape God en Christus loof wanneer hulle die Gedenkmaal bywoon?

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Die ander skape sluit persone in wat gedurende die laaste dae bymekaar gemaak word. Hulle volg Christus en het die hoop om vir ewig op die aarde te lewe. Die groot menigte is lede van die ander skape wat nog lewe wanneer Christus die mensdom gedurende die groot verdrukking oordeel, en hulle sal die groot verdrukking oorleef.