Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Inskripsie: “Mag Hagaf die seun van Hagav deur Jahweh Sabaot vervloek word”

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe word die Bybel deur ’n eertydse inskripsie ondersteun?

IN DIE Bible Lands Museum in Jerusalem is daar ’n steen met ’n inskripsie wat tussen die jaar 700-600 VHJ gemaak is. Die steen is in ’n grafgrot naby Hebron in Israel gevind. Die inskripsie sê: “Mag Hagaf die seun van Hagav deur Jahweh Sabaot vervloek word.” Hoe ondersteun hierdie inskripsie die Bybel? Dit wys dat mense in Bybeltye God se naam Jehovah, wat in eertydse Hebreeuse letters as JHWH geskryf word, geken het en dit in hulle alledaagse lewe gebruik het. In ander grafgrotte is daar ook inskripsies wat deur mense gemaak is wat daar bymekaargekom en weggekruip het. Baie keer het hulle God se naam sowel as ander name wat vorme van God se naam bevat het, op die mure geskryf.

Dr. Rachel Nabulsi van die Universiteit van Georgia het die volgende oor hierdie inskripsies gesê: “Die feit dat die naam JHWH herhaaldelik gebruik word, is belangrik. . . . Die [Bybel-] manuskripte en die inskripsies wys hoe belangrik JHWH in die lewe van Israel en Juda was.” Dit ondersteun die Bybel waar God se naam, wat in Hebreeuse letters as JHWH geskryf word, duisende kere verskyn. Baie keer het mense se name God se naam ingesluit.

Die woorde “Jahweh Sabaot”, wat op die steen gegraveer is, beteken “Jehovah van die leërmagte”. So dit lyk asof mense in Bybeltye God se naam en die uitdrukking “Jehovah van die leërmagte” gereeld gebruik het. Dit ondersteun ook die feit dat die Bybel die uitdrukking “Jehovah van die leërmagte” 283 keer in die Hebreeuse Geskrifte gebruik. Daardie uitdrukking verskyn meestal in die boeke Jesaja, Jeremia en Sagaria.