LEWENSVERHAAL
Ons het geleer om nooit vir Jehovah nee te sê nie
NÁ ’N ORKAAN was die water in die rivier baie modderig en het dit so vinnig gevloei dat dit groot rotse saamgesleep het. Ons moes aan die anderkant uitkom, maar die onstuimige water het die brug weggespoel. Ek en my man, Harvey, en ons tolk was baie bang en het hulpeloos gevoel. Die broers aan die anderkant het in spanning gekyk terwyl ons die rivier oorgesteek het. Eers moes ons ons karretjie op die agterkant van ’n trok kry wat net effens groter as ons karretjie was. Toe, sonder toue of kettings om die karretjie in plek te hou, het die trok stadig in die rivier ingery. Dit het soos ’n ewigheid gevoel en ons het Jehovah heeltyd gesmeek om ons te help. Maar uiteindelik het ons veilig aan die anderkant uitgekom. Dit was in 1971. Ons was aan die oostelike kus van Taiwan, duisende kilometers van ons geboorteland af. Kom ek vertel julle ons storie.
HOE ONS GELEER HET OM JEHOVAH LIEF TE KRY
Harvey was die oudste van vier broers. Sy familie het gedurende die baie moeilike ekonomiese tye van die 1930’s in Midland Junction, Wes-Australië in die waarheid gekom. Harvey het lief geword vir Jehovah en is gedoop toe hy 14 jaar oud was. Hy het vroeg in sy lewe geleer om nooit nee te sê vir teokratiese toewysings nie. As ’n seun het hy eenkeer nee gesê toe hy gevra is om Die Wagtoring by die vergadering te lees omdat hy gedink het dat hy nie kwalifiseer nie. Maar die broer wat met Harvey gepraat het, het hom gehelp om anders oor die saak te dink. Hy het gesê: “Wanneer iemand in Jehovah se organisasie jou vra om iets te doen, dink daardie persoon dat jy wel kwalifiseer.” – 2 Kor. 3:5.
Ek en my ma en my oudste suster het die waarheid in Engeland geleer. My pa was eers gekant teen die waarheid, maar het toe later die waarheid aanvaar. Ek is gedoop toe ek net nege jaar oud was, al het my pa nie van die idee gehou nie. Ek het vir myself die doelwit gestel om te pionier en om daarna ’n sendeling te
word. Maar my pa wou my nie toelaat om te pionier totdat ek 21 was nie. Ek was nie van plan om so lank te wag nie. So toe ek net 16 jaar oud was, het hy my toegelaat om by my oudste suster te gaan bly wat Australië toe getrek het. Ek het uiteindelik gepionier toe ek 18 geword het.Ek het Harvey in Australië ontmoet. Ons het al twee die begeerte gehad om Jehovah as sendelinge te dien. Ons het in 1951 getrou. Nadat ons twee jaar lank saam gepionier het, is ons gevra om op die kring te dien. Ons kring in Wes-Australië was baie groot, en daarom moes ons gereeld ver ry deur droë, afgeleë gebiede.
ONS DROOM WORD WAAR
In 1954 is ons genooi om die 25ste Gileadklas by te woon. Ons droom om sendelinge te word, sou binnekort waar word! Ons het per skip in New York aangekom en het met ’n intense Bybelstudiekursus begin. By Gilead moes ons ook Spaans leer, maar dit was moeilik vir Harvey omdat hy nie sy r’e kon rol nie.
Gedurende die kursus het die instrukteurs gesê dat persone wat in Japan wou gaan dien, hulle name kon neerskryf om Japannees te leer. Ons het besluit dat ons eerder Jehovah se organisasie sou toelaat om ons toewysing te kies. Kort daarna het Albert Schroeder, een van die Gileadinstrukteurs, uitgevind dat ons nie ons name neergeskryf het nie. Hy het vir ons gesê: “Dink nog ’n bietjie daaroor.” Toe hy later sien dat ons nog steeds nie ons name neergeskryf het nie, het hy gesê: “Ek en die ander instrukteurs het julle name neergeskryf. Kyk of julle Japannees onder die knie kan kry.” Dit was vir Harvey makliker om Japannese woorde uit te spreek.
Ons het in 1955 in Japan aangekom toe daar net 500 verkondigers in die hele land was. Harvey was 26, en ek was 24. Ons is na die hawestad Kobe gestuur, waar ons vier jaar lank gedien het. Toe was ons so bly om weer genooi te word om op die kring te dien en ons kring was naby die stad Nagoja. Ons was lief vir alles omtrent ons toewysing – die broers, die kos, die platteland. Maar kort voor lank het ons nog ’n geleentheid gekry om nie vir Jehovah nee te sê nie.
’N NUWE TOEWYSING BRING NUWE UITDAGINGS
Nadat ons drie jaar op die kring gedien het, het die tak in Japan ons gevra of ons bereid sou wees om Taiwan toe te gaan om vir die mense van die Amis-stam te preek. Party broers van die Amis-stam het afvalliges geword, en die * Ons was mal oor ons diens in Japan, en daarom was dit ’n moeilike besluit. Maar Harvey het geleer om nooit nee te sê vir ’n toewysing nie, so daarom het ons ingestem om te gaan.
tak in Taiwan het ’n broer nodig gehad wat Japannees kon praat om te help om die probleem op te los.Ons het in November 1962 daar aangekom. Taiwan het 2 271 verkondigers gehad, en die meeste van hulle was van die Amis-stam. Maar ons moes eers Chinees leer. Ons het net ’n handboek en ’n onderwyser gehad wat nie Engels gepraat het nie, maar ons het die taal geleer.
Kort nadat ons in Taiwan aangekom het, is Harvey as die takkneg aangestel. Die tak was klein so Harvey kon na sy verantwoordelikhede daar omsien en nog steeds tot drie weke per maand saam met die broers van die Amis-stam werk. Hy het ook van tyd tot tyd as streekopsiener gedien, en daarom moes hy toesprake by byeenkomste gee. Harvey kon toesprake in Japannees gegee het, want die broers van die Amis-stam sou hom verstaan het. Maar die regering het gesê dat godsdiensvergaderinge net in Chinees gehou moet word. So Harvey, wat nog met die taal gesukkel het, het die toesprake in Chinees gegee terwyl ’n broer dit in Amis getolk het.
Op daardie stadium was Taiwan onder die beheer van die weermag, so die broers moes permitte kry om byeenkomste te hou. Dit was nie maklik om permitte te kry nie en baie keer het die polisie lank gevat om dit te gee. As die polisie nie die permit teen die week van die byeenkoms gegee het nie, het Harvey in die polisiestasie gesit totdat hulle dit gee. Die taktiek het gewerk, want die polisie het gedink dat dit sleg sou lyk as ’n buitelander by die polisiestasie moes sit en wag.
DIE EERSTE KEER DAT EK ’N BERG MOES KLIM
Gedurende die weke wat ons saam met die broers spandeer het, moes ons gewoonlik vir ’n uur of meer stap, berge klim en deur riviere loop. Ek onthou toe ek vir die eerste keer ’n berg moes klim. Nadat ons ons ontbyt vinnig afgesluk het, het ons om 5:30 vm. met die bus ver gery om by ’n dorpie uit te kom. Toe het ons deur ’n wye rivierbedding gestap en ’n steil berg geklim. Dit was so steil dat die broer wat voor my geklim het se voete op dieselfde hoogte as my oë was.
Daardie oggend het Harvey saam met ’n paar broers van daardie gebied velddiens gedoen, terwyl ek alleen in ’n klein dorpie vir mense gepreek het wat Japannees gepraat het. Teen omtrent een-uur het ek pap gevoel omdat ek ’n hele paar uur laas geëet het. Toe ek uiteindelik weer by Harvey uitgekom het, was die ander broers al weg. Harvey het ’n paar tydskrifte geruil vir drie rou eiers. Hy het vir my gewys hoe om die eier te eet deur ’n klein gaatjie aan albei kante te maak en dit te suig. Alhoewel dit nie baie lekker geklink het nie, het ek een probeer. Maar wie sou die derde eier kry? Ek het dit gekry, want Harvey het nie kans gesien om my by die berg af te dra as ek flou geword het van die honger nie.
’N BAD WAT EK NOOIT SAL VERGEET NIE
By een kringbyeenkoms het ek ’n interessante ondervinding gehad. Ons het by ’n broer gebly wat reg langs ’n Koninkryksaal gebly het. In die Amis-kultuur is dit baie belangrik om te was, en daarom het die kringopsiener se vrou alles vir my en Harvey reggekry sodat ons onsself kon was. Harvey was besig, en daarom het hy my gevra om eerste te was. Sy het ’n emmer koue water, ’n emmer warm water en ’n leë kom gebring. Ek was verbaas om te sien dat sy dit buite gesit het waar die broers by die Koninkryksaal dit kon sien, want die broers was besig om voorbereidings vir die byeenkoms te tref. Ek het vir haar gevra vir ’n gordyn of so iets. Sy het vir my ’n deurskynende plastiekgordyn gebring! Ek het daaraan gedink om agter die huis te gaan was, maar daar was ganse wat hulle koppe deur die draad gesteek het en reg was om enige een te pik wat te na aan hulle gekom het. Ek het by myself gedink: ‘Die broers is te besig om te sien dat ek myself was. En as ek nie was nie, sal dit hulle laat sleg voel. So kom ek doen dit net en kry klaar!’ En toe het ek.
LEKTUUR VIR DIE AMIS-STAM
Harvey het besef dat die broers van die Amis-stam gesukkel het om geestelik vordering te maak omdat baie van hulle nie kon lees en skryf nie en omdat hulle nie lektuur in hulle taal gehad het nie. Omdat hulle onlangs begin het om Romeinse letters te gebruik om die Amis-taal te skryf, het dit na ’n goeie idee gelyk om die broers te leer om hulle eie taal te lees. Dit was baie werk, maar uiteindelik kon die broers op hulle eie studeer. Amis-lektuur het in die laat 1960’s beskikbaar geword, en in 1968 is Die Wagtoring vir die eerste keer in die Amis-taal gepubliseer.
Maar die regering wou nie hê dat ons publikasies moes versprei wat nie in Chinees was nie. So om probleme te vermy, is die Amis-Wagtoring op verskillende maniere gepubliseer. Byvoorbeeld, ons het sewe maande lank ’n tweetalige Wagtoring gebruik wat in Mandaryns en in die Amis-taal geskryf is. As enige een vrae gehad het, het dit gelyk asof ons die tydskrif gebruik het om die plaaslike mense Chinees te leer. Van daardie tyd af het Jehovah se organisasie baie lektuur in die Amis-taal voorsien om hierdie Hand. 10:34, 35.
dierbare mense te help om Bybelwaarhede te leer. –’N TYDPERK VAN REINIGING
In die 1960’s en 1970’s het baie broers van die Amis-stam nie volgens God se standaarde gelewe nie. Omdat hulle nie Bybelbeginsels goed verstaan het nie, het party van hulle onsedelike lewens gelei, dronk geword, gerook of betelneut gekou. Harvey het baie gemeentes besoek om die broers te help om te verstaan hoe Jehovah oor hierdie dinge voel. Gedurende een van hierdie besoeke het ons die ondervinding gehad wat aan die begin genoem is.
Nederige broers was bereid om veranderinge te maak, maar ongelukkig het baie broers dit nie gedoen nie. Oor ’n tydperk van 20 jaar het die aantal verkondigers in Taiwan baie verminder: van meer as 2 450 tot omtrent 900. Dit was baie hartseer. Maar ons het geweet dat Jehovah nooit ’n organisasie sou seën wat onrein is nie (2 Kor. 7:1). Uiteindelik was die gemeentes ontslae van hierdie slegte gebruike, en met Jehovah se seën is daar nou meer as 11 000 verkondigers in Taiwan.
Vanaf die 1980’s het ons gesien dat die broers en susters van die Amis-gemeentes geestelik sterker word, en Harvey kon meer tyd saam met die Chinese mense spandeer. Dit het hom baie bly gemaak om met die mans van ’n hele paar susters te studeer en om hulle te help om Getuies te word. Eenkeer het hy vir my gesê hoe bly hy was toe een van daardie mans vir die eerste keer tot Jehovah gebid het. Ek het ook die voorreg gehad om baie mense te help om nader aan Jehovah te kom. Ek het selfs die voorreg gehad om saam met die seun en dogter van een van my vorige Bybelstudente by die tak in Taiwan te dien.
’N HARTSEER VERANDERING
Ek is nou sonder my maat. Nadat ons amper 59 jaar getroud was, het my geliefde Harvey, ná ’n moeilike stryd teen kanker, op 1 Januarie 2010 gesterf. Hy was amper 60 jaar lank in die voltydse diens! Ek mis hom nog verskriklik baie. Maar dit was so wonderlik om saam met hom in twee fassinerende lande te dien toe die predikingswerk daar begin het! Ons het geleer om twee moeilike Asiatiese tale te praat, en in Harvey se geval ook te skryf.
’n Paar jaar later het die Bestuursliggaam besluit dat dit as gevolg van my ouderdom vir my beter sou wees om terug te gaan Australië toe. Ek het eers gedink: ‘Ek wil nie Taiwan verlaat nie.’ Maar Harvey het vir my geleer om nooit vir Jehovah se organisasie nee te sê nie, en daarom was ek nie van plan om dit te doen nie. Ek het later besef dat dit ’n goeie besluit was om terug te gaan Australië toe.
Vandag werk ek gedurende die week by die tak in Australië en oor naweke doen ek velddiens saam met ’n plaaslike gemeente. Ek is bly dat ek my Japannees en Chinees kan gebruik om by Bethel toere te gee. Maar ek sien baie uit na die opstanding omdat ek weet dat Harvey, wat geleer het om nooit vir Jehovah nee te sê nie, nou veilig in Sy geheue is. – Joh. 5:28, 29.
^ par. 14 Al is Chinees nou die amptelike taal in Taiwan, was Japannees baie jare lank die amptelike taal daar. En daarom het baie stamme in Taiwan op daardie stadium Japannees gepraat.