Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

“Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie”

“Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie”

ONS JAARTEKS VIR 2022: “Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie.” – PS. 34:10.

LIED 4 “Jehovah is my Herder”

IN HIERDIE ARTIKEL *

Dawid het gevoel dat hy selfs in moeilike tye “niks goeds kortkom nie” (Sien paragraaf 1-3) *

1. In watter moeilike situasie het Dawid homself bevind?

 DAWID moes vlug omdat sy lewe in gevaar was. Saul, die magtige koning van Israel, was vasbeslote om hom dood te maak. Toe Dawid kos nodig gehad het, het hy na die stad Nob gegaan en daar het hy vir vyf brode gevra (1 Sam. 21:1, 3). Later het hy en sy manne in ’n grot skuiling gevind (1 Sam. 22:1). Hoe het Dawid in hierdie situasie beland?

2. Hoe het Saul homself in ’n gevaarlike situasie geplaas? (1 Samuel 23:16, 17)

2 Saul was groen van jaloesie omdat Dawid so gewild was en baie gevegte gewen het. Saul het ook geweet dat sy eie ongehoorsaamheid veroorsaak het dat Jehovah hom as koning van Israel verwerp het en dat Jehovah Dawid as die toekomstige koning gekies het. (Lees 1 Samuel 23:16, 17.) Maar Saul was nog steeds op daardie stadium die koning van Israel en het ’n groot leërmag en baie ondersteuners gehad, en daarom moes Dawid vir sy lewe vlug. Het Saul regtig gedink dat hy God kon keer om Dawid koning te maak? (Jes. 55:11). Die Bybel sê nie, maar van een ding kan ons seker wees: Saul het homself in ’n gevaarlike posisie geplaas. Almal wat teen God veg, verloor altyd!

3. Hoe het Dawid gevoel, al was sy omstandighede nie maklik nie?

3 Dawid was ’n nederige man. Hy het nie gekies om die koning van Israel te word nie. Jehovah het hom gekies om koning te wees (1 Sam. 16:1, 12, 13). Saul het Dawid begin haat. Maar Dawid het Jehovah nie blameer omdat sy lewe in gevaar was nie. En hy het ook nie gekla omdat hy min kos gehad het en in ’n grot moes wegkruip nie. Dit was dalk toe hy in daardie einste grot weggekruip het dat hy die pragtige loflied geskryf het wat die woorde van ons temateks insluit: “Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie.” – Ps. 34:10.

4. Watter vrae sal ons bespreek, en hoekom is dit belangrik dat ons dit bespreek?

4 Vandag het baie van Jehovah se knegte soms nie genoeg kos of ander dinge wat hulle nodig het nie. * Dit was veral die geval gedurende die onlangse pandemie. En omdat die “groot verdrukking” nou voor die deur is, kan ons verwag dat dinge al hoe moeiliker sal raak (Matt. 24:21). Met dit in gedagte, kom ons bespreek die volgende vier vrae: In watter sin het Dawid “niks goeds [kortgekom] nie”? Hoekom moet ons leer om tevrede te wees met wat ons het? Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah vir ons sal sorg? En hoe kan ons nou vir die toekoms voorberei?

“EK SAL NIKS KORTKOM NIE”

5-6. Hoe help Psalm 23:1-6 ons om te verstaan wat Dawid bedoel het toe hy gesê het dat God se knegte “niks goeds [sal] kortkom nie”?

5 Wat het Dawid bedoel toe hy gesê het dat Jehovah se knegte “niks goeds [sal] kortkom nie”? Dawid se woorde in Psalm 23 help ons om te verstaan wat hy bedoel het. (Lees Psalm 23:1-6.) Aan die begin van daardie Psalm het hy gesê: “Jehovah is my Herder. Ek sal niks kortkom nie.” In die res van daardie Psalm noem Dawid dinge wat regtig belangrik is, soos al die seëninge wat Jehovah hom gee omdat hy Jehovah as sy Herder aanvaar. Jehovah lei hom “op die paaie van regverdigheid” en Hy ondersteun Dawid lojaal in goeie tye en in slegte tye. Dawid besef dat sy lewe in Jehovah se “groen weivelde” nie sonder probleme sal wees nie. Soms sal hy mismoedig wees en voel asof hy “in die vallei van diep skaduwee” loop. En hy sal vyande hê. Maar omdat Jehovah sy Herder is, sal hy nie “vir enige gevaar [bang wees] nie”.

6 So nou het ons die antwoord op ons vraag: In watter sin het Dawid “niks goeds [kortgekom] nie”? Hy het alles gehad wat hy nodig gehad het om na aan Jehovah te bly. Sy geluk het nie van materiële dinge afgehang nie. Dawid was tevrede met wat Jehovah voorsien het. Wat vir hom die belangrikste was, was Jehovah se seën en beskerming.

7. Volgens Lukas 21:20-24, watter moeilike situasie moes die Christene in Judea in die eerste eeu deurmaak?

7 Dawid se woorde wys vir ons hoe belangrik dit is om die regte beskouing van materiële dinge te hê. Ons kan ons materiële dinge beslis geniet, maar ons besittings moenie die belangrikste ding in ons lewe wees nie. Dit is iets wat die Christene in Judea in die eerste eeu besef het. (Lees Lukas 21:20-24.) Jesus het hulle gewaarsku dat die tyd sou kom wanneer Jerusalem “deur leërmagte omsingel” sou word. Dan sou hulle “na die berge [moes] begin vlug”. Dit sou hulle lewe red, maar hulle sou baie dinge moes agterlaat. ’n Paar jaar gelede het Die Wagtoring die volgende gesê: “Hulle het hulle landerye en huise agtergelaat en nie eers hulle besittings uit hulle huise geneem nie. Omdat hulle op die beskerming en ondersteuning van Jehovah vertrou het, het hulle sy aanbidding voor alle ander dinge gestel wat dalk belangrik gelyk het.”

8. Watter belangrike les leer ons uit wat met die Christene in Judea in die eerste eeu gebeur het?

8 Watter belangrike les leer ons uit wat met die Christene in Judea in die eerste eeu gebeur het? Die Wagtoring wat ons nou net genoem het, het gesê: “Daar kan dus toetse voorlê wat ons beskouing van materiële dinge op die proef sal stel; is dit die heel belangrikste ding of is die redding wat almal aan God se kant gaan geniet belangriker? Ja, ons vlug sal miskien ontberinge en opofferinge insluit. Ons sal gereed moet wees om te doen wat ook al nodig is, soos ons eerste-eeuse voorgangers wat [uit] Judea . . . gevlug het.” *

9. Watter versekering kry ons uit die apostel Paulus se raad aan die Hebreërs?

9 Kan jy dink hoe moeilik dit vir daardie Christene moes gewees het om amper alles agter te laat en om oor te begin? Hulle moes vertrou dat Jehovah in hulle basiese behoeftes sou voorsien. Maar die raad wat die apostel Paulus vir hulle gegee het vyf jaar voordat die Romeine Jerusalem omsingel het, het hulle baie gehelp. Paulus het vir hulle gesê: “Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” (Heb. 13:5, 6). Die Christene wat Paulus se raad toegepas het, het dit makliker gevind om aan te pas by hulle nuwe, eenvoudige lewe. Hulle was seker dat Jehovah in hulle basiese behoeftes sou voorsien. Paulus se woorde gee ons ook die versekering dat Jehovah dieselfde vir ons sal doen.

“ONS [SAL] MET HIERDIE DINGE TEVREDE WEES”

10. Watter “geheim” het Paulus met ons gedeel?

10 Paulus het soortgelyke raad aan Timoteus gegee, wat ons ook vandag kan help. Hy het geskryf: “As ons dan kos en klere het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Tim. 6:8). Beteken dit dat ons nie ’n lekker ete kan geniet, ’n gerieflike huis kan hê of van tyd tot tyd nuwe klere kan koop nie? Nee, dit is nie wat Paulus bedoel het nie. Paulus sê dat ons tevrede moet wees met wat ons het (Fil. 4:12). Dit was Paulus se “geheim”. Ons kosbaarste besitting is ons verhouding met ons God, en nie enige materiële dinge wat ons het nie. – Hab. 3:17, 18.

Die Israeliete het ‘niks kortgekom’ gedurende hulle 40 jaar in die wildernis nie. Kan ons tevrede wees met wat ons nou het? (Sien paragraaf 11) *

11. Watter les oor tevredenheid leer ons uit Moses se woorde aan die Israeliete?

11 Daar is dalk ’n verskil tussen wat ons dink ons nodig het en wat Jehovah weet ons nodig het. Dink aan wat Moses vir die Israeliete gesê het nadat hulle 40 jaar lank in die wildernis was: “Jehovah julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy is deeglik bewus van julle trek deur hierdie groot wildernis. Hierdie 40 jaar was Jehovah julle God met julle, en julle het niks kortgekom nie” (Deut. 2:7). Gedurende daardie 40 jaar het Jehovah vir die Israeliete manna gegee om te eet. Hulle klere – die einste klere wat hulle gedra het toe hulle Egipte verlaat het – het nie stukkend geraak nie (Deut. 8:3, 4). Al het party van die Israeliete miskien gedink dat Jehovah se voorsienings nie genoeg was nie, het Moses hulle herinner dat hulle alles gehad het wat hulle nodig gehad het. Jehovah sal bly wees as ons leer om tevrede te wees met wat ons het. Hy wil hê dat ons selfs sy eenvoudigste voorsienings moet waardeer en dankbaar moet wees daarvoor.

VERTROU DAT JEHOVAH VIR JOU SAL SORG

12. Wat wys dat Dawid op Jehovah vertrou het en nie op homself nie?

12 Dawid het geweet dat Jehovah lojaal is en dat hy verskriklik baie omgee vir almal wat hom liefhet. Al was Dawid se lewe in gevaar toe hy Psalm 34 geskryf het, het hy met oë van geloof gesien hoe “die engel van Jehovah” rondom hom kamp opslaan (Ps. 34:7). Miskien het Dawid Jehovah se engel vergelyk met ’n soldaat wat in die veld kamp opslaan en heeltyd op die uitkyk is na die vyand. Al was Dawid ’n magtige vegter en al het Jehovah belowe dat hy koning sou word, het Dawid nie op sy eie vermoë staatgemaak om ’n slinger of ’n swaard te gebruik om die vyand te oorwin nie (1 Sam. 16:13; 24:12). Hy het op God vertrou en die vaste vertroue gehad dat Jehovah se engel ‘dié red wat op Hom vertrou’. Ons verwag natuurlik nie dat Jehovah ’n wonderwerk gaan doen om ons vandag te beskerm nie. Maar ons weet dat almal wat op Jehovah vertrou, die ewige lewe sal kry, selfs al sterf hulle nou.

Gedurende die groot verdrukking sal die leërmagte van Gog van Magog ons dalk in ons huise probeer aanval. Maar ons sal nie bang hoef te wees nie, want Jesus en die engele sal sien wat hulle doen en sal ons kom red (Sien paragraaf 13)

13. Hoekom sal ons soos maklike teikens lyk wanneer Gog van Magog ons aanval, maar hoekom sal ons nie bang hoef te wees nie? (Sien prent op voorblad.)

13 Binnekort sal ons vertroue in Jehovah se vermoë om ons te beskerm, getoets word. Wanneer die groep nasies wat in die Bybel Gog van Magog genoem word, God se volk aanval, sal dit lyk asof ons lewens in gevaar is. Ons sal oortuig moet wees dat Jehovah ons kan en wil red. Vir die nasies sal ons soos onbeskermde skape lyk (Eseg. 38:10-12). Ons sal nie wapens hê nie en ons sal nie weet hoe om oorlog te voer nie. Die nasies sal dink dat ons ’n maklike teiken is. Hulle sal nie sien wat ons met ons oë van geloof sien nie – leërmagte engele wat rondom God se volk kamp opslaan en gereed is om ons te verdedig. Hoe sal die nasies hulle kan sien? Hulle het geen geloof in God nie. Hulle gaan hulle boeglam skrik as die hemelse leërmagte ons kom red! – Op. 19:11, 14, 15.

BEREI NOU VOOR VIR DIE TOEKOMS

14. Wat kan ons nou doen om vir die toekoms voor te berei?

14 Wat kan ons nou doen om vir die toekoms voor te berei? Eerstens, ons moet die regte beskouing van materiële dinge hê en besef dat ons hierdie dinge eendag sal moet agterlaat. Ons moet ook tevrede wees met wat ons het en ons grootste vreugde vind in ons verhouding met Jehovah. Hoe beter ons ons God leer ken, hoe meer oortuig sal ons wees dat hy ons kan beskerm wanneer Gog van Magog ons aanval.

15. Watter ondervindinge het Dawid oortuig dat Jehovah hom nooit sou teleurstel nie?

15 Kom ons bespreek nog iets wat Dawid gehelp het om vir moeilike tye voor te berei en wat ons vandag ook kan help om dieselfde te doen. Dawid het gesê: “Kom ondervind en sien self dat Jehovah goed is. Gelukkig is die man wat by hom beskerming soek” (Ps. 34:8). Daardie woorde wys vir ons hoekom Dawid geweet het dat hy op Jehovah kon vertrou. Dawid het baie op Jehovah staatgemaak, en sy God het hom nooit teleurgestel nie. Toe Dawid jonk was, het hy teen Goliat gaan veg, en hy het vir daardie magtige Filistynse reus gesê: “Vandag sal Jehovah jou in my hand gee” (1 Sam. 17:46). Later, toe Dawid koning Saul gedien het, het daardie koning ’n hele paar keer probeer om hom dood te maak. Maar “Jehovah [was] met Dawid” (1 Sam. 18:12). Omdat Jehovah Dawid in die verlede gehelp het, het Dawid geweet dat Jehovah hom met sy probleme sou help.

16. Hoe kan ons ondervind dat Jehovah goed is?

16 Hoe meer ons nou op Jehovah se leiding staatmaak, hoe groter sal ons vertroue wees dat hy ons in die toekoms sal kan red. Byvoorbeeld, miskien sal ons moet vra om by die werk af te kry sodat ons ’n byeenkoms kan bywoon. Of miskien sal ons moet vra dat ons werkrooster aangepas moet word sodat ons al die vergaderinge kan bywoon en meer velddiens kan doen. Ons sal geloof nodig hê om dit te kan doen. Maar sê nou ons baas sê nee en ons verloor ons werk? Het ons die vertroue dat Jehovah ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie en dat hy altyd in ons basiese behoeftes sal voorsien? (Heb. 13:5). Baie broers en susters in die voltydse diens kan ons van hulle ondervindinge vertel van hoe Jehovah hulle gehelp het toe hulle hom die nodigste gehad het. Jehovah is getrou.

17. Wat is die jaarteks vir 2022, en hoekom is dit gepas?

17 Met Jehovah aan ons sy hoef ons nie bang te wees vir wat in die toekoms gaan gebeur nie. Ons God sal ons nooit in die steek laat solank as wat ons sy belange eerste in ons lewe stel nie. Om ons te herinner aan hoe belangrik dit is om nou voor te berei vir die moeilike dae wat voorlê en om op Jehovah te vertrou, het die Bestuursliggaam Psalm 34:10 as ons jaarteks vir 2022 gekies: “Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie.”

LIED 38 Hy maak jou sterk

^ Ons jaarteks vir 2022 kom uit Psalm 34:10: “Dié wat Jehovah dien, sal niks goeds kortkom nie.” Baie van Jehovah se getroue knegte het min materiële dinge. So hoekom kan ons sê dat hulle “niks goeds kortkom nie”? En hoe kan hierdie vers ons help om onsself voor te berei vir die moeilike tye wat voorlê?

^ Sien “Vrae van Lesers” in Die Wagtoring van 15 September 2014.

^ Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1999, bl. 19.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Selfs toe Dawid in ’n grot weggekruip het, het hy Jehovah se voorsienings waardeer.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het Jehovah vir hulle manna gegee om te eet en gesorg dat hulle klere nie stukkend raak nie.