Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

Hoekom ons die Gedenkmaal bywoon

Hoekom ons die Gedenkmaal bywoon

“Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.” – LUK. 22:19.

LIED 20 Die gawe van u Seun

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Veral wanneer dink ons aan ’n geliefde wat gesterf het? (b) Wat het Jesus die aand voor sy dood ingestel?

 MAAK nie saak hoe lank ons geliefdes al dood is nie, ons vergeet nooit van hulle nie. En ons dink veral aan hulle elke jaar op die datum van hulle dood.

2 Regoor die wêreld kom miljoene van ons elke jaar bymekaar op die herdenking van die dood van iemand vir wie ons baie lief is – Jesus Christus (1 Pet. 1:8). Ons kom bymekaar om aan die een te dink wat sy lewe as ’n losprys vir ons gegee het om ons van sonde en die dood te red (Matt. 20:28). Om die waarheid te sê, Jesus wou hê dat sy volgelinge sy dood moet herdenk. Die aand voor sy dood het hy ’n spesiale aandmaal ingestel en gesê: “Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.” – Luk. 22:19.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Onder dié wat die Herdenking van Christus se dood bywoon, is daar ’n klein groepie mense wat ’n hemelse hoop het. Maar miljoene mense wat ’n aardse hoop het, woon dit ook by. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom albei groepe daarna uitsien om die Gedenkmaal elke jaar by te woon. Ons sal ook bespreek hoe dit ons help as ons die Gedenkmaal bywoon. Kom ons kyk eers na hoekom die gesalfdes dit bywoon.

HOEKOM DIE GESALFDES DIE GEDENKMAAL BYWOON

4. Hoekom eet die gesalfdes van die brood en drink hulle van die wyn by die Gedenkmaal?

4 Elke jaar sien die gesalfdes daarna uit om die Gedenkmaal by te woon. By die Gedenkmaal eet hulle van die brood en drink hulle van die wyn. Hoekom is dit gepas dat hulle dit doen? Om daardie vraag te beantwoord, kom ons kyk wat gebeur het op die laaste aand van Jesus se lewe op aarde. Ná die Pasgamaaltyd het Jesus die herdenking ingestel wat later die Here se Aandmaal genoem is. Hy het die brood en die wyn vir sy 11 getroue apostels gegee en vir hulle gesê dat hulle dit moet eet en drink. Jesus het met hulle gepraat oor twee verbonde, of ooreenkomste – die nuwe verbond en die Koninkryksverbond (Luk. 22:19, 20, 28-30). * Hierdie verbonde het dit vir die apostels sowel as ’n beperkte aantal ander mense moontlik gemaak om konings en priesters in die hemel te word (Op. 5:10; 14:1). Net die gesalfdes wat nog op die aarde is, mag by die Gedenkmaal van die brood eet en van die wyn drink omdat hulle deel is van hierdie twee verbonde.

5. Wat weet die gesalfdes oor hulle hoop?

5 Nog ’n rede hoekom die gesalfdes daarna uitsien om die Gedenkmaal by te woon, is omdat dit vir hulle ’n geleentheid gee om na te dink oor hulle hoop. Jehovah het vir hulle ’n ongelooflike hoop gegee – om onsterflikheid in die hemel te kry, om saam met Jesus Christus en die res van die 144 000 te dien en om die massiewe voorreg te hê om in die teenwoordigheid van Jehovah God te wees! (1 Kor. 15:51-53; 1 Joh. 3:2). Die gesalfdes weet dat hulle genooi is om hierdie voorregte in die hemel te geniet. Maar om daardie voorregte te kry, moet hulle tot hulle dood getrou bly (2 Tim. 4:7, 8). Dit gee die gesalfdes groot vreugde om na te dink oor hulle hemelse hoop (Tit. 2:13). Maar wat van die “ander skape”? (Joh. 10:16). Hoekom woon hulle die Gedenkmaal by?

HOEKOM DIE ANDER SKAPE DIE GEDENKMAAL BYWOON

6. Hoekom woon die ander skape die Gedenkmaal elke jaar by?

6 Die ander skape sien ook daarna uit om die Gedenkmaal by te woon, maar hulle eet nie van die brood en drink nie van die wyn nie. In 1938 is dié met die aardse hoop vir die eerste keer genooi om die Gedenkmaal by te woon. Die Wagtoring van 1 Maart 1938 het gesê: “Dit is vir die [ander skape] heeltemal gepas om by hierdie vergadering te wees en om te kyk na wat daar gedoen word. . . . Dit is vir hulle ook ’n vreugdevolle tyd.” Net soos gaste bly is om by ’n troue te wees, is die ander skape bly om by die Gedenkmaal te wees.

7. Hoekom sien die ander skape uit na die Gedenkmaaltoespraak?

7 Die ander skape dink ook na oor hulle hoop. Hulle sien uit na die Gedenkmaaltoespraak omdat dit baie fokus op wat Jesus en die 144 000 gedurende die duisend jaar vir getroue mense op die aarde gaan doen. Onder die leiding van hulle Koning Jesus Christus sal die 144 000 help om die aarde in ’n paradys te verander en sal hulle gehoorsame mense help om volmaak te word. Vir die miljoene mense wat die Gedenkmaal bywoon, is dit baie opwindend om na te dink oor hoe Bybelprofesieë waar sal word, soos die profesieë wat in Jesaja 35:5, 6; 65:21-23 en Openbaring 21:3, 4 gevind word. Deur hulle verbeelding te gebruik en hulleself en hulle geliefdes in die nuwe wêreld te sien, versterk hulle hulle hoop vir die toekoms en hulle vasbeslotenheid om nooit op te hou om Jehovah te dien nie. – Matt. 24:13; Gal. 6:9.

8. Wat is nog ’n rede hoekom die ander skape die Gedenkmaal bywoon?

8 Nog ’n rede hoekom die ander skape die Gedenkmaal bywoon, is omdat hulle wil wys dat hulle die gesalfdes liefhet en ondersteun. God se Woord het voorspel dat daar ’n hegte band tussen die gesalfdes en dié met die aardse hoop sou wees. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

9. Volgens die profesie in Sagaria 8:23, watter band sou daar wees tussen die ander skape en die gesalfdes?

9 Lees Sagaria 8:23. Hierdie profesie gee ’n pragtige beskrywing van hoe die ander skape oor hulle gesalfde broers en susters sou voel. Die woorde “’n Jood” en “julle” verwys na dieselfde groep – die gesalfdes wat nog op die aarde is (Rom. 2:28, 29). Die “tien manne uit al die tale van die nasies” verwys na die ander skape. In watter sin gryp die ander skape ‘die kleed van ’n Jood styf vas’? Hulle doen dit deur hulle aan die gesalfdes te verbind en deur saam met hulle vir Jehovah rein aanbidding te gee. So die ander skape sal natuurlik op die aand van die Gedenkmaal wil wys hoe lief hulle is vir die gesalfdes deur saam met hulle daar te wees.

10. Hoe het Jehovah die profesie in Esegiël 37:15-19, 24, 25 waar laat word?

10 Lees Esegiël 37:15-19, 24, 25. Jehovah het hierdie profesie waar laat word deur te sorg dat daar ’n onbreekbare band van eenheid tussen die gesalfdes en die ander skape is. Die profesie praat van twee stokke. Dié met die hemelse hoop is soos die stok “vir Juda” (die stam waaruit die konings van Israel gekies is), en dié met die aardse hoop is soos die stok “van Efraim”. * Jehovah sou die twee groepe verenig sodat hulle “een stok” sou word. Dit beteken dat hulle in eenheid onder hulle een Koning, Jesus Christus, sou dien. Elke jaar woon die gesalfdes en die ander skape die Gedenkmaal by, nie as twee aparte groepe nie, maar as “een kudde onder een herder”. – Joh. 10:16.

11. Wat is die belangrikste manier waarop “die skape” wat in Matteus 25:31-36, 40 genoem word, Christus se broers ondersteun?

11 Lees Matteus 25:31-36, 40. “Die skape” in hierdie illustrasie stel regverdige mense in die tyd van die einde voor wat die aardse hoop het – dit wil sê, die ander skape. Die belangrikste manier waarop hulle Christus se gesalfde broers lojaal ondersteun, is deur hulle te help met hulle massiewe verantwoordelikheid om regoor die wêreld te preek en dissipels te maak. – Matt. 24:14; 28:19, 20.

12-13. Op watter ander maniere ondersteun die ander skape Christus se broers?

12 Elke jaar, ’n paar weke voor die Gedenkmaal, ondersteun die ander skape Christus se broers deur deel te neem aan ’n wêreldwye kampanje om belangstellendes na die Gedenkmaal te nooi. (Sien die venster “ Is jy besig om vir die Gedenkmaalseisoen voor te berei?”) Hulle help ook om al die nodige reëlings te maak sodat elke gemeente regoor die wêreld die Gedenkmaal kan hou, selfs al het die meeste gemeentes geen gesalfdes nie. Die ander skape beskou dit as ’n groot voorreg om Christus se broers so te kan ondersteun. En Jesus beskou alles wat hulle vir sy gesalfde broers doen asof hulle dit vir hom persoonlik doen. – Matt. 25:37-40.

13 Kom ons bespreek nou nog ’n paar redes hoekom ons almal die Gedenkmaal bywoon, of ons nou die aardse of die hemelse hoop het.

HOEKOM ONS ALMAL DIE GEDENKMAAL BYWOON

14. Hoe het Jehovah en Jesus gewys dat hulle baie lief is vir ons?

14 Ons is baie dankbaar vir Jehovah en Jesus se liefde vir ons. Jehovah het op baie maniere gewys dat hy ons liefhet, maar die grootste bewys van God se onselfsugtige liefde vir ons was toe hy sy kosbare seun gestuur het om vir ons te sterf (Joh. 3:16). En Jesus het ook gewys hoe baie hy ons liefhet toe hy sy lewe vir ons gegee het (Joh. 15:13). Ons sal Jehovah en Jesus nooit kan terugbetaal vir wat hulle vir ons gedoen het nie. Maar ons kan elke dag wys dat ons dankbaar is deur hoe ons ons lewe lei (Kol. 3:15). En wanneer ons die Gedenkmaal bywoon, gee dit vir ons die geleentheid om na te dink oor hulle liefde vir ons sowel as ons liefde vir hulle.

15. Hoekom is die gesalfdes sowel as die ander skape baie dankbaar vir die losprys?

15 Ons is baie dankbaar vir die losprys (Matt. 20:28). Die gesalfdes is baie dankbaar vir die losprys, want dit maak hulle wonderlike hoop moontlik. Omdat hulle geloof het in die losprys, het Jehovah hulle as regverdig verklaar en hulle as sy kinders aangeneem (Rom. 5:1; 8:15-17, 23). Die ander skape is ook dankbaar vir die losprys. Omdat hulle geloof het in die losprys, is hulle rein in God se oë, kan hulle vir hom heilige diens verrig en het hulle die hoop om “uit die groot verdrukking [te] kom” (Op. 7:13-15). Een manier hoe die gesalfdes en die ander skape wys dat hulle die losprys waardeer, is deur die Gedenkmaal elke jaar by te woon.

16. Wat is nog ’n rede hoekom ons die Gedenkmaal bywoon?

16 Nog ’n rede hoekom ons die Gedenkmaal bywoon, is omdat ons aan Jesus gehoorsaam wil wees. Of ons nou die hemelse of die aardse hoop het, elkeen van ons wil gehoorsaam wees aan die opdrag wat Jesus gegee het toe hy die Gedenkmaal ingestel het: “Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.” – 1 Kor. 11:23, 24.

HOE DIE GEDENKMAAL ONS ALMAL HELP

17. Hoe help die Gedenkmaal ons om nader aan Jehovah te kom?

17 Ons kom nader aan Jehovah (Jak. 4:8). Soos ons gesien het, gee die Gedenkmaal vir ons die geleentheid om na te dink oor die hoop wat Jehovah vir ons gegee het en oor sy groot liefde vir ons (Jer. 29:11; 1 Joh. 4:8-10). Wanneer ons nadink oor ons wonderlike hoop en oor God se ewige liefde vir ons, versterk dit ons liefde vir Jehovah sowel as ons vriendskap met hom. – Rom. 8:38, 39.

18. Wat motiveer Jesus se voorbeeld ons om te doen?

18 Ons word gemotiveer om Jesus se voorbeeld na te volg (1 Pet. 2:21). Gedurende die Gedenkmaalseisoen fokus ons op Bybelverslae oor Jesus se laaste week op die aarde, sy dood en sy opstanding. En op die aand van die Gedenkmaal word ons herinner aan Jesus se liefde vir ons (Ef. 5:2; 1 Joh. 3:16). Wanneer ons oor Jesus se selfopofferende voorbeeld lees en daaroor nadink, motiveer dit ons “om te lewe net soos hy gelewe het”. – 1 Joh. 2:6.

19. Hoe kan ons in God se liefde bly?

19 Ons word meer vasbeslote om in God se liefde te bly (Jud. 20, 21). Ons bly in God se liefde deur alles te doen wat ons kan om gehoorsaam aan hom te wees, om sy naam te heilig en om sy hart bly te maak (Spr. 27:11; Matt. 6:9; 1 Joh. 5:3). Wanneer ons die Gedenkmaal bywoon, maak dit ons meer vasbeslote om elke dag op ’n manier te lewe wat vir Jehovah wys dat ons vir ewig in sy liefde wil bly!

20. Watter goeie redes het ons om die Gedenkmaal by te woon?

20 Of ons nou die hemelse of die aardse hoop het, ons almal het goeie redes om die Gedenkmaal by te woon. Wanneer ons dit elke jaar doen, herdenk ons die dood van iemand vir wie ons lief is, Jesus Christus. En ons dink veral aan die grootste daad van liefde – die liefde wat Jehovah beweeg het om sy Seun as ’n losprys te gee. Hierdie jaar sal die Gedenkmaal op Vrydag 15 April 2022 ná sononder gehou word. Ons is lief vir Jehovah en vir sy Seun, en daarom sal niks ons keer om by die Gedenkmaal te wees nie.

LIED 16 Loof Jah vir sy Seun, die Gesalfde

^ Ons almal sien elke jaar daarna uit om die Gedenkmaal by te woon, of ons nou die hemelse of die aardse hoop het. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons volgens die Bybel die Gedenkmaal moet bywoon en hoe dit ons help as ons dit bywoon.

^ Vir meer inligting oor die nuwe verbond en die Koninkryksverbond, sien die artikel “Julle sal ‘’n koninkryk van priesters’ word” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2014, bl. 15-17.

^ Vir meer inligting oor die profesie van die twee stokke wat in Esegiël hoofstuk 37 gevind word, sien die boek Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!, bl. 130-135, par. 3-17.