Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

“Maak die beste gebruik van julle tyd”

“Maak die beste gebruik van julle tyd”

“Hou . . . aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, en maak die beste gebruik van julle tyd.” – EF. 5:15, 16.

LIED 8 Jehovah is ons toevlug

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe kan ons tyd saam met Jehovah spandeer?

 ONS geniet dit baie om tyd te spandeer saam met mense vir wie ons lief is. Paartjies wat gelukkig getroud is, hou baie daarvan om ’n rustige aand saam te geniet. Jongmense geniet dit om tyd saam met hulle goeie vriende te spandeer. En ons almal geniet dit baie om met ons broers en susters te assosieer. Maar wat ons die meeste geniet, is om tyd saam met ons God te spandeer. Ons kan dit doen deur tot hom te bid, deur sy Woord te lees en deur na te dink oor sy wil en sy pragtige eienskappe. Ja, die tyd wat ons saam met Jehovah spandeer, is beslis vir ons baie kosbaar! – Ps. 139:17.

2. Wat kan vir ons ’n uitdaging wees?

2 Ons geniet dit baie om tyd saam met Jehovah te spandeer. Maar omdat ons so besig is, kan dit moeilik wees om tyd te maak vir geestelike dinge. Ons werk, ons gesinsverantwoordelikhede en ander dinge wat ons moet doen, kan so baie van ons tyd vat dat ons miskien voel dat ons net nie genoeg tyd het om te bid, te studeer of om na te dink oor wat ons leer nie.

3. Wat is nog iets wat ons tyd kan steel?

3 Daar is nog iets wat ons tyd kan steel. As ons nie versigtig is nie, kan dinge soos ontspanning so baie van ons tyd vat dat ons nie genoeg tyd het om nader aan Jehovah te kom nie. Ons almal het van tyd tot tyd ’n bietjie ontspanning nodig. Maar selfs goeie vorme van ontspanning kan soveel van ons tyd steel dat ons min tyd vir geestelike dinge oorhet. Ons moet ontspanning op sy plek hou. – Spr. 25:27; 1 Tim. 4:8.

4. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel gaan ons bespreek hoekom ons die regte prioriteite moet stel. Ons gaan ook bespreek hoe ons die beste gebruik kan maak van ons tyd saam met Jehovah en hoe dit ons help wanneer ons dit doen.

MAAK WYSE BESLUITE; STEL DIE REGTE PRIORITEITE

5. Hoe kan die raad in Efesiërs 5:15-17 ’n jong persoon help om die beste lewe te kies?

5 Kies die beste lewe. Jongmense dink baie aan wat hulle met hulle lewe wil doen. Aan die een kant moedig hulle onderwysers en hulle ongelowige familielede hulle miskien aan om universiteit toe te gaan sodat hulle ’n goeie werk kan kry en baie geld kan maak. Dit sal heel moontlik baie van hulle tyd vat. Aan die ander kant moedig hulle ouers en hulle vriende in die gemeente hulle dalk aan om hulle lewe in Jehovah se diens te gebruik. Wat sal ’n jong persoon wat vir Jehovah lief is, help om die beste besluit te maak? Dit sal vir hom goed wees om Efesiërs 5:15-17 te lees en om daaroor na te dink. (Lees.) Nadat hy hierdie verse gelees het, kan hy homself vra: ‘Wat is “die wil van Jehovah”? Watter besluit sal hom gelukkig maak? Watter keuse sal my help om die beste gebruik te maak van my tyd?’ Onthou, “die dae is goddeloos”, en hierdie wêreld onder Satan se beheer sal binnekort tot ’n einde kom. Dit sal wys wees om ons lewe te gebruik op ’n manier wat Jehovah gelukkig sal maak.

6. Watter keuse het Maria gemaak, en hoekom was dit ’n wyse keuse?

6 Stel die regte prioriteite. Om die beste gebruik te maak van ons tyd, moet ons soms tussen twee aktiwiteite kies wat nie verkeerd is nie. Kyk byvoorbeeld wat gebeur het toe Jesus vir Maria en Marta gaan kuier het. Marta was so opgewonde dat Jesus vir hulle kom kuier dat sy vir hom ’n groot ete voorberei het. Maar Maria het eerder gekies om by Jesus te gaan sit en na hom te luister. Al het Marta niks verkeerds gedoen nie, het Jesus gesê dat Maria “die beste deel gekies” het (Luk. 10:38-42, vtn.). Maria het seker later vergeet wat hulle daardie dag geëet het, maar ons kan seker wees dat sy nooit vergeet het wat sy by Jesus geleer het nie. Net soos daardie tydjie wat Maria saam met Jesus gespandeer het vir haar kosbaar was, is die tyd wat ons saam met Jehovah spandeer vir ons ook kosbaar. Hoe kan ons die beste gebruik maak van daardie tyd?

MAAK DIE BESTE GEBRUIK VAN JOU TYD SAAM MET JEHOVAH

7. Hoekom is dit baie belangrik om te bid, te studeer en om na te dink oor wat ons leer?

7 Om te bid, te studeer en om na te dink oor wat ons leer, is deel van ons aanbidding. Wanneer ons bid, praat ons met ons hemelse Vader, wat baie lief is vir ons (Ps. 5:7). Wanneer ons die Bybel studeer, is ons eintlik besig om God, die Bron van alle wysheid, te “leer ken” (Spr. 2:1-5). Ons dink na oor Jehovah se pragtige eienskappe en oor al die wonderlike dinge wat hy vir ons en vir alle mense wil doen. Kan jy aan ’n beter manier dink om jou tyd te gebruik? Maar wat kan ons help om die beste gebruik te maak van die tyd wat ons opsysit om te bid, te studeer en om na te dink oor wat ons leer?

Kan jy ’n stil plekkie vind waar jy persoonlike studie kan doen? (Sien paragraaf 8-9)

8. Watter les leer ons uit die verslag van toe Jesus na die wildernis gegaan het?

8 Probeer om ’n stil plek te kies. Kyk na Jesus se voorbeeld. Voordat Jesus sy bediening hier op die aarde begin het, het hy vir 40 dae na die wildernis toe gegaan (Luk. 4:1, 2). Daar kon Jesus in stilte tot Jehovah bid en nadink oor sy Vader se wil vir hom. Dit het hom natuurlik voorberei vir die toetse wat vir hom voorgelê het. Hoe kan Jesus se voorbeeld ons help? As ons deel is van ’n groot familie, is dit nie altyd vir ons moontlik om ’n stil plekkie in die huis te vind nie. Maar miskien sal ons buite ’n stil plekkie kan vind. Dit is wat Julie doen wanneer sy tyd saam met Jehovah in gebed wil spandeer. Sy en haar man bly in ’n klein woonstelletjie in Frankryk, en dit is vir haar moeilik om ’n stil plekkie te vind waar sy alleen kan wees. “Daarom gaan stap ek elke dag in die park,” sê Julie. “Daar kan ek alleen wees, fokus en lekker met Jehovah gesels.”

9. Al was Jesus verskriklik besig, hoe het hy gewys dat sy verhouding met Jehovah vir hom kosbaar was?

9 Jesus het ’n baie besige lewe gehad. Gedurende sy bediening hier op die aarde was hy baie keer omring deur mense wat van sy tyd en aandag wou gehad het. Eenkeer het “die hele stad . . . reg voor die deur bymekaargekom” om hom te sien. Maar Jesus het nog steeds tyd gemaak vir Jehovah. Nog voordat die son opgekom het, het hy “’n afgeleë plek” gevind waar hy alleen tyd saam met sy Vader kon spandeer. – Mark. 1:32-35.

10-11. Volgens Matteus 26:40, 41, watter goeie raad het Jesus vir sy dissipels in die tuin van Getsemane gegee, maar wat het toe gebeur?

10 Op die laaste aand voor sy dood, toe sy bediening tot ’n einde gekom het, het Jesus weer eens na ’n stil plekkie gesoek waar hy kon dink en waar hy kon bid. Hy het so ’n plekkie in die tuin van Getsemane gevind (Matt. 26:36). Daar het Jesus vir sy dissipels goeie raad oor gebed gegee.

11 Kyk na wat gebeur het. Toe hulle by die tuin van Getsemane aangekom het, was dit baie laat, miskien al ná middernag. Jesus het sy apostels gevra om ‘wakker te bly’, en hy het toe gaan bid (Matt. 26:37-39). Maar terwyl hy gebid het, het hulle aan die slaap geraak. Toe Jesus sien dat hulle slaap, het hy vir hulle gesê: “Hou aan waak en bid aanhoudend.” (Lees Matteus 26:40, 41.) Hy het besef dat hulle baie stres ondervind het en dat hulle moeg was. Jesus het meegevoel vir hulle gehad en het erken dat ‘die vlees swak is’. Maar Jesus het nog twee keer gaan bid, en elke keer toe hy teruggekom het, het sy dissipels geslaap in plaas daarvan om te bid. – Matt. 26:42-45.

Kan jy tyd maak om te bid wanneer jy nie moeg voel nie? (Sien paragraaf 12)

12. Wat kan ons doen as ons soms te gestres of te moeg voel om te bid?

12 Kies die regte tyd. Soms voel ons miskien te gestres of te moeg om te bid. As dit al met jou gebeur het, wees verseker dat jy nie alleen is nie. Wat kan jy doen? Party wat gewoonlik aan die einde van die dag bid, het gevind dat dit hulle help as hulle ’n bietjie vroeër in die aand bid, wanneer hulle nie so moeg is nie. Party het gevind dat dit hulle help om te konsentreer as hulle in ’n sekere posisie bid, soos byvoorbeeld terwyl hulle regop sit of kniel. Maar sê nou jy voel te angstig of te mismoedig om te bid? Sê vir Jehovah hoe jy voel. Jy kan seker wees dat ons genadige Vader sal verstaan. – Ps. 139:4.

Kan jy die versoeking weerstaan om gedurende die vergaderinge op boodskappe en e-posse te reageer? (Sien paragraaf 13-14)

13. Hoe kan elektroniese toestelle van ons tyd saam met Jehovah steel?

13 Moenie toelaat dat jou aandag afgelei word terwyl jy studeer nie. Gebed is nie die enigste manier om ons verhouding met Jehovah te versterk nie. Nog maniere om nader aan God te kom, is deur God se Woord te studeer en deur vergaderinge by te woon. Wat kan jy doen om die beste gebruik te maak van jou tyd terwyl jy studeer en terwyl jy vergaderinge bywoon? Vra jouself: ‘Wat lei my aandag gewoonlik af wanneer ek by die vergaderinge is of wanneer ek probeer studeer?’ Is dit dalk oproepe, e-posse of boodskappe op jou foon of op ’n ander elektroniese toestel? Vandag gebruik miljoene mense sulke toestelle. Volgens party navorsers kan dit ’n mens se aandag aflei as jy net ’n selfoon naby jou het. ’n Professor in sielkunde sê: “Jy konsentreer nie op wat jy besig is om te doen nie. Jou kop is iewers anders.” Voor ’n byeenkoms word ons gewoonlik gevra om ons elektroniese toestelle so te stel dat dit nie ander sal steur nie. Kan ons miskien dieselfde doen wanneer ons alleen is sodat ons toestelle ons nie steur terwyl ons tyd saam met Jehovah spandeer nie?

14. Volgens Filippense 4:6, 7, hoe sal Jehovah ons help om gefokus te bly?

14 Vra Jehovah om jou te help om gefokus te bly. As jou gedagtes dwaal terwyl jy studeer of wanneer jy by ’n vergadering is, kan jy Jehovah vra om jou te help. As jy bekommerd of angstig is, sal dit miskien nie vir jou maklik wees om op te hou dink aan jou probleme en om op geestelike dinge te fokus nie, maar dit is baie belangrik dat jy dit doen. Bid vir die vrede van God, wat nie net jou hart nie, maar ook jou verstand, sal beskerm. – Lees Filippense 4:6, 7.

TYD SAAM MET JEHOVAH LEI TOT SEËNINGE

15. Noem een manier hoe dit ons help wanneer ons tyd saam met Jehovah spandeer.

15 As ons tyd maak om met Jehovah te praat, na hom te luister en aan hom te dink, sal dit ons baie help. Hoe so? Eerstens, jy sal beter besluite maak. Die Bybel verseker ons: “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word” (Spr. 13:20). So wanneer ons tyd saam met Jehovah, die Bron van wysheid, spandeer, sal ons wyser word. Jy sal sien hoe jy hom gelukkiger kan maak en hoe jy keuses kan vermy wat hom sal seermaak.

16. Hoe help dit ons om beter onderrigters te word wanneer ons tyd saam met Jehovah spandeer?

16 Tweedens, jy sal ’n beter onderrigter word. Wanneer ons die Bybel met iemand studeer, is een van ons belangrikste doelwitte om die student te help om nader aan Jehovah te kom. Hoe meer ons met ons hemelse Vader kommunikeer, hoe sterker sal ons liefde vir hom word en hoe beter sal ons ons student kan help om Hom lief te kry. Dink aan Jesus se voorbeeld. Jesus het met soveel waardering en liefde oor sy Vader gepraat dat sy dissipels nie anders kon as om vir Jehovah lief te wees nie. – Joh. 17:25, 26.

17. Hoe help gebed en persoonlike studie ons om sterker geloof op te bou?

17 Derdens, jou geloof sal sterker word. Dink aan wat gebeur wanneer jy God vir leiding, vir vertroosting of vir sy ondersteuning vra. Elke keer wanneer Jehovah daardie gebede beantwoord, word jou geloof sterker (1 Joh. 5:15). Wat kan jou nog help om sterker geloof op te bou? Persoonlike studie. Want die Bybel sê mos dat “geloof volg . . . op wat gehoor word” (Rom. 10:17). Maar om sterk geloof op te bou, moet ons meer doen as om net kennis in te neem. Wat moet ons nog doen?

18. Hoekom is dit belangrik om na te dink oor wat ons leer? Gee ’n voorbeeld.

18 Ons moet nadink oor wat ons leer. Kyk na die voorbeeld van die skrywer van Psalm 77. Hy het baie angstig gevoel omdat hy gedink het dat hy en die ander Israeliete Jehovah se goedkeuring verloor het. Hy was so angstig daaroor dat hy soms nie eers kon slaap nie (vers 2-8). Wat het hy gedoen? Hy het vir Jehovah gesê: “Ek sal nadink oor alles wat u doen en peins oor u handelinge” (vers 12). Die psalmis het natuurlik geweet van alles wat Jehovah in die verlede vir sy volk gedoen het, maar hy het nog steeds gewonder: “Het God vergeet om medelye te betoon? Of het sy woede sy genade laat ophou?” (vers 9). Die psalmis het nagedink oor alles wat Jehovah in die verlede gedoen het en aan al die kere toe Jehovah genadig teenoor mense was (vers 11). Wat was die gevolg? Die psalmis het oortuig geword dat Jehovah sy volk nie sou verlaat nie (vers 15). Net so sal jou geloof ook sterker word as jy nadink oor alles wat Jehovah alreeds vir sy volk gedoen het en oor wat hy vir jou persoonlik gedoen het.

19. Wat is nog ’n seëning wat ons sal kry as ons tyd saam met Jehovah spandeer?

19 Vierdens, jou liefde vir Jehovah sal sterker word. Dit is die heel belangrikste seëning wat jy sal kry as jy tyd saam met Jehovah spandeer. Meer as enige ander eienskap, sal liefde ons motiveer om Jehovah te gehoorsaam, om opofferings te maak om hom gelukkig te maak en om in moeilike tye te volhard (Matt. 22:37-39; 1 Kor. 13:4, 7; 1 Joh. 5:3). ’n Sterk vriendskap met Jehovah is die kosbaarste besitting wat enige iemand kan hê! – Ps. 63:1-8.

20. Hoe beplan jy om die beste gebruik te maak van jou tyd saam met Jehovah?

20 Onthou, om te bid, om te studeer en om na te dink oor wat ons leer, is deel van ons aanbidding. Net soos Jesus, moet jy ’n stil plekkie probeer vind waar jy tyd saam met Jehovah kan spandeer. Raak ontslae van enige iets wat jou aandag kan aflei. Vra Jehovah om jou te help om te fokus wanneer jy met geestelike dinge besig is. As jy nou die beste gebruik maak van jou tyd, sal Jehovah jou met ewige lewe in God se nuwe wêreld beloon. – Mark. 4:24.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

^ Jehovah is ons beste Vriend. Ons vriendskap met hom is vir ons verskriklik kosbaar, en ons wil hom beter leer ken. Net soos dit tyd neem om iemand te leer ken, neem dit ook tyd om ’n vriendskap met Jehovah op te bou. Hoe kan ons in vandag se besige lewe tyd maak om nader aan ons hemelse Vader te kom, en hoekom is dit vir ons goed om dit te doen?