Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

Jehovah seën ons moeite om die Gedenkmaal te herdenk

Jehovah seën ons moeite om die Gedenkmaal te herdenk

“Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.” – LUK. 22:19.

LIED 19 Die Here se Aandmaal

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Hoekom woon ons elke jaar die Gedenkmaal by?

 JESUS het amper 2 000 jaar gelede vir ons gesterf, wat dit vir ons moontlik maak om vir ewig te lewe. Op die aand voordat hy gesterf het, het Jesus sy volgelinge beveel om sy liefdevolle offerande te onthou deur middel van ’n eenvoudige seremonie wat brood en wyn insluit. – 1 Kor. 11:23-26.

2 Ons is gehoorsaam aan Jesus se bevel omdat ons hom baie liefhet (Joh. 14:15). Elke jaar gedurende die Gedenkmaalseisoen wys ons ons waardering vir wat hy gedoen het deur tyd te maak om te bid en na te dink oor wat sy dood vir ons beteken. Ons doen ook graag meer in die bediening en moedig soveel mense as moontlik aan om hierdie spesiale geleentheid saam met ons by te woon. En ons is natuurlik vasbeslote om nie toe te laat dat enige iets in ons pad staan om die Gedenkmaal by te woon nie.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons kyk na drie maniere hoe Jehovah se volk hulle bes gedoen het om Jesus se dood te herdenk: (1) deur die patroon wat Jesus ingestel het, weer te begin volg, (2) deur ander na die Gedenkmaal te nooi en (3) deur die Gedenkmaal te herdenk ten spyte van moeilike omstandighede.

DIE PATROON WAT JESUS INGESTEL HET, WORD WEER GEVOLG

4. Watter waarhede word elke jaar by die Gedenkmaal beklemtoon, en hoekom moet hierdie waarhede vir ons baie belangrik wees? (Lukas 22:19, 20)

4 Ons luister elke jaar by die Gedenkmaal na ’n Bybeltoespraak wat duidelike antwoorde gee op ’n hele paar vrae. Ons leer hoekom alle mense ’n losprys nodig het en hoe die dood van een man vir die sondes van baie kan betaal. Ons word herinner aan wat die brood en die wyn voorstel en wie dit moet eet en drink. (Lees Lukas 22:19, 20.) En ons dink na oor die seëninge wat wag op dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe (Jes. 35:5, 6; 65:17, 21-23). Hierdie waarhede moet vir ons baie belangrik wees. Miljarde mense verstaan dit nie, en hulle waardeer nie hoe waardevol Jesus se offerande is nie. Hulle herdenk ook nie die Herdenking van sy dood volgens die patroon wat hy ingestel het nie. Hoekom is dit so?

5. Wat het met die patroon gebeur wat Jesus ingestel het nadat die meeste van die apostels gesterf het?

5 Kort nadat die meeste van Jesus se apostels gesterf het, het valse Christene deel van die gemeente geword (Matt. 13:24-27, 37-39). Hulle het “die waarheid . . . verdraai om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:29, 30). Een van die ‘verdraaide’ dinge wat valse Christene mense later begin leer het, was dat Jesus nie sy liggaam, soos die Bybel sê, “eens en vir altyd geoffer [het] om die sondes van baie te dra” nie, maar dat sy offerande oor en oor herhaal moet word (Heb. 9:27, 28). Vandag glo baie opregte mense hierdie valse lering. Hulle kom gereeld in kerke bymekaar – soms elke dag – om Jesus se offerande te herdenk, wat in die Katolieke godsdiens “die Misoffer” genoem word. b Ander godsdiensorganisasies herdenk nie Jesus se dood so baie nie, maar die meeste van hulle lede verstaan nie eintlik wat Jesus se offerande beteken nie. Party wonder dalk: ‘Beteken Jesus se dood regtig dat my sondes vergewe kan word?’ Hoekom vra hulle hierdie vraag? In party gevalle is hulle beïnvloed deur mense wat twyfel dat Jesus se offerande vergifnis van sondes moontlik maak. Hoe het Jesus se ware volgelinge hierdie saak hanteer?

6. Tot watter gevolgtrekking het ’n groep Bybelstudente gekom teen 1872?

6 In die laat 19de eeu het ’n groep Bybelstudente wat deur Charles Taze Russell gelei is, begin om ’n deeglike studie van die Bybel te maak. Hulle wou weet wat Jesus se offerande regtig beteken en hoe sy dood herdenk moet word. Teen 1872 het hulle met behulp van die Bybel tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus beslis ’n losprys vir alle mense voorsien het. Hulle het nie die dinge wat hulle geleer het vir hulleself gehou nie. Hulle het dit eerder met ander gedeel deur middel van boeke, koerante en tydskrifte. Kort daarna het hulle begin om die Gedenkmaal net een keer ’n jaar te herdenk, net soos die eerste-eeuse Christene.

7. Hoe help die navorsing van daardie vroeë Bybelstudente ons?

7 Die navorsing wat daardie opregte Christene baie jare gelede gedoen het, help ons vandag. Hoe so? Met Jehovah se hulp verstaan ons nou wat Jesus se offerande beteken en wat dit vir ons en vir alle mense sal doen (1 Joh. 2:1, 2). Ons het ook geleer dat die Bybel twee vooruitsigte noem vir mense wat God se goedkeuring het – onsterflike lewe in die hemel vir party en ewige lewe op die aarde vir miljoene ander. Ons kom nader aan Jehovah terwyl ons leer hoe baie hy ons liefhet en hoe baie Jesus se offerande ons persoonlik help (1 Pet. 3:18; 1 Joh. 4:9). So net soos ons getroue broers van die verlede nooi ons ander om die Gedenkmaal saam met ons te herdenk volgens die patroon wat Jesus ingestel het.

ANDER WORD NA DIE GEDENKMAAL GENOOI

Wat kan jy doen om ’n volle deelname aan die Gedenkmaaluitnodigingskampanje te hê? (Sien paragraaf 8-10) e

8. Wat het Jehovah se volk gedoen om ander na die Gedenkmaal te nooi? (Sien prent.)

8 Jehovah se volk nooi mense nou al vir baie jare na die Gedenkmaal. Broers en susters in die Verenigde State is al van so vroeg as 1881 genooi om bymekaar te kom in ’n huis in Allegheny, Pennsilvanië, vir daardie spesiale geleentheid. Later het elke gemeente sy eie Gedenkmaal gehou. In Maart 1940 is daar vir verkondigers gesê dat hulle enige iemand in hulle gebied kon nooi wat belangstel. In 1960 het Bethel, vir die eerste keer, gedrukte uitnodigings vir gemeentes gegee. Van toe af is miljarde Gedenkmaaluitnodigings versprei. Hoekom doen ons so baie moeite om ander te nooi?

9-10. Wie vind baat by ons moeite om ander na die Gedenkmaal te nooi? (Johannes 3:16)

9 Een rede hoekom ons ander na die Gedenkmaal nooi, is omdat ons wil hê dat dié wat dit vir die eerste keer bywoon, die waarheid moet leer oor wat Jehovah en Jesus vir ons almal gedoen het. (Lees Johannes 3:16.) Ons hoop dat dit wat hulle by die Gedenkmaal sien en hoor, hulle sal motiveer om meer te leer en om Jehovah te begin dien. Maar ander vind ook baat.

10 Ons nooi ook dié wat Jehovah nie meer dien nie. Ons doen dit om hulle te herinner dat God hulle nog steeds liefhet. Baie aanvaar ons uitnodiging, en ons is baie bly om hulle te sien. Om die Gedenkmaal by te woon, herinner hulle aan hoe baie hulle dit geniet het om Jehovah in die verlede te dien. Kyk na Monica se voorbeeld. c Gedurende die COVID-19-pandemie het sy weer begin velddiens doen. Nadat sy die Gedenkmaal in 2021 bygewoon het, het sy gesê: “Hierdie Gedenkmaal was vir my baie spesiaal. Ek kon vir die eerste keer in 20 jaar vir mense preek en hulle na die Gedenkmaal nooi. Ek het my bes gedoen om ander te nooi omdat ek so dankbaar is vir wat Jehovah en Jesus vir my gedoen het” (Ps. 103:1-4). Of mense nou ons uitnodiging aanvaar of nie, ons doen ons bes om hulle na die Gedenkmaal te nooi, en ons weet dat Jehovah ons moeite waardeer.

11. Hoe het Jehovah ons moeite geseën om mense na die Gedenkmaal te nooi? (Haggai 2:7)

11 Jehovah het ons moeite ryklik geseën om mense na die Gedenkmaal te nooi. Ten spyte van die beperkings wat in 2021 deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is, het ons ’n bywoningshoogtepunt van 21 367 603 gehad. Dit is amper twee en ’n half keer die aantal Jehovah se Getuies in die wêreld! Jehovah stel natuurlik nie net belang in hoeveel dit bywoon nie. Hy stel eintlik in die mense belang (Luk. 15:7; 1 Tim. 2:3, 4). Ons is oortuig dat Jehovah ons uitnodigingswerk gebruik om ons te help om opregte mense te vind. – Lees Haggai 2:7.

DIE GEDENKMAAL WORD HERDENK TEN SPYTE VAN MOEILIKE OMSTANDIGHEDE

Jehovah seën ons moeite om die Gedenkmaal te herdenk (Sien paragraaf 12) f

12. Watter omstandighede kan dit vir ons moeilik maak om die Gedenkmaal te herdenk? (Sien prent.)

12 Jesus het voorspel dat ons gedurende die laaste dae verskillende moeilike omstandighede sou deurmaak – familieteenstand, vervolging, oorloë, vreeslike siektes en nog baie meer (Matt. 10:36; Mark. 13:9; Luk. 21:10, 11). Soms maak hierdie omstandighede dit vir ons moeilik om Jesus se dood te herdenk. Wat het ons broers en susters gedoen om sulke uitdagings te oorkom, en hoe het Jehovah hulle gehelp?

13. Hoe het Jehovah Artem se moed en vasbeslotenheid om die Gedenkmaal in die tronk te herdenk, geseën?

13 In die tronk. Ons broers wat in die tronk is vir hulle geloof, doen wat hulle kan om Jesus se dood te herdenk. Kyk na Artem se voorbeeld. Gedurende die 2020-Gedenkmaalseisoen was hy saam met omtrent vyf gevangenes op ’n slag in ’n sel wat 17-vierkante-meter groot was. Hy kon nog steeds ’n paar items in die hande kry om as Gedenkmaalembleme te gebruik, en hy het beplan om die Gedenkmaaltoespraak vir homself te hou. Maar die ander mans in sy sel het baie gerook en gevloek. Wat het hy gedoen? Hy het hulle gevra om net vir ’n uur nie te vloek en te rook nie. Artem was verbaas toe die mans in sy sel sê dat hulle gedurende die Gedenkmaal nie sou rook of vloek nie. Artem sê: “Ek het aangebied om hulle oor die Gedenkmaal te vertel.” Al het hulle gesê dat hulle niks daaroor wou weet nie, het hulle hom baie vrae gevra nadat hulle gesien en gehoor het hoe Artem die Gedenkmaal herdenk.

14. Hoe het Jehovah se volk die Gedenkmaal herdenk ten spyte van die COVID-19-pandemie?

14 COVID-19-pandemie. As gevolg van die pandemie kon Jehovah se volk nie die Gedenkmaal in persoon bywoon nie. Maar dit het nie gekeer dat hulle die Gedenkmaal herdenk nie. d Gemeentes met toegang tot die Internet het die Gedenkmaal deur videoverbinding gehou. Maar wat van die miljoene wat nie toegang tot die Internet gehad het nie? In party lande was reëlings gemaak om die toespraak op die televisie of oor die radio uit te saai. Takkantore het ook die toespraak in meer as 500 tale opgeneem sodat selfs dié in afgeleë gebiede die Gedenkmaal kon herdenk. En getroue broers het gereël dat die opnames afgelewer word by die broers wat dit nodig gehad het.

15. Wat leer jy uit die voorbeeld van ’n Bybelstudent met die naam Sue?

15 Familieteenstand. Vir party is familieteenstand die grootste uitdaging om die Gedenkmaal by te woon. Kyk na die voorbeeld van ’n Bybelstudent met die naam Sue. In 2021, op die dag voor die Gedenkmaal, het Sue vir haar Bybelonderrigter gesê dat sy nie die Gedenkmaal sou kon bywoon nie omdat haar familie haar teëstaan. Haar Bybelonderrigter het Lukas 22:44 gelees. Toe het sy vir haar verduidelik dat ons Jesus se voorbeeld moet volg deur tot Jehovah te bid en Hom heeltemal te vertrou wanneer ons moeilike tye deurmaak. Die volgende dag het Sue die brood en die wyn gereed gekry en het sy die Oggendaanbidding-program op jw.org gekyk. Daardie aand, terwyl sy alleen in haar kamer was, het sy op haar foon na die Gedenkmaal geluister. Daarna het Sue vir haar Bybelonderrigter geskryf: “Jy het my gister so baie aangemoedig. Ek het alles gedoen wat ek kon om die Gedenkmaal by te woon, en Jehovah het die res gedoen. Woorde kan nie beskryf hoe gelukkig en dankbaar ek is nie!” Dink jy dat Jehovah jou kan help as jy in ’n soortgelyke situasie is?

16. Hoekom het ons die vertroue dat Jehovah ons moeite sal seën om die Gedenkmaal by te woon? (Romeine 8:31, 32)

16 Jehovah waardeer regtig die moeite wat ons doen om Jesus se dood te herdenk. Ons kan seker wees dat hy ons sal seën wanneer ons waardering wys vir wat hy vir ons gedoen het. (Lees Romeine 8:31, 32.) Laat ons dan vasbeslote wees om hierdie jaar die Gedenkmaal by te woon en om meer vir Jehovah te doen gedurende die Gedenkmaalseisoen.

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

a Op Dinsdag 4 April 2023 sal miljoene regoor die wêreld die herdenking van Christus se dood herdenk. Baie sal dit vir die eerste keer bywoon. Ander wat opgehou het om Jehovah te dien, sal vir die eerste keer in jare daar wees. Party het omstandighede wat dit vir hulle baie moeilik maak om dit by te woon, maar hulle sal dit nog steeds doen. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, jy kan seker wees dat Jehovah gelukkig sal wees omdat jy moeite gedoen het om daar te wees.

b Die aanbidders glo dat die brood en die wyn gedurende hierdie herdenking in die liggaam en die bloed van Christus verander word. Hulle dink dat Jesus se liggaam en bloed elke keer geoffer word wanneer iemand deelneem aan hierdie ritueel.

c Party name is verander.

d Sien ook die artikels met die titel “Gedenkmaal vir 2021” op jw.org.

e BESKRYWING VAN PRENT: Vanaf die 1960’s is die Gedenkmaaluitnodigings verbeter en is dit nou in gedrukte en elektroniese vorm beskikbaar.

f BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering – Broers en susters herdenk die Gedenkmaal gedurende burgerlike onrus.