Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

“Verander julle denkwyse”

“Verander julle denkwyse”

Verander julle denkwyse sodat julle aan julleself kan bewys wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.” – ROM. 12:2.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Wat moet ons aanhou doen nadat ons gedoop is? Verduidelik.

 HOE dikwels maak jy jou huis skoon? Dalk het jy dit deeglik skoongemaak voordat jy ingetrek het. Maar wat sou gebeur as jy dit nooit weer skoongemaak het nie? Soos jy weet, kan stof en vullis baie vinnig opbou. Om jou huis netjies te hou, moet jy dit gereeld skoonmaak.

2 Net so moet ons aanhou om ons denke reg te stel en om aan ons persoonlikheid te werk. Voordat ons ons laat doop het, het ons natuurlik hard gewerk om die nodige veranderinge in ons lewe te maak sodat ons ons kan “reinig van alles wat liggaam en gees besoedel” (2 Kor. 7:1). Maar nou moet ons gehoorsaam wees aan die apostel Paulus se raad dat ons moet “aanhou om ’n nuwe denkwyse aan te leer” (Ef. 4:23). Hoekom is dit belangrik? Omdat die stof en vullis van hierdie wêreld baie vinnig in ons kan opbou. As ons wil aanhou om Jehovah gelukkig te maak, moet ons ons denke, ons persoonlikheid en ons begeertes gereeld ondersoek.

HOU AAN OM JOU DENKWYSE TE VERANDER

3. Wat beteken dit om jou denkwyse te verander? (Romeine 12:2)

3 Wat moet ons doen om ons denkwyse te verander? (Lees Romeine 12:2.) Dit beteken nie dat ons net ’n paar goeie dinge moet doen nie. Ons moet eerder ondersoek watter soort persoon ons werklik is en enige nodige veranderinge maak sodat ons ons lewe so na as moontlik aan Jehovah se standaarde kan bring. Ons moet dit nie net een keer doen nie, maar aanhoudend.

Wys jou besluite oor opvoeding en loopbaankeuses dat jy Koninkryksbelange eerste stel? (Sien paragraaf 4-5) c

4. Hoe kan ons keer dat ons denke deur hierdie wêreld gevorm word?

4 Wanneer ons volmaak is, sal ons Jehovah altyd gelukkig kan maak in alles wat ons doen. Intussen moet ons aanhou hard werk om Jehovah gelukkig te maak. Let op dat Paulus in Romeine 12:2 sê dat ons ons denkwyse moet verander sodat ons kan weet wat God van ons verwag. In plaas daarvan om toe te laat dat hierdie goddelose wêreld ons vorm, moet ons eers onsself ondersoek om te bepaal tot in watter mate ons toelaat dat God se denke – nie die wêreld s’n nie – ons doelwitte en besluite beïnvloed.

5. Hoe kan ons ons denke ondersoek wanneer dit kom by hoe naby die dag van Jehovah is? (Sien prent.)

5 Kyk na ’n voorbeeld. Jehovah wil hê dat ons “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [moet] hou” (2 Pet. 3:12). Vra jou af: ‘Wys my lewe dat ek verstaan hoe naby ons aan die einde van hierdie wêreld is? Wys my besluite oor opvoeding en sekulêre werk dat my diens aan Jehovah die belangrikste ding in my lewe is? Glo ek dat Jehovah vir my en my gesin sal sorg, of is ek heeltyd bekommerd oor materiële dinge?’ Dink net hoe gelukkig dit Jehovah maak wanneer hy sien dat ons probeer om ons lewe in ooreenstemming met sy wil te bring. – Matt. 6:25-27, 33; Fil. 4:12, 13.

6. Wat moet ons aanhou doen?

6 Ons moet ons denke gereeld ondersoek en dan enige nodige veranderinge maak. Paulus het vir die Korintiërs gesê: “Hou aan om seker te maak dat julle in die geloof is. Hou aan om julleself te toets” (2 Kor. 13:5). Om “in die geloof” te wees, beteken meer as om net nou en dan Christelike vergaderinge by te woon en aan die bediening deel te neem. Dit sluit ook ons denke, ons begeertes en ons motiewe in. So ons moet aanhou om ons denkwyse te verander deur God se Woord te lees, te leer dink soos hy dink en dan te doen wat ook al nodig is om ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se wil te bring. – 1 Kor. 2:14-16.

TREK DIE NUWE PERSOONLIKHEID AAN

7. Wat moet ons nog doen volgens Efesiërs 4:31, 32, en hoekom sal dit dalk moeilik wees?

7 Lees Efesiërs 4:31, 32. Behalwe om ons denkwyse te verander, moet ons “die nuwe persoonlikheid aantrek” (Ef. 4:24). Dit beteken dat ons iets moet doen. Ons moet hard werk aan ons persoonlikheid en dinge oorkom soos woede en om ’n wrok te koester. Hoekom sal dit dalk moeilik wees? Omdat party negatiewe eienskappe diepgewortel is. Die Bybel sê byvoorbeeld dat party mense “gou kwaad word” en “geneig is om woedend te word” (Spr. 29:22). As ons diepgewortelde eienskappe wil beheer, sal ons heel moontlik selfs nadat ons gedoop is, hard moet werk, soos die volgende ondervinding wys.

8-9. Hoe wys Stephen se ondervinding dat ons moet aanhou om van die ou persoonlikheid ontslae te raak?

8 ’n Broer met die naam Stephen het gesukkel om sy woede te beheer. Hy sê: “Selfs nadat ek gedoop is, moes ek aanhou probeer om my woede te beheer. Byvoorbeeld, eenkeer terwyl ek van huis tot huis gepreek het, het ek agter ’n dief aangehardloop wat die radio uit my kar gesteel het. Toe ek naby hom kom, het hy die radio laat val en weggehardloop. Terwyl ek vir dié wat saam met my was, vertel het hoe ek my radio teruggekry het, het ’n ouerman in die groep vir my gevra: ‘Stephen, wat sou jy gedoen het as jy hom gevang het?’ Daardie vraag het my laat dink en my gemotiveer om aan te hou probeer om vreedsaam te wees.” b

9 Stephen se ondervinding wys vir ons dat ’n negatiewe eienskap onverwags kan opduik, selfs al het ons gedink dat ons daarvan ontslae geraak het. As dit gebeur, moet jy nie mismoedig word en dink dat jy as ’n Christen misluk het nie. Selfs die apostel Paulus het erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is ek geneig om te doen wat sleg is” (Rom. 7:21-23). Alle onvolmaakte Christene het ’n paar negatiewe eienskappe wat heeltyd terugkom net soos stof en vullis wat in ons huis opbou. Ons moet hard werk om skoon te bly. Hoe kan ons dit doen?

10. Hoe kan ons teen negatiewe eienskappe veg? (1 Johannes 5:14, 15)

10 Bid tot Jehovah oor die eienskap waarmee jy sukkel en vertrou dat hy jou sal hoor en sal help. (Lees 1 Johannes 5:14, 15.) Al sal Jehovah nie die eienskap sommer net laat verdwyn nie, kan hy jou versterk sodat jy dit nie sal openbaar nie (1 Pet. 5:10). Intussen moet jy in ooreenstemming met jou gebede werk deur nie dinge te doen wat die ou persoonlikheid kan laat terugkom nie. Byvoorbeeld, wees versigtig om nie films en televisieprogramme te kyk of stories te lees wat die eienskap wat jy probeer vermy, in ’n goeie lig stel nie. En probeer hard om nie aan verkeerde begeertes te dink nie. – Fil. 4:8; Kol. 3:2.

11. Wat kan ons doen om aan te hou om die nuwe persoonlikheid aan te trek?

11 Al het jy van die ou persoonlikheid ontslae geraak, is dit belangrik om aan te hou om die nuwe persoonlikheid aan te trek. Hoe kan jy dit doen? Maak dit ’n doelwit om Jehovah na te volg terwyl jy oor sy eienskappe leer (Ef. 5:1, 2). Byvoorbeeld, wanneer jy ’n Bybelverslag lees wat Jehovah se vergifnis beklemtoon, vra jou af: ‘Vergewe ek ander?’ Wanneer jy lees oor Jehovah se meegevoel vir dié wat arm is, vra jou af: ‘Het ek ook meegevoel vir my broers en susters wat materiële hulp nodig het en wys ek dit deur die dinge wat ek doen?’ Hou aan om jou denkwyse te verander deur die nuwe persoonlikheid aan te trek, en wees geduldig terwyl jy dit doen.

12. Hoe het Stephen gesien dat die Bybel die krag het om mense te verander?

12 Stephen, wat vroeër genoem is, kon geleidelik die nuwe persoonlikheid aantrek. Hy sê: “Vandat ek gedoop is, was daar ’n hele paar situasies waarin ek my woede moes beheer. Ek het geleer om weg te loop van mense wat my probeer uittart of om op ander maniere te keer dat die situasie erger word. Baie mense, insluitende my vrou, het my geprys vir hoe ek hierdie situasies hanteer het. Selfs ek was verbaas daaroor! Ek weet dat ek nie hierdie veranderinge op my eie gemaak het nie. Ek glo eerder dat dit bewys dat die Bybel die krag het om mense te verander.”

HOU AAN OM TEEN VERKEERDE BEGEERTES TE VEG

13. Wat sal ons help om goeie begeertes te ontwikkel? (Galasiërs 5:16)

13 Lees Galasiërs 5:16. Jehovah gee ons sy heilige gees om ons te help om die geveg te wen om te doen wat reg is. Wanneer ons God se Woord studeer, laat ons toe dat God se gees ons beïnvloed. Ons ontvang ook heilige gees wanneer ons ons vergaderinge bywoon. By daardie vergaderinge kan ons tyd spandeer met broers en susters wat, net soos ons, hard probeer om te doen wat reg is, en dit moedig ons aan (Heb. 10:24, 25; 13:7). En wanneer ons uit ons hart tot Jehovah bid en hom smeek om ons te help met ’n swakheid, sal hy vir ons sy heilige gees gee om ons die krag te gee om aan te hou veg. Al sal hierdie dinge heel moontlik nie verkeerde begeertes laat verdwyn nie, sal dit ons help om nie op daardie begeertes te reageer nie. Dié wat die leiding van die gees volg, sal soos Galasiërs 5:16 sê “geen vleeslike begeerte uitvoer nie”.

14. Hoekom is dit belangrik om aan te hou om goeie begeertes te ontwikkel?

14 Wanneer ons ’n goeie geestelike roetine het, is dit belangrik dat ons by daardie roetine moet bly en moet aanhou om goeie begeertes te ontwikkel. Hoekom? Omdat een van ons vyande nooit slaap nie. Daardie vyand is die versoeking om te doen wat verkeerd is. Selfs nadat ons gedoop is, sal ons dalk nog steeds aangetrokke wees tot die dinge wat ons moet vermy, insluitende dobbelary, drankmisbruik of pornografie (Ef. 5:3, 4). ’n Jong Christenbroer erken: “Een van die moeilikste dinge waarmee ek al gesukkel het, is die feit dat ek aangetrokke is tot dieselfde geslag. Ek het gedink dat dit net ’n fase is, maar daardie gevoelens pla my nog steeds.” Wat kan jou help as jy ’n verkeerde begeerte het wat veral sterk is?

As jy ’n verkeerde begeerte het, is jou situasie nie hopeloos nie; ander het met dieselfde begeerte gesukkel en het dit oorkom (Sien paragraaf 15-16)

15. Hoekom is dit aanmoedigend om te weet dat verkeerde begeertes iets is “wat ander mense ook deurmaak”? (Sien prent.)

15 Wanneer jy teen ’n verkeerde begeerte stry wat baie sterk is, moet jy onthou dat jy nie alleen is nie. Die Bybel sê: “Die versoekings wat julle deurmaak, is iets wat ander mense ook deurmaak” (1 Kor. 10:13a). ’n Ander vertaling stel dit so: “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie.” Daardie woorde is vir manlike en vroulike Christene geskryf wat in Korinte gebly het. Party van hulle was voorheen egbrekers, homoseksuele en dronkaards (1 Kor. 6:9-11). Dink jy dat hulle nooit enige verkeerde begeertes gehad het nadat hulle hulle laat doop het nie? Dit kan nie die geval wees nie. Ja, hulle was almal gesalfde Christene, maar hulle was nog steeds onvolmaakte mense. Hulle het natuurlik van tyd tot tyd met verkeerde begeertes gesukkel. Dit behoort ons aan te moedig. Hoekom? Want dit wys dat dit nie saak maak met watter verkeerde begeerte jy sukkel nie; iemand anders het dit al weerstaan. Ja, jy kan ‘standvastig in die geloof bly omdat jy weet dat die hele gemeenskap van jou broers in die wêreld op dieselfde manier ly’. – 1 Pet. 5:9.

16. Watter gevaar moet ons vermy, en hoekom?

16 Vermy die gevaar om te dink dat niemand jou spesifieke uitdaging kan verstaan nie. Dit kan veroorsaak dat jy dink dat jou situasie hopeloos is en dat jy nie verkeerde begeertes kan weerstaan nie. Die Bybel sê iets anders. Dit sê: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle ’n versoeking deurmaak wat julle nie kan hanteer nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Kor. 10:13b). So selfs wanneer ’n verkeerde begeerte sterk is, kan ons dit suksesvol hanteer. Met Jehovah se hulp, kan ons dit weerstaan.

17. Wat kan ons beheer, al kan ons dalk nie keer dat ons verkeerde begeertes kry nie?

17 Onthou altyd: Omdat jy onvolmaak is, sal jy dalk nie kan keer dat jy verkeerde begeertes kry nie. Maar wanneer dit gebeur, kan jy dit verwerp, net soos Josef gedoen het toe hy vinnig van Potifar se vrou af weggehardloop het (Gen. 39:12). Jy hoef nie op verkeerde begeertes te reageer nie!

HOU AAN OM HARD TE WERK

18-19. Watter vrae kan ons onsself afvra terwyl ons ons denkwyse probeer verander?

18 As ons ons denkwyse wil verander, moet ons aanhou om ons denke en dade in ooreenstemming te bring met Jehovah se wil. So ons moet onsself gereeld ondersoek en onsself afvra: ‘Wys my dade dat ek weet dat ons in die laaste dae lewe? Maak ek vordering wanneer dit kom by die nuwe persoonlikheid? Laat ek toe dat Jehovah se gees my lewe rig sodat ek vleeslike begeertes kan weerstaan?’

19 Terwyl jy jouself ondersoek moet jy nie volmaaktheid verwag nie, maar eerder op jou vordering fokus. As jy sien dat jy kan verbeter, moet jy nie mismoedig word nie. Volg eerder die raad van Filippense 3:16: “Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan.” Wanneer jy dit doen, kan jy seker wees dat Jehovah jou harde werk om jou denkwyse te bly verander, sal seën.

LIED 36 Ons bewaak ons hart

a Die apostel Paulus het sy broers en susters aangemoedig om nie toe te laat dat hierdie goddelose wêreld hulle vorm nie. Dit is beslis goeie raad vir ons vandag. Ons moet seker maak dat hierdie slegte wêreld ons nie op enige manier beïnvloed nie. Om dit te doen, moet ons aanhou om ons denkwyse reg te stel wanneer ons besef dat dit nie ooreenstem met God se wil nie. In hierdie artikel sal ons kyk hoe ons dit kan doen.

b Sien die artikel “My lewe het al hoe slegter geword” in Die Wagtoring van 1 Julie 2015.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong broer wonder of hy universiteit toe moet gaan of moet begin pionier.