Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

Wees oortuig dat God se Woord waarheid is

Wees oortuig dat God se Woord waarheid is

ONS JAARTEKS VIR 2023: “Die hele inhoud van u woord is waarheid.” – PS. 119:160.

LIED 96 God se boek — ’n Ware skat

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom het baie mense vandag min vertroue in die Bybel?

 VANDAG weet baie mense nie wie hulle kan vertrou nie. Hulle wonder of die mense na wie hulle opkyk – politici, wetenskaplikes en besigheidsmanne – regtig net die beste vir hulle wil hê. En hulle het nie respek vir die Christendom se godsdiensleiers nie. So dit verbaas ons nie dat hulle nie die Bybel vertrou nie – die boek waaraan daardie godsdiensleiers glo gehoorsaam is.

2. Waarvan moet ons oortuig wees volgens Psalm 119:160?

2 As knegte van Jehovah is ons oortuig dat hy “die God van waarheid” is en dat hy altyd net die beste vir ons wil hê (Ps. 31:5; Jes. 48:17). Ons weet dat ons kan vertrou wat ons in die Bybel lees – dat “die hele inhoud van [God se] woord . . . waarheid [is]”. (Lees Psalm 119:160.) Ons stem saam met wat een Bybelgeleerde geskryf het: “Alles wat God gesê het, is waar en alles wat hy gesê het, sal altyd waar word. God se volk kan vertrou wat hy sê omdat hulle die God wat dit gesê het, vertrou.”

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Hoe kan ons ander help om dieselfde vertroue in God se Woord te hê as wat ons het? Kom ons kyk na drie redes hoekom ons die Bybel kan vertrou. Ons sal kyk na die akkuraatheid van die teks, die vervulling van Bybelprofesieë en die Bybel se krag om lewens te verander.

DIE BYBEL SE BOODSKAP IS BESKERM

4. Hoekom twyfel party mense dat die Bybel akkuraat is?

4 Jehovah God het omtrent 40 getroue manne gebruik om die boeke van die Bybel te skryf. Maar nie een van die oorspronklike manuskripte bestaan vandag nie. b Al wat ons het, is kopieë van kopieë. Dit laat party mense wonder of die dinge wat ons vandag in die Bybel lees, presies dieselfde is as wat oorspronklik geskryf is. Het jy al ooit gewonder hoe ons seker kan wees dat dit wel so is?

Professionele kopiiste van die Hebreeuse Geskrifte het baie moeite gedoen om seker te maak dat hulle kopieë van God se Woord akkuraat is (Sien paragraaf 5)

5. Hoe is die Hebreeuse Geskrifte oorgeskryf? (Sien prent op voorblad.)

5 Om sy geïnspireerde boodskap te beskerm, het Jehovah gesê dat dit oorgeskryf moet word. Hy het die konings van Israel beveel om hulle eie kopieë van die geskrewe Wet te maak, en hy het die Leviete aangestel om daardie Wet aan die volk te leer (Deut. 17:18; 31:24-26; Neh. 8:7). Nadat die Jode as gevangenes na Babilon toe gestuur is, het ’n groep professionele kopiiste baie kopieë van die Hebreeuse Geskrifte begin maak (Esra 7:6, voetnote). Hierdie manne was versigtig. Later het kopiiste nie net die woorde begin tel nie, maar selfs die letters om seker te maak dat alles akkuraat oorgeskryf is. Maar omdat hierdie manne onvolmaak was, het party van daardie kopieë klein foute bevat. Maar baie kopieë van dieselfde teks was gemaak, so daardie foute kon later gevind word. Hoe?

6. Hoe kan foute in kopieë van die Bybel geïdentifiseer word?

6 Geleerdes van vandag het ’n betroubare manier gevind om foute te identifiseer wat dié wat die Bybelteks oorgeskryf het, gemaak het. Byvoorbeeld, sê nou 100 mans word gevra om teks op ’n bladsy oor te skryf. Een van die mans maak ’n klein fout in sy kopie. Een manier om daardie fout te vind, is deur sy kopie met al die ander te vergelyk. Net so kan geleerdes foute wat ’n kopiis dalk gemaak het of woorde wat hy dalk uitgelaat het, vind deur ’n aantal Bybelmanuskripte met mekaar te vergelyk.

7. Hoe akkuraat was baie Bybelkopiiste?

7 Dié wat Bybelmanuskripte oorgeskryf het, het baie moeite gedoen om dit akkuraat oor te skryf. Kyk na ’n voorbeeld wat hierdie punt bewys. Die oudste volledige manuskrip van die Hebreeuse Geskrifte is in 1008 of 1009 HJ gemaak. Dit word die Leningrad-kodeks genoem. Maar in onlangse tye is ’n hele paar Bybelmanuskripte en dele van manuskripte gevind, wat omtrent 1 000 jaar ouer as die Leningrad-kodeks is. Iemand sou dalk dink dat die Leningrad-kodeks baie anders sou wees as die teks in die ouer manuskripte omdat daardie manuskripte oor ’n tydperk van 1 000 jaar oorgeskryf is en weer oorgeskryf is. Maar dit is nie die geval nie. Toe geleerdes die ouer manuskripte met die nuwe manuskripte vergelyk het, het hulle gesien dat daar net klein verskille in die bewoording is en dat die betekenis nie verander is nie.

8. Wat is die verskil tussen kopieë van die Christelike Griekse Geskrifte en kopieë van ander ou boeke?

8 Vroeë Christene het ook kopieë van die Hebreeuse Geskrifte gemaak. Hulle was versigtig toe hulle kopieë van die 27 boeke van die Griekse Geskrifte gemaak het, wat hulle by hulle vergaderinge en in hulle predikingswerk gebruik het. Een geleerde wat manuskripte van die Griekse Geskrifte met ander boeke uit dieselfde tydperk vergelyk het, sê die volgende oor die Bybelmanuskripte: “Oor die algemeen is daar meer [kopieë van die Griekse Geskrifte], . . . en hulle is gewoonlik meer volledig.” Die boek Anatomy of the New Testament sê: “Ons kan vertrou dat die dinge wat ons in ’n betroubare, moderne vertaling [van die Griekse Geskrifte] lees, dieselfde boodskap oordra as wat die oorspronklike skrywers geskryf het.”

9. Wat is waar oor die Bybel se boodskap volgens Jesaja 40:8?

9 Baie kopiiste het honderde jare lank hard gewerk om die Bybel versigtig oor te skryf, en dit het bygedra tot die akkuraatheid van die Bybel wat ons vandag lees en studeer. c Ons weet dat dit Jehovah is wat seker gemaak het dat sy Woord vandag vir ons beskikbaar is en dat dit akkuraat is. (Lees Jesaja 40:8.) Maar party sê dalk dat dit nie bewys dat die Bybel van God af kom net omdat die Bybel se boodskap nie verander is nie. So kom ons kyk nou na party dinge wat bewys dat die Bybel van God af kom.

BYBELPROFESIEË IS BETROUBAAR

Links: C. Sappa/DeAgostini/Getty Images; regs: Image © Homo Cosmicos/Shutterstock

Bybelprofesieë is in die verlede vervul en word vandag vervul (Sien paragraaf 10-11) e

10. Gee ’n voorbeeld van ’n vervulde profesie wat bewys dat 2 Petrus 1:21 waar is. (Sien prente.)

10 Daar is baie profesieë in die Bybel wat vervul is, en party van hierdie profesieë is vervul honderde jare nadat dit neergeskryf is. Die geskiedenis bewys dat hierdie profesieë waar geword het. Dit verbaas ons nie, want ons weet dat Jehovah die Skrywer van Bybelprofesieë is. (Lees 2 Petrus 1:21.) Dink aan die profesie oor die val van die eertydse stad Babilon. In die agtste eeu VHJ is die profeet Jesaja geïnspireer om te voorspel dat die magtige stad Babilon verower sou word. Hy het selfs die naam gegee van die persoon wat dit sou doen, Kores, en hy het voorspel presies hoe die stad ingeneem sou word (Jes. 44:27–45:2). Jesaja het ook voorspel dat Babilon uiteindelik vernietig en heeltemal verlate sou wees (Jes. 13:19, 20). Dit is presies wat gebeur het. Die Mede en die Perse het Babilon in 539 VHJ verower, en die plek waar daardie groot stad was, is nou heeltemal verlate. – Sien die video Die Bybel het die vernietiging van Babilon voorspel in die elektroniese weergawe van die Geniet die lewe vir ewig!-boek, les 3, punt 5.

11. Beskryf hoe Daniël 2:41-43 vandag vervul word.

11 Bybelprofesieë is nie net in die verlede vervul nie; ons sien hoe profesieë vandag vervul word. Kyk byvoorbeeld na die indrukwekkende vervulling van Daniël se profesie oor die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag. (Lees Daniël 2:41-43.) Daardie profesie het akkuraat voorspel dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag “gedeeltelik sterk” soos yster en “gedeeltelik swak” soos klei sou wees. En ons sien nou dat dit so is. Brittanje en Amerika het gewys dat hulle so sterk soos yster is deur ’n belangrike rol te speel in die oorwinning van albei Wêreldoorloë, en hulle het nog steeds groot militêre mag. Maar hulle mag is ook verswak deur hulle burgers, wat dikwels protesoptogte hou teen besighede en die regering. Een geleerde in die wêreld se politiek het onlangs gesê: “Daar is nie ’n moderne demokratiese land in die wêreld wat meer verdeeld is wanneer dit kom by die politiek as die Verenigde State nie.” En Brittanje, die ander deel van hierdie wêreldmag, is veral in onlangse jare verdeeld omdat die mense nie kan saamstem oor watter verhouding hulle met lande in die Europese Unie moet hê nie. Hierdie verdeeldhede het dit vir die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag amper onmoontlik gemaak om hulle besluite uit te voer.

12. Waarvan oortuig Bybelprofesieë ons?

12 Die baie Bybelprofesieë wat alreeds vervul is, versterk ons vertroue in die betroubaarheid van God se beloftes vir die toekoms. Ons voel soos die psalmis wat tot Jehovah gebid het: “Ek smag na u redding, want u woord is my hoop” (Ps. 119:81). In die Bybel het Jehovah liefdevol vir ons “’n toekoms en ’n hoop” gegee (Jer. 29:11). Ons hoop vir die toekoms hang nie af van wat mense doen nie, maar van Jehovah se beloftes. Ons wil aanhou om ons vertroue in God se Woord op te bou deur goeie studente van Bybelprofesieë te wees.

DIE BYBEL SE RAAD HELP MILJOENE

13. Wat is nog ’n bewys dat die Bybel betroubaar is volgens Psalm 119:66, 138?

13 Vir nog ’n bewys dat ons die Bybel kan vertrou, kyk na die goeie resultate wat mense ondervind wanneer hulle die raad daarin volg. (Lees Psalm 119:66, 138.) Byvoorbeeld, getroude paartjies wat op die punt gestaan het om te skei, is nou weer gelukkig. Hulle kinders geniet dit om groot te word in die liefdevolle atmosfeer van ’n Christenhuis, waar hulle veilig en geliefd voel. – Ef. 5:22-29.

14. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe die Bybel se raad mense se lewens verbeter.

14 Selfs gevaarlike misdadigers het hulle lewens verander omdat hulle die Bybel se wyse raad toegepas het. Kyk hoe die raad daarin ’n gevangene met die naam Jack gehelp het. d Hy was ’n gewelddadige misdadiger wat bekend was as een van die gevaarlikste gevangenes wat die doodstraf sou ontvang. Maar toe het Jack op ’n Bybelstudie ingesit. Die broers wat die studie gehou het se vriendelikheid het hom diep geraak, en hy het ook begin studeer. Toe hy die Bybel se raad in sy lewe toegepas het, het sy gedrag en selfs sy persoonlikheid begin verander. Later het Jack gekwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger te word, en hy is gedoop. Hy het ywerig vir ander gevangenes oor God se Koninkryk gepreek en het ten minste vier van hulle gehelp om die waarheid te leer. Die dag toe Jack die doodstraf sou ontvang, was hy ’n ander mens. Een van sy prokureurs het gesê: “Jack is nie dieselfde persoon wat ek 20 jaar gelede geken het nie. Die dinge wat Jehovah se Getuies hom geleer het, het sy lewe verander.” Al het Jack die doodstraf ontvang, wys sy voorbeeld beslis dat ons God se Woord kan vertrou en dat dit die krag het om mense se lewens te verander. – Jes. 11:6-9.

Die Bybel se raad het die lewens van so baie mense uit verskillende agtergronde verander (Sien paragraaf 15) f

15. Hoe maak die toepassing van Bybelwaarheid Jehovah se volk vandag anders? (Sien prent.)

15 Jehovah se volk is verenig omdat hulle Bybelwaarheid toepas (Joh. 13:35; 1 Kor. 1:10). Ons vrede en eenheid kan veral gesien word omdat die meeste mense vandag verdeeld is deur hulle politieke opinies, ras of sosiale status. Toe ’n jong man met die naam Jean die eenheid onder Jehovah se volk gesien het, het dit hom diep geraak. Hy het in ’n Afrika-land grootgeword. Toe daar ’n burgeroorlog begin het, het hy by die weermag aangesluit, maar later na ’n buurland gevlug. Daar het hy Jehovah se Getuies ontmoet. Jean sê: “Ek het geleer dat volgelinge van die ware godsdiens nie betrokke raak by die politiek nie en nie verdeeld is nie. Hulle is eerder lief vir mekaar.” Hy sê verder: “Ek het my lewe daaraan toegewy om ’n land te verdedig. Maar toe ek die waarheid uit die Bybel geleer het, is ek beweeg om my lewe aan Jehovah toe te wy.” Jean het heeltemal verander. Eerder as om teen mense van ’n ander agtergrond te veg, vertel hy nou vir almal wat hy ontmoet van die Bybel se boodskap van vrede. Die feit dat die Bybel se raad so baie mense uit verskillende agtergronde help, is ’n kragtige bewys dat ons God se Woord kan vertrou.

HOU AAN OM GOD SE WOORD VAN WAARHEID TE VERTROU

16. Hoekom is dit belangrik dat ons ons vertroue in God se Woord moet versterk?

16 Terwyl hierdie wêreld al hoe slegter word, sal ons vertroue in die waarheid getoets word. Mense sal ons dalk probeer kry om te twyfel dat die Bybel waar is of dat Jehovah die getroue en verstandige slaaf aangestel het om sy aanbidders vandag te lei. Maar as ons oortuig is dat Jehovah se Woord altyd waar is, sal ons sulke aanvalle op ons geloof kan weerstaan. Ons sal “vasbeslote [wees] om [Jehovah se] wetsvoorskrifte te gehoorsaam, te alle tye, tot die einde toe” (Ps. 119:112). Ons sal “nie skaam wees” om vir ander van die waarheid te vertel en om hulle aan te moedig om die Bybel se raad in hulle lewens toe te pas nie (Ps. 119:46). En ons sal die moeilikste situasies, insluitende vervolging, “met geduld en vreugde” kan verduur. – Kol. 1:11; Ps. 119:143, 157.

17. Waaraan sal ons jaarteks ons herinner?

17 Ons is baie dankbaar dat Jehovah die waarheid aan ons geopenbaar het! Daardie waarheid stabiliseer ons en leer ons duidelik hoe ons moet lewe in ’n wêreld wat al hoe meer chaoties en deurmekaar word. Dit gee ons ’n hoop vir ’n beter toekoms onder die heerskappy van God se Koninkryk. Ons jaarteks vir 2023 sal ons help om vol vertroue te bly dat die hele inhoud van God se Woord waarheid is! – Ps. 119:160.

LIED 94 Dankbaar vir God se Woord

a ’n Geloofversterkende jaarteks is vir 2023 gekies: “Die hele inhoud van u woord is waarheid” (Ps. 119:160). Jy stem sekerlik saam met daardie woorde. Maar baie mense glo nie dat die Bybel waar is nie en dat dit ons goeie raad kan gee nie. In hierdie artikel sal ons drie redes bespreek wat ons kan gebruik om opregte mense te oortuig dat hulle die Bybel en die raad daarin kan vertrou.

b Die woord “manuskrip” verwys na ’n ou dokument wat met die hand geskryf is.

c Vir meer inligting oor hoe die Bybel beskerm is, gaan na jw.org en tik “Die geskiedenis en die Bybel” in die soekblokkie.

d Party name is verander.

e BESKRYWING VAN PRENT: God het voorspel dat die stad Babilon uiteindelik vernietig sou word.

f BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering – Eerder as om teen mense te veg, leer ’n jong man uit die Bybel hoe om in vrede te lewe, en hy help ander om dieselfde te doen.