Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

LIED 124 Bly lojaal

Jehovah sal jou gedurende moeilike tye help

Jehovah sal jou gedurende moeilike tye help

“[Jehovah] gee julle stabiliteit.”JES. 33:6.

DOEL

Wat ons kan doen om baat te vind by Jehovah se hulp gedurende moeilike tye.

1-2. Watter uitdagings ondervind getroue knegte van Jehovah dalk?

 TRAGIESE gebeure kan ons lewens oornag verander. Byvoorbeeld, ’n getroue broer met die naam Luis a is gediagnoseer met ’n seldsame vorm van kanker. Die dokter het vir hom gesê dat hy net ’n paar maande oor het om te lewe. Monika en haar man was bedrywig in Jehovah se diens. Toe het Monika eendag uitgevind dat haar man, ’n ouerman, al jare lank ’n dubbele lewe lei. Olivia, ’n ongetroude suster, is gedwing om haar huis te verlaat omdat daar ’n verwoestende orkaan op pad was. Toe sy teruggaan, het sy gesien dat die storm haar huis vernietig het. In een kort oomblik het die lewens van hierdie mense drasties verander. Kan jy jou indink wat hulle deurgemaak het? Het iets al met jou gebeur wat jou wêreld skielik onderstebo gekeer het?

2 As getroue knegte van Jehovah ondervind ons probleme en siektes net soos alle ander mense. Ons word dalk ook teëgestaan of vervolg deur dié wat God se volk haat. Al beskerm Jehovah ons nie teen sulke probleme nie, belowe hy wel om ons te help (Jes. 41:10). Met sy hulp kan ons ons vreugde behou, goeie besluite maak en lojaal aan hom bly selfs deur die moeilikste situasies. In hierdie artikel sal ons vier maniere ondersoek hoe Jehovah ons gedurende donker tye in ons lewe help. Ons sal ook bespreek wat ons moet doen om baat te vind by die hulp wat hy voorsien.

JEHOVAH SAL JOU BESKERM

3. Wat vind ons dalk moeilik wanneer ons ’n tragiese gebeurtenis ondervind?

3 Die uitdaging. Wanneer ons ’n tragiese gebeurtenis ondervind, vind ons dit dalk moeilik om reguit te dink en besluite te maak. Hoekom? Ons hart is dalk in verskriklike pyn. Ons verstand voel dalk oorweldig deur angstigheid. Ons kan voel asof ons deur mis loop, onseker van die rigting waarin ons moet gaan. Kyk hoe die twee susters wat vroeër genoem is, gevoel het toe hulle deur ’n moeilike tyd gegaan het. Olivia sê: “Nadat die orkaan my huis vernietig het, het ek verlore en heeltemal oorweldig gevoel.” Monika sê die volgende oor haar man se ontrouheid: “Ek was meer as teleurgesteld. Dit het gevoel asof iemand my in die hart gesteek het. Ek het nie meer geweet hoe om normaal te funksioneer nie. Ek het nooit gedink dat dit met my kon gebeur nie.” Hoe belowe Jehovah om ons te help wanneer ons oorweldig voel?

4. Wat belowe Jehovah ons volgens Filippense 4:​6, 7?

4 Wat Jehovah doen. Hy belowe om ons te gee wat die Bybel “die vrede van God” noem. (Lees Filippense 4:​6, 7.) Hierdie vrede verwys na die kalmte en rustigheid van verstand en hart wat ons geniet omdat ons ’n kosbare verhouding met hom het. Hierdie vrede ‘oortref alle denke’; dit is wonderliker as wat ons ons kan voorstel. Het jy al ooit verbasend kalm gevoel nadat jy intens tot Jehovah gebid het? Daardie gevoel is “die vrede van God”.

5. Hoe beskerm die vrede van God ons verstande en harte?

5 Dieselfde vers sê dat die vrede van God “julle harte en julle verstande” sal “beskerm”. Die oorspronklike woord vir “beskerm” was ’n militêre uitdrukking en was gebruik om te verwys na soldate wat ’n stad beskerm het en dit veilig gehou het teen aanvalle. Die inwoners van so ’n stad het in vrede geslaap omdat hulle geweet het dat soldate by die poorte wag hou. Net so voel ons kalm wanneer die vrede van God ons harte en verstande beskerm omdat ons weet dat ons veilig is (Ps. 4:8). Soos in Hanna se geval, kan ons nog steeds ’n mate van vrede ondervind, al verander ons situasie nie onmiddellik nie (1 Sam. 1:​16-18). En wanneer ons kalm voel, vind ons dit baie keer makliker om reguit te dink en wyse besluite te maak.

Bid totdat jy voel hoe “die vrede van God” jou hart en verstand beskerm (Sien paragraaf 4-6)


6. Wat kan ons doen om baat te vind by die vrede van God? (Sien ook prent.)

6 Wat ons moet doen. Wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, kan jy Jehovah vra om jou te beskerm. Bid totdat jy die vrede van God voel (Luk. 11:9; 1 Tess. 5:17). Luis, wat vroeër genoem is, verduidelik wat hom en sy vrou, Ana, gehelp het toe hulle uitvind dat hy net ’n paar maande oor het om te lewe. Hy het gesê: “In so ’n oomblik is dit verskriklik moeilik om besluite oor gesondheidsorg en ander sake te maak. Maar as dit nie vir gebed was nie, sou ons nooit vrede gedurende hierdie proses kon hê nie.” Luis en sy vrou het gesê dat hulle intens en herhaaldelik gebid het en Jehovah gevra het om hulle innerlike vrede te gee, sowel as ’n kalm hart en die wysheid om goeie besluite te maak. En hulle het gevoel hoe hy hulle help. As jy deur ’n krisis gaan, hou vol met gebed, en jy sal Jehovah se vrede ondervind terwyl dit jou hart en verstand beskerm. – Rom. 12:12.

JEHOVAH SAL JOU STABILISEER

7. Hoe voel ons dalk wanneer ons ’n baie moeilike tyd ondervind?

7 Die uitdaging. Wanneer ons deur ’n baie moeilike tyd gaan, is ons gevoelens, gedagtes en reaksies dalk nie so gebalanseerd soos dit gewoonlik is nie. Ons kan voel asof ons rondgegooi word van die een sterk emosie na die ander. Ana, wat vroeër genoem is, het gesê dat sy baie verskillende emosies ondervind het ná Luis se dood. Sy het gesê: “Wanneer ek die leemte in my hart gevoel het, het ek myself begin jammer kry. Ek het ook kwaad geword omdat hy nie meer daar is nie.” En Ana het eensaam en gefrustreerd gevoel omdat sy besluite moes maak oor sake wat Luis gewoonlik so goed hanteer het. Soms het sy gevoel asof sy in ’n storm op die see was. Hoe help Jehovah ons wanneer sulke emosies ons begin oorweldig?

8. Waarvan verseker Jehovah ons volgens Jesaja 33:6?

8 Wat Jehovah doen. Hy verseker ons dat hy ons sal stabiliseer. (Lees Jesaja 33:6.) Wanneer ’n skip deur ’n storm gaan, begin dit dalk gevaarlik van kant tot kant wieg. Om die skip stabiel te hou, het dit dalk spesiale vinne wat onder die water aan elke kant van die skip uitkom. Hierdie vinne kan die skip help om nie so baie te wieg nie, en op daardie manier is die passasiers veiliger en is hulle reis gemakliker. Maar hierdie stabiliserende vinne werk die beste wanneer die skip vorentoe beweeg. Net so sal Jehovah ons stabiliseer wanneer ons getrou vorentoe beweeg in moeilike tye.

Stabiliseer jouself met die hulp van ons navorsingshulpmiddele (Sien paragraaf 8-9)


9. Hoe kan ons navorsingshulpmiddele ons help om ons balans te behou? (Sien ook prent.)

9 Wat ons moet doen. Wanneer jy in die middel van ’n emosionele storm is, doen jou bes om by jou geestelike roetine te bly. Jy sal dalk nie so baie kan doen soos voorheen nie, maar onthou dat Jehovah redelik is. (Vergelyk Lukas 21:​1-4.) As deel van jou geestelike roetine moet jy tyd maak vir persoonlike studie en bepeinsing. Hoekom? Jehovah het deur middel van sy organisasie uitstekende skriftuurlike inligting voorsien wat ons kan help om ons balans te behou. Om te vind wat jy nodig het, kan jy navorsingshulpmiddele gebruik wat in jou taal beskikbaar is, soos die JW Library®-app en Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Monika, wat vroeër genoem is, het gesê dat sy raad gesoek het in die navorsingshulpmiddele wanneer sy gevoel het dat ’n emosionele storm op pad is. Byvoorbeeld, sy het die woord “woede” opgesoek. Ander kere het sy “ontrouheid” of “lojaliteit” opgesoek. Dan het sy gelees totdat sy beter voel. Sy het gesê: “Wat as ’n angstige gesoek begin het, het in ’n drukkie van Jehovah verander. Terwyl ek gelees het, het ek begin besef dat Jehovah al my verskillende gevoelens verstaan en dat hy besig is om my te help.” Sulke hulp van Jehovah kan jou ook help om jou balans te behou totdat jy kalmer waters bereik. – Ps. 119:​143, 144.

JEHOVAH SAL JOU ONDERSTEUN

10. Hoe voel ons dalk ná ’n traumatiese gebeurtenis?

10 Die uitdaging. Ná ’n traumatiese gebeurtenis is daar dalk dae wanneer ons fisies en emosioneel swak voel. Ons voel dalk soos ’n beseerde atleet wat gewoonlik vinnig gehardloop het maar nou mank loop. Ons sukkel dalk om dinge te doen wat ons voorheen maklik kon doen, of ons het dalk min motivering om dinge te doen wat ons voorheen geniet het. Soos Elia kan ons voel dat dit te moeilik is om op te staan. Ons wil net slaap (1 Kon. 19:​5-7). Wat belowe Jehovah om te doen wanneer ons swak voel?

11. Wat is nog ’n manier hoe Jehovah ons help? (Psalm 94:18)

11 Wat Jehovah doen. Hy belowe om ons te ondersteun. (Lees Psalm 94:18.) Net soos ’n beseerde atleet hulp nodig het om te beweeg, het ons dalk hulp nodig om aktief in Jehovah se diens te bly. In daardie oomblikke verseker Jehovah ons: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas. Ek is die Een wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help’” (Jes. 41:13). Koning Dawid het hierdie hulp ondervind. Toe hy moeilike tye deurgemaak het en met vyande te doen gehad het, het hy vir Jehovah gesê: “U regterhand ondersteun my” (Ps. 18:35). Maar hoe voorsien Jehovah ondersteuning?

Aanvaar die ondersteuning van jou familie, vriende en ouermanne (Sien paragraaf 11-13)


12. Wie gebruik Jehovah dalk om ons te help wanneer ons swak is?

12 Jehovah ondersteun ons baie keer deur ander te motiveer om ons te help. Byvoorbeeld, eenkeer toe Dawid swak gevoel het, het sy vriend Jonatan hom besoek om hom emosioneel te ondersteun en hom aan te moedig (1 Sam. 23:​16, 17). Net so het Jehovah Elisa gekies om praktiese hulp aan Elia te voorsien (1 Kon. 19:​16, 21; 2 Kon. 2:2). Vandag gebruik Jehovah dalk familie, vriende of die ouermanne om ons te ondersteun. Maar wanneer ons hartseer is, wil ons onsself dalk afsonder. Ons wil hê dat mense ons net moet uitlos. Dit is ’n normale reaksie. Wat kan ons doen om Jehovah se ondersteuning te ontvang?

13. Wat moet ons doen om baat te vind by Jehovah se ondersteuning? (Sien ook prent.)

13 Wat ons moet doen. Probeer hard om nie jouself af te sonder nie. Wanneer ons onsself afsonder, begin ons dalk net aan onsself dink, en aan die probleme waardeur ons gaan. Hierdie soort denke kan die besluite wat ons maak, beïnvloed (Spr. 18:1). Ons almal het natuurlik tyd nodig om alleen te wees, veral wanneer ons deur tragiese situasies gaan. Maar as ons onsself vir ’n lang ruk afsonder, kan ons die hulp verwerp van die mense wat Jehovah gebruik om ons te ondersteun. So al is dit ook hoe swaar, aanvaar die hulp van jou familie, vriende en ouermanne wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan. Beskou hulle as Jehovah se manier om jou te ondersteun. – Spr. 17:17; Jes. 32:​1, 2.

JEHOVAH SAL JOU VERTROOS

14. Watter dinge kan ons bang maak?

14 Die uitdaging. Daar sal dalk oomblikke wees wanneer ons bang voel. In die Bybel praat getroue knegte van God van tye toe hulle angstig en baie bang gevoel het as gevolg van hulle vyande of ander druk (Ps. 18:4; 55:​1, 5). Iets soortgelyks kan met ons gebeur wanneer ons teëgestaan word by die skool, by die werk, deur ons familie of deur die regering. Ons is dalk bang dat ons sal sterf as gevolg van ’n mediese probleem. Gedurende sulke tye voel ons dalk so hulpeloos soos ’n klein kindjie. Hoe help Jehovah ons in oomblikke soos hierdie?

15. Watter versekering voorsien Psalm 94:19?

15 Wat Jehovah doen. Hy vertroos en kalmeer ons. (Lees Psalm 94:19.) Hierdie psalm laat ons dalk dink aan ’n dogtertjie wat bang is en nie kan slaap nie as gevolg van ’n groot donderstorm. Ons kan ons voorstel hoe haar pa inkom, haar optel en haar in sy arms vashou totdat sy aan die slaap raak. Al is die storm nog aan die gang, laat haar pa se arms haar veilig en kalm voel. Wanneer ons deur moeilike tye gaan wat ons bang maak, het ons dalk ons hemelse Vader nodig om ons figuurlik vas te hou totdat die intense gevoelens verbygaan. Hoe kan ons sulke vertroosting van Jehovah ontvang?

Laat jou hemelse Vader jou deur middel van die Bybel vertroos (Sien paragraaf 15-16)


16. Wat kan ons doen om baat te vind by Jehovah se vertroosting? (Sien ook prent.)

16 Wat ons moet doen. Spandeer gereeld tyd met Jehovah deur tot hom te bid en sy Woord te lees (Ps. 77:​1, 12-14). Die eerste ding wat jy heel moontlik dan sal doen wanneer jy angstig is, is om tot jou hemelse Vader te bid. Deel jou vrese en bekommernisse met Jehovah. Laat hy met jou praat en jou vertroos deur die Bybel (Ps. 119:28). Jy sal dalk vind dat spesifieke dele van die Bybel jou veral kan vertroos wanneer jy bang is. Byvoorbeeld, jy vind dalk aanmoediging in die boeke Job, Psalms en Spreuke, sowel as in Jesus se woorde in Matteus hoofstuk 6. Terwyl jy tot Jehovah bid en sy Woord lees, sal jy voel hoe hy jou vertroos.

17. Watter vertroue kan ons hê?

17 Ons kan die vertroue hê dat Jehovah gedurende donker tye in ons lewe daar vir ons sal wees. Ons sal nooit alleen wees nie (Ps. 23:4; 94:14). Jehovah belowe om ons te beskerm, te stabiliseer, te ondersteun en te vertroos. Jesaja 26:3 sê in verband met Jehovah: “U sal dié beskerm wat ten volle op u vertrou. U sal hulle blywende vrede gee omdat hulle op u vertrou.” So vertrou op Jehovah, en maak goed gebruik van die maniere wat hy gebruik om jou te help. As jy dit doen, sal jy krag kry selfs gedurende moeilike tye.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wanneer het ons Jehovah se hulp dalk veral nodig?

  • Op watter vier maniere help Jehovah ons gedurende moeilike tye?

  • Wat kan ons doen om baat te vind by Jehovah se hulp?

LIED 12 Groot God, Jehovah

a Party name is verander.