Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

LIED 2 Jehovah is u naam

Eer Jehovah

Eer Jehovah

ONS JAARTEKS VIR 2025: “Gee Jehovah die eer wat sy naam verdien.”PS. 96:8.

FOKUS

Leer hoe ons Jehovah die eer kan gee wat hy verdien.

1. Waarop fokus baie mense vandag?

 HET jy al opgelet dat dit lyk asof baie mense vandag selfbehep is? Byvoorbeeld, party gaan uit hulle pad uit om op sosiale media aandag op hulleself en op hulle prestasies te vestig. Maar vandag is daar min mense wat Jehovah God eer. In hierdie artikel sal ons bespreek wat dit beteken om Jehovah te eer en wat ons moet motiveer om dit te doen. Ons sal ook leer hoe ons God die eer kan gee wat hy verdien en hoe hy in die nabye toekoms self sy naam sal verheerlik.

WAT BETEKEN DIT OM JEHOVAH TE EER?

2. Hoe het Jehovah sy heerlikheid by die berg Sinai gewys? (Sien ook prent.)

2 Die Bybel wys dat Jehovah ’n groot en majestueuse God is. Jehovah het sy heerlikheid op ’n buitengewone manier gewys kort nadat die nasie Israel uit slawerny in Egipte bevry is. Stel jou hierdie toneel voor: Miljoene Israeliete kom by die voet van die berg Sinai bymekaar om te hoor wat hulle God wil sê. ’n Donker wolk bedek die berg. Skielik is daar rook reg rondom die berg. Die grond skud geweldig, en daar is ook weerlig, donderslae en ’n baie harde geluid van ’n horing (Eks. 19:​16-18; 24:17; Ps. 68:8). Dink net hoe beïndruk daardie Israeliete was toe Jehovah sy heerlikheid op hierdie kragtige manier gewys het.

By die berg Sinai het Jehovah sy heerlikheid op ’n kragtige manier vir die Israeliete gewys (Sien paragraaf 2)


3. Wat beteken dit om Jehovah te eer?

3 Maar wat van mense? Kan ons Jehovah regtig eer? Ja, ons kan. Een manier hoe ons Jehovah eer, is deur ander te vertel van sy wonderlike krag en sy pragtige eienskappe. Ons verheerlik God ook wanneer ons hom die eer gee vir dinge wat ons met sy hulp bereik (Jes. 26:12). Koning Dawid is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat Jehovah geëer het. In ’n gebed wat hy in die teenwoordigheid van die gemeente van Israel gedoen het, het Dawid vir God gesê: “O Jehovah, u is groot, magtig, indrukwekkend en vol prag en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan u.” Nadat Dawid sy gebed afgesluit het, ‘het die hele gemeente Jehovah geloof’. – 1 Kron. 29:​11, 20.

4. Hoe het Jesus Jehovah geëer?

4 Toe Jesus op die aarde was, het hy sy Vader geëer deur te erken dat Hy die Bron van sy wonderwerke is (Mark. 5:​18-20). Jesus het Jehovah ook geëer deur die manier hoe hy oor sy Vader gepraat het en hoe hy ander behandel het. By een geleentheid het Jesus mense in ’n sinagoge geleer. Onder dié wat geluister het, was ’n vrou in wie daar 18 jaar lank ’n demoon was. Die demoon het veroorsaak dat haar liggaam kromgetrek het, en sy kon nie regop staan nie. Hoe verskriklik! Jesus se meegevoel het hom beweeg om na die vrou te gaan en liefdevol vir haar te sê: “Vrou, jy is van jou swakheid bevry.” Hy het toe sy hande op haar gelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en “God begin loof” – haar gesondheid en waardigheid ten volle herstel! (Luk. 13:​10-13). Daardie vrou het goeie rede gehad om Jehovah te eer, en ons het ook.

WAT MOTIVEER ONS OM JEHOVAH TE EER?

5. Watter redes het ons om Jehovah te respekteer?

5 Ons eer Jehovah omdat ons diep respek vir hom het. Ons het baie redes om hom te respekteer. Jehovah is almagtig; hy het onbeperkte krag (Ps. 96:​4-7). Sy groot wysheid kan duidelik gesien word in die dinge wat hy gemaak het. Hy is die Bron van ons lewe, en hy gee ons alles wat ons nodig het om te lewe (Op. 4:11). Hy is lojaal (Op. 15:4). Alles wat hy doen, is suksesvol, en hy kom altyd sy beloftes na (Jos. 23:14). Dit is hoekom die profeet Jeremia oor Jehovah gesê het: “Onder al die wyses van die nasies en onder al hulle koninkryke is daar hoegenaamd niemand soos u nie”! (Jer. 10:​6, 7). Ons het beslis goeie redes om ons hemelse Vader te respekteer. Maar ons respekteer Jehovah nie net nie – ons is lief vir hom.

6. Hoekom is ons lief vir Jehovah?

6 Ons eer Jehovah omdat ons hom baie liefhet. Ons is lief vir Jehovah omdat hy so baie pragtige eienskappe het. Hy is genadig en het meegevoel (Ps. 103:13; Jes. 49:15). Wanneer ons hartseer voel, voel hy hartseer (Sag. 2:8). Hy maak dit vir ons maklik om nader aan hom te kom as ’n Vriend (Ps. 25:14; Hand. 17:27). En hy is nederig; “hy buig neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy tel die hulpelose uit die stof uit op” (Ps. 113:​6, 7). Hoe kan enige iemand nie ons groot God wil eer nie? – Ps. 86:12.

7. Watter spesiale geleentheid het ons?

7 Ons eer Jehovah omdat ons wil hê dat ander hom moet ken. Baie weet nie wat die waarheid omtrent Jehovah is nie. Hoekom nie? Omdat Satan hulle verstande verblind het deur verskriklike leuens oor Hom te versprei (2 Kor. 4:4). Satan het mense oortuig dat Jehovah wraaksugtig en liefdeloos is en dat hy die oorsaak van baie van die wêreld se pyn en lyding is. Maar ons weet wat die waarheid omtrent ons God is! Ons het die geleentheid om ander te vertel wat ’n wonderlike God hy is (Jes. 43:10). Psalm 96 fokus daarop om Jehovah te eer. Terwyl ons party van die geïnspireerde woorde in hierdie psalm bespreek, dink aan maniere hoe jy Jehovah die eer kan gee wat hy verdien.

HOE KAN ONS JEHOVAH DIE EER GEE WAT HY VERDIEN?

8. Wat is een manier hoe ons Jehovah kan eer? (Psalm 96:​1-3)

8 Lees Psalm 96:​1-3. Ons kan Jehovah eer deur wat ons oor hom sê. In hierdie verse word Jehovah se volk genooi om ‘vir Jehovah te sing’, om ‘sy naam te loof’, om ‘die goeie nuus van sy redding dag ná dag te verkondig’ en om ‘sy heerlikheid onder die nasies bekend te maak’. Dit is alles maniere hoe ons ons hemelse Vader kan eer. Getroue Jode en eerste-eeuse Christene het nie gehuiwer om ander te vertel van al die goeie dinge wat Jehovah vir hulle gedoen het en om sy reputasie te verdedig nie (Dan. 3:​16-18; Hand. 4:29). Hoe kan ons dieselfde doen?

9-10. Wat leer jy uit Angelena se ondervinding? (Sien ook prent.)

9 Kyk na die ondervinding van Angelena, a ’n suster wat in die Verenigde State bly. Sy het Jehovah se reputasie moedig verdedig by die maatskappy waar sy werk. As ’n nuwe werker is Angelena na ’n vergadering genooi waar dié wat onlangs by die maatskappy aangesluit het, die geleentheid gekry het om vir hulle kollegas iets omtrent hulle agtergrond te vertel. Angelena het ’n paar foto’s bymekaargesit wat wys wat ’n gelukkige lewe sy as een van Jehovah se Getuies het. Maar net voordat dit haar beurt was, het ’n kollega homself voorgestel as iemand wat as een van Jehovah se Getuies grootgemaak is. Hy het ons oortuigings begin bespot. Angelena sê: “My hart het in my keel geklop. Maar ek het gedink: ‘Gaan ek toelaat dat iemand leuens oor Jehovah vertel? Of gaan ek vir Hom opstaan?’”

10 Toe die man klaar gepraat het, het Angelena vinnig ’n stille gebed gedoen. Sy het toe op ’n vriendelike manier vir hom gesê: “My agtergrond is soortgelyk aan joune. Ek is ook as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, en ek is nou nog een.” Die atmosfeer kon met ’n mes gesny word; maar Angelena het kalm gebly terwyl sy mooi foto’s gewys het van geestelike geleenthede wat sy bygewoon het en haar oortuigings taktvol verdedig het (1 Pet. 3:15). Wat was die gevolg? Teen die tyd dat Angelena klaar gepraat het, het die man se gesindheid versag. Hy het selfs erken dat hy goeie herinneringe het van die tyd toe hy as een van Jehovah se Getuies grootgeword het. Angelena sê: “Jehovah verdien om verdedig te word. Dit is ’n voorreg om vir sy naam op te staan.” Ons het ook die voorreg om Jehovah te loof en hom te eer selfs wanneer ander dit nie doen nie.

Ons kan Jehovah eer deur middel van ons spraak (Sien paragraaf 9-10) b


11. Hoe het ware aanbidders regdeur die geskiedenis die beginsel in Psalm 96:8 gevolg?

11 Lees Psalm 96:8. Ons kan Jehovah eer met ons waardevolle dinge. Ware aanbidders het Jehovah nog altyd op daardie manier geëer (Spr. 3:9). Byvoorbeeld, die Israeliete het bydraes gegee om te help met die bou en instandhouding van die tempel (2 Kon. 12:​4, 5; 1 Kron. 29:​3-9). Liefdevolle dissipels van Christus het “hulle besittings gebruik” om hom en sy apostels te bedien (Luk. 8:​1-3). Eerste-eeuse Christene het ook noodlenigingsvoorraad aan hulle geestelike broers en susters voorsien (Hand. 11:​27-29). Vandag kan ons Jehovah ook eer deur middel van ons vrywillige bydraes.

12. Hoe kan ons bydraes Jehovah eer? (Sien ook prent.)

12 Kyk na net een ondervinding wat wys hoe ons bydraes Jehovah eer. In 2020 was daar ’n droogte in Zimbabwe wat baie lank aangehou het. Miljoene mense het amper gesterf omdat hulle nie kos gehad het nie, insluitende ’n suster met die naam Prisca. Ten spyte van die droogte het Prisca aangehou met haar roetine om elke Woensdag en Vrydag te preek, selfs gedurende die ploegseisoen. Haar bure het haar gespot omdat sy velddiens gedoen het in plaas daarvan om in haar landerye te werk en het gesê: “Jy gaan sterf van die honger.” Prisca het vol vertroue gesê: “Jehovah het sy knegte nog nooit in die steek gelaat nie.” Nie lank daarna nie het sy baat gevind by noodlenigingsvoorraad van ons organisasie. Daardie noodvoorraad is beskikbaar gemaak danksy ons bydraes. Prisca se bure was beïndruk en het vir haar gesê: “God het jou nog nooit in die steek gelaat nie, en daarom wil ons meer oor hom leer.” Sewe van haar bure het gemeentelike vergaderinge begin bywoon.

Ons kan Jehovah eer deur middel van ons waardevolle dinge (Sien paragraaf 12) c


13. Hoe kan ons gedrag Jehovah eer? (Psalm 96:9)

13 Lees Psalm 96:9. Ons kan Jehovah eer deur ons gedrag. Die priesters wat by Jehovah se tempel gedien het, moes fisies skoon wees (Eks. 40:​30-32). Maar rein gedrag is selfs belangriker as om fisies skoon te wees (Ps. 24:​3, 4; 1 Pet. 1:​15, 16). Ons moet hard werk om “die ou persoonlikheid” – onrein gesindhede en gebruike – uit te trek en om “die nuwe persoonlikheid” – ’n manier van dink en optree wat Jehovah se pragtige eienskappe weerspieël – aan te trek (Kol. 3:​9, 10). Met Jehovah se hulp kan selfs die onsedelikste en gewelddadigste mense verander en die nuwe persoonlikheid aantrek.

14. Wat leer jy uit Jack se ondervinding? (Sien ook prent.)

14 Kyk na die voorbeeld van Jack, ’n gewelddadige en gevaarlike man wat die bynaam Die Demoon gekry het. As gevolg van sy misdade is Jack tot die doodstraf gevonnis. Maar terwyl hy gewag het om tereggestel te word, het ’n broer wat daardie tronk besoek het vir hom ’n Bybelstudie aangebied, en Jack het toe die Bybel begin studeer. Ten spyte van sy agtergrond, het Jack sy ou persoonlikheid uitgetrek en met verloop van tyd gekwalifiseer om gedoop te word. Jack het so baie verander dat party van die tronkbewaarders op die dag toe hy tereggestel is, trane in hulle oë gehad het terwyl hulle totsiens gesê het. ’n Sersant wat by die tronk gewerk het, het gesê: “Jack was voorheen die ergste gevangene in hierdie plek. Nou is hy een van die bestes.” Die week ná Jack se teregstelling het die broers wat teruggekom het om die weeklikse vergadering by die tronk te hou, ’n gevangene ontmoet wat die vergadering vir die eerste keer bygewoon het. Wat het hom beweeg om dit by te woon? Hy was beïndruk deur hoe baie Jack se gedrag verander het en wou weet wat hy moes doen om Jehovah te aanbid. Dit is duidelik dat ons gedrag ons hemelse Vader kan eer! – 1 Pet. 2:12.

Ons kan Jehovah eer deur middel van ons gedrag (Sien paragraaf 14) d


HOE SAL JEHOVAH SY NAAM IN DIE NABYE TOEKOMS VERHEERLIK?

15. Hoe sal Jehovah sy naam in die nabye toekoms heeltemal verheerlik? (Psalm 96:​10-13)

15 Lees Psalm 96:​10-13. Hierdie laaste verse van Psalm 96 beskryf Jehovah as ’n regverdige Regter en Koning. Hoe sal Jehovah sy naam in die nabye toekoms verheerlik? Deur middel van sy oordele. Hy sal binnekort Babilon die Grote vernietig omdat valse godsdiens oneer op sy heilige naam gebring het (Op. 17:​5, 16; 19:​1, 2). Party wat die vernietiging van Babilon die Grote sien, sal dalk by ons aansluit in ware aanbidding. By Armageddon sal Jehovah uiteindelik Satan se wêreld vernietig en almal verwyder wat hom teëstaan en sy naam laster, maar almal red wat hom liefhet en gehoorsaam en wat trots is om hom te eer (Mark. 8:38; 2 Tess. 1:​6-10). Ná die finale toets wat volg op Christus se Duisendjarige Heerskappy sal Jehovah sy naam heeltemal geheilig het (Op. 20:​7-10). Dan sal “die aarde . . . vol wees van die kennis van die heerlikheid van Jehovah soos die waters die see bedek”. – Hab. 2:14.

16. Wat is jy vasbeslote om te doen? (Sien ook prent.)

16 Hoe opwindend sal dit wees wanneer almal wat lewe, Jehovah die eer gee wat sy naam verdien! Maar totdat daardie dag kom, kan ons ons deel doen deur ons God by elke geleentheid te eer. Om hierdie belangrike verantwoordelikheid te beklemtoon, het die Bestuursliggaam Psalm 96:8 gekies as ons jaarteks vir 2025: “Gee Jehovah die eer wat sy naam verdien.”

Uiteindelik sal almal wat lewe, Jehovah die eer gee wat sy naam verdien! (Sien paragraaf 16)

LIED 12 Groot God, Jehovah

a Party name is verander.

b BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering van Angelena se ondervinding.

c BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering van Prisca se ondervinding.

d BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering van Jack se ondervinding.