Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

LIED 108 God se lojale liefde

Hoe ons baat vind by Jehovah se liefde

Hoe ons baat vind by Jehovah se liefde

“Christus Jesus het in die wêreld ingekom om sondaars te red.”1 TIM. 1:15.

FOKUS

Hoe ons by die losprys baat vind, en hoe ons vir Jehovah kan wys dat ons dankbaar is.

1. Wat kan ons doen om Jehovah bly te maak?

 STEL jou voor dat jy vir iemand vir wie jy lief is, ’n spesiale geskenk gee wat pragtig en prakties is. Jy sal teleurgesteld wees as daardie persoon dit net wegpak en nie weer daaraan dink nie! Aan die ander kant, sal jy baie bly wees as hy of sy goed gebruik maak van jou geskenk en jou bedank daarvoor. Wat is die punt? Jehovah het sy Seun gegee om vir ons te sterf. So dit maak Jehovah baie bly wanneer ons wys dat ons dankbaar is vir daardie kosbare geskenk en vir sy liefde, wat hom beweeg het om die losprys te voorsien! – Joh. 3:16; Rom. 5:​7, 8.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Maar met verloop van tyd kan ons die geskenk van die losprys as vanselfsprekend begin aanvaar. Dit sou wees asof ons God se geskenk wegpak. Ons is bly om dit te hê, maar ons hou dit iewers waar ons dit nie kan sien nie. Om te keer dat dit gebeur, moet ons gereeld nadink oor alles wat God en Christus vir ons gedoen het. Hierdie artikel kan ons help om dit te doen. Ons sal bespreek hoe ons nou by die losprys baat vind en hoe ons in die toekoms daarby kan baat vind. Ons sal ook kyk na hoe ons ons waardering kan wys vir Jehovah se liefde, veral gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen.

HOE ONS NOU BAAT VIND

3. Wat is een manier hoe ons nou by die losprys baat vind?

3 Ons vind alreeds baat by Christus se losprysoffer. Byvoorbeeld, Jehovah vergewe ons sondes op grond van die losprys. Hy hoef ons nie te vergewe nie. Maar hy wil dit doen. Die dankbare psalmis het gesing: “Want u, o Jehovah, is goed en vergewe vryelik.” – Ps. 86:5; 103:​3, 10-13.

4. Vir wie het Jehovah die losprys voorsien? (Lukas 5:32; 1 Timoteus 1:15)

4 Party voel dalk dat hulle nie Jehovah se vergifnis verdien nie. Eintlik verdien nie een van ons sy vergifnis nie. Die apostel Paulus het verstaan dat hy “dit nie waardig [is] om ’n apostel genoem te word nie”. En tog het hy bygevoeg: “Deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek is” (1 Kor. 15:​9, 10). Wanneer ons berou toon oor ons sondes, vergewe Jehovah ons. Hoekom? Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat hy ons liefhet. So as jy voel dat jy nie Jehovah se vergifnis verdien nie, onthou dat Jehovah die losprys voorsien het, nie vir sondelose mense nie, maar vir berouvolle sondaars. – Lees Lukas 5:32; 1 Timoteus 1:15.

5. Kan enige een van ons met reg sê dat ons Jehovah se genade verdien? Verduidelik.

5 Nie een van ons moet voel dat ons Jehovah se genade verdien nie, al dien ons Jehovah al jare lank. Jehovah waardeer natuurlik ons rekord van getrouheid (Heb. 6:10). Hy het sy Seun vir ons gegee as ’n vrye gawe, nie as betaling vir ons diens aan hom nie. As ons sou sê dat ons genade verdien het of dat ons spesiale behandeling moet kry, sou ons, in werklikheid, sê dat Christus verniet gesterf het. – Vergelyk Galasiërs 2:21.

6. Hoekom het Paulus hard gewerk in Jehovah se diens?

6 Paulus het geweet dat hy nie God se goedkeuring kon verdien nie. Hoekom het hy dan so hard gewerk in Jehovah se diens? Nie om te wys dat hy dit verdien nie, maar om te wys dat hy Jehovah se onverdiende goedheid waardeer (Ef. 3:7). Soos Paulus hou ons aan om Jehovah ywerig te dien, nie om sy genade te verdien nie, maar om te wys dat ons dit waardeer.

7. Wat is nog ’n manier hoe ons nou by die losprys baat vind? (Romeine 5:1; Jakobus 2:23)

7 Nog ’n manier hoe ons nou by die losprys baat vind, is die feit dat ons ’n sterk, persoonlike verhouding met Jehovah kan hê. a Soos daar in die vorige artikel genoem is, het ons nie ’n verhouding met God gehad toe ons gebore is nie. Maar as gevolg van die losprys kan ons “vrede geniet met God” en nader aan hom kom. – Lees Romeine 5:1; Jakobus 2:23.

8. Hoekom moet ons dankbaar wees teenoor Jehovah vir die voorreg van gebed?

8 Kyk na net een aspek van ons verhouding met Jehovah – die voorreg van gebed. Jehovah luister nie net na die openbare gebede van sy volk wanneer hulle bymekaar is nie, maar ook na ons elkeen se persoonlike gebede. Gebed kan ons kalmeer en ons gemoedsrus gee, maar dit is baie meer as net goeie terapie. Dit kan ons vriendskap met God versterk (Ps. 65:2; Jak. 4:8; 1 Joh. 5:14). Terwyl Jesus op die aarde was, het hy gereeld gebid omdat hy geweet het dat Jehovah luister en dat gebed sy verhouding met sy Vader sterk sou hou (Luk. 5:16). Ons is baie dankbaar dat ons, op grond van Jesus se offerande, Jehovah se vriende kan wees en selfs in gebed met Hom kan praat!

HOE ONS IN DIE TOEKOMS KAN BAAT VIND

9. Hoe sal getroue aanbidders in die toekoms by die losprys baat vind?

9 Hoe sal Jehovah se getroue aanbidders in die toekoms by die losprys baat vind? Jehovah sal vir hulle die ewige lewe gee. Baie mense dink dat dit onmoontlik is omdat mense al duisende jare lank sterf. Maar Jehovah se oorspronklike doel is dat mense vir ewig moet lewe. As Adam nie gesondig het nie, sou niemand dink dat die ewige lewe te goed is om waar te wees nie. En al is dit nou moeilik om te dink dat ons vir ewig kan lewe, kan ons glo dat ons sal omdat ons weet dat Jehovah dit moontlik gemaak het deur die hoogste prys te betaal – die lewe van sy eie Seun. – Rom. 8:32.

10. Waarna sien die gesalfdes en die ander skape uit?

10 Al is die ewige lewe iets wat ons in die toekoms sal geniet, wil Jehovah hê dat ons nou daaraan moet dink. Die gesalfdes sien uit na ’n betekenisvolle lewe in die hemel terwyl hulle saam met Christus oor die aarde regeer (Op. 20:6). Die ander skape sien daarna uit om op ’n paradysaarde te lewe sonder pyn en hartseer (Op. 21:​3, 4). Is jy een van die ander skape wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe? Daardie beloning is nie net ’n troosprys nie! Dit is presies waarvoor mense gemaak is. Lewe op die aarde sal ons verskriklik gelukkig maak.

11-12. Wat is van die seëninge waarna ons in die Paradys kan uitsien? (Sien ook prente.)

11 Dink net hoe die lewe vir jou op die Paradysaarde sal wees. Jy sal glad nie bekommerd wees oor siekte of die dood nie (Jes. 25:8; 33:24). Jehovah sal elke gepaste begeerte wat jy het, heeltemal bevredig. Waaroor wil jy graag leer? Fisika? Chemie? Musiek? Kuns? Daar sal beslis argitekte, bouers en boere nodig wees. Daar sal sekerlik ook ’n behoefte wees aan ondersteunings- en instandhoudingsdienste, soos om kos voor te berei, gereedskap te maak en om na die pragtige landskap om te sien (Jes. 35:1; 65:21). Met die ewigheid wat vir jou voorlê, sal jy tyd hê om meer te leer oor enige vaardigheid waaraan jy kan dink.

12 Ons sal soveel vreugde hê wanneer ons dié wat opgewek is, terugverwelkom! (Hand. 24:15). Dink ook hoe baie jy dit sal geniet om meer oor Jehovah te leer deur die baie dinge wat hy gemaak het, te ondersoek (Ps. 104:24; Jes. 11:9). Die wonderlikste van alles is dat ons Jehovah sonder enige skuldgevoelens sal kan aanbid! Sou jy hierdie toekomstige seëninge verruil “om sonde ’n kort tydjie te geniet”? (Heb. 11:25). Beslis nie! Hierdie seëninge is enige opoffering wat ons nou maak, werd. Onthou, die Paradysaarde sal nie altyd ’n toekomstige hoop wees nie. Dit sal uiteindelik die teenswoordige realiteit word. Hierdie dinge sou nie moontlik gewees het as Jehovah ons nie lief genoeg gehad het om die geskenk van sy Seun vir ons te gee nie!

Na watter seëninge in die Paradys sien jy die meeste uit? (Sien paragraaf 11-12)


WYS DAT JY DANKBAAR IS VIR JEHOVAH SE LIEFDE

13. Hoe kan ons wys dat ons Jehovah se liefde waardeer? (2 Korintiërs 6:1)

13 Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir die feit dat Jehovah die losprys voorsien het? Deur sy werk prioriteit in ons lewe te gee (Matt. 6:33). Om die waarheid te sê, Jesus het gesterf “sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Kor. 5:15). Ons wil beslis nie die doel van Jehovah se onverdiende goedheid mis nie. – Lees 2 Korintiërs 6:1.

14. Hoe kan ons geloof in Jehovah se riglyne stel?

14 Ons kan ook wys dat ons dankbaar is vir Jehovah se liefde deur geloof in sy riglyne te stel. Hoe? Wanneer ons besluite moet maak, soos hoeveel sekulêre opvoeding ons nodig het of watter soort werk ons moet aanvaar, moet ons dink aan wat Jehovah sou wou hê ons moet doen (1 Kor. 10:31; 2 Kor. 5:7). Wanneer ons besluite maak wat op ons geloof in Jehovah gebaseer is, gebeur iets wonderliks – ons geloof in en vriendskap met Jehovah word selfs sterker. En ons hoop om vir ewig te lewe, word sekerder. – Rom. 5:​3-5; Jak. 2:​21, 22.

15. Hoe kan ons ons waardering gedurende die Gedenkmaalseisoen toon?

15 Maar daar is nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons Jehovah se liefde waardeer. Dit is deur hierdie Gedenkmaalseisoen te gebruik om vir Jehovah te wys hoe dankbaar ons is vir die losprys. Ons beplan nie net om die Gedenkmaal self by te woon nie, maar ons kan ander ook nooi om dit by te woon (1 Tim. 2:4). Verduidelik vir dié wat jy nooi, wat by die Gedenkmaal sal gebeur. Dit sal goed wees om vir hulle die video’s Waarom het Jesus gesterf? en Herdenk Jesus se dood op jw.org te wys. Ouermanne moet seker maak dat hulle onbedrywiges nooi. Dink net aan die vreugde wat daar in die hemel en op die aarde is as party van Jehovah se verlore skape beweeg word om na sy kudde terug te keer! (Luk. 15:​4-7). En by die Gedenkmaal wil ons nie net mekaar groet nie, maar ons wil ’n punt daarvan maak om veral dié te groet wat nuut is of wat lanklaas daar was. Ons wil hulle welkom laat voel! – Rom. 12:13.

16. Hoekom moet ons dit oorweeg om meer in ons bediening te doen gedurende die Gedenkmaalseisoen?

16 Kan jy meer in jou diens aan Jehovah doen gedurende die Gedenkmaalseisoen? Dit is ’n goeie manier om te wys dat jy alles wat God en Christus vir ons gedoen het, waardeer. Hoe meer ons in Jehovah se diens doen, hoe meer sal ons sy ondersteuning ondervind, en as gevolg daarvan sal ons vertroue in hom sterker word (1 Kor. 3:9). En maak seker dat jy die Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal doen waarna daar verwys word in Ondersoek die Skrif elke dag of in die tabel in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek. Jy kies dalk selfs om daardie Bybelverslae te gebruik as die grondslag vir ’n studieprojek.

17. Wat maak Jehovah bly? (Sien ook die venster “ Hoe ons kan wys dat ons dankbaar is vir Jehovah se liefde”.)

17 Jou omstandighede laat jou natuurlik dalk nie toe om alles te doen wat in hierdie artikel voorgestel word nie. Maar onthou dat Jehovah nie kyk na hoe baie jy gee in vergelyking met wat ander gee nie; hy sien wat in jou hart is. Dit maak hom bly wanneer hy sien hoe dankbaar jy is vir sy kosbare geskenk, die losprys. – 1 Sam. 16:7; Mark. 12:​41-44.

18. Hoekom is ons dankbaar teenoor Jehovah God en Jesus Christus?

18 Dit is net as gevolg van die losprys dat ons sondes vergewe kan word, ons Jehovah se vriende kan wees en ons die hoop het om vir ewig te lewe. Laat ons altyd wys dat ons dankbaar is vir Jehovah se liefde, wat hom beweeg het om hierdie seëninge vir ons te gee (1 Joh. 4:19). Laat ons ook wys dat ons waardering het vir Jesus, wat ons so liefgehad het dat hy sy lewe vir ons gegee het! – Joh. 15:13.

LIED 154 Liefde faal nooit

a Jehovah het dié vergewe wat hom aanbid het voordat Jesus die losprys betaal het. Jehovah kon dit doen omdat hy die vertroue gehad het dat sy Seun tot die dood toe getrou sou bly. So, in God se oë was die losprys so goed as betaal. – Rom. 3:25.