Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

LIED 35 ‘Maak seker van die belangriker dinge’

Maak besluite wat Jehovah gelukkig maak

Maak besluite wat Jehovah gelukkig maak

“Vrees vir Jehovah is die begin van wysheid, en kennis van die Allerheiligste lei tot insig.”SPR. 9:10.

FOKUS

Hoe om kennis, insig en goeie oordeel te gebruik om wyse besluite te maak.

1. Watter uitdaging het ons almal?

 ONS moet elke dag besluite maak. Party is redelik maklik om te maak, soos wat om vir ontbyt te eet of wanneer om te gaan slaap. Ander besluite is moeiliker om te maak. Dit kan ons gesondheid, ons geluk, ons geliefdes of ons aanbidding affekteer. Ons wil hê dat ons besluite ons en ons gesin moet bevoordeel. Maar die belangrikste van alles is, ons hoop dat ons besluite Jehovah gelukkig sal maak. – Rom. 12:​1, 2.

2. Watter stappe sal jou help om wyse besluite te maak?

2 Daar is ’n groter kans dat jy ’n wyse besluit sal maak as jy (1) die feite kry, (2) dink aan hoe Jehovah oor die saak voel en (3) die opsies oorweeg. Hierdie artikel sal hierdie stappe bespreek, en dit sal ons ook help om te sien hoe ons ons denkvermoë kan oefen. – Spr. 2:11.

KRY DIE FEITE

3. Watter illustrasie kan jou help verstaan hoekom jy die feite moet kry voordat jy ’n besluit maak?

3 Die eerste stap om ’n goeie besluit te maak, is om die feite te kry. Hoekom is dit belangrik? Dink byvoorbeeld aan ’n pasiënt wat dokter toe gaan omdat hy ’n ernstige mediese probleem het. Sou die dokter ’n besluit maak oor hoe om die pasiënt te behandel sonder om hom eers te ondersoek of vrae te vra? Definitief nie. Jy sal ook beter besluite maak as jy eers die feite oorweeg wat met jou situasie verband hou. Hoe kan jy dit doen?

4. In ooreenstemming met Spreuke 18:​13, hoe kan jy seker maak dat jy weet wat die feite is? (Sien ook prent.)

4 Jy kan dikwels die feite kry deur vrae te vra. Sê nou jy word na ’n sosiale geleentheid genooi. Moet jy dit bywoon? As jy nie die gasheer ken of weet wat hy vir die geleentheid beplan nie, moet jy hom vrae vra soos: “Waar en wanneer sal die geleentheid gehou word? Hoe groot sal dit wees? Wie gaan toesig hou? Wie gaan dit bywoon? Watter aktiwiteite word beplan? Sal daar alkohol wees?” Die antwoorde op hierdie vrae sal jou help om ’n wyse besluit te maak. – Lees Spreuke 18:13.

Kry die feite deur vrae te vra (Sien paragraaf 4) a


5. Wat moet jy doen nadat jy die feite gekry het?

5 Daarna, nadat jy weet wat die feite is, moet jy mooi na die volle prentjie kyk. Byvoorbeeld, wat as jy uitvind dat daar mense gaan wees wat geen respek vir Bybelbeginsels het nie of dat daar alkohol beskikbaar gaan wees sonder toesig? Dink jy dat daar ’n moontlikheid is dat dit ’n wilde partytjie kan word? (1 Pet. 4:3). Aan die ander kant, wat as die geleentheid op dieselfde tyd plaasvind as jou gemeentelike vergadering of die veldbediening? Wanneer jy die volle prentjie gesien het, sal dit vir jou makliker wees om ’n goeie besluit te maak. Maar daar is nog ’n stap wat jy moet neem. Jy weet hoe jy die situasie sien; maar hoe voel Jehovah daaroor? – Spr. 2:6.

DINK AAN HOE JEHOVAH VOEL

6. Volgens Jakobus 1:​5, hoekom moet ons vir Jehovah se hulp bid?

6 Vra Jehovah om jou te help verstaan hoe hy oor ’n saak voel. Jehovah belowe om ons die wysheid te gee om te bepaal of ’n sekere besluit hom gelukkig sal maak. Hy gee sulke wysheid “oorvloedig aan almal sonder om te verwyt”. – Lees Jakobus 1:5.

7. Hoe kan jy leer hoe Jehovah oor ’n sekere saak voel? Gee ’n voorbeeld.

7 Nadat jy vir Jehovah se leiding gebid het, skenk goed aandag aan sy antwoord. Dink hieraan: As jy verdwaal terwyl jy reis, vra jy dalk ’n plaaslike inwoner vir hulp. Maar sal jy dan wegloop voordat hy ’n kans gehad het om te antwoord? Natuurlik nie. Jy sal mooi luister terwyl hy verduidelik waarheen jy moet gaan. Net so, nadat jy Jehovah vir wysheid gevra het, moet jy sy antwoord probeer identifiseer deur uit te vind watter Bybelwette en -beginsels op jou situasie van toepassing is. Byvoorbeeld, wanneer jy besluit of jy die sosiale geleentheid wat vroeër genoem is, gaan bywoon of nie, oorweeg jy dalk wat die Bybel sê oor wilde partytjies, slegte assosiasie en die belangrikheid daarvan om Koninkryksbelange bo jou persoonlike voorkeure te stel. – Matt. 6:33; Rom. 13:13; 1 Kor. 15:33.

8. Wat kan jy doen as jy hulp nodig het om die inligting te vind waarna jy soek? (Sien ook prent.)

8 Maar partykeer het jy dalk hulp nodig om die inligting te vind waarna jy soek. Jy kry dalk raad by ’n ervare broer of suster. Maar jy sal ook daarby baat vind as jy jou eie navorsing doen. Daar is ’n magdom inligting in ons studiehulpe soos die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies en Bybeltekste vir ons Christelike lewenswyse. Onthou die doelwit: om ’n besluit te maak wat Jehovah gelukkig sal maak.

Dink aan hoe Jehovah voel (Sien paragraaf 8) b


9. Hoe kan ons seker wees dat ons besluit Jehovah gelukkig sal maak? (Efesiërs 5:17)

9 Hoe kan ons seker wees dat ons besluit Jehovah gelukkig sal maak? Eerstens, ons moet hom goed leer ken. “Kennis van die Allerheiligste lei tot insig”, sê die Bybel (Spr. 9:10). Ja, ons verkry ware insig wanneer ons weet wat Jehovah se eienskappe is, wat sy doel vir die mens is en wat hy liefhet of haat. Vra jouself: ‘Gebaseer op wat ek omtrent Jehovah weet, watter besluit kan ek maak wat hom gelukkig sal maak?’ – Lees Efesiërs 5:17.

10. Hoekom is Bybelbeginsels belangriker as familietradisie of die plaaslike kultuur?

10 Om Jehovah gelukkig te maak, moet ons partykeer dié teleurstel wat na aan ons is. Byvoorbeeld, party ouers wat goed bedoel dring dalk daarop aan dat hulle volwasse dogter met ’n man trou wat finansieel welaf is, al is hy nie geestelik sterk nie. Hulle wil natuurlik hê dat daar in hulle dogter se materiële behoeftes voorsien moet word, maar wie gaan haar help om geestelik vordering te maak? Hoe voel Jehovah oor die saak? Ons vind die antwoord in Matteus 6:33. Daar word Christene aangemoedig om aan te hou “om eers die Koninkryk . . . te soek”. Al eer ons ons ouers en respekteer ons die mense in ons gemeenskap, is dit vir ons die belangrikste dat ons Jehovah gelukkig maak.

OORWEEG DIE OPSIES

11. Watter eienskap in Filippense 1:​9, 10 sal jou help om jou opsies te oorweeg?

11 Nadat jy mooi gedink het oor die Bybelbeginsels wat by jou besluit betrokke is, moet jy jou opsies oorweeg. (Lees Filippense 1:​9, 10; sien die studienota “full discernment” in die Engelse Studiebybel.) Goeie oordeel sal jou help om die potensiële uitkoms van elke opsie te sien. Partykeer kan die besluit maklik gemaak word. Maar nie alle besluite is so eenvoudig nie. Goeie oordeel sal jou help om wyse besluite te maak selfs in ingewikkelde situasies.

12-13. Hoe kan goeie oordeel jou help om ’n wyse besluit te maak wanneer dit by sekulêre werk kom?

12 Dink aan hierdie scenario. Jy is op soek na ’n werk om jou gesin te onderhou. Twee werke is beskikbaar. Jy dink oor al die feite, soos die tipe werk, die rooster, die hoeveelheid tyd wat dit jou sal neem om daar te kom, ensovoorts. In albei gevalle is die werk skriftuurlik aanvaarbaar. Dalk hou jy meer van een opsie omdat jy die tipe werk verkies of omdat die salaris hoër is. Maar daar is ander faktore om te oorweeg voordat jy ’n besluit maak.

13 Byvoorbeeld, sal enige van die twee werke keer dat jy jou gemeentelike vergaderinge kan bywoon? Sal enige van die twee werke van die tyd vat wat jy nodig het om na jou gesin se emosionele en geestelike behoeftes om te sien? As jy sulke vrae vra, sal dit jou help om te fokus op “die belangriker dinge” – jou aanbidding en jou gesin se behoeftes – eerder as op materiële dinge. Dan kan jy ’n besluit maak wat Jehovah sal seën.

14. Hoe sal dit ons help om ander nie te laat struikel nie wanneer ons goeie oordeel gebruik en liefde betoon?

14 Goeie oordeel beweeg ons ook om te dink aan hoe ons besluit ander mense dalk sal affekteer sodat ons “ander nie laat struikel nie” (Fil. 1:​9, 10). Dit is belangrik wanneer ons persoonlike besluite maak oor dinge soos ons kleredrag en voorkoms. Byvoorbeeld, ons verkies dalk ’n sekere styl wanneer dit kom by ons kleredrag of voorkoms. Maar wat as dit ander binne of buite die gemeente aanstoot sal gee? Goeie oordeel sal ons help om hulle gevoelens te respekteer. Liefde sal ons motiveer om die voordeel van “die ander persoon” te soek en om beskeie te wees (1 Kor. 10:​23, 24, 32; 1 Tim. 2:​9, 10). Ons sal dan ’n besluit maak wat ons liefde en respek vir ander weerspieël.

15. Watter beplanning is nodig voordat jy ’n groot besluit implementeer?

15 As jy ’n groot besluit maak, dink aan wat jy sal moet doen om dit te implementeer. Jesus het ons geleer om ‘die koste te bereken’ (Luk. 14:28). So dink aan die hoeveelheid tyd, middele en moeite wat dit sal verg om die besluit te laat werk. In sekere gevalle sal jy dalk met jou gesin praat om te bepaal wat elke lid sal moet doen om die besluit te ondersteun. Hoekom is hierdie soort beplanning waardevol? Dit kan wys dat jou besluit ’n paar aanpassings nodig het of dat ’n ander opsie praktieser is. En wanneer jy jou gesinslede betrek en na hulle insette luister, sal hulle gewilliger wees om saam met jou te werk om ’n sukses te maak van die besluit. – Spr. 15:22.

MAAK ’N BESLUIT WAT SUKSESVOL SAL WEES

16. Watter stappe sal jou help om ’n besluit te maak wat suksesvol sal wees? (Sien ook die venster “ Hoe om wyse besluite te maak”.)

16 As jy die stappe gevolg het wat in hierdie artikel genoem is, is jy gereed om ’n wyse besluit te maak. Jy het die feite gekry en die beginsels ondersoek wat jou sal help om ’n besluit te maak wat Jehovah gelukkig maak. Nou kan jy Jehovah vra om jou te help om jou besluit suksesvol te maak.

17. Wat is die belangrikste ding wat jou sal help om goeie besluite te maak?

17 Al het jy in die verlede baie suksesvolle besluite gemaak, moet jy onthou dat die belangrikste ding wat jou sal help om goeie besluite te maak, nie is om op jou eie intelligensie of ondervinding te vertrou nie, maar op die wysheid van Jehovah. Net hy kan jou ware kennis, insig en goeie oordeel gee – die boublokke van wysheid (Spr. 2:​1-5). Jehovah kan jou help om besluite te maak wat hom gelukkig maak. – Ps. 23:​2, 3.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

a BESKRYWING VAN PRENT: Jong broers en susters praat oor ’n uitnodiging na ’n partytjie wat hulle op hulle fone gekry het.

b BESKRYWING VAN PRENT: Een van die broers doen navorsing voordat hy besluit of hy na die partytjie toe gaan of nie.