Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

LIED 132 Nou is ons een

Mans, behandel jou vrou met respek

Mans, behandel jou vrou met respek

“Mans, . . . behandel julle vrouens met respek.”1 PET. 3:7.

FOKUS

Hoe ’n man sy vrou in woord en daad met respek kan behandel.

1. Wat is een rede hoekom Jehovah die huweliksreëling ingestel het?

 JEHOVAH is “die gelukkige God,” en hy wil hê dat ons ook gelukkig moet wees (1 Tim. 1:11). Hy het ons baie geskenke gegee om ons te help om die lewe te geniet (Jak. 1:17). Een van daardie geskenke is die huwelik. Wanneer ’n man en vrou trou, belowe hulle om mekaar lief te hê, te respekteer en te koester. Wanneer ’n man en vrou hulle liefde vir mekaar sterk hou, kan dit hulle regtig gelukkig maak. – Spr. 5:18.

2. Wat gebeur vandag in baie huwelike?

2 Ongelukkig vergeet baie getroude paartjies in vandag se wêreld die beloftes wat hulle op hulle troudag gemaak het. As gevolg daarvan is hulle nie gelukkig nie. ’n Onlangse verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie wys dat baie mans hulle vrou fisies, verbaal of emosioneel mishandel. ’n Man wat dit doen, behandel sy vrou dalk met respek voor ander, maar mishandel haar dan by die huis. Baie huwelike is ook onder druk wanneer ’n man na pornografie kyk.

3. Watter faktore kan daartoe bydra dat ’n man sy vrou mishandel?

3 Wat kan veroorsaak dat party mans hulle vrou mishandel? Hulle is dalk deur ’n gewelddadige pa grootgemaak, en daarom dink hulle dat dit normaal is om hulle vrou te mishandel. Ander word beïnvloed deur die kultuur rondom hulle wat dalk die verkeerde idee bevorder dat “’n regte man” mag en krag moet gebruik om vir sy vrou te wys wie die baas is. Ander mans is nie geleer om hulle emosies, insluitende hulle woede, te beheer nie. Party mans het ’n verkeerde beskouing van vrouens en seks ontwikkel omdat hulle gereeld na pornografie kyk. En verslae wys dat die impak van die COVID-19-pandemie hierdie probleme vererger het. Nie een van hierdie faktore gee ’n man natuurlik die reg om sy vrou te mishandel nie.

4. Waarvoor moet Christenmans versigtig wees, en hoekom?

4 Christenmans moet versigtig wees om nie ’n ongepaste beskouing van vrouens te ontwikkel nie. a Hoekom? Een rede is dat ’n persoon se denke dikwels tot dade lei. Die apostel Paulus het gesalfde Christene in Rome gewaarsku: “Moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie” (Rom. 12:​1, 2). Toe Paulus aan die Romeine geskryf het, het die gemeente heel moontlik al ’n paar jaar bestaan. Maar Paulus se woorde impliseer dat die gewoontes en denke van die wêreld party in die gemeente nog steeds beïnvloed het. Dit is hoekom hy hulle aangemoedig het om hulle denke en gedrag te verander. Daardie raad is beslis vandag op Christenmans van toepassing. Ongelukkig is party van hulle beïnvloed deur die denke van die wêreld en het hulle al selfs hulle vrou mishandel. b Hoe wil Jehovah hê moet ’n man sy vrou behandel? Ons vind die antwoord in die temateks vir hierdie artikel.

5. Volgens 1 Petrus 3:​7, hoe moet ’n man sy vrou behandel?

5 Lees 1 Petrus 3:7. Jehovah beveel mans om hulle vrou met respek te behandel. ’n Man wat sy vrou met respek behandel, sal haar op ’n mooi en liefdevolle manier behandel. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ’n man kan wys dat hy sy vrou met respek behandel. Maar kom ons bespreek eers die soort gedrag wat wys dat ’n man sy vrou nie met respek behandel nie.

VERWERP GEDRAG WAT WYS DAT JY JOU VROU NIE RESPEKTEER NIE

6. Hoe voel Jehovah oor mans wat hulle vrou fisies mishandel? (Kolossense 3:19)

6 ’n Man moenie sy vrou fisies mishandel nie. Jehovah haat enige iemand wat gewelddadig is (Ps. 11:5). Hy haat dit veral wanneer ’n man sy vrou mishandel. (Mal. 2:16; lees Kolossense 3:19.) Volgens ons temateks, 1 Petrus 3:​7, sal ’n man se verhouding met God beïnvloed word as hy sy vrou sleg behandel. Jehovah sal dalk selfs nie na sy gebede luister nie.

7. Volgens Efesiërs 4:​31, 32, watter soort spraak moet mans vermy? (Sien ook “Wat dit beteken”.)

7 ’n Man moenie sy vrou verbaal mishandel nie. Party mans mishandel hulle vrou deur op ’n woedende manier met haar te praat en lelike dinge vir haar te sê. Maar Jehovah haat “woede, geskree en beledigende taal”. c (Lees Efesiërs 4:​31, 32.) Hy hoor alles. Die manier hoe ’n man met sy vrou praat, selfs in die privaatheid van hulle huis, maak vir Jehovah saak. ’n Man wat lelik met sy vrou praat, beskadig nie net sy huwelik nie, maar ook sy vriendskap met God. – Jak. 1:26.

8. Hoe voel Jehovah oor pornografie, en hoekom?

8 ’n Man moenie na pornografie kyk nie. Hoe voel Jehovah oor pornografie? Hy haat dit. So, ’n man wat na onrein prente kyk, beskadig sy verhouding met Jehovah en verneder sy vrou. d Jehovah verwag van ’n man om lojaal aan sy vrou te bly, nie net wanneer dit kom by wat hy doen nie, maar ook by wat hy dink. Jesus het gesê dat ’n man wat op ’n passievolle manier na ’n ander vrou kyk, reeds “in sy hart” egbreuk gepleeg het. eMatt. 5:​28, 29.

9. Hoekom haat Jehovah dit wanneer ’n man sy vrou op ’n seksueel vernederende manier behandel?

9 ’n Man moenie sy vrou op ’n seksueel vernederende manier behandel nie. Party mans plaas druk op hulle vrou om seksuele dinge te doen wat vernederend is en wat haar onrein of ongeliefd laat voel. Jehovah haat sulke selfsugtige en liefdelose gedrag. Hy verwag dat ’n man sy vrou moet liefhê en moet koester en haar gevoelens moet respekteer (Ef. 5:​28, 29). Sê nou ’n Christenman verneder of mishandel sy vrou alreeds of kyk na pornografie? Hoe kan hy sy denke en gedrag verander?

HOE OM SLEGTE GEDRAG TE OORKOM

10. Hoe kan mans baat vind by Jesus se voorbeeld?

10 Wat kan ’n man help om op te hou om sy vrou te mishandel en te verneder? Hy kan Jesus probeer navolg. Al het Jesus nooit getrou nie, is die manier hoe hy sy dissipels behandel het ’n goeie voorbeeld van hoe ’n man sy vrou moet behandel (Ef. 5:25). Byvoorbeeld, kyk wat mans kan leer uit die manier hoe Jesus sy apostels behandel het en uit die manier hoe hy met hulle gepraat het.

11. Hoe het Jesus sy apostels behandel?

11 Jesus het sy apostels op ’n liefdevolle en respekvolle manier behandel. Hy was nooit wreed of dominerend nie. Al was hy hulle Here en Meester, het Jesus nie gevoel dat hy sy gesag oor hulle moet bewys deur vir hulle te wys hoe sterk hy is nie. Hy het hulle eerder nederig gedien (Joh. 13:​12-17). Hy het vir sy dissipels gesê: “Leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry” (Matt. 11:​28-30). Let op dat Jesus saggeaard was. Iemand wat saggeaard is, is nie swak nie. Hy het eerder die innerlike krag om homself te beheer. Wanneer hy ontsteld is, bly hy kalm en in beheer van sy emosies.

12. Hoe het Jesus met ander gepraat?

12 Jesus het sy woorde gebruik om ander te vertroos en te verfris. Hy het nie lelik met sy volgelinge gepraat nie (Luk. 8:​47, 48). Selfs wanneer teenstanders hom beledig het en hom probeer uitlok het, het “hy nie terug beledig nie” (1 Pet. 2:​21-23). Soms het Jesus selfs gekies om stil te bly, eerder as om iets leliks te sê (Matt. 27:​12-14). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir Christenmans!

13. Soos Matteus 19:​4-6 sê, hoe kan ’n man “sy vrou aankleef”? (Sien ook prent.)

13 Jesus het vir mans gesê om lojaal aan hulle vrou te bly. Hy het sy Vader aangehaal, wat gesê het dat ’n man “sy vrou [moet] aankleef”. (Lees Matteus 19:​4-6.) Die Griekse werkwoord wat in daardie gedeelte vir “aankleef” gebruik word, beteken letterlik “om te gom”. Daarom moet die huweliksband tussen ’n man en ’n vrou so sterk wees dat dit is asof hulle aan mekaar vasgegom is. Hulle band kan nie gebreek word sonder om hulle albei te beskadig nie. ’n Man wat so ’n band met sy vrou ontwikkel, sal alle vorme van pornografie verwerp. Hy sal onmiddellik wegkyk as hy enige “waardelose dinge” sien (Ps. 119:37). Hy maak in werklikheid ’n kontrak met sy oë om nie passievol na enige vrou behalwe sy vrou te kyk nie. – Job 31:1.

’n Lojale man weier om na pornografie te kyk (Sien paragraaf 13) g


14. Watter stappe moet ’n man wat sy vrou mishandel, neem om sy verhouding met Jehovah en met sy vrou te herstel?

14 ’n Man wat sy vrou fisies of verbaal mishandel, moet nog stappe neem om sy verhouding met Jehovah en met sy vrou te herstel. Wat is hierdie stappe? Eerstens, hy besef dat hy ’n ernstige probleem het. Niks kan vir Jehovah weggesteek word nie (Ps. 44:21; Pred. 12:14; Heb. 4:13). Tweedens, hy hou op om sy vrou te mishandel en verander sy gedrag (Spr. 28:13). Derdens, hy sê jammer vir sy vrou en vir Jehovah en vra hulle vergifnis (Hand. 3:19). Hy moet Jehovah ook smeek vir die begeerte om te verander en vir die hulp om sy gedagtes, spraak en dade te beheer (Ps. 51:​10-12; 2 Kor. 10:5; Fil. 2:13). Vierdens, hy tree in ooreenstemming met sy gebede op deur te leer om alle vorme van geweld en beledigende taal te haat (Ps. 97:10). Vyfdens, hy vra onmiddellik die hulp van liefdevolle herders in die gemeente (Jak. 5:​14-16). Sesdens, hy stel ’n plan op wat hom sal help om alle vorme van sulke gedrag in die toekoms te vermy. ’n Man wat na pornografie kyk, moet hierdie selfde stappe volg. Jehovah sal alles wat hy doen om sy gedrag te verander, seën (Ps. 37:5). Maar dit is nie genoeg vir ’n man om op te hou om sy vrou sleg te behandel nie. Hy moet ook leer hoe om haar met respek te behandel. Hoe kan hy dit doen?

HOE OM JOU VROU MET RESPEK TE BEHANDEL

15. Hoe kan ’n man vir sy vrou wys dat hy haar liefhet?

15 Wys vir haar dat jy haar liefhet. Party gelukkig getroude broers maak dit ’n gewoonte om elke dag iets te doen om vir hulle vrou te wys hoe baie hulle haar liefhet (1 Joh. 3:18). ’n Man kan sy liefde vir sy vrou op klein maniere wys, soos deur haar hand vas te hou of vir haar ’n drukkie te gee. Hy kan vir haar ’n teksboodskap stuur en vir haar sê “Ek mis jou” of vra “Hoe is jou dag sover?” Van tyd tot tyd kan hy vir haar ’n kaartjie skryf waarin hy vir haar sê hoe baie hy haar liefhet. Wanneer ’n man hierdie dinge doen, behandel hy sy vrou met respek en versterk hy hulle huwelik.

16. Hoekom moet ’n man sy vrou prys?

16 Sê vir haar dat jy haar waardeer. ’n Man wat sy vrou met respek behandel, bou haar op en moedig haar aan. Een manier hoe hy dit doen, is deur te onthou om vir haar te sê hoe baie hy alles waardeer wat sy doen om hom te ondersteun (Kol. 3:15). Wanneer ’n man sy vrou opreg prys, laat hy haar goed voel. Sy sal veilig voel en voel dat hy haar liefhet en respekteer. – Spr. 31:28.

17. Hoe kan ’n man sy vrou met respek behandel?

17 Behandel haar op ’n liefdevolle en respekvolle manier. ’n Man wat sy vrou liefhet, waardeer en koester haar. Hy beskou haar as ’n kosbare geskenk van Jehovah (Spr. 18:22; 31:10). As gevolg daarvan behandel hy haar liefdevol en met respek, selfs tydens die intiemer en private aspekte van die huwelik. Hy sal nie druk op haar plaas om seksuele dade te doen wat haar ongemaklik laat voel, wat haar verneder of wat haar gewete pla nie. f Hy sal ook probeer om ’n skoon gewete voor Jehovah te behou. – Hand. 24:16.

18. Wat moet mans vasbeslote wees om te doen? (Sien ook die venster “ Vier maniere om ’n respekvolle man te wees”.)

18 Jy kan seker wees dat dit Jehovah gelukkig maak wanneer hy sien dat jy hard probeer om jou vrou met respek te behandel in alles wat jy sê en doen. Wees vasbeslote om haar te respekteer deur haar nie sleg te behandel nie en deur liefdevol teenoor haar te wees. Deur dit te doen, wys jy vir haar dat jy haar liefhet en haar waardeer. Behandel jou vrou met respek en jy sal jou belangrikste verhouding beskerm – jou vriendskap met Jehovah. – Ps. 25:14.

LIED 131 ‘Wat God saamgevoeg het’

a Dit sal mans help as hulle die artikel “Behandel jy vrouens soos Jehovah hulle behandel?” in Die Wagtoring van Januarie 2024 lees.

b Dit kan slagoffers van gesinsgeweld help as hulle die artikel “Hulp vir slagoffers van gesinsgeweld” in die “Nog onderwerpe”-reeks op jw.org en in JW Library® lees.

c WAT DIT BETEKEN: “Beledigende taal” sluit in om wrede dinge vir iemand te sê om hulle te beledig en om hulle sleg te laat voel oor hulleself. Dit sluit ook in dat jy iemand heeltyd kritiseer. So enige iets wat ’n man sê om sy vrou seer te maak of te verkleineer, is beledigende taal.

d Sien op jw.org en in JW Library die artikel “Pornografie kan jou huwelik vernietig”.

e ’n Vrou wie se man na pornografie kyk, sal baat vind by die artikel “Wanneer ’n huweliksmaat na pornografie kyk” in Die Wagtoring van Augustus 2023.

f Die Bybel gee nie besonderhede oor watter seksuele dade tussen ’n man en vrou as rein of onrein beskou moet word nie. ’n Christenpaartjie moet besluite maak wat wys dat hulle vasbeslote is om Jehovah te eer, mekaar te bevredig en ’n skoon gewete te behou. Oor die algemeen sal ’n paartjie nie hierdie intieme aspek van hulle huwelik met ander bespreek nie.

g BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer se nie-Getuie kollegas probeer hom oorreed om na hulle pornografiese tydskrif te kyk.