Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

Wat leer die losprys ons?

Wat leer die losprys ons?

“Dit is hoe die liefde van God . . . geopenbaar is.”1 JOH. 4:9.

FOKUS

Wat die losprys openbaar oor die pragtige eienskappe van Jehovah God en van Jesus Christus.

1. Hoe vind ons daarby baat om die jaarlikse Herdenking van Christus se dood by te woon?

 JY STEM sekerlik saam dat die losprys ’n kosbare geskenk is! (2 Kor. 9:15). Omdat Jesus sy menselewe opgeoffer het, kan jy ’n sterk vriendskap met Jehovah God hê. Jy kan ook die vooruitsig hê om vir ewig te lewe. Ons het baie redes om dankbaar te wees teenoor Jehovah, wat die losprys voorsien het omdat hy ons baie liefhet! (Rom. 5:8). Om ons te help om dankbaar te bly en om nooit die losprys as vanselfsprekend te aanvaar nie, het Jesus die jaarlikse Herdenking van sy dood ingestel. – Luk. 22:​19, 20.

2. Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

2 Die Gedenkmaal sal hierdie jaar op Saterdag 12 April 2025 gehou word. Ons almal beplan sekerlik om dit by te woon. Ons sal grootliks daarby baat vind as ons gedurende die Gedenkmaalseisoen tyd opsysit om na te dink oor wat Jehovah en sy Seun vir ons gedoen het. In hierdie artikel sal ons bespreek wat die losprys ons oor Jehovah en sy Seun leer. In die volgende artikel sal ons gehelp word om te verstaan hoe ons by daardie losprys kan baat vind en hoe ons kan wys dat ons dankbaar is daarvoor.

WAT DIE LOSPRYS ONS OOR JEHOVAH LEER

3. Hoe kon die dood van een mens tot die verlossing van miljoene mense lei? (Sien ook prent.)

3 Die losprys leer ons oor Jehovah se geregtigheid (Deut. 32:4). Hoe so? Dink hieraan: Ons het sonde wat tot die dood lei van die ongehoorsame Adam geërf (Rom. 5:12). Om ons van sonde en die dood te bevry, het Jehovah gereël dat Jesus die losprys voorsien. Maar hoe kon die offerande van een volmaakte mens miljoene mense loskoop? Die apostel Paulus verduidelik: “Net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] sondaars gemaak is, so sal baie ook deur die gehoorsaamheid van die een persoon [Jesus] regverdig gemaak word” (Rom. 5:19; 1 Tim. 2:6). Met ander woorde, een ongehoorsame volmaakte mens het veroorsaak dat ons slawe van sonde en die dood word. So, een gehoorsame volmaakte mens was nodig om ons te bevry.

Een mens het veroorsaak dat ons slawe van sonde en die dood word. As gevolg van een mens, Jesus, kan ons van sonde en die dood bevry word (Sien paragraaf 3)


4. Hoekom het Jehovah nie net opregte lede van Adam se nageslag toegelaat om vir ewig te lewe nie?

4 Moes Jesus regtig sterf om ons te red? Kon Jehovah nie net besluit om opregte lede van Adam se nageslag toe te laat om vir ewig te lewe nie? Vir onvolmaakte mense lyk dit dalk asof dit die liefdevolle en redelike ding sou wees om te doen. Maar dit neem nie Jehovah se volmaakte geregtigheid in ag nie. Omdat Jehovah regverdig is, sou hy nooit kies om Adam se ernstige sonde te ignoreer nie.

5. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah altyd sal doen wat reg is?

5 Wat as Jehovah nie ’n losprys voorsien het nie, maar geregtigheid opsygesit het deur Adam se onvolmaakte seuns en dogters toe te laat om vir ewig te lewe? Mense sou waarskynlik gewonder het of God dalk in ander gevalle geregtigheid ook sou ignoreer. Byvoorbeeld, sou hy dalk van sy beloftes nie nakom nie? Ons hoef ons nie oor so ’n moontlikheid te bekommer nie. Die feit dat Jehovah gedoen het wat reg is, al was dit ’n groot opoffering – om sy eie dierbare Seun op te offer – verseker ons dat hy altyd sal doen wat reg is.

6. Wat is een manier hoe die losprys Jehovah se liefde openbaar? (1 Johannes 4:​9, 10)

6 Die losprys help ons om te verstaan dat Jehovah regverdig is, maar dit help ons veral om die diepte van sy liefde te begryp. (Joh. 3:16; lees 1 Johannes 4:​9, 10.) Die lering van die losprys openbaar dat Jehovah nie net wil hê dat ons vir ewig moet lewe nie, maar dat ons ook deel van sy gesin moet wees. Dink hieraan: Toe Adam gesondig het, kon hy nie meer deel van Jehovah se gesin wees nie. As gevolg daarvan was ons ook nie deel van God se gesin toe ons gebore is nie. Maar op grond van die losprys vergewe Jehovah ons sondes en sal hy alle mense wat geloof beoefen en wat gehoorsaam is, uiteindelik deel van sy gesin maak. Ons kan selfs nou ’n goeie verhouding met Jehovah en met ons broers en susters hê. Jehovah het ons werklik lief! – Rom. 5:​10, 11.

7. Hoe help Jesus se pyn en lyding ons om te verstaan hoe baie Jehovah ons liefhet?

7 Ons kan Jehovah se diep liefde vir ons beter verstaan as ons kyk na wat die losprys hom gekos het. Satan sê dat geen kneg van God lojaal aan Hom sal bly wanneer dit moeilik is om dit te doen nie. Om Satan verkeerd te bewys, het Jehovah toegelaat dat Jesus ly voordat hy gesterf het (Job 2:​1-5; 1 Pet. 2:21). Jehovah het gesien hoe mense Jesus bespot, hoe soldate hom slaan en hoe hy aan ’n paal gehang word. Toe het Jehovah toegekyk hoe sy dierbare Seun op ’n baie pynlike manier sterf (Matt. 27:​28-31, 39). Jehovah het die krag gehad om te keer dat al hierdie dinge gebeur. Byvoorbeeld, toe teenstanders gesê het: “Laat [God] hom nou red as Hy hom wil hê,” kon Jehovah dit gedoen het (Matt. 27:​42, 43). Maar as God ingetree het, sou Jesus nie die losprys kon betaal nie en sou ons geen hoop gehad het nie. Daarom het Jehovah toegelaat dat sy Seun pyn en lyding verduur totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het.

8. Het Jehovah hartseer gevoel toe hy sy Seun sien ly? Verduidelik. (Sien ook prent.)

8 Omdat God almagtig is, moet ons nie dink dat hy nie gevoelens het nie! Ons is na sy beeld gemaak, geskep met die vermoë om te voel, so dit maak sin dat Jehovah gevoelens het. Die Bybel beskryf hom as iemand wat al “seergemaak” en “hartseer” gevoel het (Ps. 78:​40, 41). Kyk ook na die ondervinding van Abraham en Isak. Jy sal onthou dat Abraham beveel is om sy enigste seun op te offer (Gen. 22:​9-12; Heb. 11:​17-19). Dink aan al die verskillende emosies wat Abraham moes gevoel het terwyl hy hom gereedgemaak het om sy eie seun dood te maak. Dink net hoe hartseerder Jehovah moes gevoel het terwyl hy gekyk het hoe sy Seun deur goddelose mense tot die dood toe wreed gemartel is! – Sien op jw.org die video Volg hulle geloof na – Abraham, Deel 2.

Dit het Jehovah hartseer gemaak om sy Seun te sien ly (Sien paragraaf 8)


9. Hoe help Romeine 8:​32, 38, 39 jou om die diepte van Jehovah se liefde vir jou en jou broers en susters te verstaan?

9 Die losprys leer ons dat niemand ons so baie liefhet soos Jehovah nie – nie eers ons geliefste familielid of beste vriend nie. (Lees Romeine 8:​32, 38, 39.) Jehovah het ons beslis liewer as wat ons onsself liefhet. Wil jy graag vir ewig lewe? Nie so graag as wat Jehovah wil hê jy moet nie. Wil jy graag hê dat jou sondes vergewe moet word? Nie so graag as wat Jehovah dit wil vergewe nie. Al wat hy van ons vra, is dat ons sy kosbare geskenk aanvaar deur geloof te beoefen en gehoorsaam te wees. Die losprys is werklik ’n wonderlike bewys van God se liefde. En in die nuwe wêreld sal ons selfs meer leer oor Jehovah se liefde. – Pred. 3:11.

WAT DIE LOSPRYS ONS OOR JESUS LEER

10. (a) Wat het Jesus veral verskriklik hartseer gemaak oor sy teregstelling? (b) Op watter maniere het Jesus Jehovah se naam geregverdig? (Sien ook die venster “ Jesus se integriteit het Jehovah se naam geregverdig”.)

10 Jesus is baie besorg oor sy Vader se reputasie (Joh. 14:31). Die feit dat Jesus van godslastering en sedisie beskuldig is, het hom verskriklik hartseer gemaak omdat dit oneer op sy Vader se naam kon bring. Dit is hoekom hy gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan” (Matt. 26:39). Maar omdat Jesus sy integriteit aan Jehovah tot die dood toe behou het, het hy sy Vader se naam heeltemal geregverdig.

11. Hoe het Jesus diep liefde vir mense gewys? (Johannes 13:1)

11 Die losprys leer ons ook dat Jesus baie vir mense omgee, veral vir sy dissipels. (Spr. 8:31; lees Johannes 13:1.) Byvoorbeeld, Jesus het geweet dat party aspekte van sy aardse bediening baie moeilik sou wees, veral sy pynlike dood. Maar toe hy sy toewysing op die aarde uitgevoer het, het hy nie net gedoen wat hy moet doen nie. Jesus het eerder heelhartig gepreek, onderrig en mense gehelp. Selfs op die dag van sy dood het Jesus tyd geneem om sy apostels se voete te was, om hulle te leer en om hulle aan te moedig en te vertroos (Joh. 13:​12-15). Toe terwyl hy aan die paal gehang het, het Jesus ’n paar oomblikke geneem om ’n sterwende misdadiger hoop te gee en om reëlings te tref sodat daar vir sy ma gesorg sou word (Luk. 23:​42, 43; Joh. 19:​26, 27). Jesus het sy diep liefde vir mense gewys deur nie net vir hulle te sterf nie, maar deur hulle liefdevol te behandel.

12. Wat doen Jesus nou vir ons?

12 Dit is waar dat Jesus “eens en vir altyd” gesterf het, maar hy doen nog steeds baie dinge vir ons (Rom. 6:10). Hoe so? Hy hou aan werk om vir ons die baie goeie dinge te gee wat nou vir ons moontlik is as gevolg van die losprys. Dink aan wat hy besig is om te doen. Hy dien as ons Koning, Hoëpriester en hoof van die gemeente (1 Kor. 15:25; Ef. 5:23; Heb. 2:17). Hy is in beheer van die werk om die gesalfdes en die groot menigte bymekaar te bring, ’n werk wat voltooi sal word voor die einde van die groot verdrukking (Matt. 25:32; Mark. 13:27). a Hy maak ook seker dat sy getroue knegte gedurende hierdie laaste dae geestelik goed gevoed word (Matt. 24:45). En regdeur sy Duisendjarige Heerskappy sal hy aanhou om vir ons dinge te doen. Jehovah het werklik sy Seun vir ons gegee!

MOET NOOIT OPHOU LEER NIE

13. Hoe kan jy aanhou leer oor die liefde wat God en Christus vir ons het?

13 Jy kan aanhou leer oor die liefde wat Jehovah God en Christus Jesus vir ons het as jy aanhou om daaroor na te dink. Jy kan dalk gedurende hierdie jaar se Gedenkmaalseisoen een of meer van die Evangelieverslae mooi deurlees. Moenie probeer om te veel inligting op een slag te dek nie. Lees eerder stadiger en soek na nog redes hoekom ons Jehovah en Jesus moet liefhê. En deel gerus dit wat jy leer, met ander.

14. In ooreenstemming met Psalm 119:97 en voetnoot, hoe kan navorsing ons help om aan te hou leer oor die losprys sowel as ander leringe? (Sien ook prent.)

14 As jy al jare lank in die waarheid is, wonder jy dalk of dit moontlik is om nuwe dinge te ontdek oor bekende onderwerpe soos God se geregtigheid, sy liefde en die losprys. Die waarheid is dat daar nie ’n einde is aan wat ons oor hierdie en ander onderwerpe kan leer nie. So, wat kan jy doen? Maak ten volle gebruik van die magdom inligting wat in ons publikasies gevind kan word. Wanneer jy iets in die Bybel lees wat jy nie heeltemal verstaan nie, doen navorsing. Dink dan deur die loop van die dag na oor wat jy ontdek het en wat dit jou oor Jehovah, sy Seun en hulle liefde vir jou leer. – Lees Psalm 119:97 en voetnoot.

Al is ons al jare lank in die waarheid, kan ons ons waardering vir die losprys vergroot (Sien paragraaf 14)


15. Hoekom moet ons aanhou om nuwe dinge uit die Bybel te probeer leer?

15 Moenie mismoedig wees as jy nie iets nuuts of opwindends vind elke keer dat jy die Bybel lees of navorsing doen nie. In ’n sekere sin is jy soos ’n persoon wat na goud soek. Dikwels moet ’n persoon wat na goud soek, baie ure of dae lank soek voordat hy ’n bietjie goud vind. Maar hy hou aan soek omdat elke stukkie goud vir hom kosbaar is. Elke nuwe ding wat ons uit die Bybel leer, is selfs kosbaarder as goud! (Ps. 119:127; Spr. 8:10). So wees geduldig en bly by jou Bybelleesrooster. – Ps. 1:2.

16. Hoe kan ons Jehovah en Jesus navolg?

16 Terwyl jy studeer, soek na maniere om wat jy leer, in jou lewe toe te pas. Byvoorbeeld, volg Jehovah se geregtigheid na deur ander onpartydig te behandel. Volg Jesus se liefde vir sy Vader en vir ander na deur gewillig te wees om vir Jehovah se naam te ly en deur ander te help selfs al sal dit jou lewe soms moeiliker maak. En volg Jesus na deur vir ander te preek sodat hulle ook die geleentheid het om Jehovah se kosbare geskenk te aanvaar.

17. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Hoe meer ons die losprys verstaan en waardeer, hoe meer sal ons Jehovah en sy Seun liefhê. Dan sal hulle ons meer liefhê (Joh. 14:21; Jak. 4:8). So laat ons Jehovah se voorsienings gebruik om aan te hou leer oor die losprys. Die volgende artikel sal ’n paar maniere bespreek waarop ons by die losprys kan baat vind en hoe ons kan wys dat ons Jehovah se liefde waardeer.

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

a “Die dinge in die hemel” wat bymekaargebring word waarna Paulus in Efesiërs 1:10 verwys, is anders as die insameling van “dié wat . . . uitgekies is,” waarna Jesus in Matteus 24:31 en Markus 13:27 verwys. Paulus verwys na die tyd wanneer Jehovah sy geesseuns kies deur hulle met heilige gees te salf. Jesus verwys na die tyd gedurende die groot verdrukking wanneer die oorblywende gesalfdes op die aarde bymekaargemaak word en hemel toe geneem word.