Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Mag hy al jou planne verwesenlik’

‘Mag hy al jou planne verwesenlik’

“Verlustig jou ook in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee.”—PS. 37:4.

LIEDERE: 89, 140

1. Watter besluite moet jongmense oor hulle toekoms maak, en waarom hoef hulle nie bang te wees nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

JONGMENSE, julle stem seker saam dat ons moet weet waarheen ons wil gaan voordat ons ’n reis aanpak. Die lewe is soos ’n reis, en jy moet daarvoor beplan terwyl jy nog jonk is. Dit is natuurlik nie maklik om sulke planne te maak nie. Heather sê: “Dit maak my bang. Jy moet besluit wat jy vir die res van jou lewe gaan doen.” Maar skep moed. Jehovah sê vir sy volk: “Moenie bang wees nie . . . want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help.”—Jes. 41:10.

2. Hoe weet jy dat Jehovah wil hê dat jy gelukkig moet wees?

2 Jehovah spoor jou aan om jou toekoms versigtig te beplan (Pred. 12:1; Matt. 6:20). Hy wil hê dat jy gelukkig moet wees. Die pragtige dinge wat ons in die skepping kan sien, hoor en proe, oortuig ons hiervan. Dink ook oor hoe hy vir ons sorg en ons leer wat die beste vir ons is. Jehovah sê vir almal wat nie na hom luister nie: “Julle het . . . gekies wat my glad nie behaag het nie . . . Kyk! My knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk! My knegte sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart” (Jes. 65:12-14). Dit maak Jehovah bly as ons goeie besluite neem.—Spr. 27:11.

PLANNE WAT JOU GELUKKIG SAL MAAK

3. Wat wil Jehovah hê moet jy doen?

3 Watter planne wil Jehovah hê moet jy maak? As jy gelukkig wil wees moet jy Jehovah leer ken en hom getrou dien (Ps. 128:1; Matt. 5:3). Diere is gemaak om te eet, te drink en kleintjies te hê. Maar Jehovah wil hê dat jou planne tot ’n gelukkige en betekenisvolle lewe moet lei. Jou Skepper is “die God van liefde” en “die gelukkige God” en hy het mense “na sy beeld” geskep (2 Kor. 13:11; 1 Tim. 1:11; Gen. 1:27). Jy sal gelukkig wees as jy ons liefdevolle God navolg. Die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Het jy dit al ondervind? Dit is ’n feit van die lewe. Daarom wil Jehovah hê dat ons toekomsplanne ons liefde vir Hom en ons naaste moet weerspieël.—Lees Matteus 22:36-39.

4, 5. Wat het Jesus gelukkig gemaak?

4 Jesus Christus is die volmaakte voorbeeld vir julle jongmense. Toe hy ’n kind was, het hy ook lekker gespeel. Die Bybel sê daar is “’n tyd om te lag . . . en ’n tyd om rond te huppel” (Pred. 3:4). Jesus het ook nader aan Jehovah gekom deur die Skrif te studeer. Toe hy 12 jaar oud was, was almal in die tempel “verbaas oor sy begrip en sy antwoorde”.—Luk. 2:42, 46, 47.

5 Toe Jesus grootgeword het, het dit hom baie gelukkig gemaak om Jehovah se wil te doen. God wou hê dat hy ‘goeie nuus aan die armes bekend maak en ’n herstel van gesig aan die blindes’ (Luk. 4:18). Psalm 40:8 sê hoe Jesus hieroor gevoel het: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen.” Jesus het dit geniet om mense van sy hemelse Vader te vertel. (Lees Lukas 10:21.) Nadat Jesus ’n vrou van ware aanbidding vertel het, het hy vir sy dissipels gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh. 4:31-34). Dit het Jesus gelukkig gemaak om God en mense lief te hê. Dit kan jou ook gelukkig maak.

6. Waarom is dit ’n goeie idee om met ervare Christene oor jou toekomsplanne te praat?

6 Baie Christene het gepionier toe hulle jonk was en dit het hulle gelukkig gemaak. Vertel hulle gerus van jou toekomsplanne. “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand” (Spr. 15:22). Hulle sal vir jou sê dat die voltydse diens jou dinge sal leer wat jou vir die res van jou lewe kan help. Nadat Jesus se Vader hom in die hemel baie dinge geleer het, het hy bly leer terwyl hy hier op die aarde was. Byvoorbeeld, hy het geleer hoe gelukkig dit ’n mens maak om iemand se hart met die goeie nuus te bereik en om lojaal onder beproewing te bly (Lees Jesaja 50:4; Heb. 5:8; 12:2). Kom ons kyk na ’n paar dinge van die voltydse diens wat jou baie gelukkig kan maak.

GEEN BETER LOOPBAAN NIE

7. Waarom geniet jongmense dit om dissipels te maak?

7 Jesus het gesê: “Gaan . . . en maak dissipels van mense . . . en leer hulle” (Matt. 28:19, 20). Dit is ’n baie bevredigende loopbaan om dissipels te maak, en dit verheerlik Jehovah. Maar ’n mens word natuurlik nie oornag ’n goeie onderrigter nie. ’n Broer met die naam Timothy, wat begin pionier het toe hy ’n tiener was, het onlangs gesê: “Ek hou daarvan om Jehovah voltyds te dien, want dit is hoe ek wys dat ek vir hom lief is. Aan die begin kon ek nie studies kry nie, maar later het ek na ’n ander plek getrek en binne ’n maand het ek ’n paar studies begin. Een van hulle het die vergaderinge begin bywoon. Ek het toe die Bybelskool vir Ongetroude Broers * bygewoon en ’n nuwe toewysing ontvang waar ek vier studies begin het. Ek hou baie daarvan om mense te leer omdat ek kan sien hoe die heilige gees hulle verander.”—1 Tess. 2:19.

8. Hoe het party jongmense meer in die predikingswerk gedoen?

8 Party jong Christene het ’n ander taal geleer. Byvoorbeeld, Jacob, van Noord-Amerika, skryf: “Toe ek sewe jaar oud was, was daar baie kinders van Viëtnam in my klas. Ek wou hulle van Jehovah vertel en daarom het ek besluit om Viëtnamees te leer. Ek het begin deur die Engelse en Viëtnamese nommers van Die Wagtoring met mekaar te vergelyk. Ek het ook vriende gemaak met die broers in die Viëtnamese gemeente daar naby. Toe ek 18 jaar oud was, het ek begin pionier. Ek het toe die Bybelskool vir Ongetroude Broers bygewoon. Hierdie opleiding help my waar ek nou as ’n pionier en die enigste ouer man in ’n Viëtnamese groep dien. Baie Viëtnamese is verbaas dat ek hulle taal geleer het. Hulle nooi my in en dikwels begin ek Bybelstudies met hulle. Party is al gedoop.”—Vergelyk Handelinge 2:7, 8.

9. Wat leer ons wanneer ons dissipels maak?

9 Wanneer jy dissipels maak, leer jy baie goeie dinge. ’n Mens leer om ’n goeie werker te wees, om met ander mense te praat, selfvertroue te hê en om taktvol te wees (Spr. 21:5; 2 Tim. 2:24). Maar dit is ook ’n groot bron van vreugde om dissipels te maak, want ons leer hoe om vir ander uit die Bybel te wys wat ons glo. Jy leer ook hoe om ’n medewerker van Jehovah te wees.—1 Kor. 3:9.

10. Hoe kan jy die predikingswerk geniet in ’n gebied waar baie mense nie belangstel nie?

10 Jy kan nog steeds jou velddiens geniet al luister min mense in die gebied na die goeie nuus. Om dissipels te maak is ’n spanpoging. Die hele gemeente span saam om na opregtes te soek. Hoewel net een broer of suster iemand vind wat ’n dissipel word, is ons almal bly, want almal het ’n aandeel aan hierdie werk gehad. Byvoorbeeld, Brandon het nege jaar lank in ’n gebied gepionier waar niemand belanggestel het nie. Hy sê: “Ek hou daarvan om die goeie nuus te verkondig, want dit is wat Jehovah wil hê ons moet doen. Ek het begin pionier kort nadat ek skool klaargemaak het. Ek hou daarvan om die jong broers in ons gemeente aan te moedig en om te sien hoe hulle geestelike vooruitgang maak. Nadat ek die Bybelskool vir Ongetroude Broers bygewoon het, het ek ’n nuwe pioniertoewysing ontvang. Ek het nooit iemand in die gebied gehelp om gedoop te word nie, maar ander het wel. Ek is baie bly dat ek besluit het om ’n volle aandeel te hê aan die werk om dissipels te maak.”—Pred. 11:6.

ANDER VORME VAN VOLTYDSE DIENS

11. Watter vorm van heilige diens het baie jongmense al geniet?

11 Daar is baie geleenthede in Jehovah se diens. Byvoorbeeld, baie jongmense help met bouprojekte. Honderde Koninkryksale moet nog gebou word. Hierdie werk is heilige diens wat God verheerlik en dit kan jou baie gelukkig maak. Dit is ook lekker om saam met jou broers en susters te werk. Jy sal ook baie by sulke teokratiese bouprojekte leer. Jy sal leer om veiligheidsbewus te wees, om hard te werk en saam met die broers te werk wat die leiding neem.

Daar is baie seëninge in die voltydse diens (Sien paragraaf 11-13)

12. Hoe kan die pionierdiens tot ander diensvoorregte lei?

12 ’n Broer met die naam Kevin sê: “Van kleins af wou ek Jehovah voltyds dien. Toe ek 19 jaar oud was, het ek begin pionier. Ek het deeltyds vir ’n broer gewerk wat ’n bouer was. Ek het geleer om aan dakke te werk en vensters en deure in te sit. Later het ek twee jaar lank in ’n span gewerk wat Koninkryksale en huise van broers herstel het wat deur orkane beskadig is. Toe ek gehoor het dat hulle in Suid-Afrika vrywilligers vir bouprojekte nodig het, het ek aansoek gedoen en is ek aanvaar. Hier in Afrika werk ek elke paar weke aan ’n ander Koninkryksaalbouprojek. My konstruksiegroep is soos ’n gesin. Ons bly saam, studeer die Bybel saam en werk saam. Ek geniet dit ook om saam met die plaaslike broers velddiens te doen. Die planne wat ek gemaak het toe ek klein was, het my gelukkiger gemaak as wat ek ooit kon dink.”

13. Waarom maak Betheldiens jongmense gelukkig?

13 Party wat planne gemaak het om Jehovah voltyds te dien, is nou by Bethel. Om by Bethel te dien maak jou baie gelukkig, want alles wat jy daar doen, is vir Jehovah. Die Bethelgesin help om geestelike voedsel te voorsien. Dustin, wat ’n Betheliet is, sê: “Toe ek nege jaar oud was, het ek besluit om Jehovah eendag voltyds te dien. Ek het begin pionier toe ek skool klaargemaak het. ’n Jaar en ’n half later is ek by Bethel aanvaar waar ek in die drukkery begin werk het en later het ek programmering gedoen. By Bethel geniet ek dit om te hoor hoe die wêreldwye predikingswerk vorder. Ek geniet dit om by Bethel te werk, want ons help mense om nader aan Jehovah te kom.”

WAT IS JOU PLANNE VIR DIE TOEKOMS?

14. Hoe kan jy nou vir die voltydse diens beplan?

14 Hoe kan jy nou vir die voltydse diens beplan? Om Jehovah heelhartig te dien, moet jy geestelike eienskappe aankweek. Wees ’n ywerige student van God se Woord, dink diep na oor wat jy leer en gee opbouende kommentare by die vergaderinge. Jy kan leer hoe om ’n bekwame verkondiger van die goeie nuus te wees terwyl jy nog op skool is. Leer om belangstelling in mense te toon deur taktvol te vra wat hulle dink en dan na hulle te luister. Jy kan ook aanbied om te help om die Koninkryksaal skoon te maak en dit in stand te hou. Jehovah gebruik graag dié wat nederig en gewillig is (Lees Psalm 110:3; Hand. 6:1-3). Die apostel Paulus het Timoteus gevra om saam met hom as ’n sendeling te dien, want hy is “gunstig vermeld deur die broers”.—Hand. 16:1-5.

15. Wat kan jy doen om werk te kry wat jou in die voltydse diens sal onderhou?

15 Die meeste pioniers moet werk om hulleself te onderhou (Hand. 18:2, 3). Dalk sal ’n kort kursus jou help om ’n deeltydse werk te kry. Praat met die kringopsiener en ander pioniers in jou kring oor jou planne en hoor wat hulle voorstelle is. En, soos die Bybel sê: “Laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word.”—Spr. 16:3; 20:18.

16. Hoe kan die voltydse diens jou vir ander voorregte in Jehovah se diens voorberei?

16 Jehovah wil hê dat ons “’n stewige houvas” op ’n gelukkige toekoms moet kry. (Lees 1 Timoteus 6:18, 19.) Jy sal ook saam met ander voltydse dienaars werk en dit sal jou help om ’n volwasse Christen te word. As ons Jehovah ywerig dien terwyl ons nog jonk is, kan dit ons ook later help om ’n gelukkiger huwelik te hê. Baie pioniers wat trou, hou aan om saam te pionier.—Rom. 16:3, 4.

17, 18. Hoe is ons hart betrokke by ons planne?

17 Ons hart is by ons planne betrokke. Psalm 20:4 sê van Jehovah: “Mag hy u gee na u hart, en mag hy al u planne verwesenlik.” Dink mooi na oor wat jy met jou lewe wil doen. En hou in gedagte wat Jehovah nou besig is om te doen en wat jy in sy diens kan doen. Doen dan wat Jehovah gelukkig sal maak.

18 As ons Jehovah heelhartig dien, sal dit jou baie gelukkig maak, want so ’n lewe verheerlik God. Ja, “verlustig jou ook in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee”.—Ps. 37:4.

^ par. 7 Dit is nou vervang deur die Skool vir Koninkrykspredikers.