Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het Jesus werklik vir my gesterf?

Het Jesus werklik vir my gesterf?

DIE Bybel is vol opregte uitdrukkings van mense “met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Ons kan byvoorbeeld Paulus se eerlike woorde in Romeine 7:21-24 maklik verstaan, waar hy gesê het: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig. . . . Ellendige mens wat ek is!” Sulke eerlike gevoelens stel ons gerus wanneer ons teen ons eie onvolmaakthede stry.

Paulus het ook op ander plekke eerlik oor sy gevoelens gepraat. In Galasiërs 2:20 het hy met volle oortuiging gesê dat Jesus “[hom persoonlik] liefgehad het en homself vir [hom persoonlik] oorgegee het”! Beskryf dit jou gevoelens? Miskien nie altyd nie.

As ons nog steeds stry teen gevoelens van waardeloosheid as gevolg van sondes in die verlede, kan dit soms vir ons moeilik wees om Jehovah se liefde en vergifnis te aanvaar, wat nog te sê om die losprysoffer te beskou as ’n persoonlike gawe aan ons. Wil Jesus werklik hê dat ons hierdie beskouing van die losprys moet hê? Indien wel, wat kan ons help om hierdie beskouing te hê? Kom ons bespreek hierdie twee vrae.

JESUS SE BESKOUING VAN SY OFFERANDE

Ja, Jesus wil hê dat ons sy offerande as ’n persoonlike gawe moet beskou. Hoe kan ons hiervan seker wees? Stel jou die toneel in Lukas 23:39-43 voor. ’n Man hang aan ’n folterpaal naby Jesus. Hy erken dat hy skuldig is aan ’n oortreding. Dit moes ’n ernstige misdaad gewees het omdat slegs sulke misdadigers op hierdie wrede manier gestraf is. Die man is angstig oor sy desperate situasie, en daarom smeek hy Jesus: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.”

Hoe het Jesus gereageer? Stel jou voor hoe pynlik dit is terwyl hy sy kop draai om oogkontak met die man te maak. Al is hy in so baie pyn, kry hy dit reg om liefdevol te glimlag en die man te vertroos deur te sê: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.” Jesus kon hom eenvoudig daaraan herinner het dat “die Seun van die mens gekom het . . . om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Maar Jesus het eerder sy offerande liefdevol op die man self toegepas. Hy was vriendelik en het die persoonlike voornaamwoorde “jy” en “my” gebruik. En hy het dit persoonlik gehou toe hy van die man se vooruitsig gepraat het – om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.

Jesus wou ongetwyfeld hê dat hierdie man sy offerande as ’n persoonlike gawe moet beskou. As Jesus so gevoel het oor ’n misdadiger wat nog nie eers die geleentheid gehad om God te dien nie, sou hy dan nie beslis ook so voel oor ’n gedoopte Christen wat wel God dien nie? Wat kan ons dan help om werklik te glo dat ons persoonlik by Christus se offerande kan baat vind?

WAT PAULUS GEHELP HET

Paulus se bediening het sy beskouing van Jesus se offerande beïnvloed. Hoe so? Hy het verduidelik: “Ek is dankbaar teenoor Christus Jesus, ons Here, wat my krag gegee het, omdat hy my getrou geag het deur ’n bediening aan my toe te wys, hoewel ek vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man was” (1 Tim. 1:12-14). Paulus se toewysing het hom verseker van Jesus se genade, liefde en vertroue in hom. Jesus het ook aan elkeen van ons die toewysing gegee om te preek (Matt. 28:19, 20). Kan dit dieselfde uitwerking op ons hê?

Albert, wat Jehovah onlangs weer begin dien het nadat hy 34 jaar lank uitgesit was, verduidelik: “Ek dink heeltyd aan my sondes. Maar wanneer ek in die bediening is, voel ek dat ek, net soos die apostel Paulus, ’n persoonlike bediening van Jesus ontvang het. Dit bou my op en help my om positief oor myself, my lewe en my toekoms te bly.” – Ps. 51:3.

Terwyl jy met alle soorte mense studeer, moet jy hulle verseker van Jesus se genade en liefde vir hulle

Allan was ’n misdadiger en baie gewelddadig voordat hy die waarheid geleer het. Hy erken: “Ek dink nog steeds aan al die slegte dinge wat ek aan mense gedoen het. Soms maak dit my depressief. Maar ek dank Jehovah dat hy ’n sondaar soos ek toelaat om die goeie nuus aan ander te verkondig. Wanneer ek sien hoe mense op die goeie nuus reageer, herinner dit my aan hoe goed en liefdevol Jehovah is. Ek voel dat hy my gebruik om ander te help wat ook slegte dinge gedoen het.”

Ons persoonlike bediening gee ons die geleentheid om iets goeds te doen en help ons om oor positiewe dinge te dink. Dit verseker ons van Jesus se genade, liefde en vertroue in ons.

JEHOVAH IS GROTER AS ONS HART

Totdat Satan se goddelose wêreld vernietig is, sal ons hart dalk aanhou om ons te veroordeel oor die verkeerde dinge wat ons in die verlede gedoen het. Wat sal ons help om teen sulke gevoelens te stry?

“Dit maak my baie bly om te weet dat ‘God groter as ons hart is,’” sê Jean, wat dikwels stry teen skuldgevoelens oor die dubbele lewe wat sy gelei het toe sy jonk was (1 Joh. 3:19, 20). Dit kan ons ook vertroos om te weet dat Jehovah en Jesus ’n baie beter beskouing van ons sondige toestand het as wat ons het. Onthou dat hulle die losprys liefdevol voorsien het, nie vir volmaakte mense nie, maar vir berouvolle sondaars. – 1 Tim. 1:15.

Ons verseker ons harte van hierdie kosbare waarheid wanneer ons biddend nadink oor die manier waarop Jesus onvolmaakte mense behandel het en wanneer ons ons bes doen om die bediening uit te voer wat hy aan ons gegee het. Deur dit te doen, kan ons, soos Paulus, sê: Jesus het “my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee”.