LEWENSVERHAAL
Ek het gedoen wat ek behoort te gedoen het
DONALD RIDLEY was meer as dertig jaar lank ’n regsgeleerde wat Jehovah se Getuies in hofsake verdedig het. Hy het ’n belangrike rol daarin gespeel om mense te help verstaan dat pasiënte die reg het om bloedoortappings te weier. Hy het die organisasie gehelp om baie hofsake in hooggeregshowe in die Verenigde State te wen. Sy vriende het hom as Don geken, en hy was hardwerkend, nederig en selfopofferend.
In 2019 was Don gediagnoseer met ’n buitengewone siekte wat die senuweestelsel aantas en waarvoor daar geen geneesmiddel is nie. Sy siekte het vinnig erger geword, en op 16 Augustus 2019 het hy gesterf. Dit is sy storie.
Ek is in 1954 in St. Paul, Minnesota, VSA, gebore. My ouers was nie ryk of arm nie, en ons was Katolieke. Ek is die tweede oudste van vyf kinders. As ’n kind het ek na ’n Katolieke skool gegaan. Ek was ’n altaardienaar en ek het die priester gedurende kerkdienste gehelp. Maar ek het nie baie omtrent die Bybel geweet nie. Al het ek geglo dat daar ’n God is wat alles gemaak het, het ek nie geglo dat die Katolieke Kerk my kon help om hom te aanbid nie.
EK LEER DIE WAARHEID
Gedurende my eerste jaar by die William Mitchell College of Law het Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Ek was besig om my wasgoed te was, en die paartjie het vriendelik gesê dat hulle sal terugkom. Toe hulle teruggekom het, het ek twee vrae vir hulle gehad: “Hoekom is slegte mense suksesvoller in die lewe as goeie mense?” en “Hoe kan mense regtig gelukkig wees?” Ek het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, met sy heldergroen buiteblad, aanvaar. Ek het ook ’n Bybelstudie aanvaar. Dit het regtig my
oë oopgemaak. Ek was baie bly om te leer dat God se Koninkryk die regering is wat oor die aarde sal regeer. Ek kon sien dat menseregerings heeltemal misluk het en dat dit net pyn, swaarkry en ongeregtigheid veroorsaak het.Vroeg in 1982 het ek myself aan Jehovah toegewy en later daardie jaar is ek gedoop by die “Koninkrykswaarheid”-streekbyeenkoms wat gehou is by die St. Paul-burgersentrum. ’n Week later het ek teruggegaan na die burgersentrum om eksamen te skryf sodat ek as ’n regsgeleerde in Minnesota kon dien. Vroeg in Oktober het ek uitgevind dat ek die eksamen geslaag het, wat beteken het dat ek as ’n regsgeleerde kon dien.
By die “Koninkrykswaarheid”-streekbyeenkoms, het ek vir Mike Richardson ontmoet, ’n Betheliet van die Bethel in Brooklyn. Hy het verduidelik dat ’n regskantoor by die hoofkwartier gevorm is. Ek het die woorde van die Etiopiese eunug in Handelinge 8:36 onthou en myself gevra: ‘Wat keer my om te vra of ek by die Regskantoor kan werk?’ So ek het toe aansoek gedoen om by Bethel te dien.
My ouers was nie gelukkig dat ek een van Jehovah se Getuies geword het nie. My pa het my gevra of dit my loopbaan as ’n regsgeleerde sou help as ek by Bethel werk. Ek het verduidelik dat ek as ’n vrywilliger sou werk. Ek het vir hom gesê dat ek $75 ’n maand sou kry, wat die maandelikse toelaag vir Betheliete was.
Omdat ek alreeds ingestem het om werk by ’n hof te doen, kon ek nie onmiddellik na Bethel toe gaan nie. So ek het my Betheldiens in 1984 in Brooklyn, New York, begin. Ek is gevra om by die Regskantoor te dien. Die tydsberekening kon nie beter gewees het nie.
OPKNAPPING VAN DIE STANLEY-TEATER
In November 1983 was die Stanley-teater in Jersey City, New Jersey, gekoop. Die broers het aansoek gedoen vir permitte om die gebou se elektriese bedrading en waterpype te vervang. Toe die broers met die plaaslike amptenare gaan praat het, het hulle verduidelik dat hulle die Stanley-teater as ’n streekbyeenkomssaal vir Jehovah se Getuies wil gebruik. Dit het ’n probleem veroorsaak. Die stad se wette oor hoe geboue gebruik kan word, het gesê dat geboue vir aanbidding net in woongebiede moet wees. Die Stanley-teater was in ’n besigheidsgebied, so die stadsamptenare het geweier om die permitte te gee. Die broers het geappelleer, maar die versoek was geweier.
Gedurende my eerste week by Bethel, het die organisasie die saak hof toe gevat. Omdat ek kort voor dit twee jaar lank by ’n hof in St. Paul, Minnesota, gewerk het, was ek bekend met hierdie tipe sake. Een van ons prokureurs het gesê dat die Stanley-teater al vir verskillende openbare geleenthede gebruik is, van flieks tot rockkonserte. Hoekom moet dit dan onwettig wees om ’n godsdienstige geleentheid daar te hou? Die hof het besluit dat Jersey City nie ons reg op godsdiensvryheid gerespekteer het nie. Die hof het die stad beveel om die nodige permitte aan ons te gee. En ek het begin sien hoe Jehovah die organisasie se gebruik van regsmiddele seën om sy werk te bevorder. Ek was so bly dat ek deel hiervan kon wees.
Die broers het met ’n groot opknappingsprojek begin. En minder as ’n jaar later, op 8 September 1985, is die graduering van die 79ste klas van Gilead by die Jersey City-Byeenkomssaal gehou. Dit was vir my ’n voorreg om deel te wees van die regspan wat gehelp het om Jehovah se werk te bevorder. Dit het my baie gelukkiger gemaak as die werk wat ek as ’n regsgeleerde gedoen het voordat ek Bethel toe gekom het. Ek het geen idee gehad dat Jehovah my nog baie sulke voorregte sou gee nie.
VERDEDIG REGTE VIR BLOEDLOSE MEDIESE BEHANDELING
In die 1980’s het dokters en hospitale gewoonlik nie die wense van ’n volwasse Getuie gerespekteer om sonder bloedprodukte behandel te word nie. Regters het dikwels gevoel dat veral swanger vrouens nie die reg het om bloedoortappings te weier nie. Hulle het gesê dat as ’n ma nie ’n bloedoortapping kry nie, sy dalk sou sterf en dat die kind dan sonder ’n ma sou grootword.
Op 29 Desember 1988 het suster Denise Nicoleau baie bloed verloor nadat sy geboorte aan haar seun gegee het. Haar hemoglobientelling het onder 5,0 gedaal, en haar dokter wou hê dat sy bloedoortappings moes kry. Suster Nicoleau het geweier. Die volgende oggend het die hospitaal ’n regter vir toestemming gevra om vir haar die bloedoortappings te gee. Die regter het nie vir suster Nicoleau of haar man die geleentheid gegee om te sê hoe hulle voel nie, en hy het nie eens vir hulle gesê dat hy vir die hospitaal toestemming gegee het om die bloedoortappings te gee nie.
Op Vrydag 30 Desember het die hospitaalpersoneel vir suster Nicoleau ’n bloedoortapping gegee, al het haar man en haar familielede wat saam met haar was, nie saamgestem nie. Daardie aand is ’n hele paar familielede, asook een of twee ouermanne gearresteer omdat hulle daarvan beskuldig is dat
hulle rondom suster Nicoleau se bed gestaan het en probeer keer het dat sy ’n bloedoortapping kry. Op Saterdagoggend 31 Desember was hierdie storie in die koerante, op die TV en op radiostasies in en rondom die stad New York.Die Maandagoggend het ek met Milton Mollen, ’n regter van ’n hooggeregshof, gepraat. Ek het die feite vir hom gegee en dit duidelik gemaak dat die ander regter sonder ’n verhoor toestemming vir die bloedoortapping gegee het. Regter Mollen het my gevra om later daardie middag na sy kantoor toe te kom om die feite en die wette wat van toepassing is op hierdie saak, te bespreek. Daardie aand het my opsiener, Philip Brumley, saam met my na regter Mollen se kantoor gegaan. Die regter het die hospitaal se prokureur gevra om ook daar te wees. Die bespreking was intens. Op een stadium het broer Brumley ’n nota op sy notaboek gemaak om vir my te sê dat ek moet “kalmeer”. Dit was goeie raad, want ek het baie ontsteld geword terwyl ek probeer bewys het dat die hospitaal se prokureur verkeerd was.
Ná omtrent ’n uur het regter Mollen gesê dat hierdie saak die eerste een die volgende dag sou wees. Terwyl ons uit regter Mollen se kantoor geloop het, het hy gesê dat die hospitaal se prokureur môre ’n “moeilike taak het”. Dit het beteken dat dit nie maklik vir die prokureur sou wees om sy saak te verdedig nie. Dit het gevoel asof Jehovah my verseker dat ons ’n goeie kans het om te wen. Dit was wonderlik om te sien hoe Jehovah ons gebruik om sy wil te laat plaasvind.
Ons het tot laat daardie aand gewerk om voor te berei vir wat ons die volgende oggend gaan sê. Die hof was net ’n paar blokke van die Brooklynse Bethel, en daarom het die meeste van ons klein Regskantoor daarheen geloop. Nadat die vier regters na die saak geluister het, het hulle die bloedoortappingsbevel gekanselleer. Die Hooggeregshof het ten gunste van suster Nicoleau beslis en het gesê dat dit teen basiese menseregte is om ’n hofbevel te teken sonder om eers na die pasiënt te luister.
Kort ná dit het die hoogste hof in die staat New York suster Nicoleau se reg om sonder Oorwinnings in hooggeregshowe”.) Ek het ook ander prokureurs by Bethel gehelp in sake wat te doen het met kindertoesig, egskeiding en wette oor die gebruik van geboue en grond.
bloed behandel te word, bevestig. Dit is die eerste van vier besluite in verband met bloed wat deur hooggeregshowe in verskillende state in die Verenigde State gemaak is, wat ek die voorreg gehad het om aan deel te neem. (Sien die venster “MY HUWELIK EN GESINSLEWE
Toe ek my vrou, Dawn, ontmoet het, was sy ’n geskeide vrou met drie kinders. Sy het gewerk en gepionier. Sy het ’n moeilike lewe gehad, en ek was baie beïndruk met hoe vasbeslote sy was om Jehovah te dien. In 1992 het ons die “Ligdraers”-streekbyeenkoms in die stad New York bygewoon, en ek het haar gevra of ons mekaar beter kan leer ken. ’n Jaar later het ons getrou. Dit is ’n geskenk van Jehovah om ’n vrou te hê wat Jehovah eerste stel en ’n goeie sin vir humor het. Dawn het my regtig met goeie dinge beloon, al die dae van ons lewe. – Spr. 31:12.
Toe ons getrou het, was die kinders 11, 13 en 16 jaar oud. Ek wou ’n goeie pa vir hulle wees, en daarom het ek alles gelees en toegepas wat ek in ons publikasies kon kry oor hoe om ’n stiefouer te wees. Daar was uitdagings oor die jare, maar ek is baie bly dat die kinders my aanvaar het as ’n vriend wat hulle kan vertrou en as ’n liefdevolle pa. Ons kinders se vriende was altyd welkom in ons huis en ons het baie daarvan gehou om hierdie jongmense vol energie rondom ons te hê.
In 2013 het ek en Dawn na Wisconsin getrek om na ons bejaarde ouers om te sien. Ek was verbaas dat my Betheldiens nie geëindig het nie. Ek is gevra om aan te hou om die organisasie te help met verskillende projekte wat met regsake te doen het.
’N SKIELIKE VERANDERING
In September 2018 het ek agtergekom dat ek my keel heeltyd skoonmaak. Ons dokter het my ondersoek, maar hy het nie geweet wat die probleem is nie. Later het ’n ander dokter voorgestel dat ek ’n neuroloog gaan sien. In Januarie 2019 het die neuroloog gesê dat ek heel moontlik ’n buitengewone siekte het wat later my hele liggaam sal aantas.
Drie dae later het ek my regter gewrig gebreek terwyl ek geskaats het. Ek ysskaats al my hele lewe lank; dit was tweede natuur vir my. So ek het geweet dat ek besig was om beheer oor my spiere te verloor. Ek was verbaas hoe vinnig my siekte erger geword het. Dit het moeiliker en moeiliker geword om te praat, rond te beweeg en te sluk.
Ek is so bly dat ek Jehovah se organisasie as ’n regsgeleerde kon help. En ek is bly dat ek artikels kon skryf vir tydskrifte wat gelees word deur dokters, regsgeleerdes en regters. Ek het ook al toesprake by seminare regoor die wêreld gehou om die reg van Jehovah se volk te verdedig om operasies en mediese behandeling te kies sonder die gebruik van bloedoortappings. Maar net soos die Bybelskrywer Lukas in Lukas 17:10 gesê het, sê ek: ‘Ek is ’n nikswerd slaaf. Wat ek gedoen het, is wat ek behoort te gedoen het.’