Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 26

Kan jy mense help om dissipels te word?

Kan jy mense help om dissipels te word?

“God . . . gee julle die begeerte en die krag om op te tree.” – FIL. 2:13.

LIED 64 Neem vreugdevol deel aan die oeswerk

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jehovah vir jou gedoen?

HOE het jy een van Jehovah se Getuies geword? Jy het eers “die goeie nuus” gehoor – dalk by jou ouers, iemand by die werk of by die skool of by ’n Getuie wat na jou deur toe gekom het (Mark. 13:10). Toe het iemand baie tyd gespandeer en baie moeite gedoen om die Bybel met jou te studeer. Gedurende daardie studie het jy vir Jehovah lief geword en geleer dat hy jou liefhet. Jehovah het jou na die waarheid toe getrek, en nou is jy ’n dissipel van Jesus Christus, wat die hoop het om vir ewig te lewe (Joh. 6:44). Is jy nie dankbaar dat Jehovah iemand gemotiveer het om jou die waarheid te leer en dat hy jou as een van sy knegte aanvaar het nie?

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Noudat ons die waarheid ken, het ons die voorreg om ander te help om die pad na die lewe te vind. Miskien vind ons dit maklik om vir mense te preek, maar ons vind dit dalk moeilik om ’n Bybelstudie aan te bied of om ’n Bybelstudie te hou. As jy so voel, kan die wenke in hierdie artikel jou miskien help. Ons gaan bespreek wat ons motiveer om dissipels te maak. Ons sal ook bespreek hoe ons uitdagings kan oorkom wat ons kan keer om ’n Bybelstudie te hou. Kom ons kyk eers na hoekom ons nie net vir mense moet preek nie, maar hoekom ons hulle ook moet leer.

JESUS HET ONS BEVEEL OM TE PREEK EN TE ONDERRIG

3. Hoekom preek ons?

3 Toe Jesus op die aarde was, het hy sy volgelinge beveel om twee dinge te doen. Eerstens het hy vir hulle gesê dat hulle vir mense moet preek, en hy het vir hulle gewys hoe om dit te doen (Matt. 10:7; Luk. 8:1). Byvoorbeeld, Jesus het vir sy dissipels gesê wat om te doen as mense na die Koninkryksboodskap luister en wat om te doen as hulle nie luister nie (Luk. 9:2-5). Hy het ook voorspel dat sy dissipels vir baie mense en op baie plekke sou preek toe hy gesê het dat hulle “’n getuienis vir al die nasies” sou gee (Matt. 24:14; Hand. 1:8). Die dissipels moes vir mense van God se Koninkryk vertel en van wat dit sal doen – of die mense nou geluister het of nie.

4. Volgens Matteus 28:18-20, wat is die tweede ding wat ons moet doen?

4 Wat was die tweede ding wat Jesus sy dissipels beveel het om te doen? Hy het vir sy volgelinge gesê dat hulle mense moet leer om gehoorsaam te wees aan alles wat hy beveel het. Party mense sê dat Jesus se opdrag net vir die Christene in die eerste eeu was, maar is dit waar? Nee, Jesus het gesê dat hierdie baie belangrike werk tot in ons dag gedoen sou word – “tot aan die einde van die wêreldstelsel”. (Lees Matteus 28:18-20.) Jesus het heel moontlik hierdie opdrag gegee toe hy aan meer as 500 van sy dissipels verskyn het (1 Kor. 15:6). En in die openbaring wat Jesus aan Johannes gegee het, het hy duidelik gewys dat daar van al sy dissipels verwag word om ander te help om oor Jehovah te leer. – Op. 22:17.

5. Volgens 1 Korintiërs 3:6-9, waarmee het Paulus die predikings- en onderrigtingswerk vergelyk?

5 Die apostel Paulus het die dissipelmaakwerk vergelyk met ’n boer wat vir sy plante sorg. So het hy gewys dat ons meer moet doen as om net saadjies te plant. Hy het die Korintiërs herinner: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi . . . Julle is God se saailand wat bewerk word.” (Lees 1 Korintiërs 3:6-9.) Ons is werkers in “God se saailand”. Ons plant die saadjies wanneer ons preek en ons gooi hulle nat wanneer ons onderrig (Joh. 4:35). Maar ons weet dat dit God is wat die saadjies laat groei.

6. Wat moet ons mense help om te doen wanneer ons hulle leer?

6 Ons is op soek na mense wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Hand. 13:48). As ons mense wil leer om dissipels te word, moet ons hulle help om die dinge wat hulle in die Bybel leer (1) te verstaan, (2) te aanvaar en (3) in hulle lewe toe te pas (Joh. 17:3; Kol. 2:6, 7; 1 Tess. 2:13). Almal in die gemeente kan Bybelstudente help deur te wys dat hulle hulle liefhet en deur hulle by die vergaderinge te verwelkom (Joh. 13:35). Die persoon wat die Bybelstudie hou, sal miskien ook baie tyd moet spandeer en baie moeite moet doen om ’n student te help om ontslae te raak van diepgewortelde oortuigings en gewoontes (2 Kor. 10:4, 5). Dit kan dalk baie maande vat om iemand te help om hierdie veranderinge in sy lewe te maak sodat hy kan kwalifiseer om gedoop te word. Maar dit is beslis die moeite werd.

LIEFDE MOTIVEER ONS OM DISSIPELS TE MAAK

7. Wat motiveer ons om te preek en om dissipels te maak?

7 Hoekom preek ons en maak ons dissipels? Eerstens, as gevolg van ons liefde vir Jehovah. Wanneer jy jou bes doen om gehoorsaam te wees aan die opdrag om te preek en dissipels te maak, wys jy dat jy lief is vir God (1 Joh. 5:3). Dink hieraan: Jou liefde vir Jehovah het jou alreeds gemotiveer om van huis tot huis te preek. Was dit maklik om gehoorsaam te wees aan daardie opdrag? Seker nie. Jy was heel moontlik baie senuweeagtig toe jy aan jou eerste deur moes klop. Maar jy het geweet dat dit is wat Jesus wil hê jy moet doen, en jy was gehoorsaam aan die opdrag. Ná ’n ruk het dit vir jou heel moontlik makliker begin word om te preek. Maar is jy ’n bietjie bang om ’n Bybelstudie te hou? Miskien. As jy Jehovah vra om jou te help om nie so senuweeagtig te wees nie en om vir jou die moed te gee om ’n Bybelstudie aan te bied, kan Jehovah jou begeerte versterk om dissipels te maak.

8. Volgens Markus 6:34, wat is die tweede ding wat ons motiveer om ander te leer?

8 Tweedens, liefde vir mense motiveer ons om hulle oor die waarheid te leer. Eenkeer was Jesus en sy dissipels doodmoeg nadat hulle aan die predikingswerk deelgeneem het. Hulle het na ’n plek gesoek waar hulle kon rus, maar ’n groot groep mense het hulle gevind. Omdat Jesus vir hulle so jammer gevoel het, het hy hulle “baie dinge” begin leer. (Lees Markus 6:34.) Hy het sy bes gegee al was hy moeg. Hoekom? Jesus het homself in hulle skoene gesit. Hy het gesien hoe hulle swaarkry – hoe dringend hulle hoop nodig gehad het – en hy wou hulle help. Vandag is mense in dieselfde situasie, al lyk hulle gelukkig en tevrede met hulle lewe. Hulle is soos skape wat ronddwaal sonder ’n herder. Die apostel Paulus het gesê dat sulke mense sonder God is en geen hoop het nie (Ef. 2:12). Hulle is op “die pad wat na vernietiging lei”! (Matt. 7:13). As ons dink aan die geestelike toestand van die mense in ons gebied, sal liefde en meegevoel ons motiveer om hulle te help. En die beste manier om hulle te help, is deur vir hulle ’n Bybelstudie aan te bied.

9. Hoe kan Jehovah jou help, volgens Filippense 2:13?

9 Miskien huiwer jy om ’n Bybelstudie aan te bied omdat jy weet dat dit baie van jou tyd sal vat. As dit die geval is, sê vir Jehovah hoe jy voel. Vra hom om jou te help om ’n begeerte te ontwikkel om ’n Bybelstudie te vind en te hou. (Lees Filippense 2:13.) Die apostel Johannes het ons verseker dat God ons gebede sal beantwoord as ons vir enige iets vra wat volgens Sy wil is (1 Joh. 5:14, 15). So jy kan seker wees dat Jehovah jou sal help om die begeerte te ontwikkel om dissipels te maak.

HOE OM ANDER UITDAGINGS TE OORKOM

10-11. Wat kan ons dalk keer om ’n Bybelstudie aan te bied?

10 Ons weet dat dit baie belangrik is om mense te leer, maar miskien is dit vir ons moeilik om soveel in die dissipelmaakwerk te doen as wat ons graag wil doen. Kom ons bespreek party van die uitdagings en hoe ons dit kan oorkom.

11Dalk kan ons nie soveel doen as wat ons graag wil nie. Byvoorbeeld, party verkondigers is ouer of het gesondheidsprobleme. As jy in so ’n situasie is, dink aan een van die lesse wat ons gedurende die COVID-19-pandemie geleer het. Ons het gesien dat ons Bybelstudies elektronies kan hou! So jy kan ’n Bybelstudie van jou eie huis af begin en hou. En party wil graag die Bybel studeer, maar hulle is nie beskikbaar wanneer ons broers gewoonlik velddiens doen nie. Maar miskien is hulle beskikbaar vroeg in die oggend of laat in die nag. Kan jy jouself beskikbaar maak om die Bybel met iemand te studeer gedurende daardie tye? Jesus het Nikodemus in die nag geleer omdat Nikodemus daardie tyd verkies het. – Joh. 3:1, 2.

12. Wat kan ons die versekering gee dat ons goeie onderrigters kan wees?

12Ons dink miskien dat ons nie ’n Bybelstudie kan hou nie. Miskien voel ons dat ons eers meer kennis moet kry of ’n beter onderrigter moet word voordat ons met iemand kan studeer. As jy so voel, dink aan drie dinge wat jou die nodige selfvertroue kan gee. Eerstens, in Jehovah se oë is jy gekwalifiseerd om ander te leer (2 Kor. 3:5). Tweedens, Jesus – wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” het – het jou die opdrag gegee om ander te leer (Matt. 28:18). En derdens, jy kan op ander staatmaak om jou te help. Jesus het staatgemaak op die dinge wat sy Vader vir hom gesê het, en hy het dit aan ander geleer. Ons kan dieselfde doen (Joh. 8:28; 12:49). Jy kan ook vir jou groepopsiener of vir ’n ervare pionier of verkondiger vra om jou te help om ’n Bybelstudie te begin en te hou. Een manier om meer selfvertroue te kry, is deur saam met hulle na hulle Bybelstudies toe te gaan.

13. Hoekom moet ons aanpasbaar wees?

13Ons vind dit dalk moeilik om nuwe metodes en nuwe hulpmiddele te begin gebruik. Die manier hoe ons Bybelstudies hou, het nou verander. Met ons hoofstudiepublikasie, Geniet die lewe vir ewig!, moet ons nou anders vir die studie voorberei en die studie op ’n ander manier hou as wat ons in die verlede gedoen het. Ons lees minder paragrawe en ons gesels meer met die student. Wanneer ons ons studente leer, maak ons meer gebruik van video’s en elektroniese hulpmiddele soos JW Library®. As jy nie gemaklik voel om hierdie hulpmiddele te gebruik nie, praat met iemand wat jou kan help om te leer hoe om dit te gebruik. As mense, hou ons nie veel van verandering nie. Dit is nie vir ons maklik om by die nuwe metodes aan te pas nie. Maar met Jehovah se hulp en die hulp van ander sal jy dit makliker vind om aan te pas, en jy sal dit selfs meer geniet om met ander te studeer. Een pionier het gesê dat hierdie studiemetode “vir die student en die onderrigter verfrissend is”.

14. Wat moet ons onthou as ons gebied moeilik is, en hoe kan 1 Korintiërs 3:6, 7 ons aanmoedig?

14Dit is dalk moeilik om Bybelstudies in ons gebied te begin. Party mense stel nie belang in ons boodskap nie en ander hou niks daarvan nie. Wat kan ons help om positief te bly? Onthou dat mense se omstandighede baie vinnig kan verander. En mense wat eers nie belanggestel het nie, kan later begin besef dat hulle God nodig het (Matt. 5:3). Party wat eers nie ons lektuur aanvaar het nie, het later ’n Bybelstudie aanvaar. Ons weet ook dat Jehovah die Meester van die oes is (Matt. 9:38). Hy wil hê dat ons moet aanhou plant en natgooi, maar Hy is die Een wat dit laat groei (1 Kor. 3:6, 7). En al kan ons nie op die oomblik ’n Bybelstudie hou nie, is dit baie aanmoedigend om te onthou dat Jehovah ons vir ons harde werk beloon, nie vir die resultate nie! *

OM DISSIPELS TE MAAK, GEE ONS VREUGDE

Kyk hoe ons predikings- en onderrigtingswerk iemand se lewe kan verander (Sien paragraaf 15-17) *

15. Hoe voel Jehovah wanneer iemand ’n Bybelstudie aanvaar en toepas wat hy leer?

15 Dit maak Jehovah baie bly wanneer iemand Bybelwaarhede aanvaar en met ander praat oor wat hy leer (Spr. 23:15, 16). Dink net hoeveel vreugde Jehovah ondervind wanneer hy sien wat vandag gebeur! Byvoorbeeld, al was daar ’n wêreldwye pandemie gedurende die 2020-diensjaar, is 7 705 765 Bybelstudies gehou en het 241 994 mense hulle aan Jehovah toegewy en hulle laat doop. En hierdie nuwe dissipels sal ook Bybelstudies hou en nog dissipels maak (Luk. 6:40). Daar is geen twyfel dat ons Jehovah gelukkig maak wanneer ons mense leer om dissipels te word nie.

16. Watter goeie doelwit kan ons vir onsself stel?

16 Dit is harde werk om dissipels te maak, maar met Jehovah se hulp kan ons mense help om ons hemelse Vader lief te kry. Kan ons vir onsself die doelwit stel om ten minste een Bybelstudie te begin en te hou? Ons sal dalk verbaas wees om te sien wat gebeur wanneer ons van elke geleentheid gebruik maak om ’n Bybelstudie aan te bied. Ons kan seker wees dat Jehovah ons pogings sal seën.

17. Wat sal ons ondervind as ons ’n Bybelstudie hou?

17 Dit is beslis ’n groot voorreg om te preek en om ander die waarheid te leer! Hierdie werk maak ons regtig gelukkig. Die apostel Paulus het baie mense in Tessalonika gehelp om dissipels te word. Hy het gesê: “Wat is ons hoop of vreugde of kroon van blydskap voor ons Here Jesus by sy teenwoordigheid? Is dit nie julle nie? Julle is beslis ons heerlikheid en vreugde” (1 Tess. 2:19, 20; Hand. 17:1-4). Baie voel ook so vandag. ’n Suster met die naam Stéphanie en haar man het baie mense gehelp om tot doop te vorder. Sy sê: “Daar is geen groter vreugde as om mense te help om hulle aan Jehovah toe te wy nie.”

LIED 57 Preek vir alle soorte mense

^ par. 5 Jehovah het ons nie net die voorreg gegee om vir ander te preek nie, maar ook die voorreg om hulle te leer om gehoorsaam te wees aan alles wat Jesus ons beveel het. Wat motiveer ons om ander te leer? Watter uitdagings ondervind ons wanneer ons vir mense preek en hulle help om dissipels te word? En hoe kan ons daardie uitdagings oorkom? Hierdie artikel sal daardie vrae beantwoord.

^ par. 14 Vir ’n bespreking van hoe almal in die gemeente kan help om dissipels te maak, sien die artikel “Hoe die gemeente Bybelstudente kan help om tot doop te vorder” in Die Wagtoring van Maart 2021.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: Kyk hoe ’n Bybelstudie iemand se lewe kan verander: Eers het ’n man nie ’n doel in die lewe nie, en hy ken nie Jehovah nie. Dan ontmoet die Getuies hom in die predikingswerk, en hy aanvaar ’n Bybelstudie. Die dinge wat hy leer, help hom om tot toewyding en doop te vorder. Later help hy ander ook om dissipels te word. Uiteindelik geniet hulle almal die lewe in die Paradys.