Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe moet Jehovah se Getuies voel oor die gebruik van webwerwe om ’n huweliksmaat te vind?

Jehovah wil beslis hê dat twee mense wat trou, gelukkig moet wees en ’n permanente en hegte band met mekaar moet geniet (Matt. 19:4-6). As jy graag wil trou, hoe kan jy ’n goeie huweliksmaat vind? As ons Skepper weet Jehovah wat ons moet doen as ons ’n gelukkige huwelik wil hê. Daarom sal ons die beste resultate kry as ons die beginsels toepas wat Hy vir ons gegee het. Kom ons kyk na ’n paar van daardie beginsels.

Eerstens moet ons die volgende omtrent onsself weet: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders en is desperaat” (Jer. 17:9). Wanneer twee mense wat wil trou, ontmoet en begin uitgaan, kan hulle vinnig baie sterk gevoelens vir mekaar ontwikkel. Wanneer dit gebeur, is dit vir hulle baie moeilik om wyse besluite te neem. Wanneer mense trou net as gevolg van hulle gevoelens vir mekaar, word hulle baie keer teleurgestel (Spr. 28:26). Daarom is dit nie wys dat twee mense sê dat hulle van mekaar hou of beloftes aan mekaar maak voordat hulle mekaar regtig leer ken het nie.

Spreuke 22:3 sê: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra.” Hoekom kan dit gevaarlik wees om webwerwe te gebruik om ’n huweliksmaat te vind? Ongelukkig het sommige mense iemand aanlyn ontmoet en met daardie persoon begin uitgaan, net om later uit te vind dat daardie persoon hulle om die bos gelei het. En skelms het al valse profiele geskep om onskuldige mense te bedrieg en hulle geld te probeer steel. Soms het daardie skelms gesê dat hulle Getuies is.

Dink aan nog ’n gevaar. Sommige webwerwe maak gebruik van wiskundige berekeninge om te probeer om mense bymekaar te kry wat by mekaar pas. Maar daar is geen bewyse dat sulke metodes regtig werk nie. Sal dit wys wees om jou vertroue te stel in ’n rekenaarprogram wat deur mense gemaak is om ’n besluit te neem oor iets wat so belangrik is soos die huwelik? Wiskundige berekeninge sal nooit so betroubaar wees soos Bybelbeginsels nie. – Spr. 1:7; 3:5-7.

Spreuke 14:15 sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” Voordat jy besluit of ’n persoon ’n goeie huweliksmaat sal wees, moet jy daardie persoon eers goed leer ken. Maar dit is baie moeilik om dit aanlyn te doen. Selfs al sien julle mekaar se profiele en al gesels julle baie aanlyn, kan jy regtig sê dat jy daardie persoon ken? Party wat gedink het dat hulle ware liefde gevind het, was later geskok toe hulle die persoon in lewende lywe ontmoet het.   

Die psalmis het gesê: “Ek assosieer nie met bedrieglike mense nie, en ek vermy mense wat wegsteek wat hulle is” (Ps. 26:4). Baie dink dat dit normaal is om op hulle aanlyn profiel te lieg sodat mense meer van hulle kan hou. Hulle steek dalk hulle slegte eienskappe weg, en dit kan moeilik wees om daardie slegte eienskappe te sien wanneer hulle boodskappe aan ander stuur. Sommige mense mag dalk sê dat hulle een van Jehovah se Getuies is, maar is hulle werklik gedoopte Christene? Is hulle geestelik volwasse? Het hulle ’n persoonlike verhouding met Jehovah? Word hulle gerespekteer in hulle gemeente? Of is hulle dalk slegte voorbeelde of selfs “slegte assosiasie”? (1 Kor. 15:33; 2 Tim. 2:20, 21). En is hulle volgens Bybelbeginsels vry om te trou? Jy moet hierdie dinge weet, maar dit is moeilik om hierdie dinge uit te vind sonder die hulp van ander Getuies wat hierdie persoon goed ken (Spr. 15:22). En ’n getroue kneg van Jehovah sal natuurlik nie eers daaraan dink om onder ’n “ongelyke juk” te kom met ’n ongelowige nie. – 2 Kor. 6:14; 1 Kor. 7:39.

Dit is duidelik dat dit gevaarlik is om webwerwe te gebruik om ’n huweliksmaat te vind, maar daar is beter maniere om ’n potensiële huweliksmaat te vind en beter te leer ken. Waar kan jy iemand ontmoet wat dalk ’n goeie huweliksmaat kan wees? As ons bymekaar kan kom, kan ons ander beter leer ken by vergaderinge, byeenkomste en ander geleenthede.

Wanneer julle tyd saam spandeer, sal julle sien of julle dieselfde doelwitte en waardes het

Wanneer ons nie bymekaar kan kom nie, soos byvoorbeeld gedurende die COVID-19-pandemie, gebruik ons elektroniese hulpmiddele om gemeentelike vergaderinge by te woon. By hierdie vergaderinge kry ons die geleentheid om ander ongetroude Getuies te leer ken. Jy kan bewyse van hulle geloof sien wanneer hulle toesprake en kommentare gee (1 Tim. 6:11, 12). Julle kan ook ná die vergadering in ’n breakout room met mekaar gesels. Jy sal kan sien hoe die persoon ander mense behandel wanneer julle saam met ander Getuies as ’n groep kuier. Dan sal jy kan sien watter soort persoon hy of sy regtig is (1 Pet. 3:4). Soos julle mekaar beter leer ken, sal julle sien of julle dieselfde doelwitte en waardes het en of julle twee by mekaar pas.

Wanneer iemand Bybelbeginsels volg wanneer hy vir ’n potensiële huweliksmaat soek, sal die kanse groter wees dat hy ’n gelukkige huwelik sal hê. Spreuke 18:22 sê: “Die een wat ’n goeie vrou [of man] vind, het iets goeds gevind, en hy [of sy] verkry Jehovah se goedkeuring.”