Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 29

Ondersteun ons leier Jesus

Ondersteun ons leier Jesus

“Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.” – MATT. 28:18.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is Jehovah se wil vandag?

 VANDAG is dit God se wil dat die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele aarde verkondig word (Mark. 13:10; 1 Tim. 2:3, 4). Dit is Jehovah se werk, en hy het sy geliefde Seun gekies om die werk te lei. Omdat ons onder Jesus se leiding werk, kan ons seker wees dat Jehovah tevrede sal wees met die mate waarin die predikingswerk voltooi is voordat die einde kom. – Matt. 24:14.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel sal ons sien hoe Jesus sy “getroue en verstandige slaaf” gebruik om geestelike voedsel te voorsien en om sy volgelinge vir die grootste predikingskampanje in die geskiedenis te organiseer (Matt. 24:45). Ons sal ook sien wat elkeen van ons kan doen om Jesus en die getroue slaaf te ondersteun.

JESUS HOU TOESIG OOR DIE PREDIKINGSWERK

3. Watter gesag is aan Jesus gegee?

3 Jesus hou toesig oor die predikingswerk. Hoe kan ons daarvan seker wees? Net voordat Jesus hemel toe gegaan het, het hy met ’n paar van sy getroue volgelinge op ’n berg in Galilea bymekaar gekom. Hy het vir hulle gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.” Kyk wat hy net daarna gesê het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matt. 28:18, 19). So Jesus het onder andere die gesag gekry om die predikingswerk te lei.

4. Hoekom kan ons seker wees dat Jesus nog steeds toesig hou oor die predikingswerk?

4 Jesus het gesê dat die predikings- en dissipelmaakwerk “in al die nasies” gedoen sou word en dat hy met sy volgelinge sou wees “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 28:20). Daardie woorde wys duidelik dat die predikingswerk onder Jesus se leiding tot in ons dag gedoen sou word.

5. Hoe help ons om die woorde in Psalm 110:3 te laat waar word?

5 Jesus was nie bekommerd dat daar nie genoeg werkers gedurende die einde van die wêreldstelsel sou wees nie. Hy het geweet dat die profetiese woorde van die psalmis waar sou word: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag dat u leërmag uitgaan” (Ps. 110:3). As jy aan die predikingswerk deelneem, ondersteun jy Jesus en die getroue slaaf en help jy om daardie profesie te laat waar word. Die werk gaan voort, maar daar is uitdagings.

6. Wat is een uitdaging wat Koninkrykspredikers vandag het?

6 Een uitdaging wat Koninkrykspredikers het, is teenstand. Afvalliges, godsdiens- en politieke leiers het baie mense die verkeerde idee oor ons werk gegee. As ons familielede, werksmaats en ander mense wat ons ken deur hierdie leuens mislei is, sal hulle dalk druk op ons plaas om op te hou om Jehovah te dien en om op te hou preek. In sommige lande word ons broers en susters deur ons vyande gedreig, aangeval, gearresteer en selfs in die tronk gegooi. Ons is nie verbaas wanneer hierdie dinge gebeur nie. Jesus het voorspel: “Julle sal deur al die nasies gehaat word as gevolg van my naam” (Matt. 24:9). Die feit dat ons so gehaat word, is ’n bewys dat ons Jehovah se goedkeuring het (Matt. 5:11, 12). Die Duiwel is verantwoordelik vir hierdie teenstand. Maar Jesus is baie magtiger as Satan! Met Jesus se ondersteuning bereik die goeie nuus mense van alle nasies. Kyk na die bewyse.

7. Watter bewyse sien jy dat die woorde in Openbaring 14:6, 7 waar word?

7 Nog ’n uitdaging wat ons het wanneer ons preek, is dat mense baie verskillende tale praat. In die openbaring wat Jesus aan die apostel Johannes gegee het, het hy gesê dat die goeie nuus in ons dag daardie uitdaging sou oorkom. (Lees Openbaring 14:6, 7.) Hoe so? Ons gee soveel mense as moontlik die kans om die Koninkryksboodskap te aanvaar. Vandag kan mense regoor die wêreld Bybelgebaseerde materiaal lees op ons jw.org-webwerf omdat dit inligting in meer as 1 000 tale bevat! Die Bestuursliggaam het goedkeuring gegee om die Geniet die lewe vir ewig!-boek – ons hoofstudiehulp om dissipels te maak – in meer as 700 tale te vertaal! Geestelike voedsel is ook beskikbaar gemaak deur middel van video-opnames vir die dowes en publikasies in braille vir die blindes. Ons sien hoe Bybelprofesieë waar word. Mense “uit al die tale van die nasies” leer om die “suiwer taal” van Bybelwaarheid te praat (Sag. 8:23; Sef. 3:9). Al hierdie dinge gebeur onder die goeie leiding van Jesus Christus.

8. Wat het ons predikingswerk tot nou toe bereik?

8 Vandag is meer as 8 000 000 mense in 240 lande deel van Jehovah se organisasie, en elke jaar word duisende gedoop! Maar die Christelike eienskappe, “die nuwe persoonlikheid”, wat hierdie nuwe dissipels aangeleer het, is belangriker as getalle (Kol. 3:8-10). Baie het opgehou om onsedelik, gewelddadig, bevooroordeeld en nasionalisties te wees. Die profesie in Jesaja 2:4 is besig om waar te word. Hulle ‘leer nie meer om oorlog te voer nie’. Terwyl ons hard werk om die nuwe persoonlikheid aan te trek, help ons om mense na God se organisasie te trek, en ons bewys dat ons die leiding van ons leier Christus Jesus volg (Joh. 13:35; 1 Pet. 2:12). Dit gebeur nie toevallig nie. Jesus gee ons die hulp wat ons nodig het.

JESUS STEL ’N SLAAF AAN

9. Wat het Jesus gesê sou gedurende die tyd van die einde gebeur, volgens Matteus 24:45-47?

9 Lees Matteus 24:45-47. Jesus het voorspel dat hy gedurende die tyd van die einde ’n “getroue en verstandige slaaf” sou aanstel om geestelike voedsel te voorsien. So ons sou verwag dat hierdie slaaf in ons dag hard werk. En dit is presies wat gebeur. Ons leier het ’n klein groepie gesalfde mans gebruik om geestelike “voedsel op die regte tyd” vir God se knegte en belangstellendes te voorsien. Hierdie manne sien nie hulleself as meesters oor die geloof van ander nie (2 Kor. 1:24). Hulle erken eerder dat Jesus Christus die “leier en . . . bevelvoerder” van sy volk is. – Jes. 55:4.

10. Watter een van die publikasies in die prent het jou oortuig om Jehovah te begin dien?

10 Vanaf 1919 het die getroue slaaf verskillende publikasies voorberei wat nuwe belangstellendes hulle eerste smakie van geestelike voedsel gegee het. In 1921 het die slaaf die boek Die harp van God voorberei om belangstellendes te help om basiese Bybelleringe te leer. Soos tye verander het, is nog publikasies voorsien. Watter publikasie het jou gehelp om ons hemelse Vader te leer ken en lief te kry? Was dit “Laat God waaragtig wees”, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, Kennis wat tot die ewige lewe lei, Wat leer die Bybel werklik?, Wat kan die Bybel ons leer? of Geniet die lewe vir ewig!, ons nuutste publikasie? Al hierdie publikasies was ontwerp om ons te help om dissipels te maak, en elkeen was net wat ons nodig gehad het toe dit vrygestel is.

11. Hoekom is dit belangrik dat ons almal geestelike voedsel ontvang?

11 Nuwe belangstellendes is nie die enigstes wat vaste geestelike voedsel nodig het nie. Ons almal het dit nodig. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaste voedsel is vir volwasse mense.” Paulus het verder gesê dat dit ons sou help om te “onderskei wat reg en wat verkeerd is” as ons toepas wat ons uit die Bybel leer (Heb. 5:14). Dit kan nou baie moeilik wees om gehoorsaam aan Jehovah se standaarde te wees omdat baie mense lae sedelike standaarde het. Maar Jesus maak seker dat ons die krag kry wat ons nodig het deur middel van geestelike voedsel. Ons kry hierdie voedsel in God se geïnspireerde Woord, die Bybel. Die getroue slaaf berei hierdie voedsel voor en versprei dit onder Jesus se leiding.

12. Hoe het ons God se naam geëer, soos Jesus?

12 Soos Jesus, het ons God se naam die eer gegee wat dit verdien (Joh. 17:6, 26). Byvoorbeeld, in 1931 het ons die Skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem, en deur dit te doen, het ons onsself op ’n baie persoonlike manier aan ons hemelse Vader verbind (Jes. 43:10-12). En vanaf Oktober daardie jaar het God se naam verskyn op die voorblad van elke uitgawe van hierdie tydskrif. En die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel het God se naam in sy Woord herstel op die plekke waar dit hoort. Dit is heeltemal anders as die kerke van die Christendom wat Jehovah se naam uit baie van hulle Bybelvertalings uitgehaal het!

JESUS ORGANISEER SY VOLGELINGE

13. Wat oortuig jou dat Jesus vandag die “getroue en verstandige slaaf” gebruik? (Johannes 6:68)

13 Deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” het Jesus ’n wonderlike organisasie op aarde opgebou om rein aanbidding te bevorder. Hoe voel jy oor daardie organisasie? Dalk voel jy soos die apostel Petrus wat vir Jesus gesê het: “Na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:68). Waar sou enige een van ons vandag gewees het as ons nie in kontak met Jehovah se organisasie gekom het nie? Deur middel van Jehovah se organisasie maak Christus seker dat ons alles het wat ons nodig het om getrou aan God te bly. Hy lei ons ook op om effektief in ons bediening te wees. En hy help ons om “die nuwe persoonlikheid” aan te trek sodat ons Jehovah gelukkig kan maak. – Ef. 4:24.

14. Hoe het die feit dat jy deel van Jehovah se organisasie is jou gedurende die COVID-19-pandemie gehelp?

14 Jesus voorsien wyse riglyne in moeilike tye. Die voordele van daardie riglyne kon duidelik gesien word toe die COVID-19-pandemie begin het. Terwyl baie in die wêreld onseker was oor wat om te doen, het Jesus seker gemaak dat ons duidelike riglyne kry om ons veilig te hou. Ons was aangemoedig om maskers te dra wanneer ons in die publiek is en om fisiese afstand te behou. Die ouermanne was aangemoedig om met almal in die gemeente in kontak te bly en om bewus te wees van hulle fisiese en geestelike behoeftes (Jes. 32:1, 2). Deur middel van spesiale videoprogramme van die Bestuursliggaam het ons ekstra riglyne en aanmoediging gekry.

15. Watter riglyne het ons gedurende die pandemie gekry oor hoe om vergaderinge te hou en die predikingswerk te doen, en wat was die gevolg?

15 Gedurende die pandemie het ons ook duidelike riglyne gekry oor hoe om vergaderinge te hou en hoe om deel te neem aan die predikingswerk. Ons het amper oornag Christelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste deur middel van videokonferensie begin bywoon. Ons het die predikingswerk amper net deur middel van briewe en die telefoon begin doen. Jehovah het ons pogings geseën. Baie takkantore het ’n groot vermeerdering in hulle aantal verkondigers gehad. Om die waarheid te sê, baie het aanmoedigende ondervindinge gedurende hierdie tyd gehad. – Sien die venster “ Jehovah seën ons predikingswerk”.

16. Waarvan kan ons seker wees?

16 Party het dalk gevoel dat die organisasie oorversigtig was wanneer dit kom by die pandemie. Maar ons het oor en oor gesien dat die riglyne wat ons gekry het, baie wys was (Matt. 11:19). En wanneer ons nadink oor die liefdevolle manier waarop Jesus sy volk lei, is ons seker dat Jehovah en sy geliefde Seun met ons sal wees, maak nie saak wat môre sal gebeur nie. – Lees Hebreërs 13:5, 6.

17. Hoe laat dit jou voel om onder Jesus se leiding te werk?

17 Ons is baie bly dat Jesus ons leier is! Ons is deel van ’n organisasie wat nie verdeeld is omdat ons verskillende kulture en tale het en uit verskillende lande uit kom nie. Ons kry baie onderrigting uit God se Woord, en ons kry al die opleiding wat ons nodig het om die predikingswerk te doen. Elkeen van ons word geleer hoe om die nuwe persoonlikheid aan te trek, en ons leer hoe om mekaar lief te hê. Ons het baie redes om te spog omdat Jesus ons leier is!

LIED 16 Loof Jah vir sy Seun, die Gesalfde

^ Miljoene mans, vrouens en kinders verkondig die goeie nuus nou ywerig. Is jy een van hulle? As jy is, word jy gelei deur ons Here Jesus Christus. In hierdie artikel sal ons na bewyse kyk dat Jesus die predikingswerk vandag lei. As ons nadink oor hierdie inligting, sal dit ons help om vasbeslote te wees om aan te hou om Jehovah te dien onder die leiding van Christus.