Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 30

Hou aan groei in jou liefde

Hou aan groei in jou liefde

“Laat ons . . . deur liefde in alles groei.” – EF. 4:15.

LIED 2 Jehovah is u naam

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Watter waarhede het jy geleer toe jy die Bybel begin studeer het?

 ONTHOU jy al die dinge wat jy geleer het toe jy die Bybel begin studeer het? Jy was dalk verbaas om uit te vind dat God ’n naam het. Dalk was jy verlig om uit te vind dat God nie mense in ’n helse vuur pynig nie. En jy was heel moontlik baie opgewonde oor die vooruitsig om jou geliefdes wat gesterf het, weer te sien en om saam met hulle op ’n aardse paradys te lewe.

2. Watter verdere vordering het jy gemaak behalwe om Bybelwaarhede te leer? (Efesiërs 5:1, 2)

2 Hoe meer jy God se Woord studeer het, hoe meer het jou liefde vir Jehovah gegroei. Daardie liefde het jou gemotiveer om toe te pas wat jy geleer het. Bybelbeginsels het jou gehelp om beter besluite te maak. Jy het jou gesindheid en gedrag verbeter omdat jy God gelukkig wou maak. Net soos ’n kind ’n liefdevolle ouer navolg, het jy jou hemelse Vader nagevolg. – Lees Efesiërs 5:1, 2.

3. Watter vrae kan ons ons afvra?

3 Ons kan ons afvra: ‘Is my liefde vir Jehovah nou sterker as toe ek eers ’n Christen geword het? Het ek ná my doop meer soos Jehovah geword deur vir my broers en susters te wys dat ek hulle liefhet?’ As “die liefde . . . wat jy eers gehad het” ’n bietjie afgekoel het, moet jy nie mismoedig voel nie. Iets soortgelyks het met Christene in die eerste eeu gebeur. Jesus het hulle nie verwerp nie, en hy sal ook nie vir ons verwerp nie (Op. 2:4, 7). Hy weet dat ons die liefde wat ons gevoel het toe ons die waarheid eers geleer het, weer kan versterk.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Hierdie artikel sal bespreek hoe ons kan aanhou groei in ons liefde vir Jehovah en vir ander. Dan sal ons party van die seëninge identifiseer wat ons en ander ontvang wanneer ons ons liefde versterk.

GROEI IN JOU LIEFDE VIR JEHOVAH

5-6. Watter uitdagings het die apostel Paulus gedurende sy bediening ondervind, maar wat het hom gemotiveer om Jehovah te bly dien?

5 Die apostel Paulus het ’n gelukkige lewe in Jehovah se diens gehad, maar hy moes baie uitdagings oorkom. Paulus het dikwels lang afstande gereis, en in daardie dae was dit nie maklik om te reis nie. Op Paulus se reise was daar soms “gevare van riviere” en “[gevare] van rowers”. Hy was ook soms fisies mishandel deur teenstanders (2 Kor. 11:23-27). En Paulus se Christenbroers het nie altyd gewys dat hulle die dinge waardeer wat hy gedoen het om hulle te help nie. – 2 Kor. 10:10; Fil. 4:15.

6 Wat het Paulus gehelp om Jehovah te bly dien? Paulus het baie oor Jehovah se persoonlikheid geleer uit die Skrif en uit sy eie ondervindinge. Paulus het oortuig geword dat Jehovah God hom liefhet (Rom. 8:38, 39; Ef. 2:4, 5). En hy het baie lief vir Jehovah geword. Paulus het gewys dat hy Jehovah liefhet deur ‘die heiliges te dien en te bly dien’. – Heb. 6:10.

7. Wat is een manier hoe ons kan groei in ons liefde vir Jehovah?

7 Ons kan groei in ons liefde vir Jehovah deur sy Woord deeglik te studeer. Terwyl jy die Bybel lees, probeer om te verstaan wat elke verslag jou oor Jehovah leer. Vra jou af: ‘Hoe wys hierdie verslag dat Jehovah my liefhet? Watter redes gee dit my om Jehovah lief te hê?’

8. Hoe kan gebed ons help om te groei in ons liefde vir God?

8 Nog ’n manier hoe ons kan groei in ons liefde vir Jehovah, is deur elke dag tot hom te bid en vir hom te sê hoe ons regtig voel (Ps. 25:4, 5). Jehovah sal dan ons gebede beantwoord (1 Joh. 3:21, 22). Khanh, ’n suster in Asië, sê: “My liefde vir Jehovah was eers gebaseer op kennis, maar daardie liefde het sterker geword wanneer ek gesien het hoe hy my gebede beantwoord. Dit het my gemotiveer om dinge te wil doen wat hom gelukkig maak.” b

GROEI IN JOU LIEFDE VIR ANDER

9. Hoe het Timoteus gewys dat hy sy liefde vir sy broers en susters versterk het?

9 ’n Paar jaar nadat hy ’n Christen geword het, het Paulus ’n goeie jong man met die naam Timoteus ontmoet. Timoteus het Jehovah liefgehad, en hy het mense liefgehad. Paulus het vir die Filippense gesê: “Ek het niemand anders om te stuur wat dieselfde gesindheid as [Timoteus] het en wat opreg na julle belange sal omsien nie” (Fil. 2:20). Paulus het nie hier gepraat oor Timoteus se vermoë as ’n organiseerder of as ’n openbare spreker nie, maar dit is duidelik dat Paulus beïndruk was deur Timoteus se liefde vir die broers en susters. Die gemeentes waarheen Timoteus gegaan het, het beslis uitgesien na sy besoeke. – 1 Kor. 4:17.

10. Hoe het Anna en haar man gewys dat hulle lief is vir hulle broers en susters?

10 Ons soek ook na maniere om ons Christenbroers en -susters te help (Heb. 13:16). Kyk na die voorbeeld van Anna, wat in die vorige artikel genoem is. Ná ’n verskriklike storm het sy en haar man ’n Getuiegesin besoek en ontdek dat hulle huis se dak ineengestort het. As gevolg daarvan het die gesin nie skoon klere gehad nie. Anna sê: “Ons het hulle klere gevat, dit gewas, dit gestryk, dit opgevou en teruggeneem. Vir ons was dit iets kleins, maar as gevolg daarvan is ons tot vandag toe baie goeie vriende.” Anna en haar man se liefde vir die broers en susters het hulle gemotiveer om praktiese hulp te gee. – 1 Joh. 3:17, 18.

11. (a) Hoe voel ander dikwels wanneer ons vir hulle wys dat ons hulle liefhet? (b) Hoe reageer Jehovah wanneer ons vir ander wys dat ons hulle liefhet volgens Spreuke 19:17?

11 Wanneer ons ander op ’n liefdevolle en vriendelike manier behandel, sien hulle dikwels dat ons probeer om die manier hoe Jehovah dink en optree, na te volg. En hulle waardeer dalk ons vriendelikheid meer as wat ons ooit sal weet. Khanh, wat vroeër genoem is, het goeie herinneringe van dié wat haar gehelp het. Sy sê: “Ek is so dankbaar teenoor al die dierbare susters wat my in velddiens uitgeneem het. Hulle het my kom oplaai, my genooi om iets saam met hulle te eet en my veilig by die huis afgelaai. Ek besef nou dat hulle baie moeite gedoen het. En hulle het dit met liefde gedoen.” Nie almal sal natuurlik vir ons dankie sê vir wat ons vir hulle doen nie. Khanh sê die volgende oor dié wat haar gehelp het: “Ek wens dat ek hulle kon terugbetaal vir al die liefdevolle dinge wat hulle vir my gedoen het, maar ek weet nie waar hulle almal bly nie. Maar Jehovah weet, en ek bid dat hy hulle vir my sal terugbetaal.” Khanh is reg. Jehovah sien elke liefdevolle ding raak wat ons vir ander doen, selfs al is dit baie klein. Hy sien dit as ’n kosbare opoffering en as ’n skuld wat hy gaan terugbetaal. – Lees Spreuke 19:17.

Wanneer ’n persoon geestelike vordering maak, soek hy na maniere om ander te help (Sien paragraaf 12)

12. Hoe kan broers wys dat hulle die gemeente liefhet? (Sien ook prente.)

12 As jy ’n broer is, hoe kan jy vir ander wys dat jy hulle liefhet en dinge doen om hulle te help? ’n Jong broer met die naam Jordan het vir ’n ouerman gevra hoe hy meer in die gemeente kan doen. Die ouerman het hom geprys vir die vordering wat hy alreeds gemaak het en het hom toe ’n paar voorstelle gegee oor hoe hy meer kan doen. Byvoorbeeld, hy het voorgestel dat Jordan vroeg by die Koninkryksaal aankom en ander groet, aan die vergaderinge deelneem, gereeld met sy velddiensgroep preek en na praktiese maniere soek om ander te help. Toe Jordan dit gedoen het, het hy nie net nuwe vaardighede geleer nie, maar ook gegroei in sy liefde vir sy broers en susters. Jordan het geleer dat wanneer ’n broer ’n bedieningskneg word, hy nie begin om ander te help nie, maar eerder dat hy aanhou om hulle te help. – 1 Tim. 3:8-10, 13.

13. Hoe het liefde ’n broer met die naam Christian gemotiveer om weer ’n ouerman te word?

13 Wat as jy voorheen as ’n bedieningskneg of ’n ouerman gedien het? Jehovah onthou die werk wat jy in die verlede gedoen het en die liefde wat jou gemotiveer het om dit te doen (1 Kor. 15:58). Hy sien ook die liefde wat jy aanhou wys. ’n Broer met die naam Christian was teleurgesteld toe hy as ’n ouerman afgehaal is. Maar hy sê: “Ek het besluit dat ek alles sou doen wat ek kon om Jehovah uit liefde te dien – met of sonder sekere voorregte.” Later is hy weer as ’n ouerman aangestel. Christian erken: “Ek was ’n bietjie senuweeagtig om weer as ’n ouerman te dien. Maar ek het besluit dat as Jehovah my, deur sy genade, toelaat om weer as ’n ouerman te dien, ek dit sal doen as gevolg van my liefde vir hom en vir my broers en susters.”

14. Wat leer jy uit die kommentare van ’n suster van Georgië?

14 Jehovah se knegte wys ook dat hulle hulle naaste liefhet (Matt. 22:37-39). Byvoorbeeld, Elena, ’n suster in die land Georgië, sê: “Aan die begin was my liefde vir Jehovah die enigste ding wat my gemotiveer het om te preek. Maar soos my liefde vir my hemelse Vader gegroei het, het my liefde vir mense ook gegroei. Ek het probeer dink aan watter probleme hulle ondervind het en watter onderwerp dalk hulle harte sou raak. Hoe meer ek op hierdie manier oor hulle gedink het, hoe meer wou ek hulle help.” – Rom. 10:13-15.

SEËNINGE WAT ONS ONTVANG AS ONS WYS DAT ONS ANDER LIEFHET

Wanneer ons iets liefdevols vir ander doen, kan dit daartoe lei dat baie ander mense seëninge ontvang (Sien paragraaf 15-16)

15-16. Watter seëninge ontvang ons as ons wys dat ons ander liefhet, soos ons in die prente kan sien?

15 Wanneer ons vir ons broers wys dat ons hulle liefhet, is hulle nie die enigstes wat daarby baat vind nie. Nadat die COVID-19-pandemie begin het, het ’n broer met die naam Paolo en sy vrou baie bejaarde susters geleer hoe om hulle elektroniese toestelle te gebruik sodat hulle kon preek. Een suster wat aan die begin gesukkel het om haar toestel te gebruik, het dit uiteindelik reggekry. Sy kon dit gebruik om haar familielede na die Gedenkmaal te nooi. Sestig van hulle het dit deur middel van videoverbinding bygewoon! Die suster en haar familielede het almal baat gevind by dit wat Paolo en sy vrou gedoen het. Later het die suster vir Paolo geskryf: “Dankie dat jy ons bejaardes geleer het. Ek sal nooit vergeet hoe baie Jehovah vir ons omgee nie en hoe hard jy gewerk het om ons te help nie.”

16 Ondervindinge soos hierdie een het Paolo ’n baie belangrike les geleer. Hy is daaraan herinner dat liefde belangriker is as kennis of natuurlike vermoë. Hy vertel: “Ek het as ’n kringopsiener gedien. Vandag besef ek dat die verkondigers dalk my toesprake vergeet het, maar hulle onthou nog steeds die praktiese hulp wat ek hulle gegee het.”

17. Wie sal nog daarby baat vind wanneer ons wys dat ons ander liefhet?

17 Ons vind self op onverwagse maniere daarby baat wanneer ons wys dat ons ander liefhet. Jonathan, wat in Nieu-Seeland woon, bevestig dit. Op een warm Saterdagmiddag het hy ’n pionierbroer gesien wat alleen gepreek het. Jonathan het besluit om op Saterdaemiddae saam met die broer te werk. Op daardie stadium het hy nie besef hoe baie hy self sal baat vind by hierdie liefdevolle daad nie. Jonathan erken: “Op daardie stadium in my lewe het ek dit nie geniet om velddiens te doen nie. Maar terwyl ek geluister het na hoe die broer onderrig en gesien het hoe produktief sy bediening was, het ek die predikingswerk begin geniet. Die broer het ook my goeie vriend geword en my gehelp om geestelik te groei, die bediening te geniet en om nader aan Jehovah te kom.”

18. Wat wil Jehovah hê moet ons doen?

18 Jehovah wil hê dat almal van ons moet groei in ons liefde vir hom en vir ander. Soos ons geleer het, kan ons ons liefde vir Jehovah versterk deur sy Woord te lees en daaroor na te dink en deur gereeld in gebed met hom te praat. Ons kan groei in ons liefde vir ons broers en susters deur hulle op praktiese maniere te help. Soos ons liefde groei, sal ons nader aan Jehovah en aan ons geestelike familie kom, en ons sal daardie vriendskappe vir ewig geniet!

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

a Of ons nuut in die waarheid is of Jehovah al baie jare lank dien, almal van ons kan aanhou om vordering te maak. Hierdie artikel sal ’n belangrike manier bespreek hoe ons dit kan doen: deur te groei in ons liefde vir Jehovah en vir ander. Terwyl jy nadink oor hierdie inligting, dink aan watter vordering jy alreeds gemaak het en hoe jy nog vordering kan maak.

b Party name is verander.