Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 29

Is jy gereed vir die groot verdrukking?

Is jy gereed vir die groot verdrukking?

“Julle [moet] gereed wees.” – MATT. 24:44.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom is dit wys om vir rampe voor te berei?

 VOORBEREIDING red lewens. Byvoorbeeld, wanneer daar ’n ramp is, is die kanse groter dat mense wat daarvoor voorberei het, dit sal oorleef en ander sal kan help. ’n Organisasie in Europa wat probeer om mense te help, sê: “Goeie voorbereiding kan ’n groot verskil maak.”

2. Hoekom moet ons vir die groot verdrukking voorberei? (Matteus 24:44)

2 Die “groot verdrukking” sal skielik begin (Matt. 24:21). Maar anders as baie ander rampe sal die groot verdrukking nie almal onkant vang nie. Omtrent 2 000 jaar gelede het Jesus sy volgelinge gewaarsku dat hulle hulle gereed moet maak vir daardie dag. (Lees Matteus 24:44.) As ons gereed is, sal dit vir ons makliker wees om deur daardie moeilike tyd te kom en om ander te help om dieselfde te doen. – Luk. 21:36.

3. Hoe sal volharding, meegevoel en liefde ons help om gereed te wees vir die groot verdrukking?

3 Ons moet drie eienskappe ontwikkel wat ons sal help om gereed te wees vir die groot verdrukking. Hoe sal ons reageer as ons gevra word om ’n sterk oordeelsboodskap te verkondig en as ongelowiges ons teëstaan? (Op. 16:21). Ons sal volharding nodig hê om aan Jehovah gehoorsaam te wees, met die vertroue dat hy ons sal beskerm. Wat sal ons doen as ons broers party of al hulle materiële dinge verloor? (Hab. 3:17, 18). Ons sal meegevoel nodig hê om ons te motiveer om vir hulle die hulp te gee wat hulle nodig het. Hoe sal ons reageer as ons, as gevolg van die aanval deur ’n groep nasies, ’n ruk lank saam met ons broers en susters in ’n klein spasie moet bly? (Eseg. 38:10-12). Ons sal sterk liefde vir hulle nodig hê om ons te help om deur daardie moeilike tyd te kom.

4. Hoe wys die Bybel dat ons moet aanhou om volharding, meegevoel en liefde te ontwikkel?

4 God se Woord moedig ons aan om aan te hou om volharding, meegevoel en liefde te ontwikkel. Lukas 21:19 sê: “Deur julle volharding sal julle julle lewens red.” Kolossense 3:12 sê: “Betoon . . . medelye [of, meegevoel].” En 1 Tessalonisense 4:9, 10 sê: “Julle word deur God geleer om mekaar lief te hê. . . . Maar broers, ons spoor julle aan om dit nog meer te doen.” Al hierdie verse was geskryf aan dissipels wat alreeds gewys het dat hulle volharding, meegevoel en liefde het. Maar hulle moes aanhou om hierdie eienskappe te ontwikkel. Ons moet dieselfde doen. Om ons daarmee te help, sal ons kyk hoe die vroeë Christene elke eienskap gewys het. Dan sal ons sien hoe ons daardie dissipels kan navolg en kan bewys dat ons gereed is vir die groot verdrukking.

VERSTERK JOU VOLHARDING

5. Hoe het die vroeë Christene ten spyte van hulle moeilike tye volhard?

5 Die vroeë Christene moes volhard (Heb. 10:36). Hulle het nie net probleme deurgemaak wat alle mense ondervind het nie, maar hulle het ook ander uitdagings gehad. Baie van hulle is vervolg, nie net deur Joodse godsdiensleiers en die Romeinse owerheid nie, maar ook deur hulle eie families (Matt. 10:21). En hulle moes seker maak dat hulle nie beïnvloed word deur die valse leringe van die afvalliges wat probeer het om die gemeente te verdeel nie (Hand. 20:29, 30). Maar daardie Christene het volhard (Op. 2:3). Hoe? Hulle het gedink aan Bybelse voorbeelde van volharding, soos Job (Jak. 5:10, 11). Hulle het vir krag gebid (Hand. 4:29-31). En hulle het gefokus op die goeie resultate van hulle volharding. – Hand. 5:41.

6. Wat leer jy uit wat Merita gedoen het om te volhard ten spyte van teenstand?

6 Ons kan ook volhard as ons gereeld voorbeelde van volharding in God se Woord en in ons publikasies studeer en daaroor nadink. Deur dit te doen, kon Merita, ’n suster in Albanië, volhard ten spyte van gewelddadige familieteenstand. Sy sê: “Ek was diep geraak toe ek die Bybelverslag oor Job gestudeer het. Hy het so baie gely, en al het hy nie geweet wie die oorsaak van sy probleme is nie, het hy gesê: ‘Totdat ek sterf, sal ek nie my integriteit prysgee nie!’ (Job 27:5). Ek het gedink aan hoe erg Job se probleme was in vergelyking met myne. Anders as Job het ek geweet wie die oorsaak van hierdie probleme is.”

7. Wat moet ons leer om nou te doen, selfs al het ons nie op die oomblik ’n ernstige probleem nie?

7 Ons kan ook ons volharding versterk deur gereeld tot Jehovah te bid en hom te vertel van al ons bekommernisse (Fil. 4:6; 1 Tess. 5:17). Dalk het jy nie op die oomblik ernstige probleme nie. Maar bid jy tot Jehovah en vra jy hom om jou te help wanneer jy ook al ontsteld, onseker of oorweldig is? As jy nou gereeld tot ons God bid en hom vra om jou te help met jou kleiner probleme, sal jy nie in die toekoms huiwer om dit te doen wanneer jy groter probleme ondervind nie. Dan sal jy die vertroue hê dat hy presies weet wanneer en hoe om jou te help. – Ps. 27:1, 3.

VOLHARDING

Elke keer wanneer ons volhard ten spyte van ’n moeilike situasie kan dit ons vir die volgende een voorberei (Sien paragraaf 8)

8. Hoe wys Mira se voorbeeld dat ons in die toekoms kan volhard as ons vandag volhard ten spyte van probleme? (Jakobus 1:2-4) (Sien ook prent.)

8 Daar is ’n groter moontlikheid dat ons die toekomstige groot verdrukking sal oorleef as ons vandag volhard wanneer ons probleme ondervind (Rom. 5:3). Hoekom kan ons dit sê? Baie broers sê dat elke moeilike situasie wat hulle suksesvol hanteer het, hulle gehelp het om te volhard gedurende die volgende uitdaging. Wanneer hulle met Jehovah se hulp volhard het, het hulle meer geloof dat Jehovah hulle wil help. En omdat hulle geloof in Jehovah het, kan hulle volhard wanneer hulle weer deur ’n moeilike tyd gaan. (Lees Jakobus 1:2-4.) Mira, ’n pionier in Albanië, het gevind dat sy kan aanhou om te volhard omdat sy al in die verlede volhard het. Sy erken dat sy soms voel asof sy die enigste een is wat so baie probleme het. Maar dan dink sy aan hoe baie Jehovah in die afgelope 20 jaar gedoen het om haar te ondersteun en sê sy vir haarself: ‘Bly getrou. Jehovah het jou gehelp om te volhard ten spyte van so baie moeilike situasies, so moenie nou ophou om hom te dien nie.’ Jy kan ook dink aan hoe Jehovah jou alreeds gehelp het om te volhard. Elke keer wanneer jy volhard ten spyte van ’n probleem, kan jy die vertroue hê dat hy dit raaksien en jou sal beloon (Matt. 5:10-12). Dan wanneer die groot verdrukking begin, sal jy al geleer het hoe om te volhard en sal jy vasbeslote wees om aan te hou volhard.

WYS DAT JY MEEGEVOEL HET

9. Hoe het die gemeente in Antiogië van Sirië gewys dat hulle meegevoel het?

9 Kyk na wat gebeur het toe die Christene in Judea ’n groot hongersnood ondervind het. Nadat die gemeente in Antiogië van Sirië van die hongersnood gehoor het, het hulle beslis jammer gevoel vir hulle broers in Judea. En daarom het hulle iets gedoen om hulle broers en susters te help. Hulle het “besluit om iets te stuur om die broers in Judea te help. Elkeen het bygedra volgens wat hy kon bekostig” (Hand. 11:27-30). Al het die broers en susters wat deur die hongersnood geaffekteer was, ver gebly, was die Christene in Antiogië vasbeslote om hulle te help. – 1 Joh. 3:17, 18.

MEEGEVOEL

Natuurrampe gee ons ’n geleentheid om te wys dat ons meegevoel het (Sien paragraaf 10)

10. Op watter maniere kan ons wys dat ons meegevoel het wanneer ons broers en susters deur ’n ramp geraak is? (Sien ook prent.)

10 Ons kan ook vandag wys dat ons meegevoel het wanneer ons uitvind dat ons broers en susters deur ’n ramp geraak is. Ons reageer vinnig – dalk deur die ouermanne te vra of ons kan help met ’n projek, deur ’n donasie te maak aan die wêreldwye werk of deur te bid vir dié wat deur die ramp geraak is (Spr. 17:17). b Byvoorbeeld, in 2020 was daar wêreldwyd meer as 950 Noodlenigingskomitees aangestel om dié te help wat deur die COVID-19-pandemie geraak is. Ons is baie dankbaar vir die broers en susters wat aan die noodlenigingswerk deelneem. Omdat hulle meegevoel vir hulle broers en susters het, het hulle materiële dinge voorsien, hulle geestelik versterk en, in party gevalle, huise en plekke van aanbidding herstel of herbou. – Vergelyk 2 Korintiërs 8:1-4.

11. Hoe eer ons ons hemelse Vader wanneer ons wys dat ons meegevoel het?

11 Wanneer ons ná ’n ramp wys dat ons meegevoel het, sal ander die opofferings raaksien wat ons maak. Byvoorbeeld, in 2019 het die orkaan Dorian ’n Koninkryksaal in die Bahamas vernietig. Terwyl ons broers besig was om die saal te herbou, het hulle ’n kontrakteur wat nie ’n Getuie is nie vir ’n kwotasie gevra vir van die werk wat gedoen moes word. Hy het vir hulle gesê: “Ek wil graag . . . die toerusting, die arbeid en die materiaal skenk. . . . Ek wil dit baie graag vir julle organisasie doen. Ek is beïndruk deur hoe [julle] voel oor julle vriende.” Die meeste mense in die wêreld ken nie Jehovah nie. Maar baie sien wel wat Jehovah se Getuies doen om ander te help. Dit is ’n voorreg om te weet dat ons dade van meegevoel mense kan trek na die Een wat “groot genade” het! – Ef. 2:4.

12. Hoe kan dit ons vir die groot verdrukking voorberei as ons vandag meegevoel ontwikkel? (Openbaring 13:16, 17)

12 Hoekom sal ons gedurende die groot verdrukking moet wys dat ons meegevoel het? Die Bybel wys dat dié wat nie die regerings van hierdie wêreld gaan ondersteun nie, probleme sal ondervind – nou en gedurende die groot verdrukking. (Lees Openbaring 13:16, 17.) Ons broers en susters sal dalk hulp nodig hê om die basiese dinge te kry wat hulle nodig het. Wanneer ons Koning, Christus Jesus, kom om mense te oordeel, wil ons hê dat hy moet sien dat ons wys dat ons meegevoel het en dat hy ons moet nooi om ‘die Koninkryk te erf’. – Matt. 25:34-40.

VERSTERK JOU LIEFDE

13. Hoe het die vroeë Christene hulle liefde vir mekaar versterk volgens Romeine 15:7?

13 Mense kon duidelik sien dat die vroeë Christene mekaar liefgehad het. Maar was dit vir hulle maklik om te wys dat hulle mekaar liefhet? Dink aan die verskeidenheid wat daar in die gemeente in Rome was. Daar was nie net Jode, wat grootgemaak was om die Wet van Moses te gehoorsaam nie, maar daar was ook nie-Jode, wie se agtergrond heeltemal anders was. Party Christene was heel moontlik slawe terwyl ander vrymense was – dalk het party selfs slawe gehad. Hoe kon daardie Christene sulke verskille oorkom en hulle liefde versterk? Die apostel Paulus het hulle aangemoedig en gesê: “Verwelkom mekaar.” (Lees Romeine 15:7.) Wat het hy bedoel? Die woord wat met “verwelkom” vertaal word, beteken om iemand vriendelik of gasvry te ontvang, soos in jou huis of vriendekring. Byvoorbeeld, Paulus het vir Filemon gesê hoe om die wegloperslaaf Onesimus te verwelkom en het gesê dat hy hom “vriendelik [moet] ontvang” (Filem. 17). En Priscilla en Aquila het Apollos, wat minder oor die Christelike geloof geweet het as hulle, verwelkom deur ‘hom saam te neem’ (Hand. 18:26). Daardie Christene het nie toegelaat dat hulle verskille probleme tussen hulle veroorsaak nie, en hulle het mekaar verwelkom.

LIEFDE

Ons het die liefde van al ons broers en susters nodig (Sien paragraaf 15)

14. Hoe het Anna en haar man liefde gewys?

14 Ons kan ook vir ons broers en susters wys dat ons hulle liefhet deur hulle te verwelkom en hulle deel van ons vriendekring te maak. Dit sal hulle dikwels motiveer om ook vir ons lief te wees (2 Kor. 6:11-13). Kyk na die ondervinding van Anna en haar man. Kort nadat hulle na ’n nuwe sendingtoewysing in Wes-Afrika getrek het, het die COVID-19-pandemie begin. As gevolg van die pandemie kon hulle nie in persoon met die broers en susters in hulle gemeente bymekaarkom nie. Hoe het hierdie paartjie hulle liefde gewys? Hulle het deur middel van videoverbinding met die broers en susters daar kontak gemaak en vir hulle gesê dat hulle hulle baie graag beter wil leer ken. Dit het die families diep geraak, en hulle het toe die paartjie gereeld gebel en vir hulle boodskappe gestuur. Hoekom het die paartjie uitgereik? Anna sê: “Ek sal nooit die broers en susters vergeet wat in goeie en in slegte tye vir my en my familie gewys het dat hulle ons liefhet nie. Hulle voorbeelde het my gemotiveer om liefde te wys.”

15. Wat leer jy uit Vanessa se voorbeeld oor liefde vir al ons broers en susters? (Sien ook prent.)

15 Baie van ons is in gemeentes waar daar broers en susters is met verskillende agtergronde en ’n verskeidenheid persoonlikhede. Ons kan ons liefde vir almal van hulle versterk deur op hulle goeie eienskappe te fokus. ’n Suster met die naam Vanessa, wat in Nieu-Seeland dien, het dit moeilik gevind om met party in haar gemeente oor die weg te kom. Maar in plaas daarvan om dié te vermy wie se persoonlikhede haar geïrriteer het, het sy besluit om meer tyd met hulle te spandeer. Dit het haar gehelp om te sien wat Jehovah omtrent hulle liefhet. Sy sê: “Vandat my man ’n kringopsiener geword het, spandeer ons tyd met baie meer broers en susters wat verskillende persoonlikhede het, en dit is vir my makliker om met hulle oor die weg te kom. Nou is ek lief vir die verskeidenheid. Dit is duidelik dat Jehovah ook lief is daarvoor omdat die mense wat hy toelaat om hom te aanbid, almal baie van mekaar verskil.” Wanneer ons leer om ander te sien soos Jehovah hulle sien, wys ons dat ons hulle liefhet. – 2 Kor. 8:24.

Jehovah belowe dat hy ons gedurende die groot verdrukking sal beskerm as ons verenig bly met ons broers en susters (Sien paragraaf 16)

16. Hoekom sal liefde baie belangrik wees gedurende die groot verdrukking? (Sien ook prent.)

16 Liefde sal baie belangrik wees gedurende die groot verdrukking. Hoe sal Jehovah ons beskerm wanneer daardie verdrukking begin? Kyk na wat Jehovah vir sy volk gesê het om te doen toe eertydse Babilon aangeval is: “Gaan in julle binnekamers in, my volk, en sluit julle deure agter julle toe. Verberg julle vir net ’n oomblik, totdat die woede verby is” (Jes. 26:20). Dalk sal ons daardie selfde instruksies moet volg gedurende die groot verdrukking. Die “binnekamers” verwys dalk na ons gemeentes. Jehovah belowe dat hy ons gedurende die groot verdrukking sal beskerm as ons verenig bly met ons broers en susters. Daarom moet ons nou hard werk om nie net ons broers en susters te verdra nie, maar om hulle ook lief te hê. Ons lewe sal dalk daarvan afhang!

BEREI NOU VOOR

17. Wat sal ons gedurende die groot verdrukking kan doen as ons nou voorberei?

17 “Die groot dag van Jehovah” sal vir alle mense ’n baie moeilike tyd wees (Sef. 1:14, 15). Jehovah se volk sal ook deur ’n moeilike tyd gaan. Maar as ons nou voorberei, sal ons kan kalm bly en ander kan help. Ons sal volhard ten spyte van enige uitdagings wat op ons pad kom. Wanneer ons broers en susters ly, sal ons ons bes doen om hulle te help deur meegevoel met hulle te hê en in hulle behoeftes te voorsien. En ons sal na aan ons broers en susters bly, vir wie ons alreeds liefde ontwikkel het. Jehovah sal ons dan beloon met ewige lewe in ’n wêreld waar alle rampe en verdrukking iets van die verlede sal wees. – Jes. 65:17.

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

a Die groot verdrukking sal binnekort begin. Ons moet volharding, meegevoel en liefde hê om gereed te wees vir die moeilikste tyd wat die mensdom al ooit ondervind het. Let op hoe die vroeë Christene daardie eienskappe ontwikkel het, hoe ons vandag dieselfde kan doen en hoe daardie eienskappe ons vir die groot verdrukking sal voorberei.

b Dié wat wil help met ’n noodlenigingsprojek moet eers ’n Local Design/Construction Volunteer Application (DC-50) of ’n Application for Volunteer Program (A-19) voltooi en dan wag om genooi te word om met die projek te help.