LEWENSVERHAAL
Persoonlike belangstelling bring lewenslange seëninge
“DIE Anglikaanse Kerk leer nie die waarheid nie. Hou aan om na die waarheid te soek.” Nadat my Anglikaanse ouma dit gesê het, het my ma begin om na die ware godsdiens te soek. Maar sy wou nie met Jehovah se Getuies praat nie en het vir my gesê om weg te kruip wanneer hulle na ons huis toe gekom het in Toronto, Kanada. Maar toe my ma se jonger suster in 1950 met die Getuies begin studeer het, het my ma ook begin studeer. Hulle het by my tannie se huis gestudeer en is later gedoop.
Pa was ’n ouderling in die plaaslike Verenigde Kerk van Kanada, so hy het my en my suster elke week Sondagskool toe gestuur, en daarna het ons die 11-uur kerkdiens in die oggend saam met hom bygewoon. In die middag het ons saam met Ma na die Koninkryksaal gegaan. Ons kon die verskil tussen die twee godsdienste maklik sien.
Ma het die nuwe dinge wat sy geleer het met haar ou vriende Bob en Marion Hutcheson gedeel, wat ook die waarheid aanvaar het. In 1958 het die Hutchesons my saam met hulle drie seuns na die agt dae lange “Goddelike Wil”-internasionale byeenkoms in die stad New York geneem. As ek terugkyk, besef ek nou hoeveel moeite hulle moes doen om my saam te neem, maar daardie byeenkoms was een van die hoogtepunte van my lewe.
PERSOONLIKE BELANGSTELLING HET MY TOEKOMS BEÏNVLOED
Toe ek ’n tiener was, het ons op ’n plaas gebly waar ek dit geniet het om vir diere te sorg. Ek het dit ernstig oorweeg om ’n veearts te word. My ma het dit vir ’n ouerman in die gemeente genoem. Hy het my liefdevol daaraan herinner dat ons in “die laaste dae” lewe en vir my gevra hoe dit my verhouding met Jehovah sou affekteer as ek vir ’n hele paar jaar universiteit toe sou gaan (2 Tim. 3:1). As gevolg daarvan het ek besluit om nie universiteit toe te gaan nie.
Ek het nog steeds gewonder wat ek gaan doen as ek klaar is met hoërskool. Al het ek elke naweek velddiens gedoen, het ek nie die bediening geniet nie, en ek kon nie myself as ’n pionier sien nie. Intussen het my pa en oom, wat nie Getuies was nie, my aangemoedig om voltyds vir ’n groot versekeringsmaatskappy in Toronto te werk. My oom het ’n belangrike posisie daar gehad, so ek het toe die werk aanvaar.
In Toronto het ek die hele tyd oortyd gewerk en met mense geassosieer wat nie Getuies is nie, en dit het gekeer dat ek gereeld aan geestelike aktiwiteite deelneem. Ek het eers by my oupa gebly wat nie ’n Getuie was nie, maar ná sy dood het ek ander blyplek nodig gehad.
Die Hutchesons, wat my saamgeneem het na die byeenkoms in 1958, was soos ouers vir my. Hulle het my genooi om by hulle te kom bly en my gehelp om geestelik te groei. Ek en hulle seun John is saam in 1960 gedoop. John het begin pionier, en dit het my aangemoedig om meer in my bediening te doen. Die broers in die gemeente het gesien dat ek geestelike vordering maak, en ek is uiteindelik aangestel as die Teokratiese Bedieningskoolkneg. a
EK VIND ’N WONDERLIKE MAAT EN EK BEGIN PIONIER
In 1966 het ek met Randi Berge getrou, ’n ywerige pionier wat gretig was om te dien waar daar hulp nodig was. Ons reisende opsiener het persoonlike belangstelling in ons getoon en ons aangemoedig om die gemeente in Orillia, Ontario, te gaan help. So ons het opgepak en getrek.
Net nadat ons in Orillia aangekom het, het ek saam met Randi begin pionier. Haar entoesiasme was aansteeklik! Toe ek my alles in my pionierdiens begin gee het, het ek die vreugde ondervind om die Bybel te gebruik en om te sien hoe mense die waarheid verstaan. Dit was ’n baie groot seën om ’n wonderlike paartjie in Orillia te help om veranderinge in hulle lewens te maak en knegte van Jehovah te word.
ONS LEER ’N NUWE TAAL EN VERANDER DIE MANIER HOE ONS DINK
Gedurende ’n besoek aan Toronto, het ek Arnold MacNamara ontmoet, wat een van die broers was wat die leiding by Bethel geneem het. Hy het gevra of ons graag spesiale pioniers wil wees. Ek het onmiddellik gesê: “Absoluut! Enige plek, behalwe Quebec!” Ek was beïnvloed deur die negatiewe gevoelens wat die Engelssprekende mense in Kanada gehad het oor die burgerlike onrus in die Franssprekende provinsie Quebec. Op daardie stadium het mense protesoptogte teen die regering gehou omdat hulle wou hê dat die provinsie Quebec onafhanklik van die res van Kanada moes wees.
Arnold het gesê: “Op die oomblik stuur die takkantoor spesiale pioniers net Quebec toe.” Ek het onmiddellik ingestem om te gaan. Ek het reeds geweet dat Randi graag daar wou dien. Later het ek besef dat dit een van die beste besluite van ons lewe was!
Nadat ons ’n vyf week lange Franse klas bygewoon het, het ek en Randi saam met ’n ander paartjie na Rimouski gegaan, wat omtrent 540 kilometer noord-oos van Montreal af is. Ons het nog baie gehad om te leer, en dit het baie duidelik geword by ’n vergadering toe ek ’n paar aankondigings gelees het. Ek moes sê dat daar by ons volgende byeenkoms baie afgevaardigdes van Oostenryk sou wees, maar ek het per ongeluk ’n woord gebruik wat dieselfde klink en het gesê dat die afgevaardigdes volstruise sou wees.
In Rimouski het vier ywerige ongetroude susters sowel as die Huberdeaus en hulle twee dogters by die vier van ons aangesluit. Die Huberdeaus het ’n groot huis gehuur, en al die pioniers wat daar gebly het, het gehelp om vir die huur te betaal. Ons het dit die Withuis genoem omdat die voorkant van die huis wit was en daar wit pilare was. Gewoonlik het daar tussen 12 en 14 mense gebly. As spesiale pioniers het ek en Randi soggens, middae en saans velddiens gedoen, en ons was baie dankbaar dat daar altyd iemand was wat bereid was om saam met ons te gaan velddiens doen – selfs op koue wintersaande.
Ons het so geheg geraak aan daardie getroue pioniers dat hulle vir ons soos familie geword het. Soms het ons saam rondom ’n kampvuur gesit of ons het ’n dag gehad waar ons almal saam kos gemaak het. Een van die broers was ’n musikant, so ons het dikwels Saterdae-aande gesing en gedans.
Die gebied in Rimouski was baie produktief! Binne vyf jaar het ons die vreugde gehad om te sien hoe ’n hele paar Bybelstudente gedoop word. Die gemeente het tot omtrent 35 verkondigers gegroei.
In Quebec het ons uitstekende opleiding as evangeliepredikers gehad. Ons het gesien hoe Jehovah ons in die bediening en met ons materiële behoeftes help. En ons het geleer om lief te wees vir die Franssprekende mense, hulle taal en hulle kultuur – en dit het daartoe gelei dat ons ook lief geword het vir ander kulture. – 2 Kor. 6:13.
Die takkantoor het ons onverwags gevra om na die dorp Tracadie te trek, wat aan die oostelike kus van Nieu-Brunswyk is. Dit was ’n uitdaging omdat ons kort tevore ’n huurkontrak op ’n woonstel geteken het, en ek het ’n deeltydse onderwyskontrak met die skoolraad gehad. Party
van ons Bybelstudente het ook toe net verkondigers geword, en ons was besig om ’n Koninkryksaal te bou.Ons het die hele naweek oor die saak gebid en Tracadie gaan besoek, wat baie anders is as Rimouski. Maar ons het besluit dat ons sal gaan omdat Jehovah ons daar wou hê. Ons het Jehovah getoets en gesien hoe hy elke struikelblok verwyder (Mal. 3:10). Soos altyd het Randi se sterk verhouding met Jehovah, haar selfopofferende gees en sin vir humor die uitdaging om te trek, makliker gemaak.
Robert Ross was die enigste ouerman in ons nuwe gemeente. Hy het saam met sy vrou, Linda, gepionier, en hulle het besluit om daar te bly nadat hulle eerste kind gebore is. Selfs terwyl hulle ’n klein seuntjie grootgemaak het, het hulle ons baie aangemoedig omdat hulle so gasvry en ywerig in die predikingswerk was.
ONS VIND VREUGDE IN ONS DIENS WAAR DAAR OOK AL HULP NODIG IS
Nadat ons vir twee jaar in Tracadie gepionier het, het ons weer ’n onverwagte verrassing gekry – ’n uitnodiging om in die reisende werk te dien. Ons het vir sewe jaar Engelse kringe besoek, en daarna is ons na ’n Franse kring in Quebec gestuur. Ons streekopsiener in Quebec, Léonce Crépeault, het my gewoonlik geprys vir my toesprake. Maar later het hy altyd gevra: “Hoe kan jy dit praktieser maak?” b Hierdie persoonlike aandag het my gehelp om my onderrigting meer spesifiek en eenvoudiger te maak.
Een toewysing wat ek altyd sal onthou, is die een wat ek in 1978 by die “Seëvierende Geloof”-internasionale byeenkoms in Montreal gehad het. Ek het in die Kosafdeling gewerk. Ons het 80 000 mense verwag, en ’n nuwe reëling om kos te voorsien, is begin. Alles was heeltemal nuut: die toerusting, die spyskaart en hoe die kos voorberei is. Ons het omtrent 20 groot yskaste gehad, maar soms het dit nie gewerk nie. Voor die eerste dag kon ons eers middernag by die stadion ingaan om alles gereed te kry omdat daar ’n sportwedstryd was. En ons moes die oonde douvoordag aansit om ontbyt te maak! Ons was moeg, maar ek het baie geleer uit die harde werk, volwassenheid en sin vir humor van die ander vrywilligers. Ons het baie geheg geraak aan mekaar, en ons is tot vandag toe nog
vriende. Dit het ons soveel vreugde gegee om hierdie belangrike byeenkoms in Quebec by te woon, die einste provinsie waar daar erge vervolging was gedurende die 1940’s en 1950’s!Ek het so baie geleer by die ander opsieners gedurende ons groot byeenkomste in Montreal. Een jaar was David Splane, wat nou op die Bestuursliggaam dien, die byeenkomsopsiener. Toe ek later daardie toewysing gekry het, het David sy volle samewerking gegee.
In 2011, nadat ons 36 jaar lank in die reisende werk was, is ek genooi om ’n instrukteur te wees by die Skool vir Gemeentelike Ouermanne. In twee jaar het ek en Randi in 75 verskillende beddens geslaap, maar dit was elke opoffering werd. Aan die einde van elke week was die ouermanne so dankbaar omdat hulle gesien het hoe baie die Bestuursliggaam omgee vir die geestelikheid van die ouermanne.
Later was ek ’n instrukteur by die Skool vir Koninkrykspredikers. Die studente was baie keer oorweldig as gevolg van die besige rooster: om omtrent sewe uur ’n dag in ’n klaskamer te sit, om elke aand drie uur lank huiswerk te doen en om vier of vyf toewysings per week te hanteer. Ek en die ander instrukteur het verduidelik dat hulle dit nie sonder Jehovah se hulp kan doen nie. Ek sal altyd onthou hoe verbaas die studente was om te sien dat hulle baie meer kon bereik as wat hulle gedink het moontlik is omdat hulle op Jehovah vertrou het.
PERSOONLIKE BELANGSTELLING BRING BLYWENDE SEËNINGE
My ma se persoonlike belangstelling in ander het haar Bybelstudente gehelp om vordering te maak en het selfs my pa gehelp om sy gesindheid teenoor die waarheid te verander. Drie dae ná haar dood het hy ons verras deur na ’n openbare toespraak by die Koninkryksaal te kom, en hy het vir die volgende 26 jaar aangehou om vergaderinge by te woon. Al is Pa nooit gedoop nie, het die ouermanne vir my gesê dat hy elke week altyd die eerste een was wat by die vergadering aangekom het.
My ma was ook ’n uitstekende voorbeeld vir my en my susters. Al drie my susters en hulle mans dien Jehovah getrou. Twee van my susters dien by takkantore – een in Portugal en ’n ander een in Haïti.
Ek en Randi is nou spesiale pioniers in Hamilton, Ontario. Toe ons in die reisende werk was, het ons dit geniet om saam met ander na hulle herbesoeke en Bybelstudies te gaan. Maar nou geniet ons dit om te sien hoe ons eie studente geestelike vordering maak. En terwyl ons vriende word met die broers en susters in ons nuwe gemeente, voel ons aangemoedig om te sien hoe Jehovah hulle deur goeie en slegte tye ondersteun.
Wanneer ons terugkyk, waardeer ons regtig die persoonlike belangstelling wat so baie in ons getoon het. En ons het weer probeer om “opregte besorgdheid” vir ander te hê deur hulle aan te moedig om hulle volle geestelike potensiaal te bereik (2 Kor. 7:6, 7). Byvoorbeeld, in een familie was die vrou, seun en die dogter in voltydse diens. Ek het vir die man gevra of hy al ooit daaraan gedink het om te pionier. Hy het gesê dat hy vir drie pioniers sorg. Toe het ek gevra: “Kan jy beter vir hulle sorg as Jehovah?” Ek het hom aangemoedig om te geniet wat hulle geniet. Ses maande later het hy ’n pionier geword.
Ek en Randi sal aanhou om vir “die volgende geslag [te] vertel” van Jehovah se “wonderlike werke”, en ons hoop dat hulle sy diens so baie sal geniet soos wat ons het. – Ps. 71:17, 18.
a Nou bekend as die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering.
b Sien Léonce Crépeault se lewensverhaal in Die Wagtoring van Februarie 2020, bl. 26-30.