STUDIEARTIKEL 30
LIED 36 Ons bewaak ons hart
Belangrike lesse wat ons by die konings van Israel leer
“Julle sal weer die verskil sien tussen ’n regverdige persoon en ’n goddelose persoon, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie dien nie.” – MAL. 3:18.
DOEL
Om te leer hoe Jehovah die konings van Israel geëvalueer het sodat ons kan verstaan waarna hy vandag in sy aanbidders soek.
1-2. Wat sê die Bybel vir ons omtrent party van die konings van Israel?
DIE Bybel noem meer as 40 mans wat as konings van Israel regeer het. a Daardie verslag is baie eerlik oor die dinge wat party van hulle gedoen het. Byvoorbeeld, selfs die goeie konings het soms slegte dinge gedoen. Dink aan goeie koning Dawid. Jehovah het gesê: “My kneg Dawid [het] my met sy hele hart gevolg . . . deur net te doen wat reg is in my oë” (1 Kon. 14:8). Maar daardie man het seksuele onsedelikheid gepleeg met ’n getroude vrou en planne gemaak om haar man in ’n geveg te laat doodmaak. – 2 Sam. 11:4, 14, 15.
2 Aan die ander kant het baie van die ontroue konings soms goeie dinge gedoen. Dink aan Rehabeam. In Jehovah se oë het hy “gedoen wat sleg is” (2 Kron. 12:14). Maar Rehabeam het God se bevel gehoorsaam om tien stamme van sy koninkryk te laat wegbreek. Hy het ook sy nasie bevoordeel deur die stede in sy koninkryk te versterk. – 1 Kon. 12:21-24; 2 Kron. 11:5-12.
3. Watter belangrike vraag ontstaan, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 ’n Belangrike vraag ontstaan. As Israel se konings goeie en slegte dinge gedoen het, hoe het Jehovah bepaal of ’n koning getrou in Sy oë is of nie? Die antwoord op daardie vraag sal ons help verstaan waarna Jehovah in ons soek. Ons sal drie dinge bespreek waarna Jehovah gekyk het toe hy die konings van Israel geëvalueer het: hulle hartstoestand, hulle berou en of hulle Jehovah op die regte manier aanbid het.
HULLE HET JEHOVAH MET HULLE HELE HART GEDIEN
4. Wat is een verskil tussen die getroue konings en die ontroue konings?
4 Die konings wat Jehovah se goedkeuring gehad het, het hom met hulle hele hart aanbid. b Goeie koning Josafat het “Jehovah met sy hele hart gedien” (2 Kron. 22:9). Die Bybel sê oor Josia: “Voor hom was daar geen koning soos hy, wat met sy hele hart . . . na Jehovah teruggekeer het nie” (2 Kon. 23:25). Wat van Salomo, wat later in sy lewe gedoen het wat sleg is? “Hy het Jehovah . . . nie met sy hele hart gedien” nie (1 Kon. 11:4). En die Bybel sê oor Abiam, nog ’n ontroue koning: “Hy het Jehovah . . . nie met sy hele hart gedien” nie. – 1 Kon. 15:3.
5. Verduidelik wat dit beteken om Jehovah met jou hele hart te dien.
5 So, wat beteken dit om Jehovah met jou hele hart te dien? ’n Persoon wat Jehovah met sy hele hart dien, doen dit nie net omdat hy weet dat hy dit moet doen nie. Hy dien Jehovah eerder uit liefde en toegewydheid. En hy bly regdeur sy lewe lief vir Jehovah en toegewyd aan hom.
6. Hoe kan ons Jehovah met ons hele hart bly dien? (Spreuke 4:23; Matteus 5:29, 30)
6 Hoe kan ons die getroue konings navolg en Jehovah met ons hele hart bly dien? Deur slegte invloede te vermy. Skadelike vermaak kan byvoorbeeld ons hart verdeel. Slegte assosiasie en materialistiese denke kan ook ons hart verdeel. As ons agterkom dat daar iets is wat ons liefde vir Jehovah begin verswak, moet ons vinnig optree om dit te verwyder. – Lees Spreuke 4:23; Matteus 5:29, 30.
7. Hoekom is dit belangrik om slegte invloede te vermy?
7 Ons moenie ons hart verdeeld laat word nie. As ons nie versigtig is nie kan ons onsself bedrieg deur te dink dat ons nie slegte invloede hoef te verwerp as ons meer geestelike dinge doen nie. Dink hieraan, stel jou voor dat jy op ’n bitter koue en winderige dag buite is. Wanneer jy by die huis aankom, sit jy die verwarmer aan. Maar sal dit jou enigsins help as jy die deur oopgelos het? Jou huis sal vinnig vol koue lug word. Die punt? Ons moet meer doen as om net geestelike kos in te neem wat ons verhouding met Jehovah verwarm, of versterk. Ons moet ook die deur toemaak vir skadelike invloede sodat hierdie wêreld se koue “lug,” of slegte gesindheid, nie by ons hart inkom en dit verdeel nie. – Ef. 2:2.
HULLE HET BEROU GETOON OOR HULLE SONDES
8-9. Hoe het koning Dawid en koning Hiskia op teregwysing gereageer? (Sien op voorblad.)
8 Soos vroeër genoem is, het koning Dawid ’n ernstige fout gemaak. Maar toe die profeet Natan hom oor sy sonde gekonfronteer het, het Dawid nederig berou getoon (2 Sam. 12:13). Ons kan uit sy woorde in Psalm 51 sien dat hy opreg berou getoon het. Dawid het nie voorgegee dat hy jammer gevoel het sodat hy Natan kon bedrieg of om straf vry te spring nie. – Ps. 51:3, 4, 17, opskrif.
9 Koning Hiskia het ook teen Jehovah gesondig. Die Bybel sê: “Hy het hoogmoedig geword. Daarom het God vir hom en vir Juda en Jerusalem kwaad geword” (2 Kron. 32:25). Hoekom het Hiskia trots geword? Dalk het hy gevoel dat hy beter as ander is as gevolg van sy rykdom, sy oorwinning oor die Assiriërs of omdat hy deur ’n wonderwerk van sy siekte genees is. Trots het hom dalk beweeg om sy rykdom vir die Babiloniërs te wys, wat veroorsaak het dat die profeet Jesaja hom tereggewys het (2 Kon. 20:12-18). Maar soos Dawid het Hiskia nederig berou getoon (2 Kron. 32:26). As gevolg daarvan het Jehovah hom beskou as ’n getroue koning wat “bly doen [het] wat reg is”. – 2 Kon. 18:3.
10. Hoe het koning Amasia op teregwysing gereageer?
10 Aan die ander kant het koning Amasia van Juda gedoen wat reg is, “maar nie met sy hele hart nie” (2 Kron. 25:2). Wat het hy verkeerd gedoen? Nadat Jehovah hom gehelp het om die Edomiete te oorwin, het Amasia voor hulle gode neergebuig. c En toe Jehovah se profeet hom daaroor konfronteer, was die koning hardkoppig en wou hy nie luister nie. – 2 Kron. 25:14-16.
11. Wat moet ons doen om vergifnis te ontvang volgens 2 Korintiërs 7:9, 11? (Sien ook prente.)
11 Wat leer ons uit hierdie voorbeelde? Ons moet oor ons sondes berou toon en ons bes probeer om nie weer daardie sondes te pleeg nie. Wat as ons raad van gemeentelike ouermanne ontvang, al is dit oor iets wat vir ons baie klein lyk? Ons moenie voel dat Jehovah of die ouermanne ons verwerp het nie. Selfs die goeie konings van Israel het raad en teregwysing nodig gehad (Heb. 12:6). Wanneer ons raad ontvang, moet ons (1) nederig reageer, (2) die nodige veranderinge maak en (3) Jehovah met ons hele hart bly dien. As ons oor ons sondes berou toon, sal Jehovah ons vergewe. – Lees 2 Korintiërs 7:9, 11.
HULLE HET JEHOVAH OP DIE REGTE MANIER AANBID
12. Wat het die getroue konings anders gemaak as die ontroue konings?
12 Die konings wat deur Jehovah as getrou beskou is, het hom op die regte manier aanbid. En hulle het Jehovah se volk aangemoedig om dieselfde te doen. Hulle het natuurlik hulle swakhede gehad, soos ons gesien het. Maar hulle was uitsluitlik toegewyd aan Jehovah en het hard gewerk om die afgode in die land te vernietig. d
13. Hoekom het Jehovah koning Agab as ontrou geoordeel?
13 Wat van die konings wat deur Jehovah as ontrou geoordeel is? Alles wat hulle gedoen het, was beslis nie sleg nie. Selfs goddelose koning Agab het ’n mate van nederigheid en berou getoon vir die rol wat hy gespeel het in Nabot se moord (1 Kon. 21:27-29). Hy het ook stede gebou en gevegte vir Israel gewen (1 Kon. 20:21, 29; 22:39). Maar Agab was baie bekend daarvoor dat hy valse aanbidding bevorder het onder sy vrou se invloed. Hy het nooit hieroor berou getoon nie. – 1 Kon. 21:25, 26.
14. (a) Hoekom het Jehovah koning Rehabeam as ontrou beskou? (b) Wat het die meeste ontroue konings gedoen wat verkeerd was?
14 Dink aan nog ’n ontroue koning – Rehabeam. Soos vroeër genoem is, het hy baie goeie dinge gedurende sy heerskappy gedoen. Maar toe sy koningskap stewig gevestig is, het hy sy rug op die Wet van Jehovah gedraai en valse gode begin aanbid (2 Kron. 12:1). Daarna het hy soms Jehovah en soms valse gode aanbid (1 Kon. 14:21-24). Rehabeam en Agab is nie die enigste konings wat opgehou het om Jehovah op die regte manier te aanbid nie. Om die waarheid te sê, die meeste ontroue konings was daaraan skuldig dat hulle valse aanbidding op die een of ander manier ondersteun het. Om Jehovah op die regte manier te aanbid, was duidelik vir hom ’n groot faktor om te bepaal of ’n koning goed of sleg was.
15. Hoekom is dit vir Jehovah belangrik dat ons hom op die regte manier aanbid?
15 Hoekom was aanbidding vir Jehovah so belangrik? Om maar een ding te noem, die konings het die verantwoordelikheid gehad om God se volk in ware aanbidding te lei. En valse aanbidding lei beslis tot ander ernstige sondes en ongeregtighede (Hos. 4:1, 2). Wat meer is, die konings en hulle onderdane was aan Jehovah toegewy. Daarom vergelyk die Bybel hulle betrokkenheid by valse aanbidding met egbreuk (Jer. 3:8, 9). ’n Persoon wat letterlike egbreuk pleeg, sondig teen sy of haar maat op die persoonlikste manier wat daar is. Net so sondig ’n toegewyde kneg van Jehovah wat by valse aanbidding betrokke raak, op ’n direkte en persoonlike manier teen Hom. e – Deut. 4:23, 24.
16. Wat onderskei die regverdiges van die goddeloses in Jehovah se oë?
16 Watter lesse kan ons leer? Ons moet beslis vasbeslote wees om valse aanbidding te vermy. Maar ons moet Jehovah ook altyd op die regte manier aanbid en besig bly in sy diens. Die profeet Maleagi het reguit gesê wat ’n goeie persoon in Jehovah se oë onderskei van ’n slegte persoon. Hy het geskryf: “Julle sal weer die verskil sien tussen ’n regverdige persoon en ’n goddelose persoon, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie dien nie” (Mal. 3:18). So, ons moenie toelaat dat enige iets – nie eers ons onvolmaakthede en foute nie – ons so mismoedig maak dat ons ophou om God te dien nie. Om op te hou om Jehovah te dien, is op sigself ’n ernstige sonde.
17. Hoe kan ons keuse van ’n huweliksmaat ons toegewydheid aan Jehovah affekteer?
17 As jy ongetroud is en daaraan dink om te trou, sien jy hoe Maleagi se woorde oor diens aan God jou kan help wanneer dit kom by jou keuse van ’n huweliksmaat? ’n Persoon het dalk ’n paar goeie eienskappe, maar word daardie persoon op die oomblik as regverdig in Jehovah se oë beskou as hy of sy nie die ware God dien nie? (2 Kor. 6:14). As jy met daardie persoon trou, sal hy of sy ’n positiewe geestelike uitwerking op jou hê? Dink hieraan: Koning Salomo se heidense vrouens het dalk ’n paar goeie eienskappe gehad. Maar hulle was nie aanbidders van Jehovah nie, en hulle het Salomo se hart geleidelik beïnvloed om valse gode te aanbid. – 1 Kon. 11:1, 4.
18. Wat moet ouers hulle kinders leer?
18 Ouers, julle kan die Bybel se verslag van die konings gebruik om julle kinders te help om ywer vir Jehovah se aanbidding te ontwikkel. Help hulle om te verstaan dat Jehovah ’n koning as goed of sleg beskou het grootliks op grond van of daardie koning ware aanbidding bevorder het of nie. Leer julle kinders deur julle woorde en voorbeeld dat geestelike dinge – soos om die Bybel te studeer, vergaderinge by te woon en aan die veldbediening deel te neem – belangriker is as enige iets anders (Matt. 6:33). Anders sal julle kinders dalk dink dat om een van Jehovah se Getuies te wees, niks meer is as om maar net aan die “familiegodsdiens” te behoort nie. As gevolg daarvan sal hulle dalk ware aanbidding tweede stel of dit selfs heeltemal verlaat.
19. Watter hoop is daar vir ’n enige iemand wat opgehou het om Jehovah te dien? (Sien ook die venster “ Jy kan na Jehovah terugkeer!”)
19 Is daar enige hoop vir iemand wat opgehou het om Jehovah te dien? Ja, want hy kan berou toon en Jehovah weer aanbid. Om dit te doen, sal hy dalk sy trots in sy sak moet steek en hulp van gemeentelike ouermanne moet aanvaar (Jak. 5:14). Dit sal alles die moeite werd wees as dit daartoe lei dat hy Jehovah se guns weer wen!
20. Hoe sal Jehovah ons beskou as ons die getroue konings navolg?
20 So, watter lesse het ons by die konings van Israel geleer? Ons kan soos die getroue konings wees as ons met ons hele hart aan Jehovah toegewyd bly. Laat ons uit ons foute leer, berou toon en die nodige veranderinge maak. En kom ons onthou hoe belangrik dit is om die enigste ware God op die regte manier te aanbid. As jy getrou aan Jehovah bly, sal hy jou as iemand beskou wat doen wat reg is in sy oë.
LIED 45 Die bepeinsing van my hart
a In hierdie artikel verwys die uitdrukking “konings van Israel” na al die konings wat oor Jehovah se volk regeer het, of dit nou oor die tweestammeryk van Juda, die tienstammeryk van Israel of oor al 12 stamme was.
b WAT DIT BETEKEN: Die Bybel gebruik dikwels die woord “hart” om die hele innerlike persoon te beskryf, insluitende ’n persoon se begeertes, gedagtes, gesindheid, vermoëns, motiewe en doelwitte.
c Dit lyk asof dit ’n gewoonte onder heidense konings was om die nasie wat hulle verower het, se gode te aanbid.
d Koning Asa het ernstige sondes gepleeg (2 Kron. 16:7, 10). Maar die Bybel sê dat Asa gedoen het wat reg is in Jehovah se oë. Al het hy eers teregwysing verwerp, het hy moontlik later berou getoon. Jehovah het meer goed as sleg in hom gesien. Dit is belangrik om te onthou dat Asa net Jehovah aanbid het en hard probeer het om afgodediens uit sy koninkryk te verwyder. – 1 Kon. 15:11-13; 2 Kron. 14:2-5.
e Ons kan sien dat aanbidding vir Jehovah baie belangrik is omdat die eerste twee gebooie van die Wet van Moses die aanbidding van enige iemand of enige iets anders as Jehovah verbied het. – Eks. 20:1-6.
f BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong ouerman sê dat hy bekommerd is oor ’n broer se drinkgewoontes. Die broer aanvaar nederig die raad, maak die nodige veranderinge en hou aan om Jehovah getrou te dien.