Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie die groot geskil vergeet nie

Moenie die groot geskil vergeet nie

“Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—PS. 83:18.

LIEDERE: 46, 136

1, 2. (a) Voor watter groot geskil kom alle mense te staan? (b) Waarom is dit vir ons belangrik?

VANDAG draai baie mense se lewe net om geld. Hulle hoofdoel is om geld te maak en om seker te maak dat hulle dit nie verloor nie. Vir ander is hulle gesin, gesondheid en wat hulle in die lewe wil bereik die belangrikste.

2 Maar daar is iets wat belangriker is. Dit is die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit. Ons moenie hierdie geskil vergeet nie. Hoe kan dit gebeur? As ons nie versigtig is nie, kan alledaagse dinge ons so besig hou dat ons vergeet hoe belangrik die regverdiging van God se soewereiniteit werklik is. Of ons kan toelaat dat ons probleme belangriker word as hierdie groot geskil. As ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun, sal dit ons met ons probleme help en sal ons nader aan Jehovah kom.

WAAROM IS DIT SO BELANGRIK?

3. Wat het Satan oor God se heerskappy gesê?

3 Satan die Duiwel het die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit bevraagteken. Hy het beweer dat God se heerskappy korrup is en dat Jehovah goeie dinge van ons weerhou. Volgens die Duiwel sal mense baie gelukkiger wees as hulle oor hulleself heers (Gen. 3:1-5). Hy het die indirekte beskuldiging gemaak dat geen mens aan God lojaal sou bly nie. As die beproewing swaar genoeg is, sal almal Jehovah se heerskappy verwerp (Job 2:4, 5). Jehovah laat tyd toe om vir ons te wys dat niemand sonder sy heerskappy gelukkig kan wees nie.

4. Waarom moet hierdie geskil opgelos word?

4 Jehovah weet natuurlik dat die Duiwel se aantygings vals is. Waarom laat God die Duiwel dan toe om sy punt te probeer bewys? Want almal in die hemel en op die aarde is hierby betrokke. (Lees Psalm 83:18.) Adam en Eva het Jehovah se heerskappy verwerp en sedertdien het baie ander dit ook gedoen. Dit kan party laat dink dat die Duiwel reg is. Voordat die geskil nie opgelos is nie, kan daar nie ware vrede en eenheid wees nie. Maar nadat Jehovah se soewereiniteit geregverdig is, sal almal Jehovah se heerskappy vir ewig aanvaar. Dan sal daar vrede in die hemel en op die aarde wees.—Ef. 1:9, 10.

5. Wat moet ons doen om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun?

5 God se soewereiniteit sal geregverdig word. Satan se heerskappy en menseregerings sal misluk en vernietig word. God se heerskappy deur middel van sy Messiaanse Koninkryk sal suksesvol wees. En getroue knegte sal dan bewys het dat mense wel lojaal kan bly aan God se heerskappy (Jes. 45:23, 24). Wil jy een van hierdie getroue ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit wees? Natuurlik! Dan moet jy besef hoe belangrik hierdie groot geskil werklik is.

IETS BELANGRIKER AS REDDING

6. Hoe belangrik is die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit?

6 Die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit is ’n baie belangrike geskil waarby mense betrokke is. Dit is belangriker as ons persoonlike geluk. Beteken dit dat ons redding onbelangrik is of dat Jehovah nie vir ons omgee nie? Glad nie! Waarom nie?

7, 8. Waarom sluit die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit ook die vervulling van sy beloftes in?

7 Jehovah is baie lief vir mense. Hulle is so kosbaar vir hom dat hy sy Seun gegee het sodat ons vir ewig kan lewe (Joh. 3:16; 1 Joh. 4:9). As Jehovah nie sy beloftes sou vervul nie, sou die Duiwel God ’n leuenaar kon noem wat goeie dinge van ons weerhou en kon sê dat Jehovah onregverdig is. Dit sou ook lyk of spotters die waarheid praat wanneer hulle sê: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af” (2 Pet. 3:3, 4). Jehovah sal seker maak dat die regverdiging van sy soewereiniteit die redding van gehoorsame mense insluit! (Lees Jesaja 55:10, 11.) Liefde is ’n kenmerk van Jehovah se soewereiniteit. Daarom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah sy lojale knegte altyd sal waardeer en liefhê.—Eks. 34:6.

8 Net omdat Jehovah se soewereiniteit so belangrik is, beteken dit nie dat ons redding onbelangrik is nie. Ons behou bloot die regte beskouing van ons redding en van Jehovah se soewereiniteit. Hierdie korrekte beskouing is belangrik as ons nie hierdie groot geskil wil vergeet nie en Jehovah se regverdige heerskappy wil ondersteun.

’N LES OOR DIE REGTE BESKOUING

9. Wat het Satan van Job gesê? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Dit is belangrik om die regte beskouing oor Jehovah se soewereiniteit te hê. Dit word bevestig in die boek Job, een van die eerste Bybelboeke wat geskryf is. Satan het gesê dat as Job tot die uiterste beproef sou word, hy God sal verwerp. Satan wou hê dat God die lyding oor Job moes bring. Jehovah het geweier om dit te doen, maar hy het Satan toegelaat om Job te beproef, en gesê: “Alles wat hy het, is in jou hand.” (Lees Job 1:7-12.) Toe het Job sy besittings verloor en sy tien kinders en sy dienaars is doodgemaak. Satan het dit laat lyk asof God die een is wat Job se lyding veroorsaak het (Job 1:13-19). Daarna het Satan Job met ’n vreeslike siekte getref (Job 2:7). Die woorde van sy vrou en sy drie sogenaamde vriende het sy lyding net vererger.—Job 2:9; 3:11; 16:2.

10. (a) Hoe het Job sy lojaliteit aan Jehovah bewys? (b) Watter fout het hy gemaak?

10 Was Satan reg? Nee. Al het Job baie gely, het hy geweier om Jehovah te verwerp (Job 27:5). Maar vir ’n kort rukkie het Job die verkeerde beskouing gehad. Hy wou homself regverdig bewys en wou weet waarom hy so moes ly (Job 7:20; 13:24). Ons kan ons indink hoe hy moes gevoel het, maar God het geweet dat Job die verkeerde beskouing gehad het en het hom reggehelp. Wat het Jehovah vir hom gesê?

11, 12. Wat het Jehovah vir Job gesê, en hoe het Job hierop gereageer?

11 In Job 38 tot 41 lees ons wat Jehovah vir Job gesê het. Maar nêrens in hierdie vier hoofstukke het hy vir Job gesê wat die rede vir sy lyding is nie. Jehovah het nie vir Job probeer verduidelik waarom hy ly, asof hy Homself probeer regverdig nie. Hy wou Job help om te besef hoe nietig hy in vergelyking met God is. En hy het hom gehelp om te sien dat daar groter geskille as Job se probleme is. (Lees Job 38:18-21.) Dit het Job gehelp om weer die regte beskouing te hê.

12 Was Jehovah ongevoelig om sulke reguit raad te gee nadat Job so gely het? Nee, en Job het ook nie so gedink nie. Job het Jehovah se raad aanvaar. Hy het gesê: “Daarom herroep ek my woorde, en ek het berou in stof en as” (Job 42:1-6). Job het vroeër ook raad van die jong Elihu gekry (Job 32:5-10). Nadat Job God se raad aanvaar het en sy beskouing verander het, het Jehovah vir ander gesê hoe bly hy was dat Job getrou gebly het.—Job 42:7, 8.

13. Hoe het Jehovah se raad Job nog lank ná sy beproewing gehelp?

13 Jehovah se raad sou Job nog lank ná sy beproewing help. Hoe so? “Wat Jehovah betref, hy het die einde van Job meer geseën as sy begin.” Later het hy “ook sewe seuns en drie dogters gekry” (Job 42:12-14). Job het ongetwyfeld na sy kinders verlang wat deur Satan doodgemaak is en hy kon seker nog lank daarna onthou hoe hy gely het. Al het hy later beter verstaan waarom hy beproef is, het hy dalk gewonder waarom hy so vreeslik moes ly. Indien dit die geval was, kon hy nog steeds oor God se raad nadink. Dit sou hom help om die regte beskouing te hê en sou hom ook vertroos het.—Ps. 94:19.

Kan ons eerder op die groot geskil fokus as op ons eie probleme? (Sien paragraaf 14)

14. Watter les leer ons uit Job se ondervinding?

14 Job se ondervinding kan ons ook help om die regte beskouing te hê en dit kan ons vertroos. Jehovah het dit “tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Watter les leer ons hieruit? Ons moenie so behep wees met ons eie lewe dat ons nie meer hierdie groot geskil—die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit—kan raaksien nie. Ons moet ook nie vergeet dat ons net soos Job getrou moet bly nie, al is dit hoe moeilik.

15. Watter doel dien dit as ons getrou bly?

15 Waarom is dit vir ons vertroostend wanneer ons nadink oor ons getrouheid? Net soos in Job se geval is ons beproewinge nie verniet nie. Jehovah is nie vir ons kwaad nie, maar dit gee ons die geleentheid om te wys dat ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun (Spr. 27:11). Ons volharding lei tot ’n “goedgekeurde toestand” en versterk ons hoop. (Lees Romeine 5:3-5.) Die verhaal van Job wys dat “Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jak. 5:11). Daarom kan ons daarvan seker wees dat hy díe wat sy soewereiniteit ondersteun, sal beloon. Dit sal ons help om “ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”.—Kol. 1:11.

BEHOU JOU FOKUS

16. Waarom moet ons nooit vergeet hoe belangrik die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit is nie?

16 Dit is nie altyd maklik om gefokus te bly op die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit nie. Dit voel soms asof ons probleme net te veel word. Selfs klein probleempies kan vir ons soos berge lyk as ons daaroor bly tob. As ons beproewinge ondervind, moet ons ons gedurig daaraan herinner hoe belangrik dit is om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun.

17. Hoe kan ’n ywerige deelname aan Jehovah se werk ons help om nie die groot geskil te vergeet nie?

17 ’n Gereelde deelname aan Jehovah se werk kan ons help om op die groot geskil gefokus te bly. Byvoorbeeld, ’n Getuie met die naam Renee het ’n beroerte gehad en het ’n stryd teen chroniese pyn en kanker gevoer. Terwyl sy in die hospitaal was, het sy vir personeel, pasiënte en besoekers getuig. By een hospitaal het sy in net twee en ’n half weke 80 uur velddiens gedoen. Selfs tot voor haar dood het Renee nooit van Jehovah se soewereiniteit vergeet nie. Dit het haar gehelp om minder angstig te voel.

18. Wat kan ons uit Jennifer se voorbeeld leer?

18 Ons kan Jehovah se soewereiniteit ook ondersteun wanneer ons kleiner, alledaagse probleme het. Jennifer moes drie dae lank op ’n lughawe wag vir ’n vlug huis toe. Een vlug na die ander was gekanselleer. Sy kon maklik vir haarself jammer gevoel het omdat sy alleen en uitgeput was. Maar sy het eerder gebid dat sy ander kon help wat soos sy gevoel het. Wat het gebeur? Sy het vir baie mense getuig en heelwat lektuur geplaas. Sy sê: “Ek het gevoel hoe Jehovah my seën ten spyte van die moeilike situasie en my die krag gegee het om my te gedra op ’n manier wat eer op sy naam sal bring.” Sy het gefokus gebly op Jehovah se voorneme.

19. Waardeur word ware aanbidders geïdentifiseer?

19 Net Jehovah se knegte verstaan hoe belangrik sy soewereiniteit is en dit identifiseer hulle as ware aanbidders. Daarom wil ons aanhou om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun.

20. Hoe voel Jehovah wanneer jy sy soewereiniteit ondersteun?

20 Jehovah waardeer dit dat ons sy soewereiniteit ondersteun deur hom getrou te dien en te volhard tydens beproewinge (Ps. 18:25). In die volgende artikel sal ons verder bespreek waarom ons Jehovah se soewereiniteit moet ondersteun en hoe ons dit ten volle kan doen.