Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom ons ander moet groet

Hoekom ons ander moet groet

“HALLO! Hoe gaan dit vandag met jou?”

Jy het mense seker al baie keer op hierdie manier gegroet. Dalk het jy selfs hulle hand geskud of vir hulle ’n drukkie gegee. Die manier waarop dit gedoen word en die woorde wat gebruik word, verskil dalk van plek tot plek, maar ’n groet bly basies dieselfde, maak nie saak waar jy gaan nie. Om die waarheid te sê, as jy mense nie groet nie, kan hulle dalk dink dat jy nie maniere het nie of dat jy nie liefdevol is nie.

Maar dit is nie vir almal maklik om ander mense te groet nie. Party is dalk skaam of het ’n lae selfbeeld. Vir ander is dit moeilik om mense te groet wie se ras, kultuur of posisie in die gemeenskap van hulle s’n verskil. Maar selfs ’n eenvoudige “hallo” kan ’n positiewe uitwerking hê.

Vra jou af: ‘Hoekom is dit goed om ander mense te groet? En hoe wys God se Woord dat dit belangrik is om ander te groet?’

GROET “ALLE SOORTE MENSE”

Toe die apostel Petrus vir Kornelius, die eerste nie-Jood wat ’n Christen geword het, in die Christengemeente verwelkom het, het hy gesê: ‘God is nie partydig nie’ (Hand. 10:34). Later het Petrus geskryf dat God “wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9). Wanneer ons hierdie tekste lees, dink ons gewoonlik aan persone wat nog besig is om die waarheid te leer. Maar Petrus het ook Christene aangespoor: “Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers” (1 Pet. 2:17). Een manier waarop ons mense kan eer en wys dat ons vir hulle lief is, is deur hulle te groet, maak nie saak wat hulle ras, kultuur of agtergrond is nie.

Die apostel Paulus het Christene aangemoedig: “Verwelkom mekaar dus, net soos die Christus ons ook verwelkom het” (Rom. 15:7). Paulus het veral verwys na broers wat vir hom “’n versterkende hulp” was. Vandag is dit selfs meer nodig vir broers en susters om versterk te word, as gevolg van Satan se verskriklike aanvalle op God se volk. — Kol. 4:11; Op. 12:12, 17.

Voorbeelde in die Bybel wys dat wanneer ons ander groet, dit meer kan doen as om hulle net welkom te laat voel.

GERUSSTELLEND, AANMOEDIGEND, LIEFDEVOL

Toe dit tyd geword het vir Jehovah om die lewe van sy Seun na die baarmoeder van Maria oor te plaas, het Hy ’n engel gestuur om met haar te praat. Die engel het begin deur vir haar te sê: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.” Maria was “diep verontrus”, want sy het nie verstaan hoekom ’n engel met haar praat nie. Die engel het dit besef en gesê: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het guns by God gevind.” Hy het aan haar verduidelik dat God wou hê dat sy aan die Messias geboorte moes gee. Maria was nie meer bang nie. Sy was gehoorsaam en het gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring.” — Luk. 1:26-38.

Al was dit vir die engel ’n voorreg om Jehovah se boodskapper te wees, het hy nie gedink dat hy te belangrik is om met ’n onvolmaakte mens te praat nie. Hy het begin deur Maria te groet. Wat kan ons uit hierdie voorbeeld leer? Ons moet altyd bereid wees om ander te groet en hulle aan te moedig. Deur net ’n paar woorde te sê, kan ons ander help en hulle laat voel dat hulle werklik deel van Jehovah se volk is.

Paulus het baie mense in die gemeentes in Klein-Asië en Europa leer ken. In sy briewe groet hy ’n hele paar van hulle persoonlik. Ons sien ’n voorbeeld hiervan in Romeine hoofstuk 16, waar Paulus aan baie van sy mede-Christene groete gestuur het. Hy het gepraat van Febe, “ons suster”, en gevra dat die broers haar ‘verwelkom in die Here op ’n wyse wat die heiliges waardig is, en haar sal bystaan in enige saak waarin sy hulle nodig mag hê’. Paulus het Prisca en Aquila gegroet en gesê: “Aan wie nie net ek dank betuig nie, maar ook al die gemeentes van die nasies.” Hy het ook party gegroet van wie ons vandag baie min weet — “my geliefde Epenetus” en ook “Trifena en Trifosa, vroue wat hard werk in die Here”. Ja, Paulus het daarvan gehou om sy broers en susters te groet. — Rom. 16:1-16.

Stel jou voor hoe bly dit hulle moes gemaak het om te weet dat hy vir hulle lief is en aan hulle dink. Dit het hulle seker nog liewer vir Paulus en vir mekaar laat word. En die liefdevolle manier waarop hy hierdie broers en susters gegroet het, het ander Christene sekerlik ook aangemoedig en hulle gehelp om in die geloof vas te staan. Ons wil ander ook groet op ’n manier wat wys dat ons persoonlik in hulle belangstel en hulle opreg waardeer. Dit sal help om God se lojale knegte in liefde te verenig.

Toe Paulus by die hawe van Puteoli aankom en na Rome begin reis het, het party broers uit Rome gekom om hom te ontmoet. Toe hy hulle van ver af sien aankom, “het hy God gedank en moed geskep” (Hand. 28:13-15). Partykeer groet ons iemand deur miskien net vir hulle te glimlag of vir hulle te waai. Maar selfs dit kan iemand beter laat voel, veral iemand wat depressief of hartseer is.

IETS IN GEMEEN

Die dissipel Jakobus moes party Christene ernstige raad gee. Hulle het geestelik ontrou geword omdat hulle vriende van die wêreld geword het (Jak. 4:4). Maar let op hoe Jakobus sy brief begin:

“Jakobus, ’n slaaf van God en van die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat oral verstrooi is: Groete!” (Jak. 1:1). Die manier waarop hy hulle gegroet het, het vir hulle gewys dat hulle almal dieselfde posisie voor God gehad het. En daarom was dit waarskynlik vir hulle makliker om sy raad te aanvaar. Ja, wanneer ons ander nederig groet, sal dit makliker wees om selfs oor ernstige sake met hulle te praat.

Al sê ons nie baie nie, moet ons altyd ander uit liefde en opregte belangstelling groet. Ons moet dit doen, al lyk dit asof niemand dit raaksien nie (Matt. 22:39). ’n Suster in Ierland het eenkeer by die Koninkryksaal aangekom net toe die vergadering begin het. Terwyl sy haastig ingestap het, het ’n broer omgedraai, vir haar geglimlag en gesê: “Hallo. Ek is regtig bly om jou te sien.” Die suster het net gaan sit en niks gesê nie.

’n Paar weke later het sy met die broer gaan praat en gesê dat sy ’n ruk lank ’n ernstige probleem by die huis gehad het. Sy het gesê: “Ek was daardie aand so ontsteld dat ek amper nie saal toe gekom het nie. Ek kan nie veel van daardie vergadering onthou nie, maar ek onthou dat jy my gegroet het. Dit het my regtig welkom laat voel. Baie dankie.”

Die broer het nie eers besef dat sy groet so ’n groot uitwerking gehad het nie. Hy sê: “Toe sy vir my sê hoeveel daardie paar woorde vir haar beteken het, was ek baie bly dat ek die moeite gedoen het. En dit het my ook goed laat voel.”

Salomo het geskryf: “Stuur jou brood uit op die oppervlak van die waters, want na verloop van baie dae sal jy dit weer vind” (Pred. 11:1). As ons in gedagte hou hoeveel dit vir mense, veral vir ons mede-Christene, beteken wanneer ons hulle groet, sal dit ons sowel as hulle gelukkiger maak. Daarom moet ons nooit vergeet hoe belangrik dit is om ander te groet nie.