Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy kon God se goedkeuring gehad het

Hy kon God se goedkeuring gehad het

ONS dien Jehovah en wil graag sy goedkeuring hê. Maar wie word deur Jehovah goedgekeur en geseën? Party mense in Bybeltye het sy goedkeuring gehad, al het hulle voorheen ernstig gesondig. Maar ander wat goeie eienskappe gehad het, het nie God se goedkeuring gekry nie. Daarom wonder ons dalk: “Wat moet elkeen van ons doen om Jehovah se goedkeuring te kry?” Die voorbeeld van Rehabeam, die koning van Juda, kan ons help om die antwoord op hierdie vraag te kry.

’N SWAK BEGIN

Rehabeam se pa, Salomo, het 40 jaar lank oor Israel regeer (1 Kon. 11:42). Salomo het in 997 VHJ gesterf. Rehabeam het toe na Sigem, noord van Jerusalem, gegaan om as koning gesalf te word (2 Kron. 10:1). Salomo was bekend vir sy buitengewone wysheid, en Rehabeam het dalk gevoel dat hy nie in sy pa se voetstappe kon volg nie. Hoe sou Rehabeam gevoel het as hy geweet het dat sy vermoë om moeilike probleme op te los, binnekort getoets sou word?

Rehabeam kon seker aanvoel dat die atmosfeer in Israel gespanne was. ’n Ruk later het verteenwoordigers van die volk na hom toe gekom om te verduidelik presies waaroor hulle bekommerd was. Hulle het gesê: “U vader het ons juk hard gemaak; maak dan nou die harde diens van u vader en die swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter, en ons sal u dien.” — 2 Kron. 10:3, 4.

Rehabeam was in ’n moeilike situasie, en hy het dalk nie geweet wat om te doen nie. As hy na die volk geluister het en hulle nie so swaar belas nie, sou hy, sy familie en diegene wat deel van die koninklike hof was, met minder luukse dinge moes klaarkom. Maar as hy nie na hulle geluister het nie, sou die volk dalk in opstand kom. Wat sou hy doen? Die nuwe koning het die saak eers bespreek met die ouer manne, wat ook Salomo se raadgewers was. Maar toe het Rehabeam vir die jonger manne, wat sy ouderdom was, gevra wat hulle raad is. Rehabeam het na hierdie jonger manne geluister en besluit om die volk se las swaarder te maak. Hy het gesê: “Ék sal by julle juk byvoeg. My vader het julle met swepe getugtig, maar ék sal julle met gesels tugtig.” — 2 Kron. 10:6-14.

Watter les kan ons hieruit leer? Dit is gewoonlik goed om na die raad van ouer, geestelik volwasse persone te luister. Hulle het baie ondervinding en kan vir ons goeie raad gee omdat hulle kan sien wat die moontlike gevolge van ’n besluit sal wees. — Job 12:12.

‘HULLE HET DIE WOORD VAN JEHOVAH GEHOORSAAM’

Ná Rehabeam se besluit, het die volk teen hom in opstand gekom, en daarom het hy sy leërmag bymekaargekry. Maar Jehovah het die profeet Semaja gebruik om hom te keer, en gesê: “Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, veg nie. Gaan terug, elkeen na sy huis, want hierdie saak het van mý gekom.” — 1 Kon. 12:21-24. *

’n Mens kan jou net indink hoe moeilik dit vir Rehabeam moes gewees het om sommer net oor te gee, sonder om eers te baklei! Wat sou die mense dink van die koning wat gedreig het om sy volk “met gesels” te straf, maar wat kort daarna niks gedoen het om hierdie openlike opstand te keer nie? (Vergelyk 2 Kronieke 13:7.) Nogtans het die koning en sy leërmag “die woord van Jehovah gehoorsaam en teruggegaan huis toe volgens die woord van Jehovah”.

Watter les kan ons hieruit leer? Dit is altyd goed vir ons om God te gehoorsaam, selfs al spot mense ons wanneer ons dit doen. Wanneer ons aan God gehoorsaam is, kry ons sy goedkeuring en seën hy ons. — Deut. 28:2.

Wat het Rehabeam toe besluit om te doen? Hy was gehoorsaam en het nie teen die nuwe nasie geveg nie. Hy het eerder stede gebou in die gebiede van Juda en Benjamin, die twee stamme waaroor hy nog steeds regeer het. Hy het ’n hele paar stede “in baie groot mate” versterk (2 Kron. 11:5-12). Maar nog belangriker, hy het ’n tyd lank Jehovah se wette gehoorsaam. Toe die tienstammeryk van Israel onder koning Jerobeam afgode begin aanbid het, het baie wat daar gebly het na Jerusalem gegaan om Rehabeam en ware aanbidding te ondersteun (2 Kron. 11:16, 17). Rehabeam se gehoorsaamheid het gehelp om sy koningskap te versterk.

SONDE — EN ’N MATE VAN BEROU

Maar toe Rehabeam se koninkryk goed gevestig was, het hy iets gedoen wat niemand verwag het nie. Hy het die wet van Jehovah verlaat en eerder valse gode aanbid! Hoekom het hy dit gedoen? Is hy deur sy ma beïnvloed, wat ’n Ammoniet was? (1 Kon. 14:21). Wat die rede ook al was, die hele nasie het hom gevolg. Daarom het Jehovah toegelaat dat koning Sisak van Egipte baie stede van Juda inneem, al was hierdie stede deur Rehabeam versterk! — 1 Kon. 14:22-24; 2 Kron. 12:1-4.

Dinge het ’n kritieke punt bereik toe Sisak die stad Jerusalem, waar Rehabeam regeer het, wou inneem. Dit is toe dat die profeet Semaja vir Rehabeam en sy vorste, of hoofmanne, vertel het wat God se boodskap is: “Wat julle betref, julle het my verlaat, en wat my betref, ek het julle ook aan die hand van Sisak oorgelaat.” Hoe het Rehabeam op hierdie dissipline gereageer? Hy het na hierdie raad geluister. Die Bybel sê: “Daarop het die vorste van Israel en die koning hulle verneder en gesê: ‘Jehovah is regverdig.’” Daarom het Jehovah Rehabeam gered en nie toegelaat dat Jerusalem vernietig word nie. — 2 Kron. 12:5-7, 12.

Hierna het Rehabeam aangehou om oor die suidelike koninkryk te regeer. Voor sy dood, het hy baie geskenke aan al sy seuns gestuur, blykbaar om te keer dat enigeen van hulle teen hulle broer Abia, wat die volgende koning sou wees, in opstand kom (2 Kron. 11:21-23). Deur dit te doen, het Rehabeam verstandiger opgetree as toe hy jonger was.

GOED OF SLEG?

Al het Rehabeam goeie dinge gedoen, is hy nie deur God goedgekeur nie. Die Bybel sê oor sy koningskap: “Hy het gedoen wat sleg was.” Hoekom sê die Bybel so? “Want hy het nie sy hart onwrikbaar daarop gerig om Jehovah te soek nie.” — 2 Kron. 12:14.

Rehabeam het nie koning Dawid se voorbeeld gevolg deur ’n hegte vriendskap met Jehovah op te bou nie

Dink aan wat gebeur het: Rehabeam het God partykeer gehoorsaam. En hy het ’n paar goeie dinge vir Jehovah se volk gedoen. Maar hy het nie ’n hegte vriendskap met Jehovah opgebou of ’n begeerte gehad om Sy hart bly te maak nie. Daarom het hy verkeerde dinge gedoen en valse gode aanbid. ’n Mens wonder dalk: ‘Het Rehabeam op God se dissipline gereageer omdat hy ware berou gehad het en God graag wou dien, of het hy dit net gedoen omdat ander hom beïnvloed het?’ (2 Kron. 11:3, 4; 12:6). Toe hy ouer geword het, het hy weer slegte dinge begin doen. Hy was heeltemal anders as sy oupa, koning Dawid. Ja, Dawid het foute gemaak, maar hy was sy hele lewe lank baie lief vir Jehovah en toegewy aan ware aanbidding. Hy het ook ware berou gehad oor die foute wat hy gemaak het. — 1 Kon. 14:8; Ps. 51:1, 17; 63:1.

Ons kan definitief ’n les uit Rehabeam se voorbeeld leer. Dit is goed as mense vir hulle familie sorg en probeer om goeie dinge te doen. Maar om God se goedkeuring te kry, moet ons ware aanbidding, nou en vir altyd, ondersteun en sorg dat dit die belangrikste ding in ons lewe is.

Om dit reg te kry moet ons hard daaraan werk om ons liefde vir Jehovah sterk te hou. Net soos ons ’n vuur aan die brand hou deur hout daarop te sit, moet ons ons liefde vir God sterk hou deur gereeld God se Woord te studeer, na te dink oor wat ons lees en aan te hou bid (Ps. 1:2; Rom. 12:12). Ons liefde vir Jehovah sal ons motiveer om altyd dinge te wil doen wat sy hart bly maak. Dit sal ons ook motiveer om ware berou te toon, wanneer dit nodig is. Ons sal nie soos Rehabeam wees nie, ons sal vasstaan in ware aanbidding. — Jud. 20, 21.

^ par. 9 Omdat Salomo ontrou was, het Jehovah alreeds gesê dat die koninkryk verdeel sou word. — 1 Kon. 11:31.