Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat God se wette en beginsels jou gewete oplei

Laat God se wette en beginsels jou gewete oplei

‘Ek oordink u herinneringe.’ — PS. 119:99.

LIED: 127, 88

1. Wat is een ding wat mense anders as diere maak?

EEN ding wat mense anders as diere maak, is die feit dat die mens ’n gewete het. Jehovah het die mens van die begin af met ’n gewete geskep. Nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan Jehovah, het hulle probeer om vir hom weg te kruip. Dit wys dat hulle gewete hulle gepla het.

2. Hoe kan ons gewete soos ’n kompas wees? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Mense wie se gewete nie goed opgelei is nie, kan vergelyk word met ’n skip waarvan die kompas nie reg werk nie. Om met so ’n kompas op reis te gaan, kan baie gevaarlik wees. Die wind en seestrome kan ’n skip maklik van koers af laat gaan. ’n Kompas wat reg ingestel is, kan die kaptein help om die skip op koers te hou. Ons gewete kan met ’n sedelike kompas vergelyk word. Dit is ’n gevoel binne-in ons van wat reg is en wat verkeerd is, en dit kan ons help om in die regte rigting te gaan. Maar ons gewete kan net reg werk as dit reg ingestel, of reg opgelei, is.

3. Wat kan gebeur as iemand se gewete nie reg opgelei is nie?

3 Wanneer iemand se gewete nie reg opgelei is nie, sal dit hom nie keer om verkeerde dinge te doen nie (1 Tim. 4:1, 2). So ’n gewete kan ’n persoon selfs oortuig dat ‘sleg goed is’ (Jes. 5:20). Jesus het sy volgelinge gewaarsku: “Die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het” (Joh. 16:2). Die dissipel Stefanus is vermoor deur mense wat so gedink het, en daar was al baie ander mense wat ook so gedink het (Hand. 6:8, 12; 7:54-60). Wanneer godsdienstige mense slegte dinge doen, soos om ander mense te vermoor, is hulle besig om die wette te oortree van die Een wat hulle veronderstel is om te aanbid. Hoe ironies is dit tog! (Eks. 20:13). Dit is baie duidelik dat hulle deur hulle eie gewete mislei word!

4. Hoe kan ons seker maak dat ons gewete altyd reg werk?

4 Hoe kan ons seker maak dat ons gewete altyd reg werk? Die wette en beginsels in God se Woord is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Tim. 3:16). Ons kan ons gewete oplei deur die Bybel ywerig te studeer, na te dink oor wat dit sê en dit dan in ons lewe toe te pas. As ons dit doen, sal ons meer soos God dink en kan ons gewete ons help om te doen wat reg is. Kom ons kyk hoe Jehovah se wette en beginsels ons kan help om ons gewete op te lei.

LAAT GOD SE WETTE JOU OPLEI

5, 6. Hoekom is dit goed vir ons om God se wette te gehoorsaam?

5 As ons wil hê dat God se wette ’n goeie invloed op ons lewe moet hê, moet ons meer doen as om dit net te lees of te weet wat dit sê. Ons moet daarvoor lief word en dit respekteer. God se Woord sê: “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is” (Amos 5:15). Maar hoe doen ’n mens dit nou eintlik? Ons moet leer om dinge te sien soos Jehovah dit sien. Ons kan dit so verduidelik: Stel jou voor jy sukkel al ’n ruk lank om te slaap. Jou dokter sê vir jou om gesonder te eet, meer te oefen en jou lewenstyl te verander. Jy doen wat hy sê, en dit werk! Jy sal seker baie dankbaar wees teenoor jou dokter omdat hy jou gehelp het om jou lewe te verbeter.

6 Net so het ons Skepper vir ons wette gegee wat ons teen die skadelike gevolge van sonde kan beskerm en ons lewe kan verbeter. Dink aan hoe dit ons help wanneer ons die Bybel se wette gehoorsaam oor leuens, skelm planne, diefstal, seksuele sonde, geweld en spiritisme. (Lees Spreuke 6:16-19; Op. 21:8.) Wanneer Jehovah ons ryklik seën omdat ons dinge op sy manier doen, versterk dit ons liefde en waardering vir Jehovah en vir sy wette.

7. Hoe kan dit ons help wanneer ons die verslae in die Bybel lees en daaroor nadink?

7 Gelukkig is dit nie vir ons nodig om die pynlike gevolge van ongehoorsaamheid aan God se wette self te ervaar nie. Ons kan kosbare lesse leer uit die foute van ander wie se voorbeelde in God se Woord opgeteken is. Spreuke 1:5 sê: “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem.” Die beste onderrigting kom van God. Hy onderrig ons wanneer ons die verslae in die Bybel lees en daaroor nadink. Dink byvoorbeeld aan die pyn wat koning Dawid deurgemaak het nadat hy ongehoorsaam was aan Jehovah se wet en egbreuk gepleeg het met Batseba (2 Sam. 12:7-14). Wanneer ons hierdie verslag lees en daaroor nadink, kan ons ons afvra: ‘Hoe kon Dawid die pyn en hartseer vermy het wat hy moes deurmaak as gevolg van sy sonde met Batseba? Sal ek die krag hê om weg te kyk as so iets met my gebeur? Sal ek vlug soos Josef, of sal ek doen wat Dawid gedoen het?’ (Gen. 39:11-15). Deur goed na te dink oor die slegte gevolge van sonde, kan ons ons hart versterk om te “haat wat sleg is”.

8, 9. (a) Wat help ons gewete ons om te doen? (b) Hoe werk Jehovah se beginsels saam met ons gewete?

8 Ons bly dalk ver weg van enigiets wat God haat. Maar daar is ander aktiwiteite of aspekte van die lewe waarvoor daar nie spesifieke wette in die Bybel is nie. Hoe kan ons seker maak of God hierdie dinge goedkeur en of dit sy hart bly maak? Ons Bybelopgeleide gewete kan ons in sulke gevalle help.

9 Jehovah het liefdevol vir ons beginsels gegee wat saam met ons Bybelopgeleide gewete werk. Hy sê self: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel” (Jes. 48:17, 18). Wanneer ons ons verstand en hart gebruik om oor Bybelbeginsels te redeneer, sal ons ons gewete regstel, oplei en vorm. As ons dit doen, sal ons gewete ons help om goeie besluite te neem.

LAAT GOD SE BEGINSELS JOU LEI

10. Wat is ’n beginsel, en hoe het Jesus dit gebruik om ander mense te leer?

10 ’n Beginsel is ’n grondwaarheid of leerstelling wat gebruik word as die basis van ’n redenasie of handeling. As ons ’n beginsel wil verstaan, moet ons verstaan hoe die Wetgewer dink en hoekom hy sekere wette gegee het. In sy bediening het Jesus altyd vir sy dissipels basiese waarhede geleer om hulle te help besef dat daar gevolge is wanneer jy op ’n sekere manier dink of optree. Hy het hulle byvoorbeeld geleer dat wanneer jy vir iemand kwaad bly, dit tot geweld kan lei en dat verkeerde seksuele begeertes tot egbreuk kan lei (Matt. 5:21, 22, 27, 28). As ons ’n gewete wil hê wat reg opgelei is, moet ons toelaat dat God se beginsels ons lei. Dan sal ons besluite neem wat God verheerlik. — 1 Kor. 10:31.

’n Volwasse Christen respekteer ander se gewete (Sien paragraaf 11, 12)

11. Hoe kan een mens se gewete van ’n ander een s’n verskil?

11 Twee Christene met Bybelopgeleide gewetens het dalk nie dieselfde beskouing oor ’n sekere saak nie. Dink byvoorbeeld aan die gebruik van alkohol. Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om ’n redelike hoeveelheid alkohol te drink nie. Maar dit waarsku ons daarteen om te veel alkohol te drink of om dronk te word (Spr. 20:1; 1 Tim. 3:8). Beteken dit dat solank ’n Christen nie te veel alkohol drink nie, hy hom oor niks anders hoef te bekommer nie? Glad nie. ’n Christen se gewete pla hom dalk nie, maar hy moet nog steeds ander mense se gewete in ag neem.

12. Hoe kan die woorde in Romeine 14:21 ons help om ander se gewete te respekteer?

12 Paulus het gewys dat ’n Christen ander se gewete moet respekteer toe hy gesê het: “Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen waaroor jou broer struikel nie” (Rom. 14:21). Al het jy die reg om iets te doen, sou jy sekerlik bereid wees om dit op te offer sodat jy nie ’n broer laat struikel wie se gewete van joune verskil nie. Voordat party broers die waarheid geleer het, het hulle te veel alkohol gedrink. Maar nou is hulle vasbeslote om glad nie alkohol te drink nie. Ons wil definitief niks doen wat sal veroorsaak dat ’n broer na ’n ou slegte gewoonte terugkeer nie (1 Kor. 6:9, 10). Daarom sal dit nie liefdevol wees om daarop aan te dring dat ’n broer wat by ons kuier, alkohol moet drink nadat hy reeds gesê het dat hy nie wil drink nie.

13. Hoe het Timoteus ’n goeie voorbeeld daarin gestel om Koninkryksbelange te bevorder?

13 Toe Timoteus in sy laat tienerjare of vroeë 20’s was, het hy hom laat besny, al was dit baie pynlik. Hy het dit gedoen sodat hy nie die Jode sou struikel vir wie hy sou gaan preek nie. Hy het dieselfde soort gesindheid as die apostel Paulus gehad (Hand. 16:3; 1 Kor. 9:19-23). Is jy, soos Timoteus, bereid om persoonlike opofferings te maak om ander te help?

‘BEUR VOORT TOT VOLWASSENHEID’

14, 15. (a) Wat beteken dit om tot volwassenheid te groei? (b) Wat is die verband tussen die liefde wat ons aan ander betoon en ons Christelike volwassenheid?

14 Alle Christene moet die begeerte hê om meer as net die basiese dinge “oor die Christus” te leer en moet “tot volwassenheid voortbeur” (Heb. 6:1). Dit gebeur nie sommer vanself nie. Ons moet “voortbeur”, of aanhou om daaraan te werk. Ons groei tot volwassenheid wanneer ons meer kennis en insig verkry. Daarom word ons gereeld aangemoedig om elke dag ’n gedeelte van die Bybel te lees (Ps. 1:1-3). Is dit jou persoonlike doelwit? Jy kan meer insig in Jehovah se wette en beginsels kry en God se Woord beter verstaan as jy die Bybel elke dag lees.

15 Die belangrikste wet vir Christene is die wet van liefde. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Jesus se halfbroer Jakobus het liefde “die koninklike wet” genoem (Jak. 2:8). Paulus het gesê dat “liefde die vervulling van die wet” is (Rom. 13:10). Dit verbaas ons nie dat liefde so beklemtoon word nie, want die Bybel sê dat ‘God liefde is’ (1 Joh. 4:8). God se liefde is meer as net ’n gevoel. Johannes het geskryf: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Joh. 4:9). Ja, God se liefde het hom gemotiveer om iets te doen. Die hoeveelheid liefde wat ons vir Jehovah en sy Seun, vir ons Christenbroers en ook vir ander mense het, bewys hoe volwasse ons as Christene is. — Matt. 22:37-39.

Wanneer ons oor goddelike beginsels redeneer, word ons gewete meer betroubaar (Sien paragraaf 16)

16. Hoekom word beginsels vir ons al hoe belangriker terwyl ons vordering maak en geestelik volwasse word?

16 Terwyl jy vordering maak en geestelik volwasse word, sal jy agterkom dat beginsels vir jou al hoe belangriker word. Dit is omdat wette gewoonlik op ’n spesifieke situasie van toepassing is, maar beginsels kan op verskillende situasies toegepas word. ’n Jong kind verstaan byvoorbeeld nie hoe gevaarlik slegte vriende is nie. Daarom sal ’n verstandige ouer reëls hê om hom te beskerm (1 Kor. 15:33). Maar wanneer die kind groter word, kan hy meer dinge verstaan en oor Bybelbeginsels redeneer. Dit sal hom help om beter besluite te neem en goeie vriende te kies. (Lees 1 Korintiërs 13:11; 14:20.) Hoe meer ons oor goddelike beginsels redeneer, hoe meer kan ons op ons gewete vertrou omdat ons soos God begin dink.

17. Hoekom kan ons sê dat ons alles het wat nodig is om goeie besluite te neem?

17 Ons het alles wat ons nodig het om goeie besluite te neem wat Jehovah se hart bly maak. Deur die wette en beginsels in God se Woord goed te gebruik, sal ons “volkome bevoeg . . . wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16, 17). Daarom moet ons na Bybelbeginsels soek sodat ons kan “begryp wat die wil van Jehovah is” (Ef. 5:17). In die Christengemeente het ons baie hulpmiddele wat ons hiermee kan help, soos die Watch Tower Publications Index, die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies, die Watchtower Library, die Wagtoring — AANLYN BIBLIOTEEK en die JW Library-app. Hierdie hulpmiddele is ontwerp om ons te help sodat ons meer voordeel uit ons persoonlike en gesinstudie kan kry.

’N BYBELOPGELEIDE GEWETE LEI TOT SEËNINGE

18. Hoe word ons geseën wanneer ons Jehovah se wette en beginsels in ons lewe toepas?

18 Ons word geseën wanneer ons Jehovah se wette en beginsels gehoorsaam. Psalm 119:97-100 sê: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is tot onbepaalde tyd myne. Ek het meer insig as al my onderrigters verkry, omdat ek u herinneringe oordink. Ek tree verstandiger op as ouer manne, omdat ek u bevele bewaar het.” As ons tyd maak om na te dink oor God se wette en beginsels, sal ons al hoe meer met wysheid, insig en begrip optree. En as ons hard daaraan werk en toelaat dat God se wette en beginsels ons gewete oplei, kan ons “die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort”, bereik. — Ef. 4:13.