Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Laat julle lig skyn’ sodat Jehovah verheerlik kan word

‘Laat julle lig skyn’ sodat Jehovah verheerlik kan word

“Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle . . . heerlikheid kan gee aan julle Vader.” — MATT. 5:16.

LIED: 77, 59

1. Watter spesiale rede het ons om bly te wees?

ONS is baie bly om te hoor dat Jehovah se volk besig is om meer in sy diens te doen! Verlede jaar het ons meer as 10 000 000 Bybelstudies gehou. Dit is ’n duidelike bewys dat God se knegte besig is om hulle lig te laat skyn! En dink aan die miljoene belangstellendes wat die Gedenkmaal bygewoon het. Hulle het die geleentheid gehad om te leer van die liefde wat God aan ons bewys het toe hy die losprys voorsien het. — 1 Joh. 4:9.

2, 3. (a) Wat kan ons nie keer om ‘as ligte te skyn’ nie? (b) Wat gaan ons bespreek terwyl ons Jesus se woorde in Matteus 5:14-16 in gedagte hou?

2 Jehovah se knegte regoor die wêreld praat verskillende tale. Maar dit keer ons nie om ons Vader, Jehovah, in eenheid te loof nie (Op. 7:9). Dit maak nie saak wat ons moedertaal is of waar ons bly nie, ons kan “as ligte in die wêreld skyn”. — Fil. 2:15.

3 Die groei wat ons sien, die eenheid wat ons geniet en die feit dat ons hard daaraan werk om waaksaam te bly, is alles dinge wat ons help om Jehovah te verheerlik. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe ons Jehovah verheerlik deur ons lig te laat skyn. — Lees Matteus 5:14-16.

NOOI ANDER UIT OM GOD TE DIEN

4, 5. (a) Behalwe velddiens, wat kan ons doen om ons lig te laat skyn? (b) Hoe kan ons vriendelikheid dalk ander help? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 “Niemand kan in hierdie oorblywende dae aan die Here getrou wees . . . tensy hy die geleentheid gebruik om sy lig te laat skyn nie.” Dit is wat die artikel “Light in the Darkness”, in The Watch Tower van 1 Junie 1925 gesê het. Die artikel het verder verduidelik: “Hy moet dit doen deur die goeie nuus aan al die volke van die aarde te vertel en volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe.” Hierdie woorde wys dat ons ons lig kan laat skyn deur die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Nog ’n manier waarop ons Jehovah kan verheerlik, is deur ons Christelike gedrag. Huisbewoners en mense wat verbyloop, hou ons dop wanneer ons velddiens doen. Ons vriendelike glimlag wanneer ons iemand groet, sê baie oor ons en oor die soort God wat ons aanbid.

5 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense” (Matt. 10:12). In die gebied waar Jesus en die apostels gereeld gepreek het, het mense gewoonlik vreemdelinge ingenooi. Vandag is dit in baie plekke nie meer die gewoonte nie. Maar as jy positief en vriendelik is terwyl jy verduidelik hoekom jy daar is, kan dit die huisbewoner gerusstel en hom help om minder geïrriteerd te wees. ’n Vriendelike glimlag is gewoonlik die beste inleiding. Broers en susters wat openbare getuieniswerk met lektuurtrollies doen, het dit al baie ondervind. Wanneer jy aan hierdie soort predikingswerk deelneem, sal jy sien dat mense goed reageer wanneer jy hulle met ’n vriendelike glimlag groet. Hulle sal dalk meer geneig wees om na ons toe te kom en een van ons publikasies te vat. Wanneer jy vriendelik is, kan dit jou ook help om ’n gesprek met iemand te begin.

6. Hoe het ’n bejaarde paartjie meer in hulle bediening begin doen?

6 ’n Bejaarde paartjie in Engeland het gesondheidsprobleme wat dit vir hulle baie moeilik maak om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Hulle het besluit om hulle lig reg buite hulle huis te laat skyn. Hulle stal Bybelpublikasies uit op ’n tafel wanneer ouers hulle kinders by ’n skool daar naby kom haal. Baie was nuuskierig en het die boek Vrae wat jongmense vra — Antwoorde wat werk, Deel 1 en 2 gevat, asook brosjures. ’n Pioniersuster in hulle gemeente het hierdie getuieniswerk saam met hulle begin doen. Haar vriendelikheid en die paartjie se opregte belangstelling, het een van die ouers gemotiveer om die Bybel te studeer.

7. Hoe kan jy nuwe mense in jou gebied help?

7 Die afgelope paar jaar is daar al hoe meer vlugtelinge in sekere lande. Miskien is daar van hierdie mense in jou gebied. Wat kan jy doen om hulle te help om van Jehovah en sy voorneme te leer? Jy kan begin deur te leer hoe om hulle in hulle eie taal te groet. Die JW Language-app kan jou hiermee help. Hoekom leer jy nie ook ’n sin of twee in hulle taal oor iets waarin hulle dalk sal belangstel nie? Dan kan jy hulle van jw.org vertel en vir hulle die verskillende video’s en publikasies wys wat in hulle taal beskikbaar is. — Deut. 10:19.

8, 9. (a) Watter praktiese hulp kry ons by die Lewe en Bediening-vergadering? (b) Hoe kan ouers hulle kinders help om by die vergaderinge te antwoord?

8 Jehovah het liefdevol die Lewe en Bediening-vergadering voorsien om ons te help om ons velddiens te verbeter. Die praktiese opleiding wat ons by hierdie vergadering kry, help ons om meer selfvertroue te hê wanneer ons herbesoeke doen en Bybelstudies hou.

9 Baie mense wat ons vergaderinge begin bywoon, het al gesien dat ons kinders ook antwoorde gee. Ouers, help julle kinders om hulle lig te laat skyn deur hulle te leer om in hulle eie woorde te antwoord. Nadat party belangstellendes gehoor het hoe ’n kind ’n eenvoudige antwoord uit sy hart gee, het dit hulle laat besef dat ons die waarheid het. — 1 Kor. 14:25.

BEVORDER EENHEID

10. Hoe help gesinsaanbidding om eenheid te bevorder?

10 Nog ’n manier om jou lig te laat skyn is om eenheid in jou gesin en in jou gemeente te bevorder. Een manier hoe ouers dit kan doen, is deur seker te maak dat hulle ’n gereelde program vir Gesinsaanbidding het. Baie geniet dit om na JW Broadcasting te kyk as deel van hulle gesinsaanbidding. Dit sal goed wees as julle, nadat julle die program gekyk het, bespreek hoe julle die punte wat uitgekom het, kan toepas. Wanneer ’n ouer gesinsaanbidding met sy gesin doen, moet hy onthou dat ’n tiener en ’n jong kind waarskynlik nie dieselfde opleiding nodig het nie. Pas die studiemateriaal op so ’n manier toe dat elkeen in die gesin daardeur gehelp kan word. — Ps. 148:12, 13.

Dit is baie aanmoedigend wanneer ons ouer broers en susters beter leer ken (Sien paragraaf 11)

11-13. Hoe kan almal eenheid in die gemeente bevorder en ander help om hulle lig te laat skyn?

11 Hoe kan jongmense eenheid in die gemeente bevorder en ander aanmoedig om hulle lig te laat skyn? As jy ’n jong Christen is, kan jy probeer om meer belangstelling in ouer mense te toon? Dalk kan jy hulle vra om vir jou ’n ondervinding te vertel van hulle jare in die waarheid. Dit sal jou beslis aanmoedig, en julle albei sal meer gemotiveerd wees om die lig van waarheid te laat skyn. En ons almal kan ’n punt daarvan maak om nuwelinge wat die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, welkom te laat voel. Wanneer jy dit doen, sal jy eenheid bevorder en nuwelinge aanmoedig om ook hulle lig te laat skyn. Jy kan byvoorbeeld besoekers met ’n vriendelike glimlag groet en selfs nuwelinge help om ’n sitplek te kry. Probeer om hulle aan ander voor te stel sodat hulle meer op hulle gemak kan voel.

12 As jy gevra word om die leiding te neem by ’n velddiensvergadering, kan jy baie doen om ouer broers en susters te help om ’n aandeel aan die bediening te hê. Het hulle die regte soort gebied? Partykeer sal dit goed wees as jy hulle saam met ’n jong persoon laat werk wat hulle fisies kan help. Jy kan ook wys dat jy verstaan as iemand as gevolg van hulle gesondheid en omstandighede nie baie kan doen nie. Ja, as jy bedagsaam is en verstandig optree, sal jy ander kan help om die goeie nuus ywerig te verkondig, maak nie saak of hulle jonk of oud is en of hulle baie of min ondervinding het nie. — Lev. 19:32.

13 Die psalmis het uitgeroep: “Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” (Lees Psalm 133:1, 2.) Wanneer die Israeliete bymekaargekom het, het hulle ’n goeie invloed op mekaar gehad omdat hulle almal Jehovah aanbid het. Dit was soos om met olie gesalf te word — aangenaam en verfrissend. Wees vasbeslote om ’n positiewe invloed te hê en eenheid tussen jou broers en susters te bevorder. As jy dit alreeds doen, is dit baie goed. Maar miskien kan jy “verruim word”, met ander woorde met meer broers en susters assosieer en dit meer gereeld doen. — 2 Kor. 6:11-13.

14. Wat kan jy doen om jou lig te laat skyn in die gebied waarin jy bly?

14 Wat kan jy doen om die lig van Bybelwaarheid meer te laat skyn in die gebied waar jy bly? Iemand in jou buurt kan dalk in die waarheid begin belangstel net omdat jy vriendelik met hom was. Vra jou af: ‘Wat dink my bure van my? Help ek om ’n goeie indruk van ons buurt te skep deur my huis en erf netjies te hou? Gaan ek uit my pad uit om ander te help?’ Jy kan ook met ander Getuies gesels en hulle vra watter invloed hulle vriendelikheid en goeie gedrag op hulle familie, bure, werksmaats en skoolmaats gehad het. Hulle sal heel waarskynlik vir jou positiewe ondervindinge vertel. — Ef. 5:9.

HOU AAN WAAK

15. Hoekom is dit lewensbelangrik om aan te hou waak?

15 Ons gesindheid speel ’n rol in hoe hard ons probeer om ons lig nog meer te laat skyn. Jesus het sy dissipels ’n hele paar keer gewaarsku: “Hou . . . aan waak” (Matt. 24:42; 25:13; 26:41). As ons glo dat die “groot verdrukking” die een of ander tyd sal kom, maar nie in ons leeftyd nie, sal ons natuurlik nie voel dat die predikingswerk dringend is nie (Matt. 24:21). In plaas daarvan dat ons lig helder in ons buurt skyn, sal dit begin flikker en uiteindelik dalk doodgaan.

16, 17. Wat kan jy doen om aan te hou waak?

16 Hoe erger hierdie kritieke tye word, hoe belangriker sal dit vir ons wees om aan te hou waak. Jehovah sal op presies die regte tyd optree. Ons hoef glad nie hieroor te twyfel nie (Matt. 24:42-44). Intussen moet ons geduldig wees en aanhou waak. Lees God se Woord elke dag en moet nooit ophou bid nie (1 Pet. 4:7). Leer uit die goeie voorbeelde van broers en susters wat al jare lank met vreugde aanhou waak en hulle lig laat skyn. Ons kan van so ’n voorbeeld lees in die artikel “Ek hou al 70 jaar vas aan die slip van ’n Jood” in Die Wagtoring van 15 April 2012, bladsy 18-21.

17 Bly besig deur opbouende dinge te doen en met jou broers en susters te assosieer. Jy sal gelukkiger wees, en dit sal voel asof die tyd vinnig verbygaan (Ef. 5:16). Honderd jaar gelede was ons broers baie besig, en hulle het baie reggekry. Maar met Jehovah se hulp kry ons vandag baie meer gedoen. Ons is besig om ons lig helderder te laat skyn as wat enigiemand ooit gedink het moontlik sou wees.

Herdersbesoeke gee ons die geleentheid om te sien hoe die wysheid in God se Woord ons kan help (Sien paragraaf 18, 19)

18, 19. Hoe kan ouer manne ons help om aan te hou waak en ywerig te bly? Gee ’n voorbeeld.

18 Dit versterk ons geloof om te weet dat ons Jehovah nog steeds kan dien op ’n manier wat sy hart bly maak, al is ons onvolmaak. Daarom moet ons dit waardeer dat Jehovah vir ons “gawes in die vorm van mense”, gemeentelike ouer manne, gegee het. (Lees Efesiërs 4:8, 11, 12.) Wanneer die ouer manne jou volgende keer besoek, sal dit goed wees as jy die geleentheid gebruik om by hulle wysheid te leer en na hulle raad te luister.

19 Twee ouer manne in Engeland het ’n getroude paartjie besoek wat probleme gehad het. Die vrou het gevoel dat haar man nie die geestelike leiding in die gesin neem nie. Haar man het gevoel dat hy nie ’n goeie onderrigter is nie, en hy het erken dat hulle nie gereeld gesinsaanbidding doen nie. Die ouer manne het die paartjie gehelp om uit Jesus se voorbeeld te leer. Hy het vir sy dissipels gesorg en geweet wat hulle nodig het. Die ouer manne het die man aangemoedig om Jesus se voorbeeld na te volg. En hulle het die vrou aangemoedig om, soos Jesus, geduldig te wees. Die ouer manne het ook vir die paartjie praktiese voorstelle gegee oor hoe hulle kan saamwerk om gesinsaanbidding met hulle twee kinders te doen (Ef. 5:21-29). Later het die ouer manne die man geprys omdat hy die raad begin toepas het. Hulle het hom aangemoedig om nie moed op te gee nie. Hulle het ook gesê dat hy op die heilige gees moet vertrou om hom te help om die geestelike leiding in sy gesin te neem. Die ouer manne se liefdevolle belangstelling en ondersteuning het die gesin gehelp om hulle lig te laat skyn.

20. Wat sal gebeur as jy jou lig laat skyn?

20 Die psalmis het gesing: “Gelukkig is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel” (Ps. 128:1). Wanneer jy jou lig laat skyn — deur ander te nooi om God te dien, deur dinge te doen wat eenheid bevorder en deur aan te hou waak — sal jy gelukkiger wees. Ander mense sal jou goeie voorbeeld sien en gemotiveer word om ons Vader te verheerlik. — Matt. 5:16.