Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 25

“Ek sal self na my skape soek”

“Ek sal self na my skape soek”

“Ek sal self na my skape soek, en ek sal vir hulle sorg.” – ESEG. 34:11.

LIED 105 “God is liefde”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom het Jehovah homself met ’n ma vergelyk?

 “KAN ’n vrou haar eie baba vergeet?” Jehovah het hierdie vraag gevra in die dae van die profeet Jesaja. God het vir sy volk gesê: “Selfs al sou ’n vrou haar kind vergeet, sal ek jou nooit vergeet nie” (Jes. 49:15). Hy vergelyk homself nie gewoonlik met ’n ma nie. Maar hier het hy. Jehovah het sy gevoelens vir sy knegte vergelyk met die sterk liefde wat ’n ma vir haar kind het omdat hy wou hê dat sy knegte moes weet hoe baie hy hulle liefhet. Die meeste ma’s voel net soos ’n suster met die naam Jasmin. Sy sê: “Wanneer jy vir jou baba sorg, vorm jy en jou baba ’n spesiale band wat vir ewig hou.”

2. Hoe voel Jehovah wanneer een van sy kinders van hom af wegdryf?

2 Jehovah weet wanneer selfs net een van sy kinders ophou vergaderinge bywoon en ophou velddiens doen. So dink net hoe hartseer hy moet wees wanneer hy sien hoe duisende van sy knegte elke jaar onbedrywig * word.

3. Wat wil Jehovah hê?

3 Baie van hierdie dierbare broers en susters wat onbedrywig geword het, kom weer terug na die gemeente toe, en dit maak ons baie bly! Jehovah wil hê dat hulle moet terugkom, en ons voel dieselfde (1 Pet. 2:25). Hoe kan ons hulle help om terug te kom? Voordat ons hierdie vraag beantwoord, moet ons eers weet hoekom party ophou om vergaderinge by te woon en om velddiens te doen.

HOEKOM HOU PARTY OP OM JEHOVAH TE DIEN?

4. Wat gebeur met party as gevolg van hulle werk?

4 Party het toegelaat dat hulle werk die belangrikste ding in hulle lewe word. Hung, * ’n broer wat in Suidoos-Asië bly, erken: “Ek het te veel tyd by die werk spandeer. Ek was dom. Ek het gedink dat as ek meer geld het, ek Jehovah beter sou kon dien. Daarom het ek meer begin werk. Ek het al hoe meer vergaderinge begin mis, totdat ek heeltemal opgehou het om vergaderinge by te woon. Dit lyk asof hierdie wêreld gemaak is om mense bietjie vir bietjie van God af weg te trek.”

5. Hoe het ’n suster gereageer op al die probleme wat sy gehad het?

5 Party broers en susters het baie probleme wat hulle mismoedig maak. Anne van Brittanje het vyf kinders. Anne verduidelik: “Een van my kinders is van geboorte af ernstig gestremd. Later is een van my dogters uitgesit, en een van my seuns het ’n verstandelike siekte ontwikkel. Ek het so depressief geword dat ek opgehou het om vergaderinge by te woon en velddiens te doen. Later het ek onbedrywig geword.” Ons voel die pyn waardeur Anne en haar gesin en ander met soortgelyke probleme gaan!

6. Hoekom kan iemand dalk van Jehovah se volk af wegdryf as hy nie Kolossense 3:13 toepas nie?

6 Lees Kolossense 3:13. Party van Jehovah se knegte het kwaad geword omdat ’n broer of suster in die gemeente hulle seergemaak het. Die apostel Paulus het erken dat ons soms ’n goeie rede sal hê om oor ’n broer of ’n suster te kla. Iemand het ons dalk selfs onregverdig behandel. As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk lank kwaad bly. Dit kan uiteindelik veroorsaak dat ’n persoon van Jehovah se volk af wegdryf. Kyk na die voorbeeld van Pablo, ’n broer in Suid-Amerika. Hy is valslik daarvan beskuldig dat hy iets verkeerds gedoen het, en as gevolg hiervan het hy ’n voorreg in die gemeente verloor. Hoe het hy gereageer? “Ek het kwaad geword,” sê Pablo, “en ek het geleidelik van die gemeente af weggedryf.”

7. Watter uitwerking kan ’n skuldige gewete op ’n persoon hê?

7 Of as ’n persoon in die verlede ernstig gesondig het, voel hy dalk vir ’n lang tyd skuldig. Hy voel dalk dat God hom nie meer lief kan hê nie. Selfs al was hy baie jammer oor wat hy gedoen het en al het Jehovah hom vergewe, voel hy dalk dat hy nie meer goed genoeg is om een van God se knegte te wees nie. ’n Broer met die naam Francisco het so gevoel. Hy sê: “Ek was tereggewys omdat ek seksuele sonde gepleeg het. Alhoewel ek aan die begin aangehou het om vergaderinge by te woon, het ek depressief geword en gevoel dat ek nie goed genoeg is om deel van Jehovah se volk te wees nie. My gewete het my gepla en ek was oortuig dat Jehovah my nie vergewe het nie. Ek het later opgehou om met die gemeente te assosieer.” Hoe voel jy oor broers en susters wat met probleme sukkel soos dié wat ons nou net bespreek het? Het jy meegevoel vir hulle? Nog belangriker, hoe voel Jehovah oor hulle?

JEHOVAH IS LIEF VIR SY SKAPIES

’n Israelitiese herder was baie bekommerd oor ’n verlore skapie (Sien paragraaf 8-9) *

8. Vergeet Jehovah van persone wat hom gedien het? Verduidelik.

8 Jehovah vergeet nie van persone wat hom gedien het, maar wat tydelik opgehou het om met sy volk te assosieer nie. En hy vergeet ook nie die werk wat hulle in sy diens gedoen het nie (Heb. 6:10). Die profeet Jesaja het ’n pragtige illustrasie neergeskryf om te wys hoe Jehovah vir sy knegte sorg. Jesaja het geskryf: “Hy sal soos ’n herder vir sy kudde sorg. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarmaak en hulle teen sy bors dra” (Jes. 40:11). Hoe voel die Groot Herder wanneer een van sy skapies van die kudde af wegdwaal? Jesus het gewys hoe Jehovah voel toe hy vir sy dissipels gevra het: “Wat dink julle? As ’n sekere man 100 skape het en een van hulle afdwaal, sal hy nie die 99 op die berge los en na die een gaan soek wat afgedwaal het nie? En as hy hom vind, verseker ek julle dat hy blyer is oor hom as oor die 99 wat nie afgedwaal het nie.” – Matt. 18:12, 13.

9. Hoe het goeie herders in Bybeltye hulle skape behandel? (Sien prent op voorblad.)

9 Hoekom kan ons Jehovah met ’n herder vergelyk? Want ’n goeie herder in Bybeltye het baie vir sy skape omgegee. Dawid het byvoorbeeld ’n leeu en ’n beer doodgemaak om sy skape te beskerm (1 Sam. 17:34, 35). ’n Goeie herder sou beslis agterkom as selfs net een skapie weg is (Joh. 10:3, 14). Hy sou eers seker maak dat die 99 skape veilig in ’n kraal is of hy sou ’n ander herder vra om na hulle te kyk terwyl hy na die een gaan soek wat weg is. Jesus het hierdie illustrasie gebruik om ons ’n belangrike waarheid te leer: “My Vader wat in die hemel is, [wil] nie hê dat selfs een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” – Matt. 18:14.

’n Herder in Bybeltye sorg vir ’n skapie wat verlore was (Sien paragraaf 9)

JEHOVAH SOEK NA SY SKAPIES

10. Wat het Jehovah belowe om vir sy verlore skapies te doen, volgens Esegiël 34:11-16?

10 Jehovah is lief vir elkeen van ons, insluitende die “kleintjies” wat van sy kudde af weggedwaal het. God het deur middel van die profeet Esegiël belowe dat Hy na Sy verlore skapies sou soek en hulle sou help om weer ’n goeie verhouding met Hom te hê. En hy het spesifieke dinge genoem wat hy sou doen om hulle te red, dinge wat ’n Israelitiese herder sou doen as een van sy skape weggedwaal het. (Lees Esegiël 34:11-16.) Eerstens, die herder sou na die skapie soek, iets wat baie tyd en energie kon neem. Dan, wanneer die herder die verlore skapie gevind het, sou hy hom na die kudde toe terugbring. En as die skapie seergekry het of honger is, sou die herder die swak skapie liefdevol help, sy seerplekkies verbind, hom dra en hom kos gee. Ouermanne, die herders van “die kudde van God”, moet dieselfde dinge doen om enigiemand te help wat van die gemeente af weggedwaal het (1 Pet. 5:2, 3). Die ouermanne sal na hulle soek, hulle help om na die kudde terug te kom en wys dat hulle hulle liefhet deur hulle te help om weer Jehovah se vriend te word. *

11. Wat het ’n goeie herder geweet?

11 ’n Goeie herder het geweet dat skape verlore kan raak, en as ’n skapie van die kudde af weggedwaal het, het die herder hom nie gestraf nie. Kyk na die voorbeeld wat God gestel het toe hy party van sy knegte gehelp het wat vir ’n rukkie van hom af weggedwaal het.

12. Hoe het Jehovah Jona behandel?

12 Die profeet Jona het van sy toewysing af weggehardloop, maar Jehovah het Jona nie afgeskryf nie. Net soos ’n goeie herder, het Jehovah hom gered en hom gehelp om die nodige krag te kry om sy toewysing uit te voer (Jona 2:7; 3:1, 2). Later het God ’n kalbasplant gebruik om Jona te help verstaan hoe kosbaar elke persoon se lewe is (Jona 4:10, 11). Wat is die les vir ons? Ouermanne moenie gou wees om persone af te skryf wat onbedrywig geword het nie. Die ouermanne probeer eerder verstaan hoekom ’n skapie van die kudde af weggedwaal het. En wanneer daardie skapie na Jehovah toe terugkeer, sal die ouermanne aanhou wys dat hulle hom liefhet en vir hom omgee.

13. Hoe het Jehovah gereageer op wat die skrywer van Psalm 73 gesê het, en wat kan ons daaruit leer?

13 Die skrywer van Psalm 73 het mismoedig geword toe dit vir hom lyk asof die goddeloses altyd suksesvol is. Hy het gewonder of dit die moeite werd is om God se wil te doen (Ps. 73:12, 13, 16). Hoe het Jehovah gereageer? Hy het nie die man veroordeel nie. Om die waarheid te sê, God het sy woorde in die Bybel laat opteken. Die psalmis het uiteindelik besef dat daar niks beters in die lewe is as om Jehovah se vriend te wees nie (Ps. 73:23, 24, 26, 28). Wat is die les vir ons? Ouermanne moenie gou wees om persone te oordeel wat begin wonder of dit die moeite werd is om Jehovah te dien nie. Eerder as om hulle te veroordeel, moet ouermanne probeer verstaan hoekom hulle op hierdie manier optree. Eers dan kan die ouermanne spesifieke tekste gebruik om hulle aan te moedig.

14. Hoekom het Elia hulp nodig gehad, en hoe het Jehovah hom gehelp?

14 Die profeet Elia het van koningin Isebel gevlug (1 Kon. 19:1-3). Hy het gedink dat hy die enigste profeet van Jehovah is en dat sy werk nie ’n doel het nie. Elia het so depressief geword dat hy wou doodgaan (1 Kon. 19:4, 10). Eerder as om Elia te veroordeel, het Jehovah hom verseker dat hy nie alleen is nie, dat hy op God se krag kon vertrou en dat hy nog steeds baie werk het om te doen. Jehovah het liefdevol geluister terwyl Elia Hom vertel het wat hom pla, en Hy het hom nuwe toewysings gegee (1 Kon. 19:11-16, 18). Wat is die les vir ons? Ons almal, veral die ouermanne, moet Jehovah se skapies liefdevol behandel. Of ’n persoon nou sê dat hy kwaad is of sê dat hy voel dat Jehovah hom nie sal vergewe nie, moet ouermanne na hom luister wanneer hy vir hulle sê hoe hy voel. Dan sal hulle die verlore skapie probeer verseker dat Jehovah hom liefhet.

HOE MOET ONS OOR GOD SE VERLORE SKAPIES VOEL?

15. Hoe het Jesus volgens Johannes 6:39 oor sy Vader se skapies gevoel?

15 Hoe wil Jehovah hê moet ons oor sy verlore skapies voel? Jesus stel vir ons die voorbeeld. Hy het geweet dat al Jehovah se skapies vir Hom kosbaar is. So Jesus het alles gedoen wat hy kon om “die verlore skape van die huis van Israel” te help om na Jehovah terug te keer (Matt. 15:24; Luk. 19:9, 10). As die goeie herder het Jesus ook alles gedoen wat hy kon om seker te maak dat hy nie een van Jehovah se skapies verloor nie. – Lees Johannes 6:39.

16-17. Hoe moet ouermanne daaroor voel om persone te help wat weggedwaal het? (Sien die venster “ Hoe ’n verlore skapie dalk voel”.)

16 Die apostel Paulus het die ouermanne van die gemeente in Efese aangemoedig om Jesus se voorbeeld na te volg. “Julle [moet] die swakkes . . . help en die woorde van die Here Jesus . . . onthou, toe hy self gesê het: ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang’” (Hand. 20:17, 35). Dit is duidelik dat ouermanne ’n spesiale verantwoordelikheid het om vir Jehovah se volk te sorg. Salvador, ’n ouerman in Spanje, verduidelik: “Wanneer ek dink aan hoe baie Jehovah vir sy verlore skapies omgee, motiveer dit my om alles te doen wat ek kan om hulle te help. As ’n geestelike herder is ek oortuig dat Jehovah wil hê dat ek vir hulle moet sorg.”

17 Almal wat in hierdie artikel genoem is wat van Jehovah af weggedryf het, is gehelp om weer na hom toe terug te keer. Op hierdie oomblik wil baie wat weggedwaal het, ook terugkeer. Die volgende artikel sal in meer detail bespreek wat ons kan doen om hulle te help om na Jehovah terug te keer.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

^ par. 5 Hoekom dryf party wat Jehovah al jare lank getrou gedien het, van die gemeente af weg? Hoe voel God oor hulle? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord. Dit bespreek ook wat ons kan leer uit die manier waarop Jehovah party in Bybeltye gehelp het wat vir ’n kort tydjie van hom af weggedryf het.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: ’n Verkondiger wat onbedrywig is, is iemand wat ses maande lank of langer nie velddiens gedoen het nie. Maar verkondigers wat onbedrywig geword het, is nog steeds ons broers en susters, en ons is lief vir hulle.

^ par. 4 Party name is verander.

^ par. 10 Die volgende artikel sal verduidelik hoe die ouermanne hierdie drie dinge kan doen.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Herder in Bybeltye wat bekommerd was oor ’n verlore skapie, sou na hom soek en hom help om na die kudde terug te kom. Vandag doen geestelike herders dieselfde.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n onbedrywige suster vir die bus wag om te vertrek, sien sy twee Getuies wat dit geniet om openbare getuieniswerk te doen.