Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat was die verskillende soorte belastings wat mense in Jesus se dag moes betaal?

VANAF vroeë tye was die Israeliete in die gewoonte om geld by te dra om ware aanbidding te ondersteun. Maar teen Jesus se tyd het belasting ’n swaar las vir die Jode geword.

Om aanbidding by die tabernakel en later by die tempel te ondersteun, moes alle volwasse Jode ’n halfsikkel (twee dragmas) betaal. In Jesus se dag was daardie geld gebruik om die tempel wat Herodes gebou het, in stand te hou en om offerandes te voorsien. Sommige Jode het vir Petrus gevra hoe Jesus oor daardie belasting voel, en Jesus het gesê dat dit nie verkeerd is om dit te betaal nie. Hy het selfs vir Petrus gesê om ’n muntstuk te gaan haal sodat hy daardie belasting kan betaal. – Matt. 17:24-27.

God se volk moes ook ’n tiende van hulle oes of hulle inkomste gee (Lev. 27:30-32; Num. 18:26-28). Maar die godsdiensleiers het daarop aangedring dat almal ’n tiende van alles moes gee, selfs van “die kruisement en die dille en die komyn”. Jesus het nie gesê dat dit verkeerd is om tiendes te gee nie, maar hy het gesê dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs skynheilig is en dat hulle die wet oor tiendes verkeerd toegepas het. – Matt. 23:23.

Maar gedurende daardie tyd moes die Jode ook verskillende soorte belastings aan die Romeine, wat oor hulle regeer het, betaal. Byvoorbeeld, dié wat grond besit het, moes belasting betaal het met geld of goedere. Hulle moes omtrent 20 tot 25 persent van hulle inkomste gee. En elke Jood moes ook hoofbelasting betaal. Dit was dieselfde belasting waaroor die Fariseërs Jesus gevra het. Hy het gewys hoe ons oor belasting moet voel toe hy gesê het: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” – Matt. 22:15-22.

Belasting moes ook betaal word op goedere wat ingevoer of uitgevoer is. Daardie belasting is by hawens, brûe, kruispaaie of by die ingang van dorpe of markte ingesamel.

Onder die Romeinse heerskappy was al die belastings wat die mense moes betaal het, ’n baie swaar las. Tacitus, ’n Romeinse geskiedskrywer, het gesê dat die mense van Sirië en Judea gedurende die heerskappy van keiser Tiberius, toe Jesus op die aarde was, gesmeek het om minder belasting te betaal omdat dit te veel vir hulle geraak het.

Die manier hoe die belastings ingesamel is, het die mense se las nog swaarder gemaak. Belastinggaarders kon wins maak uit die belastings wat hulle ingesamel het. Mense wat die meeste geld aangebied het, het hoofbelastinggaarders geword. Ander belastinggaarders wat ook vir hulleself wins gemaak het en wat die eintlike insamelingswerk gedoen het, het onder die hoofbelastinggaarders gewerk. Dit lyk asof Saggeus ook sulke belastinggaarders onder hom gehad het (Luk. 19:1, 2). Dit is verstaanbaar dat mense niks hiervan gehou het nie, en hulle het ook die belastinggaarders gehaat.