Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 23

Met Jehovah is jy nooit alleen nie

Met Jehovah is jy nooit alleen nie

“Jehovah is naby almal wat hom aanroep.” – PS. 145:18.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom voel knegte van Jehovah soms eensaam?

DIE meeste van ons voel soms eensaam. Vir party hou hierdie gevoelens nie lank nie, maar ander sukkel lank met hierdie gevoelens. Soms voel ons eensaam, al is ons omring deur mense. Party sukkel om in ’n nuwe gemeente in te pas. Ander kom uit ’n familie wat baie na aan mekaar is, maar hulle sukkel met eensaamheid wanneer hulle van hulle familie af wegtrek. En baie mis die geselskap van ’n geliefde wat hulle in die dood verloor het. En party Christene, veral dié wat die waarheid onlangs geleer het, voel alleen wanneer ongelowige familielede of vriende hulle afskryf of vervolg.

2. Watter vrae gaan ons beantwoord?

2 Jehovah ken ons en hy verstaan alles omtrent ons. Hy weet wanneer ons eensaam voel en hy wil ons graag help om daardie gevoelens te oorkom. Hoe help Jehovah ons? Wat kan ons doen om onsself te help? En wat kan ons doen om ander in die gemeente te help wat eensaam voel? Kom ons kyk na die antwoorde.

JEHOVAH GEE VIR ONS OM

Jehovah het ’n engel na Elia toe gestuur om hom te verseker dat hy nie alleen is nie (Sien paragraaf 3)

3. Hoe het Jehovah gewys dat hy vir Elia omgee?

3 Jehovah wil graag hê dat al sy aanbidders gelukkig moet wees. Hy is naby elkeen van ons en hy sien wanneer ons oorweldig voel deur gevoelens wat ons mismoedig maak (Ps. 145:18, 19). Dink aan hoe besorg Jehovah was oor die profeet Elia en hoe hy hom gehelp het. Daardie getroue man het gedurende ’n moeilike tyd in Israel se geskiedenis gelewe. Magtige vyande het Jehovah se aanbidders vervolg en hulle wou veral vir Elia doodmaak (1 Kon. 19:1, 2). Elia het ook gedink dat hy die enigste profeet was wat Jehovah nog gedien het, en dit het hom dalk selfs meer mismoedig laat voel (1 Kon. 19:10). God het onmiddellik iets gedoen om Elia te help. Jehovah het ’n engel gestuur om Sy profeet te verseker dat hy nie alleen is nie – dat daar nog baie ander Israeliete is wat God vrees! – 1 Kon. 19:5, 18.

4. Hoe wys Markus 10:29, 30 hoe baie Jehovah omgee vir sy knegte wat nie die ondersteuning van hulle familielede of vriende het nie?

4 Jehovah weet dat party van ons baie opofferings moet maak wanneer ons besluit om hom te dien. Een van die dinge wat ons dalk moet opoffer, is die ondersteuning van ons familielede en vriende wat Jehovah nie dien nie. Die apostel Petrus het eenkeer vir Jesus gevra: “Ons het alles agtergelaat en u gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” (Matt. 19:27). Uit liefde het Jesus sy dissipels verseker dat hulle ’n groot geestelike familie sou kry. (Lees Markus 10:29, 30.) En Jehovah, die Hoof van ons geestelike familie, belowe dat hy almal sal ondersteun wat hom wil dien (Ps. 9:10). Kom ons kyk na ’n paar dinge wat jy kan doen om Jehovah se hulp te ontvang as jy sukkel met eensaamheid.

WAT KAN JY DOEN AS JY EENSAAM VOEL?

5. Hoekom is dit goed om te dink aan hoe Jehovah jou nou help?

5 Dink aan hoe Jehovah jou nou help (Ps. 55:22). Dit sal jou help om positief te wees oor jou situasie. ’n Enkelsuster met die naam Carol, * wie se familie nie in die waarheid is nie, sê: “Wanneer ek dink aan hoe Jehovah my deur moeilike tye gehelp het, help dit my om te besef dat ek nie alleen is nie. En dit gee my die versekering dat Jehovah in die toekoms altyd daar vir my sal wees.”

6. Hoe kan 1 Petrus 5:9, 10 persone aanmoedig wat eensaam voel?

6 Dink aan hoe Jehovah broers en susters help wat eensaam voel. (Lees 1 Petrus 5:9, 10.) Hiroshi, ’n broer wat jare lank die enigste Getuie in sy familie was, sê: “’n Mens kan sien dat almal in die gemeente probleme het. Almal probeer maar net om hulle beste in Jehovah se diens te doen, en dit is baie aanmoedigend vir dié wat alleen in die waarheid is.”

7. Hoe help gebed jou?

7 Behou ’n goeie geestelike roetine. Dit sluit in dat jy vir Jehovah presies moet sê hoe jy voel (1 Pet. 5:7). Toe ’n jong suster met die naam Massiel besluit het om Jehovah te dien, het sy alleen gevoel omdat haar familie nie in die waarheid was nie. Sy sê: “Een van die dinge wat my gehelp het toe ek alleen gevoel het, was om ernstig tot Jehovah te bid. Hy was soos ’n regte pa vir my, en ek het elke dag baie keer tot hom gebid om vir hom te sê hoe ek voel.”

As jy luister na oudio-opnames van die Bybel en Bybelpublikasies, kan dit jou help om minder eensaam te voel (Sien paragraaf 8) *

8. Hoe help dit jou wanneer jy God se Woord lees en daaroor nadink?

8 Lees God se Woord gereeld en dink na oor spesifieke gedeeltes wat vir jou wys hoeveel Jehovah jou liefhet. Bianca, ’n suster wie se familie vir haar afbrekende dinge sê, verduidelik: “Wat my regtig help, is om Bybelverslae en lewensverhale te lees van Jehovah se knegte wat dieselfde soort probleme gehad het en om daaroor na te dink.” Party Christene memoriseer tekste wat vir hulle baie vertroostend is, soos Psalm 27:10 en Jesaja 41:10. Ander voel minder eensaam wanneer hulle na die oudio-opnames luister terwyl hulle vir die vergaderinge voorberei of hulle Bybellees doen.

9. Hoe help dit jou wanneer jy vergaderinge bywoon?

9 Doen jou bes om die vergaderinge gereeld by te woon. Die inligting wat bespreek word, sal jou aanmoedig, en jy kan ook jou broers en susters beter leer ken (Heb. 10:24, 25). Massiel, die suster wat vroeër genoem is, sê: “Al was ek baie skaam, was ek vasbeslote om elke vergadering by te woon en om ’n kommentaar te gee. Dit het my gehelp om deel te voel van die gemeente.”

10. Hoekom is dit belangrik om vriende te maak met getroue Christene?

10 Maak vriende met getroue Christene. Maak vriende met broers en susters in die gemeente by wie jy kan leer, al is hulle nie van dieselfde ouderdomsgroep of agtergrond as jy nie. Die Bybel sê vir ons dat ‘wysheid by die bejaardes gevind word’ (Job 12:12). Ouer mense kan ook baie by getroue jongmense leer. Al was Dawid baie jonger as Jonatan, het hulle nog steeds ’n sterk vriendskap gehad (1 Sam. 18:1). Dawid en Jonatan het mekaar gehelp om Jehovah te dien, selfs onder baie moeilike omstandighede (1 Sam. 23:16-18). Irina, wat alleen in die waarheid is, sê: “Ons broers en susters kan regtig ons geestelike familie word. Jehovah kan hulle gebruik om die familie te wees wat ons nodig het.”

11. Wat moet jy doen om sterk vriendskappe op te bou?

11 Dit kan moeilik wees om nuwe vriende te maak, veral as jy skaam is. Ratna, ’n skaam suster wat die waarheid geleer het al was sy teëgestaan, sê: “Ek moes die feit aanvaar dat ek die hulp en ondersteuning van my broers en susters nodig het.” Dit kan moeilik wees om vir iemand te sê hoe jy voel, maar dit is baie belangrik as jy ’n goeie vriend van daardie persoon wil wees. Jou vriende wil jou aanmoedig en ondersteun, maar jy moet vir hulle sê hoe hulle dit kan doen.

12. Hoe kan die bediening jou help om goeie vriende te maak?

12 Een van die beste maniere om vriende te maak, is deur velddiens saam met ander te doen. Carol, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het baie goeie vriende gemaak deur tyd saam met susters in die bediening te spandeer en deur ander dinge in Jehovah se diens saam met hulle te doen. Jehovah het my oor die jare deur middel van hierdie vriende ondersteun.” Dit is beslis die moeite werd om vriende te maak met getroue Christene. Jehovah gebruik sulke vriende om jou aan te moedig wanneer jy mismoedig of eensaam voel. – Spr. 17:17.

HELP ANDER OM TE VOEL DAT HULLE DEEL VAN ONS FAMILIE IS

13. Watter verantwoordelikheid het almal in die gemeente?

13 Almal in die gemeente het die verantwoordelikheid om seker te maak dat daar liefde en vrede in die gemeente is en dat niemand heeltemal alleen voel nie (Joh. 13:35). Wat ons sê en doen, kan ’n groot verskil maak. Kyk na wat een suster gesê het: “Toe ek die waarheid geleer het, het die gemeente my familie geword. Sonder hulle ondersteuning kon ek nie een van Jehovah se Getuies geword het nie.” Wat kan jy doen om dié wat alleen in die waarheid is, te laat voel dat hulle deel van die gemeente is?

14. Wat kan jy doen om vriende te maak met persone wat nuut is in die gemeente?

14 Maak vriende met persone wat nuut is in die gemeente. Ons kan begin deur persone wat nuut is in die gemeente, te verwelkom (Rom. 15:7). Maar ons wil meer doen as om hulle net vriendelik te groet. Ons wil sterk vriendskappe opbou. So wees vriendelik en wys dat jy regtig vir hulle omgee. Probeer om te verstaan waardeur hulle gaan, maar respekteer hulle privaatheid. Vir party is dit dalk moeilik om te sê hoe hulle voel, so moet hulle nie forseer om te praat nie. Vra hulle eerder oor iets anders en luister geduldig na wat hulle sê. Jy kan hulle byvoorbeeld vra hoe hulle in die waarheid gekom het.

15. Hoe kan Christene wat geestelik sterk is, ander in die gemeente help?

15 Almal in die gemeente sal geestelik groei, as Christene wat geestelik sterk is, veral ouermanne, wys dat hulle in hulle belangstel. Melissa, wat deur haar ma in die waarheid grootgemaak is, sê: “Ek kan nie eers sê hoeveel ek die broers waardeer wat vir my soos pa’s was en wat oor die jare in my belanggestel het en tyd saam met my gespandeer het nie. Wanneer ek met iemand moet praat, het ek altyd iemand wat na my sal luister.” ’n Jong broer met die naam Mauricio, het alleen gevoel toe sy studiehouer die waarheid verlaat het. Hy sê: “Die ouermanne se persoonlike belangstelling in my het ’n groot verskil gemaak. Hulle het gereeld met my gesels. Hulle het saam met my velddiens gedoen. Hulle het geestelike skatte met my gedeel wat hulle in hulle persoonlike studie gekry het en hulle het selfs saam met my sport gespeel.” Melissa en Mauricio is nou in die voltydse diens.

Is daar iemand in jou gemeente wat dit baie sal waardeer om tyd saam met jou te spandeer? (Sien paragraaf 16-19) *

16-17. Hoe kan ons ander op praktiese maniere help?

16 Help ander op praktiese maniere (Gal. 6:10). Leo, wat as ’n sendeling dien in ’n land wat ver weg is van sy familie af, sê: “Al wat jy partykeer nodig het, is dat iemand vir jou iets kleins doen op die regte tyd. Byvoorbeeld, eenkeer toe ek in ’n karongeluk was, was ek uitgestres teen die tyd toe ek by die huis kom. Maar toe het ’n paartjie my genooi om saam met hulle te kom eet. Ek onthou nie wat ons geëet het nie, maar ek onthou dat hulle geduldig na my geluister het. En daarna het ek baie beter gevoel!”

17 Een van die redes hoekom ons byeenkomste geniet, is omdat ons tyd saam met ander kan spandeer en oor die program kan gesels. Maar Carol, wat vroeër genoem is, sê: “Byeenkomstye is vir my baie moeilik.” Hoekom? Sy sê: “Al is daar honderde of selfs duisende broers en susters om my, is hulle almal saam met hulle families. Wanneer ek dit sien, voel ek baie alleen.” Ander vind dit moeilik om ’n byeenkoms vir die eerste keer by te woon nadat hulle hulle huweliksmaat in die dood verloor het. Ken jy iemand wat in so ’n situasie is? Kan jy dalk so ’n persoon nooi om by die volgende byeenkoms saam met jou en jou familie te sit?

18. Hoe kan ons 2 Korintiërs 6:11-13 toepas?

18 Spandeer tyd saam met ander. Spandeer tyd saam met verskillende broers en susters, veral saam met dié wat alleen voel. Ons wil ons ‘harte wyd oopmaak’, veral teenoor sulke persone. (Lees 2 Korintiërs 6:11-13.) Melissa, wat vroeër genoem is, sê: “Dit was altyd vir ons lekker wanneer broers en susters ons oorgenooi het of ons gevra het om saam met hulle op vakansie te gaan.” Is daar iemand in jou gemeente wat jy kan nooi?

19. Wanneer sal broers en susters dit veral waardeer om tyd saam met ons te spandeer?

19 Op sekere tye sal ons broers en susters dit veral waardeer om tyd saam met ons te spandeer. Party vind dit dalk moeilik om gedurende vakansietye by hulle ongelowige familielede te wees. Ander is veral hartseer op sekere dae, soos byvoorbeeld die datum waarop ’n geliefde gesterf het. Wanneer ons tyd saam met broers en susters spandeer wat in so ’n situasie is, wys ons dat ons opreg vir hulle omgee. – Fil. 2:20.

20. Hoe kan Jesus se woorde in Matteus 12:48-50 ons help wanneer ons alleen voel?

20 Daar is baie redes hoekom ’n Christen soms eensaam kan voel. Maar ons moenie vergeet dat Jehovah presies weet hoe ons voel nie. Baie keer gebruik hy ons broers en susters om vir ons te gee wat ons nodig het. (Lees Matteus 12:48-50.) En ons wys vir Jehovah dat ons sy liefdevolle reëling waardeer wanneer ons ons bes doen om ons geestelike familie te ondersteun. Dit maak nie saak hoe ons voel nie, ons is nooit alleen nie, want Jehovah is altyd aan ons sy!

LIED 46 Ons dank u, Jehovah

^ par. 5 Voel jy soms alleen? As jy soms so voel, kan jy seker wees dat Jehovah weet hoe jy voel en dat hy jou graag wil help. In hierdie artikel sal ons bespreek wat jy kan doen as jy eensaam voel. Ons gaan ook kyk na hoe jy broers en susters kan help wat eensaam voel.

^ par. 5 Party name is verander.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer wie se vrou gesterf het, luister na oudio-opnames van die Bybel en ander publikasies.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer en sy dogter gaan besoek ’n ouer broer in die gemeente, en hulle wys dat hulle vir hom omgee.