Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 25

Moenie “hierdie kleintjies” laat struikel nie

Moenie “hierdie kleintjies” laat struikel nie

“Sorg dat julle nie op een van hierdie kleintjies neersien nie.” – MATT. 18:10.

LIED 113 Die vrede wat ons besit

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jehovah vir elkeen van ons gedoen?

JEHOVAH het elkeen van ons na hom toe getrek (Joh. 6:44). Dink net wat dit beteken. Toe Jehovah al die miljoene mense in die wêreld ondersoek het, het hy iets kosbaars in jou gesien – ’n opregte hart wat kon leer om hom lief te kry (1 Kron. 28:9). Jehovah ken jou, hy verstaan jou en hy is lief vir jou. Wat ’n wonderlike gedagte!

2. Hoe het Jesus ons gehelp om te verstaan hoe baie Jehovah vir elkeen van ons omgee?

2 Jehovah gee baie om vir jou en hy gee ook om vir al jou broers en susters. Om ons te help om dit te verstaan, het Jesus Jehovah met ’n herder vergelyk. As ’n herder 100 skape het, wat sal hy doen as een van hulle wegraak? Hy sal “die 99 op die berge los en na die een gaan soek wat afgedwaal het”. Wanneer die herder die skaap vind, sal hy hom nie uitskel nie. Hy sal baie bly wees. Wat is die punt? Elke skaap is belangrik vir Jehovah. Jesus het gesê: “My Vader wat in die hemel is, [wil] nie hê dat selfs een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” – Matt. 18:12-14.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons sou nooit enige van ons broers en susters mismoedig wil maak nie. Hoe kan ons seker maak dat ons ander nie laat struikel nie? En wat kan ons doen as iemand ons seermaak? Ons sal daardie vrae in hierdie artikel bespreek. Maar ons gaan eers bespreek wie “hierdie kleintjies” is wat in Matteus hoofstuk 18 genoem word.

WIE IS “HIERDIE KLEINTJIES”?

4. Wie is “hierdie kleintjies”?

4 “Hierdie kleintjies” verwys na al Jesus se dissipels. Maak nie saak hoe oud hulle is nie, hulle is “soos jong kinders” omdat hulle gewillig is om deur Jesus geleer te word (Matt. 18:3). Al kom hulle uit verskillende agtergronde en kulture en al het hulle verskillende persoonlikhede, het hulle almal geloof in Christus. En hy is baie lief vir hulle. – Matt. 18:6; Joh. 1:12.

5. Hoe voel Jehovah wanneer iemand een van sy knegte seermaak of laat struikel?

5 Al “hierdie kleintjies” is kosbaar vir Jehovah. Om te verstaan hoe hy voel, kom ons dink aan hoe ons oor kinders voel. Hulle is kosbaar vir ons. Ons wil hulle beskerm omdat hulle nie die krag, ondervinding en wysheid het wat grootmense het nie. Alhoewel ons nie daarvan hou om te sien dat enige iemand seerkry nie, is ons veral ontsteld – selfs kwaad – wanneer iemand ’n kind seermaak. Net so wil Jehovah ons beskerm. Hy raak ontsteld – selfs kwaad – wanneer iemand een van sy knegte seermaak of laat struikel! – Jes. 63:9; Mark. 9:42.

6. Wat dink die wêreld van Jesus se dissipels, volgens 1 Korintiërs 1:26-29?

6 Op watter ander manier is Jesus se dissipels soos “kleintjies”? Wel, wie is volgens die wêreld belangrik? Ryk, beroemde en magtige mense. Maar Jesus se dissipels lyk vir hulle soos onbelangrike “kleintjies”. (Lees 1 Korintiërs 1:26-29.) Dit is nie wat Jehovah van hulle dink nie.

7. Hoe wil Jehovah hê moet ons oor ons broers en susters voel?

7 Jehovah is lief vir al sy knegte, of hulle hom al jare lank dien of nuut is in die waarheid. Al ons broers en susters is belangrik vir Jehovah, so hulle moet ook belangrik wees vir ons. Ons wil “lief [wees] vir die hele gemeenskap van broers”, nie net vir party van hulle nie (1 Pet. 2:17). Ons moet bereid wees om enige iets te doen om hulle te beskerm en om vir hulle te sorg. As ons uitvind dat ons iemand seergemaak het of ontstel het, moet ons dit nie as niks afmaak en dink dat die persoon te sensitief is nie. Hoekom word party makliker seergemaak as ander? Miskien het party ’n baie lae selfbeeld as gevolg van hulle agtergrond. Ander is nuut in die waarheid en het nog nie geleer hoe om met die onvolmaakthede van hulle broers en susters saam te lewe nie. Wat ook al die rede is, ons moet ons bes probeer om weer vrede te maak. Maar ’n persoon wat maklik deur ander ontstel word, moet ook besef dat dit ’n swakheid is waaraan hy moet werk. Dan sal hy meer vreugde geniet en beter verhoudings met sy broers en susters hê.

BESKOU ANDER AS HOËR AS JOUSELF

8. Watter gesindheid het baie mense in Jesus se dag gehad wat sy dissipels beïnvloed het?

8 Hoekom het Jesus oor “hierdie kleintjies” gepraat? Sy dissipels het hom ’n vraag gevra: “Wie is werklik die grootste in die Koninkryk van die hemel?” (Matt. 18:1). Baie Jode van daardie tyd wou gehad het dat mense moet dink dat hulle belangrik is. Een geleerde het gesê: “Mense het geleef en gesterf in hulle soeke na eer, aansien, roem, goedkeuring en respek.”

9. Wat moes Jesus se dissipels doen?

9 Jesus het geweet dat dit vir baie Jode belangrik was om beter as ander te probeer wees en dat sy dissipels hard sou moes werk om ontslae te raak van daardie manier van dink. Hy het vir hulle gesê: “Laat die een wat die grootste onder julle is, soos die jongste word, en laat die een wat die leiding neem, soos die een word wat dien” (Luk. 22:26). Ons gedra onsself soos “die jongste” wanneer ons ‘ander as hoër as onsself beskou’ (Fil. 2:3). As ons dit doen, sal die kans kleiner wees dat ons ander sal laat struikel.

10. Watter raad moet ons toepas?

10 Al ons broers en susters is op die een of ander manier beter as ons. Dit is maklik om dit raak te sien wanneer ons op hulle goeie eienskappe fokus. Ons moet die raad toepas wat die apostel Paulus aan die Korintiërs gegee het: “Wat maak jou dan anders as iemand anders? Ja, wat het jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan in werklikheid ontvang het, hoekom spog jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor. 4:7). Ons moenie die aandag op onsself probeer vestig of dink dat ons beter as ander is nie. Byvoorbeeld, as ’n broer goeie toesprake gee of as ’n suster maklik Bybelstudies kan begin, moet hulle gou wees om al die eer aan Jehovah te gee.

VERGEWE “UIT DIE HART”

11. Wat was die punt van Jesus se illustrasie oor ’n koning en sy slaaf?

11 Kort nadat Jesus sy volgelinge gewaarsku het om ander nie te laat struikel nie, het hy ’n illustrasie gegee oor ’n koning en sy slaaf. Die slaaf het die koning verskriklik baie geld geskuld, maar die koning het sy skuld afgeskryf. Later het daardie slaaf geweier om ’n ander slaaf se skuld af te skryf, al was dit ’n baie kleiner bedrag. Aan die einde van die dag het die koning daardie genadelose slaaf in die tronk laat gooi. Die les? Jesus het gesê: “My hemelse Vader sal julle op dieselfde manier behandel as julle nie elkeen sy broer uit die hart vergewe nie.” – Matt. 18:21-35.

12. Hoe maak ons ander mense seer as ons weier om te vergewe?

12 Wat die slaaf gedoen het, het nie net slegte gevolge vir hom gehad nie, maar ook vir ander. Eerstens, hy het nie genade betoon aan die ander slaaf nie en het “hom in die tronk laat gooi totdat hy sy skuld kon terugbetaal”. Tweedens, dit het ander slawe ook geraak, want toe hulle “sien wat gebeur het, was hulle baie ontsteld”. Net so word ander ook geraak deur wat ons doen. Wat kan gebeur as iemand ons sleg behandel en ons weier om hom te vergewe? Eerstens, ons sal hom seermaak as ons weier om hom te vergewe en hom ignoreer. Tweedens, ons laat ander in die gemeente ongemaklik voel wanneer hulle sien dat daar nie vrede tussen ons en daardie persoon is nie.

Sal jy kwaad bly of sal jy uit die hart vergewe? (Sien paragraaf 13-14) *

13. Wat leer jy uit die ondervinding van een pioniersuster?

13 Wanneer ons ons broers en susters vergewe, voel ons beter en help ons ander om beter te voel. Dit is wat een pioniersuster, wat ons Crystal sal noem, ondervind het. ’n Suster in die gemeente het haar seergemaak. Crystal sê: “Haar woorde het soms vir my gevoel soos messteke. Toe ons velddiens gedoen het, wou ek nie eers in dieselfde kargroep as sy wees nie. Ek het my ywer en my vreugde begin verloor.” Crystal het gevoel dat sy goeie rede gehad het om kwaad te wees. Maar sy het nie kwaad vir die suster gebly of vir haarself jammer gevoel nie. Sy was nederig en het die skriftuurlike raad toegepas in die artikel “Vergewe uit jou hart” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1999. Sy het haar suster vergewe. Crystal sê: “Ek besef nou dat ons almal maar net hard probeer om die nuwe persoonlikheid aan te trek en dat Jehovah ons elke dag vrylik vergewe. Dit voel asof ’n berg van my skouers af is. Ek het my vreugde weer teruggekry.”

14. Volgens Matteus 18:21, 22, waarmee het die apostel Petrus dalk gesukkel, en wat leer jy uit Jesus se antwoord?

14 Ons weet dat ons moet vergewe – dit is die regte ding om te doen. Maar ons sukkel miskien om dit te doen. Die apostel Petrus het dalk ook soms gesukkel om dit te doen. (Lees Matteus 18:21, 22.) Wat kan ons help? Eerstens, dink na oor hoeveel keer Jehovah jou vergewe het (Matt. 18:32, 33). Ons verdien nie sy vergifnis nie, maar hy vergewe ons vrylik (Ps. 103:8-10). En ons is “ook onder verpligting om mekaar lief te hê”. So ons het nie ’n keuse nie. Ons is onder verpligting om ons broers en susters te vergewe (1 Joh. 4:11). Tweedens, dink na oor wat gebeur wanneer ons vergewe. Ons kan die persoon help wat ons seergemaak het, die eenheid van die gemeente en ons verhouding met Jehovah beskerm en ’n swaar las van ons skouers verwyder (2 Kor. 2:7; Kol. 3:14). En laastens, bid tot die Een wat ons vra om te vergewe. Moenie toelaat dat Satan jou goeie verhouding met jou broers en susters vernietig nie (Ef. 4:26, 27). Ons het Jehovah se hulp nodig om te keer dat ons in Satan se strik trap.

MOENIE TOELAAT DAT JY GESTRUIKEL WORD NIE

15. Volgens Kolossense 3:13, wat kan ons doen as ’n broer of ’n suster iets doen wat ons ontstel?

15 Wat moet jy doen as ’n broer of ’n suster iets doen wat jou baie ontstel? Doen jou bes om die vrede te behou. Sê vir Jehovah hoe jy voel. Vra hom om die persoon te seën wat jou seergemaak het. En vra hom ook om jou te help om die goeie eienskappe in daardie persoon raak te sien – die einste eienskappe wat Jehovah liefhet (Luk. 6:28). As jy die saak nie kan oorsien nie, dink aan wat die beste manier is om met die persoon daaroor te praat. Dit is altyd beter om aan te neem dat die broer jou nooit aspris sou seermaak nie (Matt. 5:23, 24; 1 Kor. 13:7). Wanneer jy met hom gaan praat, moet jy nie aanneem dat hy slegte bedoelings gehad het nie. Maar wat as hy nie vrede wil maak nie? “Hou aan om [hom] te verdra.” Wees geduldig met jou broer. (Lees Kolossense 3:13.) En nog belangriker, moenie vir jou broer kwaad bly nie, want dit kan jou vriendskap met Jehovah beskadig. Moenie toelaat dat enige iets jou laat struikel nie. Dan sal jy bewys dat jou liefde vir Jehovah sterker is as enige iets anders. – Ps. 119:165.

16. Watter verantwoordelikheid het elkeen van ons?

16 Ons is baie dankbaar dat ons Jehovah as “een kudde onder een herder” saam met ons broers en susters kan dien! (Joh. 10:16). Bladsy 167 van die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen sê: “Omdat hierdie eenheid jou help, het jy die verantwoordelikheid om dit te beskerm.” Daarom moet ons “voortdurend daaraan werk om ons broers en susters te beskou soos Jehovah hulle beskou”. Vir Jehovah is ons almal kosbare “kleintjies”. Is dit hoe jy jou broers en susters sien? Jehovah sien en waardeer alles wat jy doen om hulle te help en om vir hulle te sorg. – Matt. 10:42.

17. Wat is ons vasbeslote om te doen?

17 Ons is lief vir ons broers en susters. Daarom is ons “vasbeslote . . . om nie iets in ’n broer se pad te sit wat hom kan laat struikel of laat val nie” (Rom. 14:13). Ons beskou ons broers en susters as hoër as onsself, en ons wil hulle uit die hart vergewe. Ons wil seker maak dat ons nooit toelaat dat ons deur ander gestruikel word nie. Laat ons eerder “alles moontlik doen om vrede te bevorder en mekaar op te bou”. – Rom. 14:19.

LIED 130 Wees vergewensgesind

^ par. 5 Omdat ons onvolmaak is, doen en sê ons soms dinge wat ons broers en susters seermaak. Hoe reageer ons? Doen ons ons bes om weer vrede te maak? Is ons gou om jammer te sê? Of dink ons dat dit hulle probleem is en nie ons s’n nie? Of sê nou ons word maklik ontstel deur die woorde en dade van ander? Sê ons vir onsself: ‘Dit is maar net wie ek is’? Of besef ons dat dit ’n swakheid is waaraan ons moet werk?

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster is kwaad vir ’n ander suster in die gemeente. Nadat die twee die saak alleen uitpraat, vergeet hulle daarvan en dien hulle gelukkig saam.