Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 27

Hoekom moet ons Jehovah vrees?

Hoekom moet ons Jehovah vrees?

“Hegte vriendskap met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.” – PS. 25:14.

LIED 8 Jehovah is ons toevlug

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Wat moet ons doen as ons ’n sterk vriendskap met Jehovah wil hê volgens Psalm 25:14?

 WATTER eienskappe dink jy is baie belangrik as jy jou vriendskap met iemand wil sterk hou? Jy sal heel moontlik sê dat goeie vriende mekaar moet liefhê en ondersteun. Jy sal seker nie dink dat vrees ’n belangrike eienskap is vir ’n goeie vriendskap nie. Maar soos die temateks vir hierdie artikel sê, moet dié wat ’n sterk vriendskap met Jehovah wil hê, “hom vrees”. – Lees Psalm 25:14.

2 Maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie, ons almal moet ’n gesonde vrees vir hom behou. Maar wat beteken dit om God te vrees? Hoe kan ons leer om Jehovah te vrees? En wat kan ons by die bestuurder Obadja, die hoëpriester Jojada en koning Joas leer oor die vrees vir God?

WAT BETEKEN DIT OM GOD TE VREES?

3. Verduidelik hoe vrees ons kan beskerm.

3 Ons ondervind dalk vrees as ons dink dat ons op die een of ander manier kan seerkry. Hierdie soort vrees kan gesond wees en kan ons motiveer om wys op te tree. Die vrees om te val, keer dat ons te na aan die rand van ’n afgrond loop. Die vrees om seer te kry, kan ons laat weghardloop van ’n gevaarlike situasie. Die vrees dat ons ons vriendskap met iemand vir wie ons lief is, kan beskadig, keer dat ons iets sê of doen wat nie liefdevol is nie.

4. Watter soort vrees wil Satan hê moet ons vir Jehovah hê?

4 Satan wil hê dat mense ’n ongesonde vrees vir Jehovah moet hê. Satan wil hê dat ons moet glo wat Elifas geglo het – dat Jehovah altyd kwaad is en ons wil straf en dat ons hom nooit gelukkig kan maak nie (Job 4:18, 19). Satan wil hê dat ons so bang vir Jehovah moet word dat ons Hom ophou dien. Om daardie strik te vermy, moet ons ’n gesonde vrees vir God ontwikkel.

5. Wat beteken dit om God te vrees?

5 Iemand wat ’n gesonde vrees vir God het, is lief vir Hom en wil nie enige iets doen wat sy verhouding met Hom sal beskadig nie. Jesus het sulke vrees vir God gehad (Heb. 5:7). Hy was nie doodbang vir Jehovah nie (Jes. 11:2, 3). Hy was eerder baie lief vir hom en wou aan hom gehoorsaam wees (Joh. 14:21, 31). Soos Jesus het ons diep respek en ontsag vir Jehovah omdat Hy liefdevol, wys, regverdig en kragtig is. Ons weet ook dat Jehovah baie lief is vir ons en dat die manier hoe ons op sy leiding reageer, ’n uitwerking op hom het. Ons kan Jehovah hartseer maak of ons kan sy hart bly maak. – Ps. 78:41; Spr. 27:11.

LEER OM GOD TE VREES

6. Wat is een manier hoe ons kan leer om God te vrees? (Psalm 34:11)

6 Ons word nie gebore met ’n vrees vir Jehovah nie; ons moet dit ontwikkel. (Lees Psalm 34:11.) Een manier hoe ons dit kan doen, is deur die skepping te ondersoek. Hoe meer ons God se wysheid, sy krag en sy diep liefde vir ons sien “in die dinge wat gemaak is”, hoe dieper sal ons respek en liefde vir hom wees (Rom. 1:20). ’n Suster met die naam Adrienne het gesê: “Wanneer ek kyk na alles wat Jehovah gemaak het en sien hoe wys Jehovah is, beïndruk dit my en help dit my om te besef dat hy weet wat die beste is vir my.” Sy het gereeld hieroor nagedink, en daarom het sy gesê: “Ek wil nie enige iets doen wat my verhouding met Jehovah, die Bron van my lewe, sal benadeel nie.” Kan jy hierdie week tyd opsysit om na te dink oor ’n aspek van die skepping? As jy dit doen, sal dit jou respek en liefde vir Jehovah vergroot. – Ps. 111:2, 3.

7. Hoe kan gebed ons help om ’n gesonde vrees vir Jehovah te ontwikkel?

7 Nog ’n manier hoe ons ons vrees vir God kan ontwikkel, is deur gereeld te bid. Hoe meer ons bid, hoe werkliker word Jehovah vir ons. Elke keer dat ons hom vra vir die krag om ’n moeilike tyd te verduur, word ons herinner aan sy wonderlike krag. Wanneer ons vir hom dankie sê vir die geskenk van sy Seun, herinner ons onsself aan Jehovah se liefde vir ons. En wanneer ons Jehovah smeek om ons te help met ’n probleem, onthou ons dat hy baie wys is. Sulke gebede vergroot ons respek vir Jehovah. En dit maak ons meer vasbeslote om nie enige iets te doen wat ons vriendskap met hom sal beskadig nie.

8. Wat kan ons doen om ons vrees vir God te behou?

8 Ons kan ons vrees vir God behou deur die Bybel te studeer met die doelwit om uit die goeie en die slegte voorbeelde daarin te leer. Kom ons bespreek twee getroue knegte van Jehovah – Obadja, die bestuurder van koning Agab se huishouding, en die hoëpriester Jojada. Dan sal ons sien wat ons kan leer by koning Joas van Juda, wat goed begin het maar Jehovah later verlaat het.

WEES MOEDIG SOOS OBADJA

9. Hoe het vrees vir Jehovah Obadja gehelp? (1 Konings 18:3, 12)

9 Die Bybel stel ons voor aan Obadja b met die woorde: “Obadja het groot vrees vir Jehovah gehad.” (Lees 1 Konings 18:3, 12.) Hoe het hierdie gesonde vrees Obadja gehelp? Om maar een ding te noem, dit het hom eerlik en betroubaar gemaak, en daarom het die koning hom aangestel oor die koninklike huishouding. (Vergelyk Nehemia 7:2.) Obadja se vrees vir God het hom ook buitengewone moed gegee – ’n eienskap wat hy beslis nodig gehad het. Hy het gelewe gedurende die heerskappy van goddelose koning Agab, wat “slegter [was] in die oë van Jehovah as [al die konings] wat voor hom was” (1 Kon. 16:30). En Agab se vrou, Isebel, wat Baäl aanbid het, het Jehovah so baie gehaat dat sy ware aanbidding in die noordelike koninkryk probeer uitwis het. Sy het selfs baie van God se profete doodgemaak (1 Kon. 18:4). Obadja het Jehovah beslis gedurende ’n moeilike tyd aanbid.

10. Hoe het Obadja buitengewone moed getoon?

10 Hoe het Obadja buitengewone moed getoon? Toe Isebel God se profete begin soek om hulle dood te maak, het Obadja 100 van hulle geneem en “50 in ’n grot [weggesteek] en . . . hulle van kos en water bly voorsien” (1 Kon. 18:13, 14). As Isebel uitgevind het wat die moedige Obadja gedoen het, sou sy hom beslis laat doodmaak het. Obadja was natuurlik maar net ’n mens, en hy wou nie doodgaan nie. Maar Obadja was liewer vir Jehovah en dié wat Hom gedien het as vir sy eie lewe.

Al is ons werk verbied, lewer ’n broer moedig Bybellektuur by ander broers en susters af (Sien paragraaf 11) c

11. Hoe is Jehovah se knegte van vandag soos Obadja? (Sien ook prent.)

11 Vandag bly baie van Jehovah se knegte in lande waar ons werk verbied is. Hulle respekteer die sekulêre owerhede, maar soos Obadja gee hierdie kosbare broers en susters aan Jehovah wat aan hom behoort – uitsluitlike toegewydheid (Matt. 22:21). Hulle wys hulle vrees vir God deur aan hom gehoorsaam te wees eerder as aan mense (Hand. 5:29). Hulle doen dit deur aan te hou om die goeie nuus te verkondig en deur in die geheim bymekaar te kom (Matt. 10:16, 28). Hulle probeer seker maak dat hulle broers en susters die geestelike kos het wat hulle nodig het. Kyk na die voorbeeld van Henri, wat in ’n Afrikaland bly waar ons werk vir ’n ruk verbied was. Gedurende die verbod het Henri aangebied om Bybellektuur by sy broers en susters af te lewer. Hy het geskryf: “Ek is van nature ’n skaam persoon. So ek is oortuig dat my diep respek vir Jehovah my die moed gegee het wat ek nodig gehad het.” Dink jy dat jy so moedig soos Henri kan wees? Jy kan as jy ’n gesonde vrees vir God ontwikkel.

WEES LOJAAL SOOS DIE HOËPRIESTER JOJADA

12. Hoe het die hoëpriester Jojada en sy vrou gewys dat hulle lojaal is aan Jehovah?

12 Die hoëpriester Jojada het Jehovah gevrees, en daardie vrees het hom gemotiveer om lojaal te wees en ware aanbidding te bevorder. Dit was duidelik toe Isebel se dogter, Atalia, die troon in Juda onwettig oorgeneem het. Die volk het goeie rede gehad om bang te wees vir Atalia. Sy was baie wreed en so gierig vir mag dat sy die hele koninklike lyn – haar eie kleinseuns – probeer vermoor het! (2 Kron. 22:10, 11). Een van daardie kinders – Joas – het oorleef omdat Jojada se vrou, Josabat, hom gered het. Sy en haar man het die kind weggesteek en vir hom gesorg. Op hierdie manier het Jojada en Josabat seker gemaak dat iemand uit Dawid se familie sou oorleef wat die koning kon word. Jojada was lojaal aan Jehovah en was glad nie bang vir Atalia nie. – Spr. 29:25.

13. Hoe het Jojada weer gewys dat hy lojaal is toe Joas sewe jaar oud was?

13 Toe Joas sewe jaar oud was, het Jojada weer gewys dat hy lojaal is aan Jehovah. Hy het ’n plan gemaak. As dit suksesvol was, sou Joas koning word, Dawid se regmatige erfgenaam. Maar as die plan misluk het, sou Jojada amper sekerlik sy lewe verloor. Met Jehovah se seën was die plan suksesvol. Jojada, wat ondersteun was deur die hoofmanne en die Leviete, het Joas koning gemaak en Atalia laat doodmaak (2 Kron. 23:1-5, 11, 12, 15; 24:1). Toe het Jojada “’n verbond gemaak tussen Jehovah en die koning en die volk. Hulle het belowe dat hulle sal voortgaan om die volk van Jehovah te wees” (2 Kon. 11:17). Jojada het “ook die poortwagters by die poorte van die huis van Jehovah laat staan om te keer dat enigiemand wat onrein is, inkom”. – 2 Kron. 23:19.

14. Op watter maniere was Jojada geëer omdat hy Jehovah geëer het?

14 Jehovah het vroeër gesê: “Dié wat my eer, sal ek eer.” Ja, hy het Jojada beloon (1 Sam. 2:30). Byvoorbeeld, hy het die goeie dinge wat die hoëpriester gedoen het, laat neerskryf sodat ons daaruit kan leer (Rom. 15:4). En toe Jojada gesterf het, is hy die spesiale eer gegee om begrawe te word “in die Stad van Dawid by die konings . . . want hy het goeie dinge in Israel gedoen vir die ware God en Sy huis”. – 2 Kron. 24:15, 16.

Soos die hoëpriester Jojada, mag ons deur vrees vir God gemotiveer word om ons broers lojaal te help (Sien paragraaf 15) d

15. Wat kan ons leer uit die verslag van Jojada? (Sien ook prent.)

15 Die verslag van Jojada kan ons almal help om vrees vir God te ontwikkel. Christenopsieners kan Jojada navolg deur wakker te bly en deur God se kudde lojaal te beskerm (Hand. 20:28). Ouer persone kan by Jojada leer dat Jehovah hulle kan gebruik om Sy doel te bereik as hulle Jehovah vrees en lojaal bly. Hy skryf hulle nie af nie. Jongmense kan leer uit hoe Jehovah Jojada behandel het en Hom navolg deur lojale ouer persone met waardigheid en respek te behandel, veral dié wat Jehovah al baie lank getrou dien (Spr. 16:31). Laastens, ons almal kan ’n les leer by die hoofmanne en die Leviete wat Jojada ondersteun het. Laat ons “dié wat die leiding . . . neem” lojaal ondersteun deur gehoorsaam te wees aan hulle. – Heb. 13:17.

MOENIE SOOS KONING JOAS WEES NIE

16. Wat wys dat koning Joas swak was?

16 Koning Joas het baat gevind by die goeie invloed van Jojada (2 Kon. 12:2). As gevolg daarvan wou die jong koning Jehovah gelukkig maak. Maar nadat Jojada dood is, het Joas na afvallige leiers geluister. Wat was die gevolg? Hy en sy onderdane “het die heilige pale en die afgode begin dien” (2 Kron. 24:4, 17, 18). Jehovah was baie seergemaak, maar hy “het aangehou om profete na hulle toe te stuur om hulle na hom te laat terugkeer . . . maar hulle wou nie luister nie”. Hulle het nie eens geluister na Jojada se seun Sagaria nie, wat nie net Jehovah se profeet en priester was nie, maar ook Joas se neef. Om die waarheid te sê, koning Joas het Sagaria laat doodmaak sonder enige dankbaarheid vir die familie wat so baie vir hom gedoen het. – 2 Kron. 22:11; 24:19-22.

17. Hoe het dinge vir Joas uitgedraai?

17 Joas het nie ’n gesonde vrees vir Jehovah behou nie, en dinge het sleg vir hom uitgedraai. Jehovah het gesê: “Dié wat geen respek vir my het nie, sal sonder respek behandel word” (1 Sam. 2:30). ’n Klein Siriese leërmag het Joas se “groot leërmag” later oorwin en hom “ernstig gewond”. Nadat die Siriërs weg is, is Joas deur sy eie knegte doodgemaak omdat hy Sagaria doodgemaak het. Mense het gedink dat hierdie koning so goddeloos was dat hulle hom nie eers “in die grafte van die konings” begrawe het nie. – 2 Kron. 24:23-25; sien die studienota “son of Barachiah” vir Matteus 23:35 in die Engelse Studiebybel.

18. Hoe kan ons dit vermy om soos Joas te word volgens Jeremia 17:7, 8?

18 Wat kan ons uit die voorbeeld van Joas leer? Hy was soos ’n boom met vlak wortels wat afhanklik was van die ondersteuning van ’n paal. Toe die paal – Jojada – nie meer daar was nie en die winde van afvalligheid gewaai het, het Joas omgewaai. Hierdie kragtige illustrasie wys dat ons vrees vir God nie net moet afhang van die goeie invloed van ander Christene, insluitende familielede, nie. Om geestelik sterk te bly, moet ons ons eie toegewydheid aan God en ons vrees vir hom versterk deur gereelde studie, bepeinsing en gebed. – Lees Jeremia 17:7, 8; Kol. 2:6, 7.

19. Wat vra Jehovah van ons?

19 Jehovah vra nie eintlik baie van ons nie. Wat hy vra, word opgesom in Prediker 12:13, wat sê: “Vrees die ware God en gehoorsaam sy gebooie, want dit is die hele verpligting van die mens.” Wanneer ons God vrees, sal ons lojaal aan Jehovah kan bly maak nie saak wat in die toekoms gebeur nie, net soos Obadja en Jojada. Niks sal ons vriendskap met Jehovah kan beskadig nie.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

a Die woord “vrees”, soos dit in die Bybel gebruik word, het ’n breë betekenis. Afhangende van die konteks kan dit verwys na angs, respek of ontsag. Hierdie artikel sal ons help om die tipe vrees te ontwikkel wat ons kan motiveer om moedig en lojaal in ons diens aan ons hemelse Vader te wees.

b Hierdie Obadja is nie die profeet Obadja, wat eeue later gelewe het en wat die Bybelboek met daardie naam geskryf het nie.

c BESKRYWING VAN PRENTE: In hierdie prent lewer ’n broer Bybellektuur af terwyl die werk verbied is.

d BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Jonger suster leer by ’n ouer suster hoe om telefoongetuieniswerk te doen; ’n ouer broer is moedig deur aan die openbare getuieniswerk deel te neem; ’n ervare broer lei ander op om Koninkryksale in stand te hou.