Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 28

Hou aan om baat te vind by vrees vir God

Hou aan om baat te vind by vrees vir God

“Iemand wat reg lewe, vrees Jehovah.” – SPR. 14:2.

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Watter uitdaging ondervind Christene vandag, net soos Lot?

 WANNEER dit by sedelike standaarde kom wat deur hierdie wêreld bevorder word, voel ons soos die regverdige Lot gevoel het. Hy was “baie ontsteld . . . oor die skaamtelose gedrag van die wettelose mense” omdat hy geweet het dat ons hemelse Vader slegte gedrag haat (2 Pet. 2:7, 8). Vrees vir God en liefde vir hom het Lot gemotiveer om die lae sedelike standaarde van die mense rondom hom, te verwerp. Ons is ook omring deur mense wat min of geen respek vir Jehovah se sedelike standaarde het nie. Ten spyte daarvan kan ons sedelik rein bly as ons ons liefde vir God behou en ’n gesonde vrees vir hom ontwikkel. – Spr. 14:2.

2 Om ons daarmee te help, gee Jehovah liefdevolle aanmoediging en motivering deur middel van die boek Spreuke. Alle Christene, mans en vrouens, jonk en oud, kan regtig daarby baat vind as hulle die wyse raad daarin ondersoek.

VREES VIR GOD BESKERM ONS

By ons werk moet ons ongepaste vriendskappe vermy en nee sê vir uitnodigings om dinge te doen wat Jehovah ongelukkig sal maak (Sien paragraaf 3)

3. Wat is een rede hoekom ons ons hart moet beskerm volgens Spreuke 17:3? (Sien ook prent.)

3 ’n Belangrike rede hoekom ons ons figuurlike hart moet beskerm, is die feit dat Jehovah ons hart ondersoek. Dit beteken dat hy meer sien as wat ander kan sien en weet watter soort persoon ons regtig is. (Lees Spreuke 17:3.) Hy sal lief wees vir ons as ons ons verstand vul met sy lewegewende wysheid (Joh. 4:14). Deur dit te doen, sal daar nie plek wees vir die sedelike en geestelike gif wat van Satan en sy wêreld kom nie (1 Joh. 5:18, 19). Terwyl ons nader aan Jehovah kom, sal ons liefde en respek vir hom groei. Omdat ons nie ons Vader wil seermaak nie, sal ons selfs net die gedagte om te sondig, haat. Wanneer ons in die versoeking kom om iets verkeerds te doen, sal ons vra: ‘Hoe kan ek Iemand wat so baie liefde aan my betoon het, aspris seermaak?’ – 1 Joh. 4:9, 10.

4. Hoe het vrees vir Jehovah ’n suster beskerm teen die versoeking om iets verkeerds te doen?

4 Marta, ’n suster in Kroasië wat in die versoeking gekom het om onsedelik te wees, het geskryf: “Dit was vir my moeilik om reguit te dink en teen die begeerte te veg om iets verkeerds te doen. Maar vrees vir Jehovah het my beskerm.” b Hoe het vrees vir God dit gedoen? Marta het gesê dat sy nagedink het oor die gevolge van ’n slegte besluit. Ons kan dieselfde doen. Die ergste gevolg is dat ons Jehovah sal hartseer maak en nie die geleentheid sal hê om hom vir ewig te aanbid nie. – Gen. 6:5, 6.

5. Wat kan jy uit Leo se ondervinding leer?

5 Wanneer ons Jehovah vrees, is ons versigtig om nie verskonings te maak vir slegte gedrag nie. Leo, wat in Kongo bly, het daardie les geleer. Vier jaar ná sy doop het hy vriende gemaak met mense wat slegte dinge gedoen het. Hy het gedink dat dit nie verkeerd is nie solank hy nie self slegte dinge gedoen het nie. Maar kort voor lank het sy slegte vriende hom beïnvloed om alkohol te misbruik en om onsedelik te wees. Hy het toe begin dink aan wat sy Christenouers hom geleer het en aan die geluk wat hy verloor het. Wat was die gevolg? Hy het tot sy sinne gekom. Hy het met die hulp van die ouermanne na Jehovah teruggekeer. Vandag is hy gelukkig en dien hy as ’n ouerman en ’n spesiale pionier.

6. Watter twee figuurlike persone sal ons nou bespreek?

6 Kom ons kyk na Spreuke hoofstuk 9, waar ons lees oor wysheid en dwaasheid, wat as twee persone uitgebeeld word. (Vergelyk Romeine 5:14; Galasiërs 4:24.) Terwyl ons dit doen, moet ons onthou dat Satan se wêreld ’n obsessie het met onsedelike seks en pornografie (Ef. 4:19). Daarom is dit baie belangrik dat ons aanhou om vrees vir God te ontwikkel en om slegte dinge te vermy (Spr. 16:6). So almal van ons, of ons nou mans of vrouens is, kan by hierdie hoofstuk baat vind. Daar word gesê dat elkeen van hierdie persone ’n uitnodiging gee aan die onervarenes – die “wat onverstandig is”. Elkeen sê as ‘t ware: ‘Kom na my huis toe en kom eet ’n maaltyd’ (Spr. 9:1, 5, 6, 13, 16, 17). Maar daar is ’n groot verskil in die gevolge wat elke uitnodiging het.

VERWERP DIE UITNODIGING VAN DIE DWASE VROU

Die “dwase vrou” gee ’n uitnodiging wat tragiese gevolge kan hê (Sien paragraaf 7)

7. Waarheen lei een van die uitnodigings volgens Spreuke 9:13-18? (Sien ook prent.)

7 Lees die uitnodiging van die “dwase vrou”. (Lees Spreuke 9:13-18.) Sy roep hard uit na dié wat onverstandig is en sê: ‘Kom hierheen’ en eet ’n maaltyd. Met watter gevolg? “Dié wat magteloos is in die dood [is] by haar.” Jy onthou dalk soortgelyke figuurlike taal vroeër in Spreuke. Ons word gewaarsku teen “die slegte” en die “onsedelike vrou”. Daar word vir ons gesê: “Haar huis lei na die dood” (Spr. 2:11-19). Spreuke 5:3-10 bevat ’n waarskuwing oor nog ’n “slegte vrou” en haar “voete gaan af na die dood”.

8. Watter besluit moet ons maak?

8 Dié wat die “dwase vrou” hoor, moet ’n besluit maak: Sal hulle haar uitnodiging aanvaar of dit verwerp? Ons moet dalk ook so ’n besluit maak. Wat sal ons doen as iemand ons probeer kry om iets onsedeliks te doen of as ons skielik pornografiese beelde in die media of op die internet sien?

9-10. Wat is ’n paar redes hoekom ons seksueel onsedelike gedrag moet vermy?

9 Daar is baie goeie redes hoekom ons seksueel onsedelike gedrag moet vermy. Daar word gesê dat die “dwase vrou” sê: “Gesteelde waters is soet.” Wat is “gesteelde waters”? Die Bybel vergelyk seks tussen ’n getroude man en vrou met verfrissende water (Spr. 5:15-18). ’n Man en vrou wat wettig getroud is, mag seks met mekaar geniet. Maar dit is so anders met “gesteelde waters”. Dit kan verwys na verbode, onsedelike seks. Dit gebeur dikwels in die geheim, net soos ’n dief dikwels in die geheim steel. Die “gesteelde waters” lyk dalk veral soet as dié wat betrokke is, voel dat hulle wegkom met hulle verkeerde dade. Maar hulle bedrieg hulleself, want Jehovah sien alles! Niks kan bitterder wees as om sy goedkeuring te verloor nie, so daar is niks ‘soets’ aan daardie tragiese verlies nie (1 Kor. 6:9, 10). Maar daar is meer.

10 Seksuele onsedelikheid kan jou skaam en waardeloos laat voel en kan tot ongewenste swangerskappe en gebroke families lei. Dit is duidelik dat dit wys is om die dwase vrou se “huis” en die maaltyd te vermy. Dit lei nie net tot geestelike dood nie, maar baie onsedelike mense kry siektes wat hulle dood kan veroorsaak (Spr. 7:23, 26). Vers 18 van hoofstuk 9 sluit af met die woorde: “Haar gaste [is] in die dieptes van die Graf.” So hoekom aanvaar baie mense haar bedrieglike uitnodiging wat tot die dood lei? – Spr. 9:13-18.

11. Hoekom is dit baie skadelik om na pornografie te kyk?

11 Pornografie is ’n algemene strik. Party dink dat dit onskadelik is om na pornografie te kyk. Maar pornografie is skadelik, vernederend en verslawend. Onsedelike beelde sit in jou gedagtes vas; dit is moeilik om te vergeet. En pornografie maak nie verkeerde begeertes dood nie; dit maak dit sterker (Kol. 3:5; Jak. 1:14, 15). Ja, baie wat na pornografie kyk, begin onsedelike dinge doen.

12. Hoe wys ons dat ons probeer om beelde te vermy wat onsedelike gedagtes by ons laat opkom?

12 Wat moet ons as Christene doen as ’n pornografiese beeld op ons elektroniese toestel verskyn? Ons moet onmiddellik ophou om daarna te kyk. Dit sal vir ons makliker wees om dit te doen as ons onthou dat ons verhouding met Jehovah ons kosbaarste besitting is. Selfs party beelde wat nie pornografies is nie, kan onsedelike gedagtes by ons laat opkom. Hoekom moet ons dit vermy? Omdat ons nie eers iets kleins wil doen wat kan veroorsaak dat ons in ons hart egbreuk pleeg nie (Matt. 5:28, 29). ’n Ouerman in Thailand met die naam David sê: “Ek vra my af: ‘Selfs al is die beelde dalk nie pornografies nie, sal dit Jehovah gelukkig maak as ek aanhou om daarna te kyk?’ Om so te redeneer, help my om wys op te tree.”

13. Wat help ons om wys op te tree?

13 Ons word gehelp om wys op te tree deur ’n gesonde vrees te ontwikkel om iets te doen wat Jehovah sal seermaak. Vrees vir God is “die begin van wysheid” (Spr. 9:10). Ons sien dit aan die begin van Spreuke hoofstuk 9 waar “ware wysheid” met ’n ander persoon vergelyk word.

AANVAAR DIE UITNODIGING VAN “WARE WYSHEID”

14. Van watter ander uitnodiging praat Spreuke 9:1-6?

14 Lees Spreuke 9:1-6. Hier lees ons oor ’n uitnodiging van Jehovah, wat ons Skepper en die bron van alle wysheid is (Spr. 2:6; Rom. 16:27). In hierdie geval lees ons van ’n groot huis met sewe pilare. Dit wys dat Jehovah vrygewig is en dat hy almal verwelkom wat sy wysheid in hulle lewe wil toepas.

15. Wat nooi God ons om te doen?

15 Jehovah is ’n vrygewige, oorvloedige Voorsiener. Hierdie eienskappe word in “ware wysheid” gesien, wat in Spreuke hoofstuk 9 as ’n man uitgebeeld word. Die verslag noem dat hierdie figuurlike man sy vleis voorberei het, sy wyn gemeng het en sy tafel in sy huis gedek het (Spr. 9:2). Volgens vers 4 en 5 doen hy nog iets: “Hy [ware wysheid] sê vir die een wat onverstandig is: ‘Kom, eet my brood.’” Hoekom moet ons na die huis van ware wysheid gaan en die maaltyd eet wat hy aanbied? Jehovah wil hê dat sy kinders wys en veilig moet wees. Hy wil nie hê dat ons lewenslesse op die harde manier – deur bitter ondervindinge en dinge waaroor ons altyd spyt sal wees – moet leer nie. Dit is hoekom “hy . . . praktiese wysheid as ’n skat [bewaar] vir dié wat reg lewe” (Spr. 2:7). Wanneer ons ’n gesonde vrees vir Jehovah het, sal ons hom gelukkig wil maak. Ons hoor sy wyse raad, en ons pas dit graag toe. – Jak. 1:25.

16. Hoe het vrees vir God Alain gehelp om ’n wyse besluit te maak, en wat was die gevolg?

16 Kyk hoe vrees vir God Alain gehelp het om ’n wyse besluit te maak. Hierdie Christenouerman en skoolonderwyser het vertel: “Baie van my kollegas het pornografiese films beskou as ’n vorm van seksopvoeding.” Maar Alain was nie bedrieg nie. Hy het gesê: “As gevolg van my vrees vir God, het ek ferm geweier om na daardie films te kyk. Ek het ook vir my kollegas verduidelik hoekom ek daardie besluit gemaak het.” Hy het die raad van “ware wysheid” toegepas om “vorentoe [te gaan] op die weg van verstandigheid” (Spr. 9:6). Party van Alain se kollegas was beïndruk met sy ferm standpunt, en nou studeer hulle die Bybel en woon hulle Christelike vergaderinge by.

Die uitnodiging van “ware wysheid” kan tot die lewe lei (Sien paragraaf 17-18)

17-18. Watter seëninge geniet dié wat die uitnodiging aanvaar van “ware wysheid”, en waarna kan hulle uitsien? (Sien ook prent.)

17 Jehovah gebruik die voorbeelde van hierdie twee persone om vir ons te wys hoe om ’n gelukkige toekoms te hê. Dié wat die uitnodiging aanvaar van die “dwase vrou” wat hard uitroep, fokus daarop om die “soet” geheime plesiertjies te geniet. Maar hulle lewe vir die oomblik en ignoreer die toekoms. Hulle uiteinde is in “die dieptes van die Graf”. – Spr. 9:13, 17, 18.

18 Dit is baie anders vir dié wat die uitnodiging van “ware wysheid” aanvaar! Sy gaste geniet nou ’n feesmaal van gesonde, goed voorbereide geestelike disse (Jes. 65:13). Jehovah sê deur die profeet Jesaja: “Luister aandagtig na my, en eet wat goed is, en julle sal geniet wat werklik voedsaam is” (Jes. 55:1, 2). Ons leer om lief te wees vir die dinge waarvoor Jehovah lief is en om te haat wat hy haat (Ps. 97:10). En ons is gelukkig omdat ons ander kan nooi om baat te vind by “ware wysheid”. Dit is asof ons “op die hoogtes van die stad [uitroep]: ‘Laat enigiemand wat onervare is, hierheen kom.’” Die voordele vir ons en vir dié wat na ons luister, is nie net vir die hier en nou nie. Dit sal vir ewig hou en ons toelaat om vir ewig te “lewe” terwyl ons “vorentoe [gaan] op die weg van verstandigheid”. – Spr. 9:3, 4, 6.

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen volgens Prediker 12:13, 14? (Sien ook die venster “ Ons vind baat by vrees vir God”.)

19 Lees Prediker 12:13, 14. Mag vrees vir God aanhou om ons hart te beskerm en ons help om sedelik en geestelik rein te bly gedurende hierdie goddelose laaste dae. Daardie gesonde vrees sal ons motiveer om aan te hou om soveel as moontlik te nooi om “ware wysheid” te soek en daarby baat te vind.

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

a Christene wil ’n gesonde vrees vir God ontwikkel. Sulke vrees kan ons hart beskerm en ons teen seksuele onsedelikheid en pornografie beskerm. In hierdie artikel sal ons na Spreuke hoofstuk 9 kyk, wat ’n duidelike verskil wys tussen wysheid en dwaasheid deur twee figuurlike persone te gebruik. Hierdie hoofstuk kan ons nou en in die toekoms help.

b Party name is verander.