STUDIEARTIKEL 26
Hou julle gereed vir Jehovah se dag
“Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag.” – 1 TESS. 5:2.
LIED 143 Hou aan waak, bly wakker en ywerig
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Wat moet ons doen om Jehovah se dag te oorleef?
WANNEER die Bybel van “Jehovah se dag” praat, verwys dit na die tyd wanneer Jehovah sy vyande oordeel en sy volk red. In die verlede het Jehovah party nasies gestraf (Jes. 13:1, 6; Eseg. 13:5; Sef. 1:8). In ons tyd begin “Jehovah se dag” met die aanval op Babilon die Grote, en dit bereik ’n klimaks gedurende die oorlog van Armageddon. Om daardie “dag” te oorleef, moet ons nou voorberei. Jesus het gesê dat ons ons nie net gereed moet maak vir die “groot verdrukking” nie, maar ook dat ons ons ‘gereed moet hou’ daarvoor. – Matt. 24:21; Luk. 12:40.
2. Hoekom kan 1 Tessalonisense ons help?
2 In sy eerste geïnspireerde brief aan die Tessalonisense het die apostel Paulus ’n hele paar illustrasies gebruik om Christene te help om hulle gereed te hou vir Jehovah se groot dag van oordeel. Paulus het geweet dat Jehovah se dag nie gedurende daardie tyd sou kom nie (2 Tess. 2:1-3). Maar hy het sy broers aangemoedig om vir daardie dag voor te berei asof dit môre gaan kom, en ons kan ook sy raad toepas. Kom ons bespreek sy verduideliking oor die volgende: (1) hoe Jehovah se dag sou kom, (2) wie daardie dag nie sou oorleef nie en (3) hoe ons kan voorberei om te oorleef.
HOE SAL JEHOVAH SE DAG KOM?
3. Hoe kom Jehovah se dag soos ’n dief in die nag? (Sien ook prent.)
3 “Soos ’n dief in die nag” (1 Tess. 5:2). Dit is die eerste van drie vergelykings wat gebruik is om die koms van Jehovah se dag te beskryf. Diewe tree gewoonlik vinnig en in die donker op wanneer mense hulle nie verwag nie. Jehovah se dag sal ook skielik kom, en dit sal die meeste mense onkant vang. Selfs ware Christene sal dalk verbaas wees deur hoe vinnig dinge gebeur. Maar anders as die goddeloses, sal ons nie vernietig word nie.
4. Hoe is Jehovah se dag soos geboortepyne?
4 “Soos geboortepyne oor ’n swanger vrou” (1 Tess. 5:3). ’n Swanger ma kan nie sê presies wanneer sy geboorte sal gee nie. Maar sy twyfel nie dat dit gaan gebeur nie. Wanneer sy geboorte gee, sal dit heel moontlik skielik, pynlik en onkeerbaar wees. Net so weet ons nie wat die dag en uur is wanneer Jehovah se dag sal begin nie. Maar ons is seker dat dit kom en dat God se oordeel oor die goddeloses skielik sal wees en dat hulle dit nie sal kan vryspring nie.
5. Hoe is die groot verdrukking soos die begin van ’n nuwe dag?
5 Soos die begin van ’n nuwe dag. Paulus se derde illustrasie verwys weer na diewe wat in die aand steel. Maar hierdie keer lyk dit asof Paulus Jehovah se dag vergelyk met die begin van ’n nuwe dag (1 Tess. 5:4). Diewe wat in die aand kom, kan so besig wees dat hulle nie besef hoeveel tyd verbygaan nie. Die lig van ’n nuwe dag kan hulle dalk onkant vang, en hulle kan dalk uitgevang word. Net so sal ons gedurende die groot verdrukking dié kan sien wat, soos diewe, in die donker bly en aanhou om dinge te doen wat God ongelukkig maak. Anders as hulle kan ons gereed wees deur nie dinge te doen wat Jehovah ongelukkig maak nie en deur “elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid” na te streef (Ef. 5:8-12). Paulus gebruik dan twee illustrasies wat met mekaar verband hou om dié te beskryf wat nie sal oorleef nie.
WIE SAL NIE JEHOVAH SE DAG OORLEEF NIE?
6. In watter sin is die meeste mense aan die slaap? (1 Tessalonisense 5:6, 7)
6 “Dié wat slaap.” (Lees 1 Tessalonisense 5:6, 7.) Paulus het dié wat nie Jehovah se dag sal oorleef nie vergelyk met mense wat aan die slaap is. Hulle is nie bewus van wat om hulle gebeur nie of dat tyd verbygaan nie. Daarom weet hulle nie wanneer iets belangriks gebeur nie en kan hulle nie daarop reageer nie. Vandag is die meeste mense in ’n geestelike sin aan die slaap (Rom. 11:8). Hulle glo nie die bewyse dat ons in “die laaste dae” lewe nie en dat die groot verdrukking binnekort sal kom nie. Groot wêreldgebeure kan party uit hulle geestelike slaap wakker maak en hulle motiveer om ’n bietjie belang te stel in ons Koninkryksboodskap. Maar baie gaan slaap weer eerder as om wakker te bly. Selfs party wat in ’n dag van oordeel glo, dink dat dit nog ver in die toekoms is (2 Pet. 3:3, 4). Maar ons besef dat die geïnspireerde raad om wakker te bly elke dag al hoe dringender word.
7. Hoe is dié wat God se woede gaan ondervind soos dronk mense?
7 “Dié wat dronk word.” Die apostel Paulus het dié wat God se woede gaan ondervind, vergelyk met mense wat dronk is. Mense wat dronk is, reageer stadig op dit wat om hulle gebeur, en hulle maak slegte besluite. Net so reageer die goddeloses nie op God se waarskuwings nie. Hulle kies ’n lewe wat tot hulle vernietiging lei. Maar daar word vir Christene gesê om helder, of nugter, van verstand te bly (1 Tess. 5:6). ’n Bybelgeleerde sê dat iemand wat helder van verstand bly, kalm bly en nie paniekerig raak nie. Hy kan reguit dink, en dit help hom om die regte besluit te maak. Hoekom moet ons kalm bly en reguit dink? Sodat ons nie betrokke raak by die politieke of sosiale kwessies van vandag nie. Die druk om kant te kies in hierdie sake sal sterker word soos wat Jehovah se dag nader kom. Maar ons hoef nie angstig te wees oor hoe ons sal reageer nie. God se gees kan ons help om kalm te wees en reguit te dink en om wyse besluite te maak. – Luk. 12:11, 12.
WAT KAN ONS DOEN OM VIR JEHOVAH SE DAG VOOR TE BEREI?
8. Hoe illustreer 1 Tessalonisense 5:8 die eienskappe wat ons sal help om wakker en helder van verstand te bly? (Sien ook prent.)
8 ‘Dra die borsplaat en die helm.’ Paulus vergelyk ons met soldate wat gereed en aangetrek is vir ’n geveg. (Lees 1 Tessalonisense 5:8.) Mense verwag dat ’n soldaat gereed moet wees om enige tyd te veg wanneer daar ’n oorlog is. Dit is dieselfde met ons. Ons bly gereed vir Jehovah se dag deur ’n borsplaat van geloof en liefde en ’n helm van hoop te dra. Hierdie eienskappe kan ons baie help.
9. Hoe beskerm ons geloof ons?
9 ’n Borsplaat het ’n soldaat se hart beskerm. Geloof en liefde beskerm ons figuurlike hart. Dit sal ons help om aan te hou om God te dien en om Jesus na te volg. Geloof verseker ons dat Jehovah ons sal beloon omdat ons hom met ons hele hart soek (Heb. 11:6). Dit sal ons motiveer om lojaal te bly aan ons Leier, Jesus, selfs as ons moeilike tye moet verduur. Ons kan ons geloof versterk sodat ons moeilike tye kan verduur deur te leer uit voorbeelde van broers en susters van vandag wat hulle integriteit behou het ten spyte van vervolging of finansiële probleme. En ons kan die strik van materialisme vermy deur dié na te volg wat hulle lewe vereenvoudig het om Koninkryksbelange eerste te stel. b
10. Hoe help liefde vir God en vir ons naaste ons om te volhard?
10 Liefde is ook baie belangrik as ons wakker wil bly en helder van verstand wil bly (Matt. 22:37-39). Liefde vir God help ons om in ons predikingswerk te volhard ten spyte van enige probleme wat dit dalk vir ons kan veroorsaak (2 Tim. 1:7, 8). Omdat ons lief is vir dié wat Jehovah nie dien nie, hou ons aan preek en om ons gebied te dek, selfs deur telefoongetuieniswerk te doen en deur briewe te skryf. Ons hou aan hoop dat ons naaste eendag sal verander en sal begin doen wat reg is. – Eseg. 18:27, 28.
11. Hoe help liefde vir ons broers en susters ons? (1 Tessalonisense 5:11)
11 Ons liefde vir ons naaste sluit ons broers en susters in. Ons wys sulke liefde deur “mekaar aan te moedig en mekaar op te bou”. (Lees 1 Tessalonisense 5:11.) Net soos soldate wat skouer aan skouer in ’n oorlog veg, moedig ons mekaar aan. Gedurende ’n oorlog kan ’n soldaat natuurlik ’n medesoldaat per ongeluk beseer, maar hy sal dit nooit aspris doen nie. Net so sal ons nooit ons broers en susters aspris seermaak nie of iets slegs aan hulle doen omdat hulle iets slegs aan ons gedoen het nie (1 Tess. 5:13, 15). Ons wys ook ons liefde deur die broers te respekteer wat die leiding in die gemeente neem (1 Tess. 5:12). Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was die gemeente in Tessalonika minder as ’n jaar oud. Die aangestelde manne daar was heel moontlik onervare en het dalk foute gemaak. Hulle het nogtans respek verdien. Soos die groot verdrukking nader kom, sal ons dalk selfs meer as nou op ons plaaslike ouermanne moet staatmaak vir riglyne. Ons verloor dalk kontak met die wêreldhoofkwartier en die takkantoor; daarom is dit belangrik om nou te leer om ons ouermanne lief te hê en te respekteer. Maak nie saak wat gebeur nie, kom ons bly helder van verstand deur nie op hulle onvolmaakthede te fokus nie, maar op die feit dat Jehovah hierdie getroue mans deur Christus lei.
12. Hoe beskerm ons hoop ons denke?
12 Net soos ’n helm ’n soldaat se kop beskerm het, beskerm ons hoop op redding ons denke. Met sterk hoop besef ons dat dit wat die wêreld aanbied, waardeloos is (Fil. 3:8). Ons hoop help ons om kalm te bly en reguit te dink. Dit was die geval met Wallace en Laurinda, wat in Afrika dien. Binne drie weke het elkeen van hulle ’n ouer in die dood verloor. As gevolg van die COVID-19-pandemie kon hulle nie teruggaan huis toe om by hulle families te wees nie. Wallace het geskryf: “Die opstandingshoop help my om aan hulle te dink, nie aan hoe hulle in hulle laaste dae in hierdie wêreld was nie, maar aan hoe hulle in hulle eerste dae van die nuwe wêreld sal wees. Hierdie hoop kalmeer my wanneer ek hartseer is of sukkel met gevoelens van verlies.”
13. Wat kan ons doen om heilige gees te ontvang?
13 “Moenie die vuur van die gees blus nie” (1 Tess. 5:19). Paulus het heilige gees vergelyk met ’n vuur wat binne-in ons is. Wanneer ons God se gees het, gloei ons van ywer en entoesiasme vir wat reg is en is ons gretig om vir Jehovah te werk (Rom. 12:11). Wat kan ons doen om heilige gees te ontvang? Ons kan daarvoor bid, God se geïnspireerde Woord studeer en met sy organisasie assosieer wat deur sy gees gelei word. As ons dit doen, sal dit ons help om “die vrug van die gees” te ontwikkel. – Gal. 5:22, 23.
14. Wat moet ons vermy as ons wil aanhou om God se gees te ontvang? (Sien ook prent.)
14 Wanneer God sy heilige gees vir ons gee, moet ons versigtig wees dat ons nie “die vuur van die gees blus nie”. God gee sy gees net aan dié wat hulle denke en gedrag rein hou. Hy sal nie sy gees vir ons bly gee as ons aanhou om aan onrein dinge te dink en daarop te reageer nie (1 Tess. 4:7, 8). Om heilige gees te bly ontvang, moet ons ook nie “’n gebrek aan respek hê vir profesieë nie” (1 Tess. 5:20). Hier verwys “profesieë” na boodskappe wat Jehovah ons gee deur middel van sy heilige gees, insluitende dié oor Jehovah se dag en die dringendheid van ons tyd. Ons dink nie dat Jehovah se dag, of Armageddon, nie in ons dag sal kom nie. Ons wys eerder dat ons verwag dat dit binnekort sal kom, of ons hou dit goed in gedagte, deur elke dag besig te bly met “dade van toegewydheid aan God” en deur ons gedrag rein te hou. – 2 Pet. 3:11, 12.
“MAAK SEKER VAN ALLES”
15. Hoe kan ons keer dat ons mislei word deur valse inligting en demoniese propaganda? (1 Tessalonisense 5:21)
15 Binnekort sal God se teenstanders in ’n sekere sin sê: “Vrede en veiligheid!” (1 Tess. 5:3). Propaganda wat deur demone geïnspireer is, sal die aarde vul en die meeste mense mislei (Op. 16:13, 14). Wat van ons? Ons sal nie mislei word nie as ons ‘seker maak van alles [of, ‘alles toets’] nie’. (Lees 1 Tessalonisense 5:21.) Die Griekse woord wat vertaal word as “maak seker van” was gebruik om die manier te beskryf hoe mense kosbare metale getoets het. So ons moet toets wat ons hoor of wat ons lees om te kyk of dit waar is. Dit was belangrik vir die Tessalonisense, en dit sal selfs belangriker vir ons wees soos die groot verdrukking al hoe nader kom. In plaas daarvan om alles te glo wat ander sê, gebruik ons ons denkvermoë om wat ons lees of wat ons hoor, te vergelyk met wat die Bybel en Jehovah se organisasie sê. As ons dit doen, sal ons nie mislei word deur enige demoniese propaganda nie. – Spr. 14:15; 1 Tim. 4:1.
16. Watter vaste hoop het ons, en wat is ons gemotiveerd om te doen?
16 As ’n groep sal God se knegte die groot verdrukking oorleef. Maar as individue weet ons nie wat môre sal gebeur nie (Jak. 4:14). Of ons nou deur die groot verdrukking lewe of sterf voordat dit kom, ons sal nog steeds met die ewige lewe beloon word as ons getrou bly. Die gesalfdes sal saam met Christus in die hemel wees. Die ander skape sal op ’n paradysaarde wees. Mag ons almal op ons wonderlike hoop fokus en ons gereed hou vir Jehovah se dag!
LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom
a In 1 Tessalonisense hoofstuk 5 vind ons ’n reeks illustrasies en vergelykings wat ons leer oor ’n toekomstige dag van Jehovah. Wat is daardie “dag”, en hoe sal dit kom? Wie sal dit oorleef? Wie sal nie oorleef nie? Hoe kan ons daarvoor voorberei? Ons sal die apostel Paulus se woorde ondersoek en daardie vrae beantwoord.
b Sien die reeks “Hulle het hulle gewillig aangebied”.