STUDIEARTIKEL 25
Ouermanne – Leer uit Gideon se voorbeeld
“Daar is nie genoeg tyd vir my om nog te vertel van Gideon . . . nie.” – HEB. 11:32.
LIED 124 Bly lojaal
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Watter voorreg het ouermanne volgens 1 Petrus 5:2?
CHRISTENOUERMANNE moet vir Jehovah se kosbare skape sorg. Hierdie toegewyde mans is dankbaar vir hulle voorreg om hulle broers en susters te dien, en hulle werk hard om “werklik herders” te wees wat goed vir die skape sorg. (Jer. 23:4; lees 1 Petrus 5:2.) Ons is dankbaar om sulke manne in ons gemeentes te hê!
2. Watter toetse sal party ouermanne dalk ondervind?
2 Terwyl ouermanne hulle verantwoordelikhede nakom, ondervind hulle baie uitdagings. Om maar een ding te noem, dit is harde werk om vir ’n gemeente te sorg. Tony, ’n ouerman in die Verenigde State, moes leer om meer beskeie te wees wanneer dit gekom het by hoeveel werk hy aanvaar. Hy verduidelik: “Aan die begin van die COVID-19-pandemie het ek al hoe meer toewysings aanvaar om vergaderinge en die bediening te organiseer. Maar daar was altyd meer om te doen, maak nie saak hoe baie ek gedoen het nie. My Bybellees, persoonlike studie en gebed het uiteindelik daaronder begin ly.” Ilir, ’n ouerman in Kosovo, het ’n ander uitdaging gehad. Toe hy in ’n oorlogsgebied was, was dit vir hom moeilik om gehoorsaam te wees aan teokratiese riglyne. Hy sê: “My moed was getoets toe die takkantoor my gevra het om die broers en susters te help wat in ’n gevaarlike gebied bly. Ek was bang, en die instruksies het nie prakties gelyk nie.” Tim, ’n sendeling in Asië, het dit moeilik gevind om by te bly met alles wat hy elke dag moes doen. Hy sê: “Soms het ek verstandelik en emosioneel uitgeput gevoel.” Wat kan ouermanne help wat soortgelyke uitdagings ondervind?
3. Hoe kan die voorbeeld van rigter Gideon ons almal help?
3 Ouermanne kan leer uit die voorbeeld van rigter Gideon (Heb. 6:12; 11:32). Hy was ’n beskermer en ’n herder van God se volk (Rigt. 2:16; 1 Kron. 17:6). Net soos Gideon is ouermanne aangestel om vir God se volk te sorg gedurende ’n baie moeilike tyd (Hand. 20:28; 2 Tim. 3:1). Ons kan uit Gideon se beskeidenheid, nederigheid en gehoorsaamheid leer. Sy volharding was getoets terwyl hy sy toewysings uitgevoer het. Of ons nou as ’n ouerman dien of nie, ons kan leer om meer waardering vir ons ouermanne te hê. Ons kan hierdie hardwerkende geestelike mans ondersteun. – Heb. 13:17.
WANNEER JOU BESKEIDENHEID EN NEDERIGHEID GETOETS WORD
4. Hoe het Gideon gewys dat hy beskeie en nederig is?
4 Gideon was ’n beskeie en nederige man. b Toe Jehovah se engel vir Gideon gesê het dat hy gekies is om Israel van die kragtige Midianiete te red, het daardie nederige man gesê: “My familiegroep is die onbelangrikste in Manasse, en ek is die onbelangrikste in my vader se huis” (Rigt. 6:15). Hy het nie bekwaam gevoel vir daardie toewysing nie, maar Jehovah het geweet dat hy dit kan doen. Met Jehovah se hulp het Gideon sy toewysing suksesvol voltooi.
5. Hoe kan ’n ouerman se beskeidenheid en nederigheid getoets word?
5 Ouermanne doen hulle bes om in alle dinge beskeie en nederig te wees (Miga 6:8; Hand. 20:18, 19). Hulle spog nie oor wat hulle kan doen of wat hulle gedoen het nie, en hulle dink nie dat hulle waardeloos is omdat hulle swakhede het of foute gemaak het nie. Maar ’n ouerman kan toetse ondervind. Byvoorbeeld, hy aanvaar dalk ’n hele paar toewysings en sukkel dan om al daardie toewysings uit te voer. Of hy word dalk gekritiseer vir die manier hoe hy een toewysing hanteer het of geprys vir die manier hoe hy ’n ander toewysing hanteer het. Wat kan ouermanne by Gideon leer wat hulle in sulke situasies sal help?
6. Wat kan ouermanne by Gideon leer oor beskeidenheid? (Sien ook prent.)
6 Vra vir hulp. ’n Persoon wat beskeie is, is bewus van sy persoonlike beperkings. Gideon het gewys dat hy beskeie is omdat hy ander gevra het vir hulp (Rigt. 6:27, 35; 7:24). Wyse ouermanne doen dieselfde. Tony, wat vroeër aangehaal is, verduidelik: “As gevolg van hoe ek grootgemaak is, was ek geneig om meer werk te aanvaar as wat ek kon hanteer. Daarom het ek besluit om die onderwerp van beskeidenheid by ons gesinsaanbidding in te sluit en my vrou gevra wat sy dink. Ek het ook op jw.org na die video gekyk Volg Jesus na deur ander op te lei, hulle te vertrou en te delegeer.” Tony het begin om ander te vra om hom te help met sy werklas. Wat was die resultaat? Tony sê: “Die werk in die gemeente word gedoen, en ek het meer tyd om myself geestelik op te bou.”
7. Hoe kan ouermanne Gideon navolg as hulle gekritiseer word? (Jakobus 3:13)
7 Moenie kwaad word as iemand jou kritiseer nie. Dit kan ook vir ouermanne ’n toets wees as hulle gekritiseer word. Gideon se voorbeeld kan weer help. Hy het geweet dat hy nie volmaak is nie, en daarom het hy kalm gebly toe die Efraimiete hom gekritiseer het (Rigt. 8:1-3). Gideon het nie kwaad geword nie. Hy het gewys dat hy nederig is deur na hulle bekommernisse te luister en deur op ’n liefdevolle manier met hulle te praat. Dit het hulle gekalmeer. Wyse ouermanne volg Gideon na deur mooi te luister en deur nie kwaad te word as hulle gekritiseer word nie. (Lees Jakobus 3:13.) Deur dit te doen, dra hulle by tot die vrede in die gemeente.
8. Hoe moet ouermanne reageer as hulle geprys word? Gee ’n voorbeeld.
8 Gee alle eer aan Jehovah. Toe ander Gideon geprys het vir die oorwinning oor Midian het hy die aandag op Jehovah gevestig (Rigt. 8:22, 23). Hoe kan ouermanne Gideon navolg? Hulle kan Jehovah die eer gee vir die dinge wat hulle bereik (1 Kor. 4:6, 7). Byvoorbeeld, as ’n ouerman geprys word vir sy onderrigvermoë, kan hy die aandag vestig op die bron van die onderrigting, God se Woord, of op die opleiding wat ons ontvang van Jehovah se organisasie. Ouermanne kan soms nadink oor of hulle te veel aandag op hulleself vestig. Kyk na die ondervinding van ’n ouerman met die naam Timothy. Toe Timothy as ’n ouerman begin dien het, het hy dit geniet om openbare toesprake te gee. Hy sê: “Ek het lang en ingewikkelde inleidings en illustrasies gebruik. Mense het my baie keer geprys daarvoor. Maar dit het veroorsaak dat die gehoor op my fokus, en nie op die Bybel of op Jehovah nie.” Timothy het later besef dat hy die manier hoe hy onderrig, moes verander sodat ander nie te veel op hom fokus nie (Spr. 27:21). Wat was die resultaat? Hy verduidelik: “Nou sê broers en susters vir my dat my toespraak hulle gehelp het om ’n probleem te hanteer, ’n moeilike tyd te verduur of om nader aan Jehovah te kom. Daardie kommentare maak my gelukkiger as toe hulle my geprys het.”
WANNEER JOU GEHOORSAAMHEID OF MOED GETOETS WORD
9. Hoe is Gideon se gehoorsaamheid en moed getoets? (Sien prent op voorblad.)
9 Nadat Gideon as rigter aangestel was, is sy gehoorsaamheid en moed getoets. Hy het die gevaarlike toewysing gekry om sy pa se altaar vir Baälaanbidding te vernietig (Rigt. 6:25, 26). Later, nadat Gideon ’n leërmag bymekaargemaak het, het Jehovah twee keer vir hom gesê dat hy sy leërmag kleiner moet maak (Rigt. 7:2-7). Daar is uiteindelik vir hom gesê dat hy die vyand se leërmag in die middel van die aand moet aanval. – Rigt. 7:9-11.
10. Hoe kan ’n ouerman se gehoorsaamheid getoets word?
10 Ouermanne moet ‘bereid wees om gehoorsaam te wees’ (Jak. 3:17). ’n Gehoorsame ouerman onderwerp hom gewilliglik aan wat die Bybel sê en aan die riglyne van God se organisasie. Deur dit te doen, stel hy ’n goeie voorbeeld vir ander. Maar sy gehoorsaamheid kan getoets word. Byvoorbeeld, hy vind dit dalk moeilik om by te bly met die riglyne wat hy ontvang. In party gevalle wonder hy dalk of sekere riglyne regtig prakties of wys is. Of hy word dalk gevra om ’n toewysing te aanvaar wat sy vryheid in gevaar kan stel. Hoe kan ouermanne Gideon se gehoorsaamheid in sulke situasies navolg?
11. Wat kan ouermanne help om gehoorsaam te wees?
11 Luister mooi na riglyne en pas dit toe. God het vir Gideon gesê hoe om sy pa se altaar te vernietig, waar om ’n nuwe altaar vir Jehovah te bou en watter dier om te offer. Gideon het nie die instruksies bevraagteken nie – hy het dit net gevolg. Vandag ontvang ouermanne instruksies van Jehovah se organisasie deur middel van briewe, aankondigings en ander riglyne wat ons help om veilig en na aan Jehovah te bly. Ons is lief vir die ouermanne omdat hulle teokratiese riglyne getrou volg. Die hele gemeente vind daarby baat. – Ps. 119:112.
12. Hoe kan ouermanne Hebreërs 13:17 toepas as daar ’n verandering in teokratiese riglyne is?
12 Wees gewillig om aan te pas. Onthou, toe Jehovah vir Gideon gevra het om sy leërmag met meer as 99 persent te verminder, het hy dit gedoen (Rigt. 7:8). Dalk het hy gedink: ‘Is hierdie verandering regtig nodig? Sal dit werk?’ Maar Gideon was gehoorsaam. Vandag volg ouermanne Gideon na deur gehoorsaam te wees wanneer daar veranderinge is in teokratiese riglyne. (Lees Hebreërs 13:17.) Byvoorbeeld, in 2014 het die Bestuursliggaam die manier hoe daar vir Koninkryksale en Byeenkomssale betaal word, verander (2 Kor. 8:12-14). Gemeentes sou nie meer ’n lening hoef terug te betaal nie. In plaas daarvan gebruik die organisasie nou bydraes van al die gemeentes in die wêreld om Koninkryksale en Byeenkomssale te bou waar dit ook al nodig is, selfs al kan ’n plaaslike gemeente net ’n klein bietjie geld bydra. Toe José van die verandering hoor, het hy getwyfel of dit sou werk en het hy gedink: ‘Daar sal nie eers een Koninkryksaal gebou word nie. Dit is nie hoe dinge in hierdie deel van die wêreld gedoen word nie.’ Wat het José gehelp om die riglyne te ondersteun? Hy sê: “Die woorde van Spreuke 3:5, 6 het my daaraan herinner dat ek op Jehovah moet vertrou. En dit het wonderlike resultate gehad! Ons bou nie net Koninkryksale nie, maar ons het geleer om op verskillende maniere by te dra sodat daar ’n gelykmaking kan wees.”
13. (a) Waarvan was Gideon oortuig? (b) Hoe kan ouermanne Gideon navolg? (Sien ook prent.)
13 Wees moedig en doen Jehovah se wil. Gideon was gehoorsaam aan Jehovah selfs toe hy bang was en die toewysing gevaarlik was (Rigt. 9:17). Nadat Jehovah hom verseker het, was Gideon heeltemal oortuig dat God hom sou help om God se volk te beskerm. Ouermanne wat in gebiede bly waar die werk verbied is, volg Gideon na. Hulle neem moedig die leiding by vergaderinge en in die bediening, al is daar ’n kans dat hulle gearresteer kan word of ondervra kan word, hulle werk kan verloor of al kan hulle gewelddadig behandel word. c Gedurende die groot verdrukking sal ouermanne moed nodig hê om gehoorsaam te wees aan die instruksies wat hulle gaan ontvang, selfs al is dit gevaarlik om te volg. Byvoorbeeld, ons sal dalk instruksies kry oor hoe om ’n sterk oordeelsboodskap te verkondig en wat ons moet doen om die aanval van Gog van Magog te oorleef. – Eseg. 38:18; Op. 16:21.
WANNEER JOU VOLHARDING GETOETS WORD
14. Hoe was Gideon se volharding getoets?
14 Gideon moes hard werk om as ’n rigter te dien. Toe die Midianiete gedurende die geveg in die aand gevlug het, het Gideon hulle agternagesit van die Jisreël-vallei tot by die Jordaanrivier, wat moontlik deur baie bome omring was (Rigt. 7:22). Het Gideon by die Jordaan gestop? Nee! Al was hy en sy 300 manne moeg, het hulle die rivier oorgesteek en die Midianiete bly agternasit. Hulle het uiteindelik die Midianiete ingehaal en hulle oorwin. – Rigt. 8:4-12.
15. Wanneer kan ’n ouerman se volharding getoets word?
15 ’n Ouerman sal dalk soms fisies, verstandelik of emosioneel uitgeput voel omdat hy vir die gemeente en vir sy gesin sorg. Hoe kan ouermanne Gideon navolg in sulke omstandighede?
16-17. Wat het Gideon gehelp om te volhard, en watter vertroue kan ouermanne hê? (Jesaja 40:28-31) (Sien ook prent.)
16 Vertrou dat Jehovah jou sal versterk. Gideon het die vertroue gehad dat Jehovah hom krag sou gee, en hy was nie teleurgestel nie (Rigt. 6:14, 34). Eenkeer het Gideon en sy manne agter twee Midianitiese konings aangehardloop terwyl die konings dalk op kamele gery het (Rigt. 8:12, 21). Maar God het die Israeliete gehelp om hulle te vang en die geveg te wen. Net so kan ouermanne op Jehovah vertrou, die een wat “nooit moeg of uitgeput [raak] nie”. Hy sal hulle die krag gee wanneer hulle dit nodig het. – Lees Jesaja 40:28-31.
17 Kyk na die voorbeeld van Matthew, ’n lid van ’n Hospitaalskakelkomitee. Wat help hom om te volhard? Matthew sê: “Ek het ondervind hoe waar die woorde van Filippense 4:13 is. Baie keer wanneer ek doodmoeg gevoel het, het ek intens tot God gebid en hom gesmeek vir die fisiese en verstandelike krag wat ek nodig het om my broers te ondersteun. In daardie oomblikke het ek gevoel hoe Jehovah se gees my krag gee en my help om te volhard.” Soos Gideon werk ons ouermanne baie hard om vir Jehovah se volk te sorg, al is dit nie altyd maklik nie. Hulle moet natuurlik beskeie wees en besef dat hulle nie altyd alles kan doen wat hulle graag wil doen nie. Maar hulle kan die vertroue hê dat as hulle Jehovah vir hulp vra, hy hulle sal hoor en hulle sal versterk sodat hulle kan volhard. – Ps. 116:1; Fil. 2:13.
18. Om te hersien, hoe kan ouermanne Gideon navolg?
18 Daar is praktiese lesse wat ouermanne by Gideon kan leer en wat hulle vandag kan toepas. Ouermanne moet beskeie en nederig wees wanneer dit kom by hoeveel werk hulle aanpak en hoe hulle reageer wanneer hulle gekritiseer of geprys word. Hulle moet gehoorsaam en moedig wees, veral terwyl die einde van hierdie wêreld al hoe nader kom. En hulle moet die vertroue hê dat God hulle kan versterk, maak nie saak watter uitdagings hulle dalk sal ondervind nie. Ons waardeer beslis sulke hardwerkende herders en “respekteer en waardeer sulke manne”. – Fil. 2:29.
LIED 120 Volg Christus se sagmoedigheid na
a Gideon was deur Jehovah aangestel om Sy volk te lei en te beskerm gedurende ’n baie moeilike tydperk in die geskiedenis van die nasie Israel. Gideon het daardie toewysing vir omtrent 40 jaar getrou uitgevoer. Maar hy het baie uitdagings gehad. Ons gaan bespreek hoe sy voorbeeld ouermanne van vandag kan help wanneer hulle toetse ondervind.
b Beskeidenheid en nederigheid is baie soortgelyke eienskappe. Ons wys dat ons beskeie is deur die regte beskouing te hê van onsself en van ons beperkings. As ons nederig is, respekteer ons ander en beskou ons hulle as belangriker as onsself (Fil. 2:3). ’n Beskeie persoon is gewoonlik ook ’n nederige persoon.
c Sien die artikel “Hou aan om Jehovah te aanbid selfs wanneer ons werk verbied is” in Die Wagtoring van Julie 2019, bl. 10-11, par. 10-13.