Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom het Josef en Maria ná Jesus se geboorte in Betlehem gebly eerder as om terug te gaan na hulle huis in Nasaret?

Die Bybel sê nie. Maar dit gee interessante details wat hulle keuse dalk beïnvloed het.

’n Engel het vir Maria gesê dat sy swanger sou word en geboorte sou gee. Toe die engel hierdie boodskap oorgedra het, het Maria en Josef in Nasaret gebly, Josef se tuisdorp in Galilea (Luk. 1:26-31; 2:4). Later, toe hulle van Egipte af gekom het, het hulle teruggegaan na Nasaret. Jesus het daar grootgeword en ’n Nasarener geword (Matt. 2:19-23). Dit is hoekom ons aan Nasaret dink wanneer ons van Jesus, Josef en Maria praat.

Maria het ’n familielid met die naam Elisabet gehad, wat in Juda gebly het. Elisabet was die vrou van die priester Sagaria en het die ma van Johannes die Doper geword (Luk. 1:5, 9, 13, 36). Maria het Elisabet gaan besoek en drie maande by haar in Juda gebly. Toe het Maria teruggegaan na Nasaret (Luk. 1:39, 40, 56). So Maria het die gebied geken.

Later was Josef gehoorsaam aan die bevel “om geregistreer te word”. So Josef het van Nasaret na Betlehem gereis, wat die “stad van Dawid” was, en die voorspelde geboorteplek van die Messias (Luk. 2:3, 4; 1 Sam. 17:15; 20:6; Miga 5:2). Nadat Maria daar geboorte geskenk het aan Jesus, het Josef nie van haar verwag om die lang reis terug na Nasaret aan te pak met ’n pasgebore baba nie. Hulle het in Betlehem gebly, wat omtrent nege kilometer van Jerusalem af was. So dit sou vir hulle maklik wees om hulle pasgebore baba na die tempel te neem en die offerande te maak wat die Wet vereis het. – Lev. 12:2, 6-8; Luk. 2:22-24.

God se engel het vroeër vir Maria gesê dat haar seun “die troon van . . . Dawid” sou ontvang en “as Koning [sal] regeer”. Het Josef en Maria dit dalk interessant gevind dat Jesus in die stad van Dawid gebore was? (Luk. 1:32, 33; 2:11, 17). Miskien het hulle gedink dat dit wys sou wees om daar te bly en te wag totdat hulle uitvind wat God wou hê hulle volgende moes doen.

Ons weet nie hoe lank hulle in Betlehem was toe party sterrevoorspellers daar aangekom het nie. Maar teen daardie tyd het die gesin in ’n huis gebly, en hulle seun was ’n “jong kind”, nie ’n baba nie (Matt. 2:11). Dit lyk asof hulle ’n ruk lank in Betlehem was en Betlehem hulle huis gemaak het.

Herodes het beveel dat “al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem” doodgemaak moet word (Matt. 2:16). ’n Engel het Josef daaroor gewaarsku, en daarom het hy en Maria met Jesus na Egipte gevlug en daar gebly totdat Herodes gesterf het. Later het Josef sy gesin na Nasaret geneem. Hoekom het hulle nie teruggegaan na Betlehem nie? Om Herodes se wrede seun, Argelaus, wat in Judea was, te vermy en om gehoorsaam te wees aan God se waarskuwing. In Nasaret kon Josef Jesus veilig as ’n ware aanbidder van God grootmaak. – Matt. 2:19-22; 13:55; Luk. 2:39, 52.

Josef het blykbaar gesterf voordat Jesus gesterf het en dit vir ander moontlik gemaak het om hemel toe te gaan. So Josef gaan op die aarde opgewek word. Baie sal hom dan kan ontmoet en meer details by hom kan kry oor hoekom hy en Maria in Betlehem gebly het ná Jesus se geboorte.