Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Vreugdevolle verrassings en lesse uit my diens aan Jehovah

Vreugdevolle verrassings en lesse uit my diens aan Jehovah

TOE ek ’n seuntjie was, het ek altyd gewens dat ek na die een of ander eksotiese land kon reis wanneer ek ’n vliegtuig in die lug gesien het. Dit het vir my soos ’n droom gelyk wat nooit sou waar word nie.

My ouers het Estland gedurende die Tweede Wêreldoorlog verlaat en Duitsland toe gegaan, waar ek gebore is. Nadat ek gebore is, het hulle begin gereedmaak om Kanada toe te trek. Die eerste plek waar ons gebly het, naby Ottawa, Kanada, was in ’n klein gebou waar daar ook hoenders gebly het. Ons was brandarm, maar ten minste het ons eiers gehad vir ontbyt.

Eendag het Jehovah se Getuies Openbaring 21:3, 4 vir my ma gelees. Sy was so geraak deur dit wat sy geleer het, dat sy begin huil het. Die saadjie van waarheid het gegroei, en my ma en my pa het vinnig tot doop gevorder.

My ouers se Engels was nie baie goed nie, maar hulle was ernstig oor die waarheid. My pa het in Sudbury, Ontario, in ’n fabriek gewerk waar nikkel gesmelt was, en hy het amper elke Saterdag, selfs nadat hy heelnag gewerk het, saam met my en my jonger suster, Sylvia, gaan velddiens doen. En elke week het ons Die Wagtoring as ’n familie gestudeer. Ma en Pa het my geleer om lief te wees vir God. Dit het my gemotiveer om my lewe in 1956 aan Jehovah toe te wy toe ek tien jaar oud was. Hulle sterk liefde vir Jehovah het my regdeur my lewe versterk.

Nadat ek klaargemaak het met hoërskool, was my aandag ’n bietjie afgelei. Ek het gedink dat as ek ’n pionier word, ek nooit genoeg geld sou maak om my droom te laat waar word om te vlieg en die wêreld te sien nie. Ek het ’n werk by ’n plaaslike radiostasie as ’n platejoggie gekry, en ek het dit baie geniet. Maar ek het saans gewerk, en daarom het ek gereeld vergaderinge gemis en met mense geassosieer wat nie lief was vir God nie. My Bybelopgeleide gewete het my uiteindelik beweeg om veranderinge te maak.

Ek het Oshawa, Ontario, toe getrek. Daar het ek Ray Norman, sy suster Lesli en ander pioniers ontmoet. Hulle almal het my welkom laat voel. Toe ek sien hoe gelukkig hulle is, het dit my gemotiveer om weer na my doelwitte te kyk. Hulle het my aangemoedig om te begin pionier, en ek het toe in September 1966 begin. Ek was gelukkig, en die lewe was lekker. Maar ’n paar groot verrassings wat my lewe sou verander, het op my gewag.

WANNEER JEHOVAH JOU NOOI OM IETS TE DOEN, PROBEER OM DIT TE DOEN

Terwyl ek nog op hoërskool was, het ek aansoek gedoen om by Bethel in Toronto, Kanada, te dien. Later terwyl ek pionier het, is ek genooi om vir vier jaar by Bethel te dien. Maar ek het baie van Lesli gehou, en ek was bang dat ek haar nooit weer sou sien as ek hierdie uitnodiging aanvaar het nie. Ná lang, intense gebede het ek uiteindelik die uitnodiging aanvaar om Bethel toe te gaan, maar ek was hartseer om vir Lesli totsiens te sê.

Ek het in die wassery by Bethel gewerk, en later as ’n sekretaris. Intussen het Lesli ’n spesiale pionier in Gatineau, Quebec, geword. Ek het baie keer gewonder waarmee sy besig is en of ek die regte besluit gemaak het. Toe het ek een van die wonderlikste verrassings van my lewe gekry. Ray, Lesli se broer, was genooi om Bethel toe te kom. Hy het my kamermaat geword! Dit het daartoe gelei dat ek weer in kontak gekom het met Lesli. Ons het op die laaste dag van my vier-jaar-toewysing getrou, 27 Februarie 1971.

Ons begin met kringwerk in 1975

Ek en Lesli is aangewys om in ’n Franse gemeente in Quebec te dien. Ná ’n paar jaar was ek verbaas toe ek genooi is om op die ouderdom van 28 as ’n kringopsiener te dien. Ek het baie jonk en onervare gevoel, maar die woorde van Jeremia 1:7, 8 het my aangemoedig. Lesli was egter in ’n paar karongelukke en het gesukkel om te slaap. So ons het gedink dat dit baie moeilik vir ons sou wees om kringwerk te doen. Maar sy het gesê: “As Jehovah ons nooi om iets te doen, moet ons nie probeer om dit te doen nie?” Ons het die aanwysing aanvaar en het die reisende werk vir 17 jaar geniet.

Die lewe op die kring was baie besig, en ek het nie altyd genoeg tyd vir Lesli gehad nie. Ek moes nog ’n les leer. Vroeg een Maandagoggend het die deurklokkie gelui. Daar was niemand nie, net ’n piekniekmandjie met ’n tafeldoek, vrugte, kaas, brood, ’n bottel wyn, glase en ’n anonieme briefie wat gesê het: “Vat jou vrou op ’n piekniek.” Dit was ’n pragtige sonskyndag. Maar ek het vir Lesli verduidelik dat ek toesprake moes voorberei en dat ek nie kan gaan nie. Sy het verstaan, maar was ’n bietjie hartseer. Terwyl ek by my lessenaar gesit het, het my gewete my begin pla. Ek het gedink aan Efesiërs 5:25, 28. Was Jehovah besig om my aan te moedig om aan my vrou se emosionele behoeftes te dink? Nadat ek gebid het, het ek vir Lesli gesê: “Kom ons gaan,” en dit het haar baie bly gemaak. Ons het na ’n mooi plek by ’n rivier gery, ’n tafeldoek oopgegooi en een van ons lekkerste dae saam gehad. En ek kon nog steeds my toesprake voorberei.

Ons het baie toewysings op die kring gehad, van Brits-Columbië tot Newfoundland, en ons het dit baie geniet. My droom om te reis, was besig om waar te word. Ek het gedink aan Gileadskool, maar ek het nie ’n begeerte gehad om ’n sendeling in ’n ander land te wees nie. Dit het gelyk asof sendelinge spesiale mense is, en ek het gedink dat ek nie goed genoeg is om ’n sendeling te wees nie. Ek was ook bang dat ons dalk na ’n land in Afrika gestuur sou word waar daar siektes en oorlog is. Ek was gelukkig waar ek was.

VERRAS DEUR ’N UITNODIGING NA ESTLAND EN DIE BALTIESE LANDE

Ons reis deur die Baltiese lande

In 1992 toe die werk weer begin is in lande wat voorheen deel was van die Sowjetunie, is ons gevra of ons bereid sou wees om na Estland te trek en sendelinge te wees. Ons was baie verbaas, maar ons het daaroor gebid. Ons het weer gedink: ‘As Jehovah ons nooi om iets te doen, moet ons nie probeer om dit te doen nie?’ Ons het die uitnodiging aanvaar, en ek het gedink: ‘Wel, ons gaan darem nie Afrika toe nie.’

Ons het onmiddellik begin om Esties te leer. Ná ’n paar maande in die land is ons gevra om kringwerk te doen. Ons moes omtrent 46 gemeentes en groepe in drie Baltiese lande besoek, sowel as in Kaliningrad, Rusland. Dit het beteken dat ons ’n bietjie Letties, Litaus en Russies moes leer. Dit was baie moeilik. Maar die broers en susters was bly dat ons probeer het om hulle taal te leer, en hulle het ons gehelp. In 1999 is daar ’n takkantoor in Estland oopgemaak, en ek was aangewys om op die takkomitee te dien saam met Toomas Edur, Lembit Reile en Tommi Kauko.

Links: Ek gee ’n toespraak by ’n streekbyeenkoms in Litaue

Regs: Die takkomitee in Estland, gevorm in 1999

Ons het baie Getuies ontmoet wat vroeër na Siberië gestuur is. Al was hulle wreed behandel in die tronk en van hulle families geskei, het hulle nooit bitter geword nie. Hulle het hulle vreugde en ywer vir die bediening behou. Hulle voorbeeld het ons geleer dat ons kan volhard en vreugdevol kan wees onder moeilike omstandighede.

Ons het jare lank baie hard gewerk en maar min afdae gehad, en daarom het Lesli verskriklik moeg begin voel. Ons het nie onmiddellik besef dat haar moegheid veroorsaak is deur ’n siekte wat fibromialgie genoem word nie. Ons het dit ernstig oorweeg om terug te gaan na Kanada. Toe ons genooi is om die Skool vir Takkomiteelede by te woon by Patterson, New York, VSA, het ek nie gedink dat ons dit sou kon bywoon nie. Maar ná intense gebede het ons die uitnodiging aanvaar. Jehovah het die besluit geseën. Dit was terwyl ons by hierdie skool was dat Lesli uiteindelik die mediese aandag gekry het wat sy nodig gehad het. As gevolg daarvan kon ons weer aangaan met ons normale bedrywighede.

NOG ’N VERRASSING – NOG ’N VASTELAND

Een aand in 2008, terug in Estland, het ek ’n oproep gekry van die wêreldhoofkwartier, en ons is gevra of ons ’n aanwysing in Kongo sou aanvaar. Ek was geskok, veral omdat ek die volgende dag ’n antwoord moes gee. Eers het ek niks vir Lesli gesê nie omdat ek geweet het dat sy nie daardie aand sou slaap nie. Maar toe was ek die een wat nie geslaap het nie omdat ek gebid het oor my bekommernisse oor Afrika.

Toe ek die volgende dag vir Lesli gesê het, het ons geredeneer: “Jehovah nooi ons om na Afrika te gaan. Hoe weet ons dat ons dit nie kan doen en dit geniet tensy ons probeer nie?” So ná 16 jaar in Estland het ons na Kinshasa, Kongo, gevlieg. Die takkantoor het ’n pragtige tuin gehad en was baie rustig. Een van die eerste dinge wat Lesli in ons kamer gesit het, was ’n kaartjie wat sy gehou het vandat ons Kanada verlaat het. Die woorde “Groei waar jy geplant is” was daarop geskryf. Nadat ons die broers ontmoet het, Bybelstudies gehou het en ondervind het hoe lekker dit is om sendelinge te wees, het ons vreugde in Jehovah se diens gegroei. Later het ons die voorreg gehad om takbesoeke te doen in omtrent 13 ander Afrikalande. As gevolg daarvan kon ons oor baie verskillende en interessante mense leer. Die vrese wat ek aan die begin gehad het, het verdwyn, en ons het vir Jehovah dankie gesê omdat hy ons gestuur het om in Afrika te dien.

In Kongo is ons voorgestel aan kosse, soos insekte, wat ek gedink het ons nie sou kon hanteer nie. Maar toe ons sien hoe ons broers hierdie kosse geniet, het ons dit probeer, en ons is bly dat ons dit gedoen het.

Ons kon ons broers en susters in die ooste van die land geestelik en fisies help waar guerrilla-groepe dorpies aangeval het en vrouens en kinders seergemaak het. Die meeste van die broers het baie min besittings gehad. Maar hulle sterk hoop in die opstanding, hulle liefde vir Jehovah en hulle lojaliteit aan sy organisasie het ons harte geraak. Hulle voorbeeld het ons gemotiveer om te dink oor hoekom ons Jehovah dien en om ons geloof in hom te versterk. Party van die broers het hulle huise en die kos wat hulle geplant het, verloor. Dit het my herinner aan hoe vinnig ons materiële dinge kan verloor en hoe waardevol geestelike rykdom is. Al het die broers verskriklik swaargekry, het hulle amper nooit gekla nie. Hulle gesindheid het ons aangemoedig om ons probleme en gesondheidsprobleme met moed aan te pak.

Links: Ek gee ’n toespraak vir ’n groep vlugtelinge

Regs: Ons neem kos en mediese benodigdhede na Dungu, Kongo

’N SMAKIE VAN ASIË

Toe kom daar nog ’n verrassing. Ons is gevra om na die takkantoor in Hongkong te trek. Ons het nooit gedink dat ons in Asië sou bly nie. Maar nadat ons Jehovah se liefdevolle hand in al ons ander toewysings gesien het, het ons die uitnodiging aanvaar. In 2013, met trane in ons oë, het ons ons dierbare vriende en die pragtige Afrika verlaat en nie geweet wat vir ons voorlê nie.

Hongkong is ’n besige stad met mense van regoor die wêreld, en dit was ’n baie groot verandering om daar te bly. Dit was ’n groot uitdaging om Kantonnees te leer. Maar die broers het ons liefdevol verwelkom, en ons het die plaaslike kos baie geniet. Die werk was besig om vinnig uit te brei, maar die eiendomspryse het die hoogte ingeskiet. Daarom het die Bestuursliggaam wyslik besluit om die meeste van die takkantooreiendomme te verkoop. Kort daarna, in 2015, is ons na Suid-Korea geskuif, waar ons nou nog dien. Ons moes nog ’n moeilike taal leer, en al kan ons dit nog nie goed praat nie, moedig die broers en susters ons aan deur te sê dat ons Koreaans al hoe beter word.

Links: Gereed vir ons lewe in Hongkong

Regs: Takkantoor in Korea

LESSE WAT ONS GELEER HET

Dit is nie altyd maklik om nuwe vriende te maak nie, maar ons het gevind dat ons mense vinniger kan leer ken as ons die inisiatief neem om gasvry teenoor ander te wees. Ons het gesien dat ons broers en susters meer dinge in gemeen het as wat hulle anders is en dat Jehovah ons so wonderlik gemaak het dat ons ons harte kan oopmaak en vir so baie vriende kan lief wees. – 2 Kor. 6:11.

Ons het gesien dat ons mense moet aanvaar soos Jehovah hulle aanvaar en dat ons moet soek na bewyse van Jehovah se liefde en leiding in ons lewens. Wanneer ons af gevoel het of gewonder het of die broers en susters van ons hou, het ons weer die aanmoedigende kaartjies of briewe van vriende gelees. Ons het beslis ondervind hoe Jehovah ons gebede beantwoord het, ons krag gegee het en ons van sy liefde verseker het.

Oor die jare het ek en Lesli geleer hoe belangrik dit is om tyd te maak vir mekaar, maak nie saak hoe besig ons is nie. Ons het ook besef hoe belangrik dit is om vir onsself te kan lag, veral wanneer ons ’n nuwe taal probeer leer. En elke aand probeer ons aan iets dink wat ons geniet het waarvoor ons vir Jehovah dankie kan sê.

Om eerlik te wees, ek het nooit gedink dat ek ’n sendeling kon wees of in ander lande kon bly nie. Maar ek het die vreugde ondervind om te leer hoe alle dinge moontlik is met Jehovah se ondersteuning. Dit het my laat dink aan die woorde van die profeet Jeremia: “U het my geflous, o Jehovah” (Jer. 20:7). Ja, hy het ons baie lekker verrassings gegee wat ek my nooit kon voorstel nie – hy het selfs my droom om per vliegtuig te reis, laat waar word. Ons het na baie meer plekke gevlieg as waarvan ek ooit kon droom as ’n seuntjie, en ons het takbesoeke op vyf vastelande gedoen. Ek het Lesli se ondersteuning en gewillige gees nog altyd baie waardeer in al ons toewysings.

Ons probeer altyd onthou dat ons alles doen omdat ons lief is vir Jehovah. Die seëninge wat ons vandag geniet, is net ’n voorsmakie van die ewige lewe wanneer Jehovah ‘sy hand sal oopmaak en die begeerte van alles wat lewe sal bevredig’. – Ps. 145:16.