Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 23

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

Jehovah nooi ons om sy gaste te wees

Jehovah nooi ons om sy gaste te wees

“My tent sal by hulle wees, en ek sal hulle God wees.”ESEG. 37:27.

DOEL

Om ons waardering te vergroot vir Jehovah se uitnodiging om gaste in sy figuurlike tent te wees en vir die manier waarop hy as ons Gasheer vir ons sorg.

1-2. Watter uitnodiging gee Jehovah aan sy lojale aanbidders?

 WATTER rol speel Jehovah in jou lewe? Jy antwoord dalk: ‘Jehovah is my Vader, my God en my Vriend.’ Daar is ook ander titels wat jy dalk vir Jehovah gebruik. Maar beskou jy hom ook as jou Gasheer?

2 Koning Dawid het Jehovah se vriendskap met Sy lojale aanbidders vergelyk met die verhouding tussen ’n gasheer en sy gaste. Hy het gevra: “O Jehovah, wie mag ’n gas in u tent wees? Wie mag op u heilige berg woon?” (Ps. 15:1). Uit hierdie geïnspireerde woorde leer ons dat ons Jehovah se gaste – sy vriende – kan word. Wat ’n wonderlike uitnodiging van Jehovah!

JEHOVAH WIL HÊ DAT ONS SY GASTE MOET WEES

3. Wie was Jehovah se eerste gas, en hoe het Jehovah en sy gas oor mekaar gevoel?

3 Voordat Jehovah dinge geskep het, was hy alleen. Maar op een stadium het hy sy eersgebore Seun in sy figuurlike tent verwelkom. Jehovah het groot vreugde gevind in sy nuwe rol as Gasheer. Die Bybel sê dat Jehovah “besonder lief” was vir sy Seun. En sy eerste gas “was die hele tyd vreugdevol voor [Jehovah]”. – Spr. 8:30.

4. Wie het Jehovah later genooi om gaste in sy tent te wees?

4 Toe het Jehovah ander geesskepsele gemaak en hulle genooi om ook sy gaste te wees. Sy engele word “seuns van God” genoem, en die Bybel sê dat hulle bly is om in Jehovah se teenwoordigheid te wees (Job 38:7; Dan. 7:10). God se vriendskap was ’n ruk lank beperk tot dié wat saam met hom in die hemel bly. Later het hy mense gemaak, en hulle kon ook gaste in sy tent wees. Party van daardie gaste was Henog, Noag, Abraham en Job. Daardie ware aanbidders word beskryf as God se vriende, of as mense wat “met die ware God” gewandel het. – Gen. 5:24; 6:9; Job 29:4; Jes. 41:8.

5. Wat kan ons leer uit die profesie in Esegiël 37:​26, 27?

5 Regdeur die jare het Jehovah aangehou om sy vriende te nooi om sy gaste te wees. (Lees Esegiël 37:​26, 27.) Byvoorbeeld, uit Esegiël se profesie leer ons dat God regtig wil hê dat sy lojale aanbidders ’n sterk verhouding met hom moet hê. Hy belowe om “’n vredesverbond met hulle” te maak. Daardie profesie verwys na ’n tyd wanneer dié wat ’n hemelse hoop en dié wat ’n aardse hoop het, verenig sal wees as “een kudde” onder sy figuurlike tent (Joh. 10:16). Daardie tyd is nou!

GOD SORG VIR ONS WAAR ONS OOK AL IS

6. Hoe word iemand ’n gas in Jehovah se tent, en waar kan Sy tent gevind word?

6 In Bybeltye was iemand se tent ’n plek waar hy kon rus en beskerm kon word teen die elemente. ’n Gas in daardie tent kon verwag dat sy gasheer goed vir hom sou sorg. Wanneer ons ons lewe aan Jehovah toewy, word ons gaste in sy figuurlike tent (Ps. 61:4). Ons geniet ’n oorvloed geestelike voedsel en die vriendskap van ander wat ook Jehovah se gaste geword het. Sy figuurlike tent is nie beperk tot ’n spesifieke plek nie. Miskien het jy al na ’n ander land gereis, dalk om ’n spesiale byeenkoms by te woon, en ander ontmoet wat bly is om in God se tent te wees. Dit kan gevind word waar sy gehoorsame aanbidders ook al is. – Op. 21:3.

7. Hoekom kan ons sê dat getroue persone wat gesterf het, nog steeds gaste in Jehovah se tent is? (Sien ook prent.)

7 Wat van getroue persone wat gesterf het? Kan ons tot die slotsom kom dat hulle nog steeds gaste in Jehovah se tent is? Ja! Hoekom kan ons dit sê? Omdat sulke persone in Jehovah se geheue lewe. Jesus het verduidelik: “Selfs Moses het in die verslag oor die doringbos bekend gemaak dat die dooies wel opgewek word toe hy Jehovah ‘die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob’ genoem het. Hy is nie ’n God van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal.” – Luk. 20:​37, 38.

Selfs getroue persone wat gesterf het, kan as gaste in God se tent beskou word (Sien paragraaf 7)


ONS HET VOORDELE EN VERANTWOORDELIKHEDE

8. Hoe vind Jehovah se gaste daarby baat om in sy tent te wees?

8 Net soos iemand in ’n letterlike tent kan rus en teen die elemente beskerm kan word, beskerm Jehovah se tent sy gaste teen geestelike skade en hopeloosheid. Wanneer ons na aan Jehovah bly, kan Satan niks aan ons doen wat ons vir ewig kan benadeel nie (Ps. 31:23; 1 Joh. 3:8). In die nuwe wêreld sal Jehovah aanhou om sy getroue vriende te beskerm, nie net teen geestelike skade nie, maar ook teen die dood. – Op. 21:4.

9. Hoe verwag Jehovah dat sy gaste hulle moet gedra?

9 Dit is regtig ’n groot voorreg om ’n gas in Jehovah se tent te wees – om ’n persoonlike verhouding met hom te geniet wat vir ewig kan duur. Hoe moet ons onsself gedra as ons sy gaste wil bly? As jy na iemand se huis genooi word, sou jy wou weet wat hy van jou verwag. Byvoorbeeld, hy sou dalk verwag dat jy jou skoene moet uittrek voordat jy inkom, en jy sou dit gewilliglik doen. Net so wil ons beslis weet wat Jehovah van dié verwag wat gaste in sy tent wil bly. Ons liefde vir Jehovah motiveer ons om alles te doen wat ons kan sodat ons “hom in alles bly kan maak” (Kol. 1:10). En al beskou ons Jehovah as ons Vriend, besef ons dat hy ook ons God en Vader is, wat ons respek verdien (Ps. 25:14). Met dit in gedagte moet ons altyd diep respek vir hom hê en nooit vergeet wie hy is nie. Sulke diep respek sal ons help om gedrag te vermy wat hom sal seermaak. Ons wil beslis “beskeie . . . wandel” met ons God. – Miga 6:8.

JEHOVAH SE ONPARTYDIGHEID IN DIE WILDERNIS

10-11. Hoe kan ons Jehovah se onpartydigheid sien in die manier hoe hy die Israeliete in die wildernis Sinai behandel het?

10 Jehovah is onpartydig wanneer dit kom by hoe hy sy gaste behandel (Rom. 2:11). Ons kan omtrent Jehovah se onpartydigheid leer uit die manier hoe hy die Israeliete in die wildernis Sinai behandel het.

11 Nadat Jehovah sy volk uit slawerny in Egipte bevry het, het hy priesters aangestel om by die tabernakel te dien. Leviete is aangewys om ander pligte uit te voer wat verband gehou het met daardie heilige tent. Het Jehovah beter gesorg vir dié wat by die tabernakel gedien het of wat daar naby gebly het? Nee! Jehovah is nie partydig nie.

12. Hoe het Jehovah onpartydigheid gewys as die Gasheer van sy nuutgevormde nasie? (Eksodus 40:38) (Sien ook prent.)

12 Almal in die kamp het ’n gelyke geleentheid gehad om Jehovah se vriendskap te geniet, of hulle nou enige spesiale voorregte gehad het of nie en of hulle nou naby die tabernakel gebly het of nie. Byvoorbeeld, Jehovah het seker gemaak dat die hele nasie die wolkkolom en vuurkolom kon sien wat bo die tabernakel was. (Lees Eksodus 40:38.) Wanneer die wolk in ’n nuwe rigting begin beweeg het, kon selfs dié wat die verste van die tabernakel af gebly het, dit sien, hulle besittings bymekaarmaak, hulle familietente opbreek en saam met die res van die nasie vertrek (Num. 9:​15-23). Almal kon die harde geluide van die twee silwer trompette hoor wat ’n teken was dat almal moes begin trek (Num. 10:2). So net omdat iemand naby die tabernakel gebly het, het nie beteken dat hy ’n sterker vriendskap met Jehovah het nie. Om die waarheid te sê, almal in Jehovah se nuutgevormde nasie kon Sy gas wees en op Sy leiding en beskerming staatmaak. Vandag kan ons ook baat vind by Jehovah se liefdevolle sorg en beskerming, maak nie saak waar ons op die aarde bly nie.

God se reëling vir die tabernakel was ’n bewys van sy onpartydigheid (Sien paragraaf 12)


MODERNE VOORBEELDE VAN JEHOVAH SE ONPARTYDIGHEID

13. Wat is een manier waarop Jehovah vandag onpartydigheid wys?

13 Vandag bly party van God se knegte naby die wêreldhoofkwartier of ’n takkantoor van Jehovah se Getuies. Ander dien by hierdie fasiliteite. As gevolg daarvan kan sulke persone aan baie van die aktiwiteite deelneem wat by hierdie plekke plaasvind en persoonlik assosieer met dié wat die leiding neem. Party dien as reisende opsieners of in ander vorme van spesiale voltydse diens. As jy onder die oorgrote meerderheid is wat nie op die oomblik sulke omstandighede geniet nie, kan jy seker wees dat ons Gasheer, Jehovah, lief is vir al sy goedgekeurde gaste. En hy sorg persoonlik vir hulle almal (1 Pet. 5:7). Al God se knegte ontvang die geestelike voedsel, leiding en beskerming wat hulle nodig het.

14. Wat is nog ’n voorbeeld van Jehovah se onpartydigheid as ons Gasheer?

14 Nog ’n voorbeeld van Jehovah se onpartydigheid as ons Gasheer is die feit dat hy vandag die Bybel beskikbaar maak aan mense regoor die wêreld. Die Heilige Skrif is oorspronklik in drie tale geskryf: Hebreeus, Aramees en Grieks. Het dié wat die oorspronklike Bybeltale kan lees, ’n sterker verhouding met Jehovah as dié wat dit nie kan lees nie? Nee, hulle het nie. – Matt. 11:25.

15. Wat is ’n bewys van Jehovah se onpartydigheid? (Sien ook prent.)

15 Jehovah se goedkeuring hang nie af van ons sekulêre opvoeding of van ons vermoë met tale nie. Eerder as om sy wysheid net aan hooggeleerde mense te bied, maak Jehovah dit beskikbaar aan mense regoor die aarde, of hulle nou hooggeleerd is of nie. Sy geïnspireerde Woord, die Bybel, is al in duisende tale vertaal, en daarom kan mense regoor die wêreld baat vind by die leringe daarin en leer hoe hulle sy vriende kan word. – 2 Tim. 3:​16, 17.

Hoe is die beskikbaarheid van die Bybel vandag ’n bewys van God se onpartydigheid? (Sien paragraaf 15)


BLY “AANVAARBAAR” VIR JEHOVAH

16. Hoe kan ons vir Jehovah aanvaarbaar bly volgens Handelinge 10:​34, 35?

16 Dit is ’n groot voorreg om deur Jehovah as gaste in sy figuurlike tent verwelkom te word. Hy is die goedhartigste, liefdevolste en gasvryste Gasheer wat daar is. En hy is onpartydig en verwelkom ons almal ongeag waar ons bly, wat ons agtergrond, opvoeding, ras, stam, ouderdom of geslag is. Maar net dié wat gehoorsaam is aan sy standaarde, is aanvaarbaar as sy gaste. – Lees Handelinge 10:​34, 35.

17. Waar sal ons nog inligting vind oor wat dit behels om ’n gas in Jehovah se tent te wees?

17 Soos ons kan sien in Psalm 15:1 het Dawid die volgende vrae gevra: “O Jehovah, wie mag ’n gas in u tent wees? Wie mag op u heilige berg woon?” Die psalmis is geïnspireer om daardie vrae te beantwoord. Die volgende artikel sal party van die spesifieke vereistes bespreek waaraan ons gehoorsaam moet wees om vir Jehovah aanvaarbaar te bly.

LIED 32 Kies kant vir Jehovah!