Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Probeer verstaan watter praktiese hulp, emosionele ondersteuning en aanmoediging uit die Bybel jou broers en susters nodig het

Kan jy in jou gemeente help?

Kan jy in jou gemeente help?

VOORDAT Jesus teruggekeer het hemel toe, het hy vir sy dissipels gesê: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Hoe sou hulle die predikingswerk oor die hele aarde kon doen?

Martin Goodman, ’n professor aan die Universiteit van Oxford, sê dat die “sendinggees Christene onderskei het van ander godsdiensgroepe, insluitende die Jode, in die vroeë Romeinse Ryk”. Jesus het van plek tot plek gegaan om te preek. Ware Christene moes sy voorbeeld volg en “die goeie nuus van die koninkryk van God” oral verkondig. Hulle moes na mense soek wat die waarheid wou leer (Lukas 4:43). Daarom was daar in die eerste eeu “apostels”, ’n woord wat verwys na diegene wat uitgestuur word om iets te doen (Markus 3:14). Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matteus 28:18-20.

Jesus se 12 apostels is nie meer op die aarde nie, maar baie knegte van Jehovah volg hulle voorbeeld in die bediening na. Wanneer hulle genooi word om te preek waar daar hulp nodig is, sê hulle: “Hier is ek! Stuur my” (Jesaja 6:8). Party, soos duisende wat die Gileadskool bygewoon het, het na ’n ander land verhuis. Sommige het na ’n ander gebied in hulle eie land verhuis. Baie het ’n ander taal geleer om ’n gemeente of ’n groep te help. Dit was nie altyd maklik nie, maar al hierdie broers en susters was bereid om opofferings te maak om te toon dat hulle Jehovah en mense liefhet. Hulle het dus goed beplan en hulle tyd, energie en geld gebruik om te gaan preek waar daar hulp nodig is (Lukas 14:28-30). Wat hierdie broers en susters doen, is van groot waarde.

Ons almal kan nie verhuis na waar daar hulp nodig is of ’n ander taal leer nie. Maar ons almal kan soos sendelinge in ons eie gemeente wees.

WEES ’N SENDELING IN JOU EIE GEMEENTE

Verleen kosbare hulp

In die eerste eeu was Christene ywerig in die predikingswerk, al het die meeste van hulle in hulle tuisdorp gewoon en was hulle nie sendelinge nie. Paulus het vir Timoteus gesê: “Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Timoteus 4:5). Hierdie woorde was op die eerste Christene van toepassing, en dit is vandag ook op ons van toepassing. Alle Christene moet die bevel gehoorsaam om die Koninkryksboodskap te verkondig en om dissipels te maak. En ons kan selfs in ons eie gemeente in baie opsigte soos sendelinge wees.

Wanneer sendelinge byvoorbeeld na ’n ander land verhuis, is dinge baie anders en moet hulle na maniere soek om by die nuwe lewenswyse aan te pas. Dalk kan ons nie verhuis na waar daar hulp nodig is nie. Maar kan ons nuwe maniere vind om vir mense te getuig? Ons broers is byvoorbeeld in 1940 aangespoor om een dag per week straatgetuieniswerk te doen. Het jy al aan straatgetuieniswerk deelgeneem? Het jy al getuieniswerk met ’n lektuurtrollie gedoen? Met ander woorde: Is jy bereid om nuwe metodes te gebruik om die goeie nuus te verkondig?

Spoor ander aan om “die werk van ’n evangeliedienaar” te doen

As jy positief is, sal jy ywerig en gretig wees om aan die bediening deel te neem. Diegene wat verhuis na waar daar hulp nodig is of wat ’n ander taal leer, is dikwels baie bekwame verkondigers en kan ’n groot aanwins vir die gemeente wees. Hulle neem byvoorbeeld die leiding in die predikingswerk. En sendelinge neem dikwels die leiding in die gemeente totdat die plaaslike broers bekwaam is om dit te doen. Is jy, as jy ’n gedoopte broer is, bereid om die broers en susters in jou gemeente as ’n bedieningskneg of ’n ouer man te dien?—1 Timoteus 3:1.

WEES “’N VERSTERKENDE HULP”

Verleen praktiese hulp

Ons kan ons gemeente ook op ander maniere help. Ons almal, jonk en oud, broers en susters, kan “’n versterkende hulp” wees vir medegelowiges wat dit nodig het.—Kolossense 4:11.

As ons ons broers en susters wil help, moet ons hulle goed ken. Die Bybel spoor ons aan om “op mekaar ag [te] gee”, oftewel om te dink aan die behoeftes van ons broers en susters, wanneer ons saam vergader (Hebreërs 10:24). Dit beteken nie dat ons te veel omtrent hulle persoonlike lewe moet probeer uitvind nie. Dit beteken eerder dat ons ons broers en susters en hulle behoeftes moet probeer verstaan. Hulle het moontlik praktiese hulp, emosionele ondersteuning of aanmoediging uit die Bybel nodig. Soms is dit wel so dat net die ouer manne en bedieningsknegte hulle kan help (Galasiërs 6:1). Maar ons almal kan hulp verleen aan bejaarde broers en susters, of selfs aan gesinne, wat probleme ondervind.

Bied emosionele ondersteuning aan diegene wat probleme in die lewe ondervind

Salvatore het hulp van medegelowiges ontvang. Weens ernstige finansiële probleme, moes hy sy besigheid, sy huis en baie van sy gesin se besittings verkoop. Hy was baie bekommerd oor sy gesin. ’n Ander gesin in die gemeente het gesien dat hulle hulp nodig het. Hulle het Salvatore finansieel gehelp en hom en sy vrou gehelp om werk te kry. Hulle het ook baie aande saam met Salvatore en sy gesin deurgebring en na hulle geluister en hulle aangemoedig. Hulle het baie goeie vriende geword. Al was dit ’n baie moeilike tyd, het albei gesinne nou aangename herinneringe aan die tye wat hulle saam deurgebring het.

Ware Christene huiwer nie om ander van hulle oortuigings te vertel nie. Ons moet Jesus navolg en almal vertel van God se wonderlike beloftes. Of ons nou kan verhuis of nie, ons almal kan ons bes doen om ander in ons eie gemeente te help (Galasiërs 6:10). Wanneer ons aan ander gee, sal ons gelukkig wees en sal ons “voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk”.—Kolossense 1:10; Handelinge 20:35.