Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense​—⁠Is julle gereed om gedoop te word?

Jongmense​—⁠Is julle gereed om gedoop te word?

“Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?”—LUKAS 14:28.

LIEDERE: 120, 64

Hierdie en die volgende artikel is geskryf vir jongmense wat gedoop wil word

1, 2. (a) Wat verskaf God se volk vandag vreugde? (b) Hoe kan Christenouers en ouer manne jongmense help om die betekenis van doop te verstaan?

“EK KEN jou al vandat jy gebore is”, het ’n ouer man vir die 12-jarige Christopher gesê, “en ek is baie bly om te hoor dat jy gedoop wil word. Ek wil jou graag vra: ‘Waarom wil jy gedoop word?’” Die ouer man het goeie redes gehad om hierdie vraag te vra. Dit verskaf ons groot vreugde om te sien dat duisende jongmense elke jaar gedoop word (Prediker 12:1). Maar Christenouers en gemeentelike ouer manne wil seker maak dat jongmense hulle eie besluit neem en verstaan wat dit beteken om gedoop te word.

2 In die Bybel leer ons dat toewyding en doop die begin van ’n nuwe lewe vir ’n Christen is. Hierdie nuwe lewe sal baie seëninge van Jehovah meebring, maar ook teenstand van Satan (Spreuke 10:22; 1 Petrus 5:8). Daarom moet Christenouers tyd neem om hulle kinders te leer wat dit werklik beteken om ’n dissipel van Christus te wees. As jongmense nie Christenouers het nie, sal ouer manne in die gemeente hulle liefdevol help om te verstaan wat dit beteken om toegewy en gedoop te wees. (Lees Lukas 14:27-30.) Net soos dit voorbereiding verg om ’n bouprojek te voltooi, verg dit voorbereiding om Jehovah getrou “tot die einde toe” te dien (Matteus 24:13). Wat sal jongmense help om vasbeslote te wees om Jehovah vir ewig te dien? Kom ons kyk.

3. (a) Wat leer Jesus en Petrus se woorde ons oor die belangrikheid van doop? (Matteus 28:19, 20; 1 Petrus 3:21). (b) Watter vrae sal ons bespreek, en waarom?

3 Is jy ’n jongmens wat gedoop wil word? Indien wel, is dit ’n uitstekende doelwit! Dit is ’n groot eer om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word. Dit is ook iets wat ’n Christen moet doen, en dit is ’n noodsaaklike stap vir diegene wat tydens die groot verdrukking gered wil word (Matteus 28:19, 20; 1 Petrus 3:21). Wanneer jy gedoop word, toon jy dat jy belowe het om Jehovah vir ewig te dien. Dit is ’n belofte wat jy beslis wil hou, en daarom sal die volgende vrae jou help om vas te stel of jy gereed is om gedoop te word: (1) Is ek volwasse genoeg om hierdie besluit te neem? (2) Is dit my persoonlike begeerte om gedoop te word? (3) Verstaan ek wat dit beteken om aan Jehovah toegewy te wees? Kom ons bespreek hierdie vrae.

WANNEER JY VOLWASSE GENOEG IS

4, 5. (a) Waarom is dit nie net ouer persone wat gedoop kan word nie? (b) Wat beteken dit vir ’n Christen om volwasse te wees?

4 Die Bybel sê nie dat slegs dié wat ouer is of wat ’n sekere ouderdom bereik het, gedoop kan word nie. Ons lees in Spreuke 20:11: “Deur sy handelinge laat ’n seun hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is.” Selfs ’n kind kan dus verstaan wat dit beteken om te doen wat reg is en om aan sy Skepper toegewy te wees. Doop is dus ’n belangrike en gepaste stap vir ’n jongmens wat volwasse genoeg is en wat hom aan Jehovah toegewy het.—Spreuke 20:7.

5 Wat beteken dit om volwasse te wees? Volwassenheid verwys nie altyd na ’n persoon se ouderdom of grootte nie. Die Bybel sê dat volwasse mense hulle “onderskeidingsvermoë” geoefen het om tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebreërs 5:14NW). ’n Volwasse persoon weet wat reg is en het in sy hart besluit om te doen wat reg is. Daarom kan hy nie maklik beïnvloed word om te doen wat verkeerd is nie. En hy het nie altyd iemand nodig om vir hom te sê om te doen wat reg is nie. Dit is redelik om te verwag dat ’n jongmens wat gedoop word, sal doen wat reg is selfs wanneer sy ouers of ander volwassenes nie naby is nie.—Vergelyk Filippense 2:12.

6, 7. (a) Beskryf die uitdagings waarvoor Daniël in Babilon te staan gekom het. (b) Hoe het Daniël getoon dat hy volwasse is?

6 Kan ’n jongmens werklik hierdie soort volwassenheid toon? Kyk na die voorbeeld van Daniël. Hy was dalk nog ’n tiener toe hy uit sy ouerhuis geneem is en na Babilon gestuur is. Skielik het Daniël hom tussen mense bevind wat God se gebooie nie gehoorsaam het nie. Maar kom ons beskou Daniël se situasie van naderby. Hy het spesiale behandeling in Babilon ontvang. Hy was een van die min jongmense wat sorgvuldig gekies is om die koning te dien (Daniël 1:3-5, 13). Dit wil voorkom of Daniël ’n beter posisie in Babilon gehad het as wat hy ooit in Israel sou hê.

7 Hoe het die jong Daniël dus gereageer? Het hy toegelaat dat die Babiloniërs hom verander of sy geloof laat verswak? Glad nie! Die Bybel sê dat Daniël, terwyl hy in Babilon was, “in sy hart besluit [het] dat hy hom nie sou verontreinig” nie, dat hy sou wegbly van enigiets wat met valse godsdiens verband hou (Daniël 1:8). Dit was ’n bewys van ware volwassenheid!

’n Volwasse jongmens tree nie by die Koninkryksaal soos ’n vriend van God op en by die skool soos ’n vriend van die wêreld nie (Sien paragraaf 8)

8. Wat kan jy uit Daniël se voorbeeld leer?

8 Wat kan jy uit Daniël se voorbeeld leer? ’n Volwasse jongmens sal by sy oortuigings bly, selfs in moeilike situasies. Hy sal nie soos ’n verkleurmannetjie wees wat sy kleur verander om by sy omgewing aan te pas nie. Hy tree nie by die Koninkryksaal soos ’n vriend van God op en by die skool soos ’n vriend van die wêreld nie. Hy sal eerder getrou bly, selfs wanneer sy geloof getoets word.—Lees Efesiërs 4:14, 15.

’n Volwasse jongmens sal by sy oortuigings bly, selfs in moeilike situasies

9, 10. (a) Hoe kan ’n jongmens daarby baat vind as hy nadink oor hoe hy op onlangse toetse van geloof gereageer het? (b) Wat beteken doop?

9 Niemand is natuurlik volmaak nie. Jongmense sowel as volwassenes maak soms foute (Prediker 7:20). Maar as jy gedoop wil word, sal dit verstandig wees om vas te stel hoe vasbeslote jy is om Jehovah se gebooie te gehoorsaam. Vra jou af: ‘Gehoorsaam ek Jehovah al ’n geruime tyd?’ Dink aan hoe jy gereageer het toe jou geloof laas getoets is. Kon jy onderskei wat die regte ding was om te doen? Het iemand jou aangespoor om jou talente in Satan se wêreld te gebruik, soos in Daniël se geval? Kan jy onderskei wat Jehovah se wil is wanneer so iets vir jou ’n versoeking is?—Efesiërs 5:17.

10 Waarom is dit belangrik om te weet wat jou antwoorde op hierdie persoonlike vrae is? Want dit sal jou help om te besef hoe ernstig doop werklik is. Doop toon vir ander dat jy ’n belangrike belofte aan Jehovah gemaak het. Jy het belowe dat jy hom vir ewig en met jou hele hart sal liefhê en dien (Markus 12:30). Elkeen wat gedoop word, moet vasbeslote wees om sy belofte aan Jehovah te hou.—Lees Prediker 5:4, 5.

IS DIT JOU PERSOONLIKE BEGEERTE?

11, 12. (a) Waarvan moet iemand wat gedoop wil word, seker wees? (b) Wat sal jou help om Jehovah se beskouing van doop te hê?

11 Die Bybel sê dat al Jehovah se knegte, selfs jongmense, hom “gewillig” sal dien (Psalm 110:3). ’n Persoon wat gedoop wil word, moet dus seker wees dat dit sy of haar persoonlike begeerte is. Dit sal moontlik vereis dat jy jou begeerte noukeurig moet ondersoek, veral as jy in die waarheid grootgeword het.

12 Terwyl jy grootgeword het, het jy moontlik gesien hoe baie mense gedoop word, dalk was party van hulle jou vriende of jou broers en susters. Maar wees versigtig dat jy nie begin voel dat jy gedoop moet word net omdat jy ’n sekere ouderdom bereik het of omdat almal om jou gedoop word nie. Hoe kan jy seker maak dat jy Jehovah se beskouing van doop het? Neem tyd om na te dink oor waarom doop so belangrik is. Jy sal talle goeie redes in hierdie en die volgende artikel vind.

13. Hoe kan jy bepaal of jou besluit om gedoop te word uit jou hart kom?

13 Een manier om te bepaal of jou besluit om gedoop te word uit jou hart kom, is om jou gebede te ondersoek. Hoe gereeld bid jy tot Jehovah? Hoe spesifiek is jou gebede? Die antwoorde op hierdie vrae kan toon hoe heg jou verhouding met Jehovah is (Psalm 25:4). Jehovah voorsien dikwels die antwoorde op ons gebede in die Bybel. Om jou studierooster te ondersoek, is dus nog ’n manier om te bepaal of jy werklik nader aan Jehovah wil kom en hom uit jou hart wil dien (Josua 1:8). Vra jou af: ‘Hoe gereeld doen ek persoonlike Bybelstudie? Neem ek ywerig deel aan ons gesinsaanbidding?’ Jou antwoorde op hierdie vrae sal jou help om vas te stel of jou besluit om gedoop te word, jou persoonlike begeerte is.

WAT TOEWYDING BETEKEN

14. Verduidelik wat die verskil is tussen toewyding en doop.

14 Party jongmense verstaan dalk nie heeltemal wat die verskil tussen toewyding en doop is nie. Sommige sê miskien dat hulle reeds hulle lewe aan Jehovah toegewy het, maar nie gereed is om gedoop te word nie. Maar is dit werklik moontlik? Toewyding is ’n gebed waarin jy vir Jehovah sê dat jy belowe om hom vir ewig te dien. Wanneer jy gedoop word, toon jy vir ander dat jy jou reeds aan Jehovah toegewy het. Voordat jy gedoop word, moet jy dus verstaan wat dit beteken om aan God toegewy te wees.

15. Wat beteken toewyding?

15 Wanneer jy jou lewe aan Jehovah toewy, sê jy vir hom dat jy nou aan hom behoort. Jy belowe dat jou diens aan hom die belangrikste plek in jou lewe sal hê. (Lees Matteus 16:24.) Hierdie belofte aan God is baie ernstig! (Matteus 5:33). Hoe toon jy dat jy weet dat jy nie meer aan jouself behoort nie, maar dat jy nou aan Jehovah behoort?—Romeine 14:8.

16, 17. (a) Gebruik ’n voorbeeld om te toon wat dit beteken om nie meer aan jouself te behoort nie. (b) Wat sê ’n persoon wat hom toewy in werklikheid?

16 Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Stel jou voor dat jou vriend vir jou ’n motor as ’n geskenk gee. Hy gee jou die motor se registrasiesertifikaat en sê: “Die motor is joune.” Maar dan sê jou vriend: “Ek sal die sleutels hou. En ek sal die motor bestuur, nie jy nie.” Hoe sou jy oor hierdie geskenk voel? Hoe sou jy oor jou vriend voel wat hierdie motor vir jou gegee het?

17 Wanneer iemand sy lewe aan Jehovah toewy, sê hy vir God: “Ek gee my lewe aan u. Ek behoort aan u.” Jehovah het die reg om te verwag dat hierdie persoon sy belofte hou. Maar sê nou hierdie persoon word ongehoorsaam aan Jehovah deur in die geheim met iemand uit te gaan wat God nie dien nie? Of sê nou hierdie persoon aanvaar ’n werk wat veroorsaak dat hy minder tyd het om aan die bediening deel te neem of wat dit vir hom moeilik maak om gemeentelike vergaderinge gereeld by te woon? Dit sou beteken dat hierdie persoon nie sy belofte aan Jehovah hou nie. Dit sou wees soos om die motor se sleutels te hou. Wanneer ons ons lewe aan Jehovah toewy, sê ons vir hom: “My lewe behoort aan u, nie aan my nie.” Ons sal dus altyd doen wat Jehovah wil hê ons moet doen, selfs wanneer dit iets is wat ons nie wil doen nie. Laat ons Jesus navolg, wat gesê het: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 6:38.

Doop is ’n ernstige besluit en ’n groot voorreg

18, 19. (a) Hoe toon Rose en Christopher se woorde dat dit ’n voorreg is om gedoop te wees en dat dit tot seëninge lei? (b) Hoe voel jy oor die voorreg om gedoop te wees?

18 Dit is duidelik dat doop ’n ernstige besluit is. Dit is ’n groot voorreg om aan Jehovah toegewy te wees en om gedoop te wees. Jongmense wat lief is vir Jehovah en verstaan wat toewyding beteken, huiwer nie om hulle lewe aan God toe te wy en gedoop te word nie. Hulle is nie spyt oor hulle besluit nie. ’n Gedoopte tiener met die naam Rose sê: “Ek is lief vir Jehovah, en niks kan my gelukkiger maak as om hom te dien nie. My besluit om gedoop te word, is die besluit waarvan ek die sekerste was in my lewe.”

19 En wat van Christopher, wat aan die begin van die artikel genoem is? Hoe voel hy oor sy besluit om op 12-jarige ouderdom gedoop te word? Hy sê dat hy baie bly is dat hy hierdie besluit geneem het. Hy het as ’n gewone pionier begin dien toe hy 17 was en ’n bedieningskneg geword toe hy 18 was. Vandag dien hy by Bethel. Hy sê: “Om gedoop te word, was die regte besluit. My lewe is gevul met bevredigende werk wat ek vir Jehovah en sy organisasie doen.” As jy gedoop wil word, hoe kan jy daarvoor voorberei? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.