Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense​​—⁠Hoe kan julle vir doop voorberei?

Jongmense​​—⁠Hoe kan julle vir doop voorberei?

“Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen.”—PSALM 40:8.

LIEDERE: 51, 58

1, 2. (a) Verduidelik waarom doop ’n ernstige stap is. (b) Waarvan moet ’n persoon seker wees voordat hy gedoop word, en waarom?

IS JY ’n jongmens wat graag gedoop wil word? Om gedoop te wees, is die grootste eer wat jy ooit kan hê. Soos ons in die vorige artikel genoem het, is doop ’n ernstige besluit. Dit toon vir ander dat jy jou aan Jehovah toegewy het, dit wil sê dat jy belowe het om hom vir ewig te dien en dat sy wil van die allergrootste belang vir jou is. Dit is ’n baie ernstige belofte aan God, en daarom moet jy slegs gedoop word as jy volwasse genoeg is, ’n persoonlike begeerte het om dit te doen en verstaan wat dit beteken om aan God toegewy te wees.

2 Maar dalk meen jy dat jy nie gereed is om gedoop te word nie. Of miskien meen jy dat jy gereed is, maar jou ouers dink dat jy moet wag totdat jy ouer is en meer ervaring in die lewe het. Wat moet jy doen? Moenie ontmoedig word nie. Gebruik hierdie tyd eerder om vordering te maak sodat jy so gou as moontlik wel aan die vereistes kan voldoen om gedoop te word. Met dit in gedagte kan jy doelwitte op drie verskillende gebiede stel: (1) jou oortuigings, (2) jou dade en (3) jou waardering.

JOU OORTUIGINGS

3, 4. Watter les kan jongmense uit Timoteus se voorbeeld leer?

3 Dink aan hoe jy die volgende vrae sal beantwoord: Waarom glo ek dat God bestaan? Waarom is ek seker dat die Bybel van God af kom? Waarom gehoorsaam ek eerder God se gebooie as om die wêreld se sedelike standaarde te volg? Hierdie vrae kan jou help om die apostel Paulus se raad te volg: “Julle [moet] seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Waarom moet jy dit doen?

Timoteus het die waarheid aangeneem omdat hy geredeneer het oor wat hy geleer het en oortuig was dat dit die waarheid is

4 Die voorbeeld van Timoteus kan jou help. Hy het die Skrif goed geken omdat sy ma en sy ouma dit gebruik het om hom te leer. Maar Paulus het vir Timoteus gesê: “Bly jy . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo” (2 Timoteus 3:14, 15). Hier beteken die woord “oortuig” dat jy “seker is dat iets waar is”. Timoteus was dus daarvan oortuig dat die waarheid in die Skrif gevind kon word. Hy het die waarheid aangeneem, nie omdat sy ma en sy ouma vir hom gesê het om dit te doen nie, maar omdat hy geredeneer het oor wat hy geleer het en oortuig was dat dit die waarheid is.—Lees Romeine 12:1.

5, 6. Waarom is dit belangrik dat jy reeds op ’n jong ouderdom leer om jou “denkvermoë” te gebruik?

5 Wat van jou? Miskien ken jy die waarheid al lank. Indien wel, moet jy dit jou doelwit maak om na te dink oor die redes vir jou oortuigings. Dit sal jou help om jou geloof te versterk en sal verhoed dat jy verkeerde besluite neem as gevolg van groepsdruk, die wêreld se denke of selfs jou eie gevoelens.

6 As jy leer om jou “denkvermoë” te gebruik terwyl jy nog jonk is, sal jy vrae kan beantwoord, soos: ‘Hoe weet jy vir seker dat daar ’n God is? Waarom laat God toe dat slegte dinge gebeur as hy vir ons lief is? Hoe is dit moontlik dat God nog altyd bestaan het?’ As jy voorbereid is, sal sulke vrae nie twyfelgedagtes by jou laat ontstaan nie, maar sal dit jou beweeg om die Bybel te bestudeer.

7-9. Verduidelik hoe die aanlyn reeks, “Wat leer die Bybel werklik?”, jou kan help om jou oortuiging te versterk.

7 Noukeurige persoonlike studie kan jou help om vrae te beantwoord, om enige twyfelgedagtes uit die weg te ruim en om jou oortuigings te versterk (Handelinge 17:11). Ons het talle publikasies wat jou kan help om dit te doen. Baie het dit nuttig gevind om die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? te bestudeer. Baie jongmense het ook die reeks “Wat leer die Bybel werklik?” op jw.org/af geniet en daarby baat gevind. Jy kan dit vind onder BYBELLERINGE > TIENERS. Elke studiehulp in hierdie reeks is ontwerp om jou te help om jou oortuiging oor ’n Bybelonderwerp te versterk.

8 Jy is ’n Bybelstudent, en daarom ken jy dalk reeds die antwoorde op party van die vrae in die studiehulpe. Maar is jy seker van jou antwoorde? Die studiehulpe sal jou help om goed na te dink oor verskillende tekste en jou dan aanspoor om die redes vir jou oortuigings neer te skryf. Dit sal jou help om jou oortuigings aan ander te verduidelik. As jy toegang het tot die aanlyn reeks “Wat leer die Bybel werklik?”, kan jy dit in jou persoonlike studie gebruik om jou te help om jou oortuigings te versterk.

9 Jy moet self seker maak dat wat jy leer, die waarheid is. Dit sal help om jou vir doop voor te berei. ’n Tienersuster het gesê: “Voordat ek besluit het om gedoop te word, het ek die Bybel bestudeer en gesien dat ons godsdiens die ware godsdiens is. En hierdie oortuiging word elke dag sterker.”

JOU DADE

10. Waarom is dit redelik om te verwag dat ’n gedoopte Christen se dade met sy geloof sal ooreenstem?

10 Die Bybel sê: “Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood” (Jakobus 2:17). As jou oortuiging sterk is, sal jy dit deur jou dade toon. Jy sal openbaar wat die Bybel “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” noem.—Lees 2 Petrus 3:11.

11. Verduidelik wat die uitdrukking “heilige gedrag” beteken.

11 Wat is “heilige gedrag”? As jou dade heilig is, is jy sedelik rein. Dink byvoorbeeld aan die afgelope ses maande. Het jy, toe jy in die versoeking gekom het om iets verkeerds te doen, goed nagedink oor wat reg en wat verkeerd is? (Hebreërs 5:14). Onthou jy die kere toe jy nie voor versoeking of groepsdruk geswig het nie? Is jy by die skool ’n goeie voorbeeld vir ander? Bly jy getrou aan Jehovah of probeer jy soos jou klasmaats wees sodat hulle jou nie sal terg nie? (1 Petrus 4:3, 4). Niemand is natuurlik volmaak nie. Soms voel selfs diegene wat Jehovah al baie jare dien, dalk skaam en vind hulle dit moeilik om vir ander te preek. Maar iemand wat aan God toegewy is, sal trots daarop wees om een van Jehovah se Getuies te wees, en hy toon dit deur sy rein gedrag.

12. Wat is party “dade van godvrugtige toegewydheid”, en hoe moet jy dit beskou?

12 Wat is “dade van godvrugtige toegewydheid”? Dit sluit jou gemeentelike bedrywighede in, soos om vergaderinge by te woon en velddiens te doen. Maar dit sluit ook bedrywighede in wat ander nie sien nie, soos jou persoonlike gebede tot Jehovah en jou persoonlike studie. Iemand wat sy lewe aan Jehovah toegewy het, sal nie dink dat hierdie bedrywighede ’n las is nie. Hy sal voel soos koning Dawid, wat gesê het: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande.”—Psalm 40:8.

Hoe spesifiek is jou gebede, en wat openbaar dit oor jou liefde vir Jehovah?

13, 14. Watter voorsiening kan jou help om “dade van godvrugtige toegewydheid” te verrig, en hoe het party jongmense by hierdie voorsiening baat gevind?

13 Daar is ’n werkblad op bladsy 308 en 309 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, om jou te help om doelwitte te stel. Op die werkblad kan jy jou antwoorde neerskryf op vrae soos: “Hoe spesifiek is jou gebede, en wat openbaar dit oor jou liefde vir Jehovah?” “Wat sluit jy by jou persoonlike studie in?” “Neem jy aan die bediening deel selfs as jou ouers dit nie doen nie?” Daar is ook plek op die werkblad sodat jy enige doelwitte kan neerskryf wat jy wil stel in verband met jou gebede, persoonlike studie en velddiens.

14 Talle jongmense wat daaraan dink om gedoop te word, het gevind dat hierdie werkblad ’n nuttige hulpmiddel is. ’n Jong suster met die naam Tilda het gesê: “Ek het die werkblad gebruik om doelwitte te stel. Ek het hierdie doelwitte een vir een bereik en sowat ’n jaar later was ek gereed om gedoop te word.” ’n Jong broer met die naam Patrick het ook by hierdie werkblad baat gevind. “Ek het reeds geweet wat my doelwitte is,” sê hy, “maar die feit dat ek dit neergeskryf het, het my gehelp om harder te werk om dit te bereik.”

Sal jy aanhou om Jehovah te dien, al hou jou ouers op om dit te doen? (Sien paragraaf 15)

15. Verduidelik waarom toewyding ’n persoonlike besluit moet wees.

15 Een van die vrae op die werkblad is: “Sal jy Jehovah dien, al hou jou ouers en jou vriende op om dit te doen?” Wanneer jy jou lewe aan Jehovah toewy en gedoop word, sal jy jou eie persoonlike verhouding met hom hê. Wat jy vir Jehovah doen, moet dus nie van jou ouers of enigiemand anders afhang nie. Jou heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid toon dat jy oortuig is dat jy die waarheid het en God se standaarde wil volg. En dit toon dat jy binnekort aan die vereistes sal voldoen om gedoop te word.

JOU WAARDERING

16, 17. (a) Wat moet ’n persoon beweeg om ’n Christen te word? (b) Hoe kan waardering vir die losprys verduidelik word?

16 Eendag het ’n man wat die Mosaïese Wet goed geken het, vir Jesus gevra: “Wat is die grootste gebod?” Jesus het geantwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:35-37). Jesus het verduidelik dat liefde vir Jehovah die rede moet wees waarom iemand gedoop word en ’n Christen word. Een van die beste maniere om jou liefde vir Jehovah te versterk, is om goed na te dink oor die losprys, God se grootste gawe aan die mensdom. (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15; 1 Johannes 4:9, 19.) Wanneer jy dit doen, sal jy jou waardering vir hierdie wonderlike gawe wil toon.

17 Jou waardering vir die losprys kan so verduidelik word: Stel jou voor dat jy besig is om te verdrink, maar dan red iemand jou. Sal jy eenvoudig huis toe gaan, jou afdroog en vergeet wat daardie persoon vir jou gedoen het? Nee! Jy sal altyd dankbaar wees teenoor die persoon wat jou lewe gered het! Net so moet ons baie dankbaar wees teenoor Jehovah en Jesus omdat hulle die losprys voorsien het. Ons is ons lewe aan hulle verskuldig! Hulle het ons van sonde en die dood gered. Weens hulle liefde vir ons het ons nou die hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe!

18, 19. (a) Waarom moet jy nie bang wees om aan Jehovah te behoort nie? (b) Hoe verbeter dit jou lewe as jy Jehovah dien?

18 Waardeer jy wat Jehovah vir jou gedoen het? Indien wel, sal jy die regte ding doen as jy jou toewy en gedoop word. Jou toewyding is ’n belofte aan God dat jy sy wil vir ewig sal doen. Moet jy bang wees om hierdie belofte te maak? Nee! Jehovah dra jou belange op die hart, en hy sal diegene beloon wat sy wil doen (Hebreërs 11:6). Wanneer jy jou lewe aan God toewy en gedoop word, sal jou lewe nie versleg nie—dit sal eerder verbeter! ’n Broer wat nou 24 is en gedoop is voordat hy ’n tiener was, sê: “Ek sou dalk ’n dieper begrip gehad het as ek ouer was, maar my besluit om my aan Jehovah toe te wy, het my teen wêreldse strewes beskerm.”

Satan is selfsugtig en gee nie vir jou om nie

19 Jehovah is baie lief vir jou. Maar Satan is selfsugtig en gee nie vir jou om nie. Hy kan jou niks goeds gee as jy hom volg nie. Hoe kan hy jou iets gee wat hy nie het nie? Hy het nie goeie nuus nie, en hy het geen hoop nie. Hy kan jou net ’n slegte toekoms gee, want dit is die toekoms wat hy sal hê!—Openbaring 20:10.

20. Wat kan ’n jongmens doen om tot toewyding en doop te vorder? (Sien ook die venster “Hulp om vordering te maak”.)

20 Om jou lewe aan Jehovah toe te wy, is die beste besluit wat jy ooit sal neem. Is jy gereed om dit te doen? Indien wel, moet jy nie bang wees om hierdie belofte te maak nie. Maar as jy meen dat jy nie gereed is nie, kan jy die wenke in hierdie artikel gebruik om aan te hou om vordering te maak. Paulus het vir die broers in Filippi gesê dat hulle moet aanhou om vooruitgang te maak (Filippense 3:16). As jy hierdie raad toepas, sal jy kort voor lank jou lewe aan Jehovah wil toewy en gedoop wil word.