Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan help om ons Christelike eenheid te versterk​—⁠Hoe?

Jy kan help om ons Christelike eenheid te versterk​—⁠Hoe?

“Uit hom [is] die hele liggaam . . . harmonies saamgeheg . . . en tot samewerking gebring.”—EFESIËRS 4:16.

LIEDERE: 53, 107

1. Hoe is samewerking van die begin van die skepping af onder God se dienaars gesien?

JEHOVAH en Jesus is al van die begin van die skepping af verenig. Jehovah het Jesus voor alle ander dinge geskep. Daarna het Jesus saam met hom gewerk en was hy “’n meesterwerker naas hom” (Spreuke 8:30). Ook Jehovah se knegte het met mekaar saamgewerk om die werk te doen wat hulle ontvang het. Byvoorbeeld, Noag en sy gesin het die ark saam gebou. Later het die Israeliete saamgewerk om die tabernakel op te rig, dit uitmekaar te haal en dit van een plek na ’n ander te verskuif. By die tempel het hulle saam gesing en musiekinstrumente gespeel om Jehovah met pragtige musiek te loof. Jehovah se volk kon al hierdie dinge doen omdat hulle met mekaar saamgewerk het.—Genesis 6:14-16, 22; Numeri 4:4-32; 1 Kronieke 25:1-8.

2. (a) Wat was merkwaardig omtrent Christene in die eerste eeu? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

2 Christene in die eerste eeu het ook met mekaar saamgewerk. Die apostel Paulus het verduidelik dat hulle verenig was, al het hulle verskillende vermoëns en toewysings gehad. Hulle almal het hulle Leier, Jesus Christus, gevolg. Paulus het hulle vergelyk met ’n liggaam wat verskillende ledemate het wat saamwerk. (Lees 1 Korintiërs 12:4-6, 12.) Maar wat van ons wat vandag lewe? Hoe kan ons met mekaar saamwerk in die predikingswerk, in die gemeente en in die gesin?

SAMEWERKING IN DIE PREDIKINGSWERK

3. Watter visioen het die apostel Johannes ontvang?

3 In die eerste eeu het die apostel Johannes ’n visioen gesien van sewe engele wat op trompette blaas. Toe die vyfde engel op sy trompet blaas, het Johannes “’n ster gesien wat uit die hemel op die aarde geval het”. Hierdie “ster” het ’n sleutel gebruik om die deur na ’n diep, donker put oop te sluit. Eers het dik rook uit die put gekom, en daarna het ’n swerm sprinkane uit die rook gekom. Hierdie sprinkane het nie die bome of die plante beskadig nie. Inteendeel, hulle het diegene aangeval wat “nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie” (Openbaring 9:1-4). Johannes het geweet dat ’n swerm sprinkane baie skade kan aanrig; dit het in Moses se tyd in Egipte gebeur (Eksodus 10:12-15). Die sprinkane wat Johannes gesien het, stel gesalfde Christene voor wat ’n kragtige boodskap teen valse godsdiens verkondig. En miljoene ander wat uitsien na lewe op die aarde, het by hulle aangesluit. Hulle is verenig in hierdie predikingswerk. Hierdie werk het baie mense gehelp om valse godsdiens te verlaat en om nie meer onder Satan se beheer te wees nie.

Ons kan regoor die wêreld preek omdat ons met mekaar saamwerk

4. Watter toewysing moet God se volk vandag uitvoer, en wat is die enigste manier waarop hulle dit kan doen?

4 Ons het die toewysing om die “goeie nuus” aan mense regoor die wêreld te verkondig voordat die einde kom. Dit is ’n ontsaglike taak! (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ons moet almal wat “dors” is, nooi om die “water van die lewe” te drink; dit wil sê, ons moet Bybelwaarheid leer aan almal wat dit wil verstaan (Openbaring 22:17). Maar ons kan dit slegs doen as ons “harmonies saamgeheg is” en in die gemeente met mekaar saamwerk.—Efesiërs 4:16.

5, 6. Hoe is ons verenig terwyl ons die goeie nuus verkondig?

5 Om soveel mense as moontlik te bereik, moet ons predikingswerk goed georganiseerd wees. Die riglyne wat ons van die gemeente kry, help ons hiermee. Nadat ons die velddiensvergadering bygewoon het, gaan praat ons met mense oor die goeie nuus van die Koninkryk. Ons bied ook vir hulle Bybelpublikasies aan. Trouens, ons het al miljoene van hierdie publikasies regoor die wêreld versprei. Soms word ons gevra om aan spesiale predikingskampanjes deel te neem. Wanneer jy hierdie werk doen, is jy verenig met miljoene ander regoor die wêreld wat dieselfde boodskap verkondig! Jy werk ook saam met die engele, wat God se volk help om die goeie nuus te verkondig.—Openbaring 14:6.

6 Hoe opwindend is dit tog om verslae in die Jaarboek te lees oor wat in alle wêrelddele in die predikingswerk bereik is! Dink ook aan hoe ons regoor die wêreld verenig is wanneer ons mense na ons streekbyeenkomste toe nooi. By hierdie byeenkomste luister ons almal na dieselfde inligting. Toesprake, dramas en demonstrasies spoor ons aan om Jehovah ons beste te gee. Ons is ook regoor die wêreld verenig met ons broers en susters wanneer ons elke jaar die Gedenkmaal bywoon (1 Korintiërs 11:23-26). Ons kom op dieselfde datum, 14 Nisan, ná sononder bymekaar om te toon dat ons dankbaar is vir wat Jehovah vir ons gedoen het en omdat Jesus ons beveel het om sy dood te herdenk. En gedurende die weke voor die Gedenkmaal werk ons saam om soveel mense as moontlik te nooi om hierdie belangrike gebeurtenis saam met ons by te woon.

7. Wat kan ons doen omdat ons saamwerk?

7 Een sprinkaan kan nie veel op sy eie doen nie. Net so kan ons nie op ons eie vir alle mense preek nie. Maar omdat ons saamwerk, kan ons miljoene mense van Jehovah vertel en party van hulle help om hom te loof en te eer.

SAMEWERKING IN DIE GEMEENTE

8, 9. (a) Watter illustrasie het Paulus gebruik om Christene te leer om verenig te bly? (b) Hoe kan ons met die gemeente saamwerk?

8 Paulus het aan die Efesiërs verduidelik hoe die gemeente georganiseer is, en hy het gesê dat almal in die gemeente “in alles [moet] opgroei”. (Lees Efesiërs 4:15, 16.) Paulus het die voorbeeld van ’n liggaam gebruik om te verduidelik dat elke Christen die gemeente kan help om verenig te bly en om Jesus, die Leier van die gemeente, te volg. Hy het gesê dat al die ledemate van die liggaam saamwerk “deur middel van elke gewrig wat gee wat nodig is”. Wat moet elkeen van ons dus doen, hetsy ons oud of jonk, siek of gesond is?

Hoe kan jy jou gemeente help om verenig te bly?

9 Jesus het ouer manne aangestel om die leiding in die gemeente te neem, en hy wil hê dat ons hulle moet respekteer en hulle riglyne moet volg (Hebreërs 13:7, 17). Dit is nie altyd maklik nie. Maar ons kan Jehovah vra om ons te help. Sy heilige gees kan ons help om gehoorsaam te wees aan enige riglyne wat die ouer manne ons gee. Dink ook aan hoeveel ons ons gemeente kan help as ons nederig is en met die ouer manne saamwerk. Ons gemeente sal verenig wees, en ons liefde vir mekaar sal sterker word.

10. Hoe help bedieningsknegte die gemeente om verenig te bly? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Bedieningsknegte help ook om die gemeente verenig te hou. Hulle werk hard om die ouer manne te help, en ons is dankbaar vir alles wat hulle doen. Byvoorbeeld, bedieningsknegte maak seker dat ons genoeg publikasies het om in die bediening te gebruik en hulle verwelkom besoekers by ons vergaderinge. Hulle werk ook hard om herstelwerk aan die Koninkryksaal te doen en dit skoon te hou. Wanneer ons met hierdie broers saamwerk, is ons verenig en dien ons Jehovah op ’n georganiseerde manier.—Vergelyk Handelinge 6:3-6.

11. Wat kan jonger mense doen om die gemeente te help om verenig te wees?

11 Party ouer manne werk al jare lank baie hard in die gemeente. Maar dalk kan hulle nie meer soveel as in die verlede doen nie omdat hulle ouer word. Jonger broers kan help. As hulle opgelei is, kan hulle na meer verantwoordelikhede in die gemeente omsien. En as bedieningsknegte hard werk, kan hulle in die toekoms as ouer manne dien (1 Timoteus 3:1, 10). Party jonger ouer manne het nog meer vooruitgang gemaak. Hulle dien nou as kringopsieners en help broers en susters in baie gemeentes. Ons is dankbaar wanneer jonger mense gewillig is om hulle broers en susters te dien.—Lees Psalm 110:3; Prediker 12:1.

SAMEWERKING IN DIE GESIN

12, 13. Wat kan almal in die gesin help om met mekaar saam te werk?

12 Wat kan gesinslede help om met mekaar saam te werk? Weeklikse gesinsaanbidding kan ’n groot hulp wees. Wanneer ouers en kinders tyd saam deurbring om van Jehovah te leer, word hulle liefde vir mekaar sterker. Gedurende hierdie tyd kan hulle velddiensaanbiedings oefen, wat hulle almal sal help om goed voorbereid te wees. En wanneer hulle saam oor die waarheid praat en sien dat elkeen in die gesin Jehovah liefhet en hom wil behaag, kom hulle nog nader aan mekaar.

As huweliksmaats Jehovah liefhet en hom saam dien, sal hulle gelukkig en verenig wees

13 Hoe kan huweliksmaats met mekaar saamwerk? (Matteus 19:6). As hulle albei Jehovah liefhet en hom saam dien, sal hulle gelukkig en verenig wees. Hulle moet ook liefde aan mekaar betoon, soos Abraham en Sara, Isak en Rebekka, Elkana en Hanna (Genesis 26:8; 1 Samuel 1:5, 8; 1 Petrus 3:5, 6). As huweliksmaats dit doen, is hulle verenig en kom hulle nader aan Jehovah.—Lees Prediker 4:12.

Gesinsaanbidding kan oud en jonk help om nader aan mekaar te kom (Sien paragraaf 12, 15)

14. Wat kan jy doen om jou huwelik sterk te hou as jou huweliksmaat Jehovah nie dien nie?

14 Die Bybel sê uitdruklik dat ons nie met iemand moet trou wat Jehovah nie dien nie (2 Korintiërs 6:14). Maar daar is wel broers en susters wat getroud is met iemand wat nie een van Jehovah se Getuies is nie. Party het die waarheid geleer nadat hulle getroud is, en hulle maat het nie ’n Getuie geword nie. Ander het moontlik met ’n kneg van Jehovah getrou wat die gemeente later verlaat het. In hierdie situasies doen Christene alles in hulle vermoë om hulle huwelik sterk te hou deur Bybelraad te gehoorsaam. Dit is nie altyd maklik nie. Byvoorbeeld, Mary en haar man, David, het Jehovah saam gedien. Toe het David opgehou om vergaderinge by te woon. Maar Mary het steeds probeer om ’n goeie vrou te wees en Christelike eienskappe te openbaar. Sy het ook haar ses kinders van Jehovah geleer en aangehou om vergaderinge en byeenkomste by te woon. Jare later, toe die kinders groot was en die huis verlaat het, het Mary aangehou om Jehovah te dien, al was dit baie moeiliker vir haar. Maar toe het David die tydskrifte begin lees wat Mary gelos het waar hy dit sou sien. Mettertyd het hy party vergaderinge weer begin bywoon. Sy sesjarige kleinseun het altyd vir hom ’n sitplek gehou, en as David nie gekom het nie, het die seun gesê: “Ek het Oupa vandag by die vergadering gemis.” Ná 25 jaar het David na Jehovah toe teruggekeer, en hy en sy vrou is baie bly dat hulle Jehovah nou weer saam dien.

15. Hoe kan ouer egpare jonger egpare help?

15 Satan val vandag gesinne aan. Dit is een rede waarom ’n man en vrou wat Jehovah dien, met mekaar moet saamwerk. Ongeag hoe lank julle getroud is, julle moet dink aan wat julle kan doen of sê om julle huwelik te versterk. As julle ’n ouer egpaar is, kan julle ’n goeie voorbeeld vir jonger egpare wees. Dalk kan julle ’n jonger egpaar nooi om saam met julle gesinsaanbidding te doen. Hulle sal sien dat egpare liefde aan mekaar moet betoon en verenig moet wees, ongeag hoe lank hulle getroud is.—Titus 2:3-7.

“LAAT ONS OPGAAN NA DIE BERG VAN JEHOVAH”

16, 17. Waarna sien God se verenigde knegte uit?

16 Die Israeliete het met mekaar saamgewerk wanneer hulle na hulle feeste in Jerusalem gegaan het. Hulle het alles voorberei wat hulle vir die reis nodig gehad het. Dan het hulle saam gereis en mekaar gehelp. By die tempel het hulle almal Jehovah saam geloof en aanbid (Lukas 2:41-44). Terwyl ons vandag vir die lewe in die nuwe wêreld voorberei, moet ons verenig wees en alles in ons vermoë doen om met mekaar saam te werk. Kan jy aan maniere dink waarop jy dit in selfs groter mate kan doen?

17 Mense in hierdie wêreld is verdeeld en baklei selfs oor baie dinge. Maar ons is dankbaar dat Jehovah ons help om vrede te hê en om die waarheid te verstaan! Sy volk regoor die wêreld aanbid hom op die manier wat hy goedkeur. En veral in hierdie laaste dae is Jehovah se volk meer verenig as ooit tevore. Net soos Jesaja en Miga voorspel het, gaan ons saam op na “die berg van Jehovah”. (Jesaja 2:2-4; lees Miga 4:2-4.) Hoe bly sal ons tog in die toekoms wees wanneer alle mense op die aarde “harmonies saamgeheg” is en met mekaar saamwerk om Jehovah te aanbid!