Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wanneer was God se volk gevangenes van Babilon die Grote?

Dit het ná die eerste eeu begin en in 1919 geëindig. Waarom is hierdie aanpassing in ons begrip nodig?

Al die bewyse toon dat gesalfde Christene in 1919 uit Babilon die Grote bevry is en in ’n gereinigde gemeente bymekaargebring is. Dink hieraan: Onmiddellik nadat God se Koninkryk in 1914 in die hemel begin regeer het, is God se volk getoets en geleidelik van valse aanbidding gereinig (Maleagi 3:1-4). * (Sien voetnoot.) Toe, in 1919, het Jesus “die getroue en verstandige slaaf” aangestel om God se gereinigde volk van “voedsel op die regte tyd” te voorsien (Matteus 24:45-47). In daardie selfde jaar is God se volk uit simboliese gevangenskap aan Babilon die Grote vrygelaat (Openbaring 18:4). Maar wanneer het God se volk gevangenes geword?

In die verlede het ons verduidelik dat God se volk vanaf 1918 vir ’n kort rukkie gevangenes van Babilon die Grote was. Die Wagtoring van 15 Maart 1992 het gesê: “Net soos God se eertydse volk ’n tyd lank slawe in Babilon was, so was Jehovah se knegte in 1918 in sekere mate slawe van Babilon die Grote.” Maar verdere navorsing toon dat God se volk reeds jare voor 1918 gevangenes geword het.

Die profesie in Esegiël 37:1-14 het voorspel dat God se volk gevange geneem en later vrygelaat sou word. Esegiël het ’n visioen gesien van ’n vallei vol bene. Jehovah het gesê: “Hierdie bene . . . is die hele huis van Israel” (vers 11). Dit was van toepassing op die nasie Israel en sou later van toepassing wees op die “Israel van God”, dit wil sê die gesalfdes (Galasiërs 6:16; Handelinge 3:21). In die visioen het die bene lewend geword en ’n groot leër geword. Dit beskryf hoe God se volk in 1919 uit Babilon die Grote bevry is. Maar hoe toon hierdie profesie dat hulle baie lank gevangenes was?

Eerstens het Esegiël gesien dat die bene “baie droog” is (Esegiël 37:2, 11). Dit beteken dat die mense al baie lank dood was. Tweedens het Esegiël gesien dat die dooies geleidelik weer lewend geword het, nie skielik nie. Hy het “’n geluid [gehoor], . . . ’n geratel, en die bene het begin nader kom, elke been na sy been”. Toe het hy gesien hoe ‘senings en vlees op hulle kom’. Daarna is die vlees met vel bedek. Uiteindelik het ‘asem in hulle gekom, en hulle het lewend geword’. Laastens, nadat hulle lewend geword het, het Jehovah hulle weer in hulle land laat woon. Dit alles sou tyd neem.—Esegiël 37:7-10, 14.

Net soos hierdie profesie voorspel het, was die Israeliete baie lank in gevangenskap. Hulle gevangenskap het in die jaar 740 VHJ begin toe die tien stamme van Israel, die noordelike koninkryk, gedwing is om hulle land te verlaat. Later, in die jaar 607 VHJ, is Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig en is die ander twee stamme, die suidelike koninkryk van Juda, ook gedwing om hulle land te verlaat. Toe, in die jaar 537 VHJ, het die gevangenskap tot ’n einde gekom toe ’n klein aantal Jode teruggekeer het om die tempel te herbou en Jehovah weer in Jerusalem te aanbid.

Al hierdie besonderhede toon dus dat gesalfde Christene ongetwyfeld vir ’n baie lang tyd gevangenes in Babilon die Grote was, en nie net vanaf 1918 tot 1919 nie. Jesus het ook na hierdie lang tydperk verwys toe hy gesê het dat valse Christene, die onkruid, saam met “die kinders van die Koninkryk”, die koring, sou groei (Matteus 13:36-43). Gedurende hierdie tydperk was daar net ’n paar ware Christene. Die meeste van dié wat beweer het dat hulle Christene is, het valse leerstellings aangeneem en afvallig geword. Daarom kan ons sê dat die Christengemeente deur Babilon die Grote gevange gehou is. Hierdie gevangenskap het ná die eerste eeu begin en het voortgeduur totdat God se geestelike tempel in die tyd van die einde gereinig is.—Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3, 6; 1 Johannes 2:18, 19.

Gedurende daardie honderde jare wou kerkleiers en politieke leiers mense onder hulle beheer hou. Byvoorbeeld, mense is nie toegelaat om ’n Bybel te hê of die Bybel te lees in ’n taal wat hulle kon verstaan nie. Party wat die Bybel gelees het, het selfs op die brandstapel gesterf. En diegene wat hulle teen die kerkleiers uitgespreek het, is swaar gestraf. Dit was feitlik onmoontlik vir enigeen om die waarheid te leer of ander daarvan te vertel.

Ons leer ook uit Esegiël se visioen dat God se volk weer lewend geword het en geleidelik uit valse godsdiens bevry is. Wanneer en hoe het dit begin gebeur? Dit het in die paar honderd jaar voor die tyd van die einde begin gebeur en het met “’n geratel” gepaardgegaan. Gedurende hierdie jare was daar ’n paar getroues wat die waarheid wou vind en God wou dien, al was hulle deur valse leerstellings omring. Hulle het die Bybel bestudeer en alles in hulle vermoë gedoen om wat hulle geleer het, aan ander oor te dra. Ander het hard gewerk om die Bybel te vertaal in tale wat mense verstaan het.

Toe, teen die einde van die 1800’s, was dit asof vlees en vel die bene begin bedek het. Charles Taze Russell en sy vriende het hard gewerk om Bybelwaarheid te vind en Jehovah te dien. Hulle het ook ander gehelp om die waarheid te verstaan met behulp van Zion’s Watch Tower en ander publikasies. In 1914 het die “Fotodrama van die Skepping” Jehovah se volk gehelp om hulle geloof te versterk, en in 1917 het die boek The Finished Mystery hulle gehelp. In 1919 was dit asof sy volk uiteindelik lewe en ’n nuwe land ontvang het. Sedertdien het diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, by die gesalfdes aangesluit. Hulle almal aanbid Jehovah, en hulle het saam “’n baie, baie groot krygsmag”, of leër, geword.—Esegiël 37:10; Sagaria 8:20-23. *—Sien voetnoot.

Dit is dus duidelik dat God se volk ná die eerste eeu gevangenes van Babilon die Grote geword het. Gedurende hierdie tydperk het baie mense afvallig geword deur valse godsdiensleerstellings aan te neem en die waarheid te verwerp. Dit was baie jare lank uiters moeilik om Jehovah te dien, soos dit ook vir die Israeliete tydens hulle gevangenskap was. Maar vandag word die waarheid aan almal verkondig. Hoe bly is ons tog dat ons in die tyd lewe wanneer ‘dié wat insig het, helder skyn’! Baie kan ‘hulleself nou reinig, gelouter word’, en ware aanbidding aanneem!—Daniël 12:3, 10.

Het Satan Jesus na die tempel geneem toe hy hom probeer versoek het of het hy die tempel vir Jesus in ’n visioen gewys?

Ons kan nie met sekerheid sê hoe Satan die tempel vir Jesus gewys het nie.

Die Bybelskrywers Matteus en Lukas het albei oor hierdie gebeurtenis geskryf. Matteus het gesê dat ‘die Duiwel Jesus saamgeneem’ het na Jerusalem en “hom bo-op die muur van die tempel laat staan” het, dit wil sê op die “hoogste punt” van die tempel (Matteus 4:5; voetnoot in NW). Lukas het gesê dat die Duiwel “hom in Jerusalem ingelei en hom bo-op die muur van die tempel laat staan” het.—Lukas 4:9.

In die verlede het ons publikasies gesê dat Satan Jesus moontlik nie fisies na die tempel geneem het toe hy hom probeer versoek het nie. The Watchtower van 1 Maart 1961 het gesê dat Satan Jesus by hierdie geleentheid ook probeer versoek het deur hom na ’n hoë berg te neem en vir hom al die koninkryke van die wêreld te wys. Dit het gesê dat daar nie ’n berg is wat hoog genoeg is sodat ’n mens al die koninkryke van die wêreld van daar af kan sien nie. The Watchtower het toe gesê dat Satan Jesus heel moontlik ook nie fisies na die werklike tempel geneem het nie. Maar artikels wat later in Die Wagtoring verskyn het, het gesê dat dit Jesus se dood kon beteken het as hy van die tempel afgespring het, wat te kenne gee dat hy werklik op ’n hoë plek was.

Sommige sê dat Jesus nie die reg gehad het om op die tempelheiligdom te staan nie, aangesien hy nie ’n Leviet was nie. Hulle meen dus dat Satan Jesus heel moontlik deur middel van ’n visioen probeer versoek het. Esegiël is ook honderde jare tevore in ’n visioen na die tempel geneem.—Esegiël 8:3, 7-10; 11:1, 24; 37:1, 2.

Maar as Jesus in ’n visioen na die tempel geneem is, wonder sommige dalk:

  • Sou dit werklik vir Jesus ’n versoeking gewees het om van die tempel af te spring?

  • Toe Satan Jesus probeer versoek het, het hy Jesus ook gevra om regte klippe in regte brode te verander en wou hy hê dat Jesus ’n werklike daad van aanbidding teenoor hom moes verrig. Is dit dus moontlik dat Satan ook wou hê dat Jesus van die werklike tempel moes afspring?

Maar as Satan nie ’n visioen gebruik het nie en hy Jesus na die werklike tempel geneem het, wonder ander dalk weer:

  • Het Jesus die Wet verbreek deur bo-op die tempelheiligdom te staan?

  • Hoe het Jesus van die wildernis tot by die tempel in Jerusalem gekom?

Kom ons kyk na bykomende inligting wat ons sal help om hierdie laaste twee vrae te beantwoord.

Professor D.A. Carson het geskryf dat die Griekse woord vir “tempel” wat in Matteus en Lukas gebruik word, waarskynlik na die hele tempelgebied verwys en nie net na die heiligdom waar slegs Leviete toegelaat is nie. Die suidoostelike hoek van die tempelgebied het ’n plat dak gehad wat die hoogste in die tempel was. Jesus kon op hierdie dak gestaan het. Van die dak af tot onder in die Kidronvallei was ongeveer 140 meter. Die geskiedskrywer Josefus het gesê dat dit so hoog was dat ’n mens “duiselig sou raak” as jy daar gestaan en afgekyk het. Niemand sou beswaar gemaak het as Jesus, wat nie ’n Leviet was nie, daar gestaan het nie.

Maar hoe het Jesus van die wildernis tot by die tempel in Jerusalem gekom? Ons kan nie met sekerheid sê nie. Die Bybel sê eenvoudig dat Jesus na Jerusalem geneem is. Dit sê nie hoe ver Jesus van Jerusalem af was of hoe lank die versoeking geduur het nie. Dit is dus moontlik dat Jesus na Jerusalem toe geloop het, hoewel dit dalk lank sou neem.

Toe Satan “al die koninkryke van die wêreld” vir Jesus gewys het, het hy waarskynlik ’n visioen gebruik, aangesien dit nie moontlik is om al hierdie koninkryke van enige berg op die aarde te sien nie. Dit was dalk soortgelyk aan hoe tonele van ander wêrelddele op ’n rolprentskerm vir iemand gewys kan word. Al het Satan moontlik ’n visioen gebruik, wou hy hê dat Jesus werklik moes neerbuig en hom aanbid (Matteus 4:8, 9). Dit is dus moontlik dat Satan, toe hy Jesus na die tempel geneem het, wou hê dat Jesus werklik sy lewe moes waag deur van die tempel af te spring. Maar Jesus het hom weerstaan. As Jesus slegs in ’n visioen versoek is, sou die versoeking beslis nie so groot gewees het nie!

Dit is dus moontlik dat Jesus wel na Jerusalem gegaan en op die hoogste deel van die tempel gestaan het. Maar soos daar aan die begin van hierdie artikel gesê is, weet ons nie presies hoe Satan die tempel vir Jesus gewys het nie. Ons kan egter seker wees dat hierdie versoekings werklik was en dat Jesus elke keer ferm geweier het om voor die versoeking te swig.

^ par. 2 Esegiël 37:1-14 en Openbaring 11:7-12 praat elk van iets wat in 1919 gebeur het. Die profesie in Esegiël 37:1-14 verwys na God se hele volk wat in 1919 ná ’n baie lang tyd in gevangenskap na ware aanbidding teruggekeer het. Maar Openbaring 11:7-12 verwys na die herlewing in 1919 van ’n klein groepie gesalfde broers wat die leiding neem onder God se volk. Hierdie broers is ’n tyd lank nie toegelaat om bedrywig te wees nie.