Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Asa, Josafat, Hiskia, Josia

Dien Jehovah met ’n volkome hart!

Dien Jehovah met ’n volkome hart!

“O Jehovah, onthou asseblief hoe ek in waaragtigheid en met ’n volkome hart voor u gewandel het.”—2 KON. 20:3.

LIEDERE: 52, 65

1-3. Wat is daarby betrokke om Jehovah met “’n volkome hart” te dien? Gee ’n voorbeeld.

OMDAT ons onvolmaak is, maak ons foute. Ons is egter dankbaar dat Jehovah nie met ons handel “volgens ons sondes” nie. As ons berouvol is, kan ons hom in geloof nader en op grond van Jesus se losprysoffer om vergifnis vra (Ps. 103:10). Maar soos Dawid vir Salomo gesê het, sal ons aanbidding slegs vir Jehovah aanvaarbaar wees as ons hom “met ’n volkome hart” dien (1 Kron. 28:9). Hoe kan ons as onvolmaakte mense dit doen?

2 Om ons hiermee te help, kan ons die lewe van koning Asa met dié van koning Amasia vergelyk. Beide Judese konings het gedoen wat reg is in Jehovah se oë, maar Asa het dit met ’n volkome hart gedoen (2 Kron. 15:16, 17; 25:1, 2; Spr. 17:3). Albei konings was onvolmaak en het foute gemaak. Maar Asa het by God se weë probeer bly, want sy hart was volkome toegewy aan God. Amasia was egter nie volkome toegewy aan Jehovah nie. Nadat hy ’n oorwinning oor God se vyande behaal het, het hy hulle gode teruggebring en hulle begin aanbid.—2 Kron. 25:11-16.

3 Om God met “’n volkome hart” te dien, beteken dat ’n mens hom innig liefhet en hom vir altyd wil dien. In die Bybel verwys die “hart” gewoonlik na die innerlike mens. Dit sluit aspekte in soos sy begeertes, gedagtes, gesindhede, vermoëns, beweegredes en doelwitte. ’n Persoon wat Jehovah heelhartig dien, is dus nie skynheilig nie. Hy dien Jehovah nie net uit gewoonte nie. Wat van ons? Ons kan God met ’n volkome hart dien, al is ons onvolmaak. Ons moet hom met ons hele hart liefhê en hom dien omdat ons werklik wil.—2 Kron. 19:9.

4. Wat sal ons nou bespreek?

4 Ons sal beter kan verstaan wat dit beteken om God met ’n volkome hart te dien, as ons kyk na die lewe van Asa sowel as ander konings van Juda wat God met hartgrondige toegewydheid gedien het—Josafat, Hiskia en Josia. Hulle almal het foute gemaak, maar hulle het nog steeds Jehovah se goedkeuring geniet. Waarom het Jehovah hulle beskou as persone wat hom met ’n volkome hart dien, en hoe kan ons hulle voorbeeld volg?

ASA SE HART WAS “VOLKOME MET JEHOVAH”

5. Wat het Asa gedoen toe hy koning geword het?

5 Asa was die derde koning van Juda nadat die noordelike tienstammeryk van Israel weggebreek het. Hy het afgodediens in sy ryk uitgeroei en die manlike tempelprostitute uit die land verwyder. Hy het selfs sy grootmoeder Maäga uit haar posisie as “dame verwyder, omdat sy ’n afstootlike afgod . . . gemaak het” (1 Kon. 15:11-13). Verder het Asa vir sy volk gesê “dat hulle Jehovah . . . moet soek en die wet en die gebod moet uitvoer.” Ja, hy het ware aanbidding bevorder.—2 Kron. 14:4.

6. Hoe het Asa gereageer toe die Etiopiërs die land ingeval het?

6 Jehovah het Juda gedurende die eerste tien jaar van Asa se heerskappy met vrede geseën. Toe het Serag die Etiopiër teen Juda opgetrek met 1 000 000 man en 300 strydwaens (2 Kron. 14:1, 6, 9, 10). Hoe het Asa op die situasie gereageer? Hy het sy volle vertroue in Jehovah uitgespreek. (Lees 2 Kronieke 14:11.) God het Asa se gebed verhoor en Asa ’n algehele oorwinning oor die Etiopiese leër gegee (2 Kron. 14:12, 13). Selfs wanneer konings nie getrou was aan Jehovah nie, het hy hulle soms die oorwinning oor hulle vyande gegee ter wille van sy naam (1 Kon. 20:13, 26-30). Asa het egter op God vertrou, en Jehovah het sy gebed verhoor. Asa het wel later onwys opgetree. Byvoorbeeld, hy het die koning van Sirië vir hulp gevra eerder as om op Jehovah te vertrou (1 Kon. 15:16-22). Maar God het hom nogtans beskou as iemand wie se hart “al sy dae volkome met Jehovah” was. Hoe kan ons Asa se goeie voorbeeld navolg?—1 Kon. 15:14.

7, 8. Hoe kan jy Asa se voorbeeld navolg?

7 Elkeen van ons kan sy hart ondersoek om te sien of hy God met ’n volkome hart dien. Vra jou af: ‘Is ek vasbeslote om Jehovah te behaag, ware aanbidding te verdedig en sy volk teen enige verderflike invloed te beskerm?’ Dink net hoeveel moed dit van Asa geverg het om op te staan teen Maäga, wat die “dame”, of koninginmoeder, in die land was! Jy ken dalk niemand wat net soos sy optree nie, maar daar is moontlik ’n situasie waarin jy Asa se moed kan navolg. Wat sal jy byvoorbeeld doen as ’n familielid of hegte vriend sonde pleeg, onberouvol is en uitgesit moet word? Sal jy vasbeslote wees om nie met daardie persoon te assosieer nie? Wat sal jou hart jou beweeg om te doen?

8 Soos Asa, kan jy toon dat jy ’n volkome hart het deur ten volle op Jehovah te vertrou wanneer jy teenstand ondervind. Jy word dalk by die skool geterg of gespot omdat jy een van Jehovah se Getuies is. Of ons werksmaats spot ons omdat ons verlof neem vir geestelike bedrywighede of omdat ons nie gereeld oortyd werk nie. In sulke situasies moet ons tot God bid, soos Asa gedoen het. Vertrou moedig op Jehovah en bly by wat jy weet reg en wys is. Onthou dat God Asa versterk en gehelp het, en Hy sal jou versterk.

9. Hoe kan ons toon dat ons ’n volkome hart het wanneer ons preek?

9 God se knegte dink nie net aan hulleself nie. Asa het ware aanbidding bevorder. Ons help ook ander om ‘Jehovah te soek’. Hoe bly moet Jehovah tog wees wanneer hy sien dat ons met ons bure en ander oor hom praat omdat ons waarlik lief is vir hom en omdat ons opreg belangstel in ander se ewige welsyn!

JOSAFAT HET JEHOVAH GESOEK

10, 11. Hoe kan jy Josafat se voorbeeld navolg?

10 Asa se seun Josafat “het in die weg van sy vader Asa bly wandel” (2 Kron. 20:31, 32). Hoe so? Soos sy vader, het Josafat die mense aangespoor om Jehovah te soek. Hy het dit gedoen deur ’n kampanje te reël om die volk in “die boek van Jehovah se wet” te onderrig (2 Kron. 17:7-10). Hy het selfs na die gebied van die noordelike koninkryk van Israel gegaan, na die bergstreek van Efraim, “om hulle na Jehovah . . . terug te bring” (2 Kron. 19:4). Josafat was ’n koning “wat Jehovah met sy hele hart gesoek het”.—2 Kron. 22:9.

11 Elkeen van ons kan ’n aandeel hê in die groot onderrigtingskampanje wat vandag plaasvind om mense van Jehovah te leer. Is dit jou doelwit om elke maand die Woord van God aan ander te leer sodat hulle hart beweeg kan word om Jehovah te dien? As jy jou inspan, kan God jou seën om ’n Bybelstudie te begin. Is dit ’n doelwit waaroor jy bid? Sal jy bereid wees om met iemand te studeer, selfs as jy van jou vrye tyd moet opgee? En net soos Josafat na die gebied van Efraim gegaan het om mense te help om na ware aanbidding terug te keer, kan ons diegene probeer help wat onaktief geword het. En die gemeentelike ouer manne besoek uitgesette persone wat in die gemeente se gebied woon en nie meer sonde beoefen nie en bied aan om hulle te help.

12, 13. (a) Wat het Josafat gedoen toe hy bang was? (b) Waarom moet ons net soos Josafat ons swakhede erken?

12 Josafat het net soos sy vader, Asa, getrou aan God gebly selfs toe Juda deur ’n oorweldigende vyandelike mag bedreig is (Lees 2 Kronieke 20:2-4.) Josafat het bang geword! Maar hy het “sy aangesig daarop gerig om Jehovah te soek”. Hy het nederig in gebed erken dat sy volk “geen krag voor hierdie groot menigte” gehad het nie en dat hy en sy volk nie geweet het wat om te doen nie. Hy het ten volle op Jehovah vertrou en gesê: “Ons oë is op u.”—2 Kron. 20:12.

13 Soos Josafat, weet ons soms nie wat om te doen nie en is ons selfs bang (2 Kor. 4:​8, 9). Maar onthou dat Josafat in ’n openbare gebed erken het hoe swak hy en sy volk gevoel het (2 Kron. 20:⁠5). Dié wat die geestelike leiding in die gesin neem, kan Josafat se voorbeeld navolg deur Jehovah te vra vir leiding en krag om die probleem wat hulle het, te verduur. Moenie skaam wees om sulke smeekbedes voor jou gesin te doen nie. Hulle sal sien dat jy op Jehovah vertrou. God het Josafat gehelp, en hy sal jou ook help.

HISKIA HET BLY DOEN WAT REG IS

14, 15. Hoe het Hiskia getoon dat hy ten volle op God vertrou?

14 Hiskia was nog ’n koning wat “Jehovah bly aankleef” het. Anders as Josafat, het hy ’n vader gehad wat ’n slegte voorbeeld gestel het en afgode aanbid het. Hiskia “het die hoogtes verwyder en die heilige pilare in stukke gebreek en die heilige paal afgekap en die koperslang verbrysel wat Moses gemaak het” omdat die Israeliete dit aanbid het. Hy was ten volle toegewyd aan Jehovah. “Hy het aangehou om sy gebooie te onderhou wat Jehovah Moses beveel het.”—2 Kon. 18:1-6.

15 Selfs toe Assirië, wat op daardie stadium die wêreldmoondheid was, Juda binnegeval en gedreig het om Jerusalem te vernietig, het Hiskia ten volle op Jehovah vertrou. Die Assiriese koning Sanherib het Jehovah uitgetart en Hiskia probeer intimideer om oor te gee. Maar Hiskia het ten volle op Jehovah vertrou en hom in gebed gevra om hulle te help. (Lees Jesaja 37:15-20.) God het sy gebed verhoor deur ’n engel te stuur om 185 000 Assiriërs dood te maak.—Jes. 37:36, 37.

16, 17. Hoe kan jy Hiskia navolg?

16 Hiskia het later siek geword en op sterwe gelê. Hy het Jehovah gesmeek om te onthou hoe hy voor Hom gewandel het. (Lees 2 Konings 20:1-3.) Ons weet uit die Skrif dat ons nie in hierdie tyd kan verwag dat God ons wonderdadig moet genees of ons lewe moet verleng nie. Elkeen van ons kan egter, net soos Hiskia, tot Jehovah bid en sê: “Ek [het] in waaragtigheid en met ’n volkome hart voor u gewandel.” Glo jy dat Jehovah jou kan en wil onderskraag, selfs wanneer jy siek is?—Ps. 41:3.

17 Wat is nog ’n manier waarop Hiskia se voorbeeld jou help? Miskien is daar iets wat jou verhouding met God benadeel of jou aandag van ware aanbidding aflei. Ons wil beslis nie diegene in die wêreld navolg wat afgode van mense maak nie. Hulle doen dit moontlik deur sosiale media te gebruik. Party Christene geniet dit dalk om deur middel van sosiale media met hulle familie of hegte vriende te kommunikeer. Maar baie in die wêreld gebruik sosiale media om beroemdes en mense wat hulle nie eers ken nie, te volg. Of hulle spandeer baie tyd daaraan om na foto’s van sulke persone te kyk of oor hulle te lees. Die gevaar bestaan dat ’n mens behep kan raak met onbelangrike dinge. ’n Christen kan selfs trots word omdat baie mense van sy kommentare of foto’s hou en kwaad word as hulle ophou om hom te volg. Kan jy jou voorstel dat die apostel Paulus of Aquila en Priscilla elke dag foto’s sou oplaai of iemand volg wat nie ’n broer is nie? Ons lees dat Paulus “hom intensief met die woord . . . besig [gehou]” het. En Priscilla en Aquila het hulle tyd gebruik om “die weg van God met groter juistheid” aan ander te verduidelik (Hand. 18:4, 5, 26). Ons kan onsself afvra: ‘Vermy ek dit om afgode van mense te maak of om baie tyd aan onbelangrike dinge te spandeer?’—Lees Efesiërs 5:15, 16.

JOSIA HET JEHOVAH SE GEBOOIE GEHOU

18, 19. Hoe kan ons soos Josia wees?

18 Koning Josia, Hiskia se agterkleinseun, het ook Jehovah se gebooie “met sy hele hart” gehoorsaam (2 Kron. 34:31). Toe hy nog ’n tiener was, “het hy die God van sy voorvader Dawid begin soek” en teen die tyd dat hy 20 was, het hy Juda van afgodediens begin reinig. (Lees 2 Kronieke 34:1-3.) Josia het hard probeer om God te behaag. Hy het selfs meer as die ander konings van Juda gedoen. Maar toe die wetboek gevind is wat moontlik die oorspronklike kopie van die Mosaïese Wet was, en vir Josia voorgelees is, het hy gesien dat dit nodig was om God se wil in voller mate te doen. Hy het ander aangespoor om Jehovah te dien. As gevolg daarvan het die volk tydens Josia se lewe “nie daarvan afgewyk om Jehovah . . . te volg nie”.—2 Kron. 34:27, 33.

19 Soos Josia, moet jongmense Jehovah van kleins af begin soek. Berouvolle koning Manasse het Josia moontlik van God se barmhartigheid geleer. Jongmense, kom nader aan getroue ouer persone in jou familie en in die gemeente en vra hulle om jou te vertel hoe goed Jehovah vir hulle was. Onthou ook dat die Skrif Josia se hart geraak het en hom beweeg het om op te tree. Wanneer jy die Woord van God lees, kan dit jou meer vasbeslote maak om Jehovah te gehoorsaam. Dit sal jou vriendskap met God versterk en jou gelukkiger maak. Dit kan jou ook beweeg om ander te help om God te soek. (Lees 2 Kronieke 34:18, 19.) ’n Studie van die Bybel kan jou ook bewus maak van ander maniere waarop jy jou diens aan God kan verbeter. Indien jy agterkom dat jy kan verbeter, moet jy, soos Josia, jou bes doen om die veranderinge aan te bring.

DIEN JEHOVAH MET ’N VOLKOME HART!

20, 21. (a) Wat het die vier konings wat ons bespreek het in gemeen? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Het jy iets geleer uit die bespreking van die vier konings van Juda wat Jehovah met ’n volkome hart gedien het? Hulle het Jehovah se wil ywerig gedoen en was ten volle toegewyd aan hom. Hulle het God se wil bly doen selfs toe hulle voor magtige vyande te staan gekom het. Bowenal het hulle Jehovah uit liefde gedien.

21 In die volgende artikel sal ons sien dat al vier konings wat ons nou bespreek het, foute gemaak het. Maar tog het die Een wat harte ondersoek, gesien dat hulle hart volkome teenoor hom is. Ons is ook onvolmaak. Sal Jehovah, as hy ons ondersoek, tot die gevolgtrekking kom dat ons hom met ’n volkome hart dien? In die volgende artikel sal ons bespreek wat ons uit die foute van hierdie konings kan leer.