Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dissipline — ’n Bewys van God se liefde

Dissipline — ’n Bewys van God se liefde

“Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet.” — HEB. 12:6.

LIED: 123, 86

1. Hoe word dissipline soms in die Bybel beskryf?

WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “dissipline” hoor? Baie mense dink aan straf, maar dissipline behels meer as dit. Die Bybel sê dat dissipline goed is vir ons, en dit word soms saam met kennis, wysheid, liefde en lewe genoem (Spr. 1:2-7; 4:11-13). Dit is omdat God se dissipline bewys dat hy vir ons lief is en ook dat hy wil hê dat ons vir ewig moet lewe (Heb. 12:6). Hoewel sy dissipline soms straf insluit, is dit nooit wreed of nadelig nie. Die betekenis van die woord “dissipline” het hoofsaaklik te doen met opvoeding, soos die opvoeding wat ’n liefdevolle ouer sy kind gee.

2, 3. Hoe kan dissipline opvoeding en straf insluit? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Dink aan die volgende voorbeeld: ’n Seuntjie met die naam Johnny speel met ’n bal in die huis. Sy ma sê: “Johnny, jy weet mos jy mag nie met die bal in die huis speel nie. Jy gaan iets breek!” Maar Johnny luister nie na sy ma nie. Hy hou aan om met die bal te speel en breek per ongeluk ’n blompot. Hoe sal sy ma hom dissiplineer? Haar dissipline kan dalk ’n les en straf insluit. Sy sal hom leer waarom dit wat hy gedoen het, verkeerd was. Sy sal vir hom sê hoekom dit goed is om sy ouers te gehoorsaam en dat hulle reëls nodig en redelik is. Om hom te help om hierdie les te leer, sal sy hom miskien op die een of ander manier straf. Sy sal byvoorbeeld die bal ’n tyd lank van hom af wegvat. Dit kan hom leer dat ongehoorsaamheid gevolge het.

3 As lede van die Christengemeente is ons deel van God se huisgesin (1 Tim. 3:15). Daarom respekteer ons Jehovah se reg om standaarde te stel en om ons liefdevol te dissiplineer wanneer ons ongehoorsaam is. En as ons iets doen wat pynlike gevolge het, sal sy dissipline ons herinner aan hoe belangrik dit is om na ons hemelse Vader te luister (Gal. 6:7). God is baie lief vir ons en wil nie hê dat ons moet seerkry nie. — 1 Pet. 5:6, 7.

4. (a) Watter soort opleiding seën Jehovah? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Deur dissipline te gee wat op die Bybel gebaseer is, kan ons ons kind of ’n Bybelstudent help om die doelwit te bereik om ’n navolger van Christus te word. Ons gebruik God se Woord om hulle “in regverdigheid te dissiplineer” en om hulle te help om ‘alles wat Jesus ons beveel het, te onderhou’ en te verstaan (2 Tim. 3:16; Matt. 28:19, 20). Jehovah seën hierdie soort opleiding omdat dit studente help om ook ander te leer om dissipels van Christus te word. (Lees Titus 2:11-14.) Kom ons bespreek drie belangrike vrae: (1) Hoekom kan ons sê dat God se dissipline ’n bewys van sy liefde vir ons is? (2) Wat kan ons leer uit die voorbeeld van persone wat in die verlede deur God gedissiplineer is? (3) Hoe kan ons Jehovah en sy Seun navolg wanneer ons ander dissiplineer?

GOD DISSIPLINEER ONS UIT LIEFDE

5. Hoekom is Jehovah se dissipline ’n bewys van sy liefde vir ons?

5 Omdat Jehovah vir ons lief is, dissiplineer, onderrig en lei hy ons op sodat ons in sy liefde en op die pad na die ewige lewe kan bly (1 Joh. 4:16). Hy sal ons nooit beledig of ons waardeloos laat voel nie (Spr. 12:18). Hy fokus op ons goeie eienskappe en laat ons toe om ons eie keuses te maak. Kan jy sien hoe die dissipline wat ons deur die Bybel, ons publikasies, ons ouers of die ouer manne kry, bewys dat Jehovah vir ons lief is? Wanneer ouer manne ons op ’n sagmoedige en liefdevolle manier probeer reghelp, selfs voordat ons besef dat ons iets verkeerds gedoen het, is dit ’n bewys van Jehovah se liefde vir ons. — Gal. 6:1.

6. Hoe is dissipline ’n bewys van God se liefde, selfs as ons voorregte in die gemeente verloor?

6 Maar soms sluit dissipline meer as net raad in. As iemand ernstig sondig, sal hy dalk voorregte in die gemeente verloor. Selfs as dit gebeur, is sulke dissipline nog steeds ’n bewys van God se liefde vir ons. Dit sal die persoon byvoorbeeld help om te besef hoe belangrik dit is om meer te fokus op persoonlike Bybelstudie, bepeinsing en gebed. As hy dit doen, kan dit hom help om geestelik sterker te word (Ps. 19:7). Hy sal moontlik later sy voorregte terugkry. Selfs as iemand uit die gemeente gesit word, is dit ’n bewys van Jehovah se liefde, want dit beskerm die gemeente teen slegte invloede (1 Kor. 5:6, 7, 11). En omdat God se dissipline altyd regverdig is, kan dit die persoon wat uitgesit is, help om te verstaan hoe ernstig sy sonde is en hom motiveer om berou te toon. — Hand. 3:19.

JEHOVAH SE DISSIPLINE IS GOED VIR ONS

7. Wie was Sebna, en watter slegte eienskap het hy begin ontwikkel?

7 Om te verstaan hoe belangrik dissipline is, gaan ons na die voorbeelde van twee persone kyk wat deur Jehovah gedissiplineer is: Sebna, wat in die dae van koning Hiskia gelewe het, en Graham, ’n broer in ons dag. Sebna was blykbaar die “bestuurder” oor die huis van Hiskia, en hy het baie gesag gehad (Jes. 22:15). Maar hy het later trots geword en wou ander laat dink dat hy belangrik is. Hy het selfs ’n duur graf vir homself laat maak, en hy het op ‘strydwaens van heerlikheid’ gery! — Jes. 22:16-18.

As ons nederig en bereid is om ons gesindheid te verander, sal God ons seën (Sien paragraaf 8-10)

8. Hoe het Jehovah Sebna gedissiplineer, en hoe het dit hom moontlik gehelp?

8 Omdat Sebna graag belangrik wou wees, het God hom ‘uit sy amptelike pos weggeruk’ en hom met Eljakim vervang (Jes. 22:19-21). Dit het gebeur toe die Assiriese koning Sanherib Jerusalem wou aanval. Later het hierdie koning hoë amptenare en duisende soldate na Jerusalem toe gestuur om die Jode bang te maak en om Hiskia sover te kry om oor te gee (2 Kon. 18:17-25). Eljakim is gestuur om met die amptenare te gaan praat, maar hy was nie alleen nie. Twee ander manne is saam met hom gestuur. Een van hulle was Sebna, wat nou die sekretaris was. Hieruit sien ons dat Sebna blykbaar nie verbitterd of vir homself jammer gevoel het nie. Hy was nederig en het minder belangrike voorregte aanvaar. Kom ons kyk na drie lesse wat ons uit Sebna se voorbeeld kan leer.

9-11. (a) Watter belangrike lesse kan ons uit Sebna se ondervinding leer? (b) Hoe voel jy oor die manier waarop Jehovah Sebna behandel het?

9 Eerstens, Sebna het sy posisie verloor. Sy ondervinding herinner ons dat ‘trots voor ’n ineenstorting kom en ’n hoogmoedige gees voor struikeling’ (Spr. 16:18). Sal jy nederig bly, al het jy voorregte in die gemeente wat ander kan laat dink dat jy belangrik is? Sal jy die eer aan Jehovah gee vir enige talente wat jy het of vir enige sukses wat jy behaal het? (1 Kor. 4:7). Die apostel Paulus het geskryf: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het.” — Rom. 12:3.

10 Tweedens, die streng raad wat Jehovah Sebna gegee het, wys moontlik dat Hy geglo het dat Sebna kon verander (Spr. 3:11, 12). Dit is ’n goeie les vir enigiemand wat voorregte in die gemeente verloor het. In plaas daarvan om kwaad en verbitterd te raak, kan hulle aanhou om Jehovah hulle bes te gee. Hulle kan die dissipline beskou as ’n bewys van Jehovah se liefde. Onthou, as ons nederig bly, sal Jehovah nooit dink dat daar geen hoop vir ons is nie. (Lees 1 Petrus 5:6, 7.) Jehovah se liefdevolle dissipline kan ons vorm as ons nederig en soos sagte klei in sy hande is.

11 Derdens, die manier waarop Jehovah Sebna behandel het, is ’n goeie les vir almal wat in ’n posisie is om ander te dissiplineer, soos ouers en Christenopsieners. Wat is die les? Jehovah se dissipline wys dat hy sonde haat, maar dit kan ook wys dat hy omgee vir die persoon wat gesondig het. As jy ’n ouer of ’n opsiener is, sal jy Jehovah navolg wanneer jy ander dissiplineer deur die verkeerde daad te haat terwyl jy na die goeie in hulle soek? — Jud. 22, 23.

12-14. (a) Hoe reageer party op die dissipline van Jehovah? (b) Hoe het God se Woord ’n broer gehelp om sy gesindheid te verander, en met watter resultaat?

12 Party voel soms so seergemaak nadat hulle gedissiplineer is dat hulle selfs van God en sy volk wegbeweeg (Heb. 3:12, 13). Maar beteken dit dat daar geen hoop vir sulke persone is nie? Kom ons kyk wat met Graham gebeur het. Hy is uitgesit en later herstel, maar het toe geestelik onaktief geword. ’n Paar jaar later het hy ’n ouer man wat sy vriend was, gevra om die Bybel met hom te studeer.

13 Die ouer man vertel: “Graham was baie trots. Hy het foutgevind met die ouer manne wat by sy uitsetting betrokke was. Daarom het ons gedurende die volgende paar studies gekyk wat die Bybel oor trots en die gevolge daarvan sê. Graham het ’n duidelike beeld van homself in die spieël van God se Woord begin kry, en hy het glad nie gehou van wat hy gesien het nie! Die resultaat was ongelooflik! Dinge het gou begin verbeter nadat hy erken het dat trots hom verblind het. Dit was soos ’n ‘balk’ in sy oog. Hy het ook besef dat sy kritiese houding sy probleem was. Hy het die vergaderinge gereeld begin bywoon, God se Woord ywerig studeer en in die gewoonte gekom om elke dag te bid. Hy het ook sy geestelike verantwoordelikhede as gesinshoof aanvaar. Dit het sy vrou en kinders baie bly gemaak.” — Luk. 6:41, 42; Jak. 1:23-25.

14 Die ouer man sê verder: “Eendag het Graham vir my iets gesê wat my hart geraak het. Hy het gesê: ‘Ek ken die waarheid al jare lank, en ek het al selfs gepionier. Maar ek kan nou eers met eerlikheid sê dat ek Jehovah liefhet.’ Kort voor lank is hy gevra om met die mikrofone by die Koninkryksaal te help — ’n voorreg wat hy baie waardeer het. Sy voorbeeld het my geleer dat wanneer ’n persoon nederig is en God se dissipline aanvaar, dit tot baie seëninge lei!”

VOLG GOD EN CHRISTUS NA WANNEER JY ANDER DISSIPLINEER

15. Wat moet ons doen as ons wil hê dat ander ons dissipline moet aanvaar?

15 Om goeie onderrigters te wees, moet ons eers goeie studente wees (1 Tim. 4:15, 16). Net so moet almal wat deur Jehovah gebruik word om ander te dissiplineer, hulle gewillig aan Jehovah se leiding onderwerp. As hulle dit doen, wys dit dat hulle nederig is, en ander sal hulle respekteer en makliker na hulle raad luister. Ons kan uit Jesus se voorbeeld leer.

16. Wat kan ons by Jesus leer oor gepaste dissipline en goeie onderrigting?

16 Jesus was altyd aan sy Vader gehoorsaam, selfs wanneer dit moeilik was om dit te doen (Matt. 26:39). En hy het sy Vader die eer vir sy leringe en wysheid gegee (Joh. 5:19, 30). Omdat Jesus nederig en gehoorsaam was, het dit hom gehelp om ’n goedhartige en sagmoedige onderrigter te wees. Opregte mense het daarvan gehou om na hom te luister. (Lees Matteus 11:29.) Sy aangename woorde het mense vertroos wat mismoedig was en swak gevoel het (Matt. 12:20). Selfs toe Jesus se geduld op die proef gestel is, het hy vriendelik en liefdevol gebly. Ons kan dit sien uit die manier hoe hy sy apostels reggehelp het toe hulle met mekaar gestry het oor wie die grootste onder hulle is. — Mark. 9:33-37; Luk. 22:24-27.

17. Watter eienskappe sal ouer manne help om goeie herders vir die gemeente te wees?

17 Ouer manne moet Christus se voorbeeld navolg wanneer hulle die Bybel gebruik om ander te dissiplineer. Op hierdie manier wys hulle dat hulle deur God en sy Seun gelei wil word. Die apostel Petrus het geskryf: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Pet. 5:2-4). Wanneer ouer manne hulle gewillig onderwerp aan God en aan Christus, die hoof van die gemeente, sal hulle sowel as almal wat onder hulle sorg is, baat vind. — Jes. 32:1, 2, 17, 18.

18. (a) Wat verwag Jehovah van ouers? (b) Hoe help God ouers om hulle verantwoordelikhede na te kom?

18 Wat verwag Jehovah van ouers? Jehovah sê vir gesinshoofde: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). Hoe belangrik is hierdie opvoeding en dissipline? Spreuke 19:18 wys dat ouers wat nie hulle kind dissiplineer nie, verantwoordelik gehou kan word as hy sy lewe verloor (1 Sam. 3:12-14). Maar wanneer ouers Jehovah nederig in gebed vra om hulle te lei en op sy Woord en heilige gees vertrou, sal hy hulle die krag en wysheid gee wat hulle nodig het. — Lees Jakobus 1:5.

LEER HOE OM VIR EWIG IN VREDE TE LEWE

19, 20. (a) Hoe sal God ons seën as ons sy dissipline aanvaar? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 As ons Jehovah se dissipline aanvaar en hom en Jesus navolg wanneer ons ander dissiplineer, sal ons baie seëninge geniet. Daar sal vrede in ons families en gemeentes wees, en almal sal voel dat hulle geliefd en veilig is en waardeer word. Dit is net ’n voorsmakie van al die seëninge wat ons in die toekoms sal ontvang (Ps. 72:7). Jehovah se dissipline leer ons hoe om vir ewig as ’n verenigde familie in vrede saam te lewe, met Jehovah as ons Vader. (Lees Jesaja 11:9.) Wanneer ons dissipline só beskou, sal ons dit sien vir wat dit werklik is: ’n pragtige bewys van Jehovah se liefde vir ons.

20 In die volgende artikel sal ons meer leer oor dissipline in die familie en in die gemeente. Ons sal na selfdissipline kyk, asook na iets wat baie erger kan wees as enige tydelike pyn van dissipline.