Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Doop — ’n Vereiste vir Christene

Doop — ’n Vereiste vir Christene

‘Doop red julle ook nou.’ — 1 PET. 3:21.

LIED: 52, 41

1, 2. (a) Hoe voel party ouers wanneer hulle kind gedoop wil word? (b) Hoekom word doopkandidate gevra of hulle hulle aan Jehovah toegewy het? (Sien prent aan begin van artikel.)

MARIA se ouers het gekyk hoe hulle jong dogter saam met die ander doopkandidate opstaan. Sy het die spreker se twee vrae hard en duidelik beantwoord. En kort daarna is sy gedoop.

2 Maria se ouers is trots op haar omdat sy besluit het om haar aan Jehovah toe te wy en gedoop te word. Maar voordat sy gedoop is, het haar ma gewonder: ‘Is Maria dalk te jonk om gedoop te word? Verstaan sy regtig hoe ernstig dit is om haar aan Jehovah toe te wy? Moet sy nie dalk nog ’n bietjie wag voordat sy gedoop word nie?’ Dit is vrae waaroor liefdevolle ouers wonder wanneer hulle kind gedoop wil word (Pred. 5:5). ’n Mens kan dit verstaan, want toewyding en doop is die belangrikste stappe in ’n Christen se lewe. — Sien die venster “ Het jy jou aan Jehovah toegewy?

3, 4. (a) Hoe het die apostel Petrus verduidelik dat doop belangrik is? (b) Hoekom het Petrus doop vergelyk met die bou van die ark in Noag se dag?

3 Toe Petrus oor doop gepraat het, het hy dit vergelyk met die bou van die ark in Noag se dag. Hy het gesê: “Wat hiermee ooreenkom, red julle ook nou, naamlik die doop.” (Lees 1 Petrus 3:20, 21.) Die ark was ’n sigbare bewys dat Noag God se wil heelhartig wou doen. Noag het die werk wat Jehovah hom gegee het, getrou gedoen. Hierdie daad van geloof het Noag en sy gesin se lewe tydens die Vloed gered. Hoekom het Petrus hierdie vergelyking gemaak?

4 Die ark was ’n bewys van Noag se geloof in God. As mense sien dat iemand gedoop word, weet hulle dat hy homself aan Jehovah toegewy het omdat hy in Christus, wat uit die dood opgewek is, geloof het. Net soos Noag, is toegewyde dissipels gehoorsaam aan God en doen hulle die werk wat hy hulle gegee het om te doen. En net soos Jehovah Noag tydens die Vloed gered het, gaan hy ook almal wat gedoop en lojaal is, tydens die vernietiging van hierdie goddelose wêreld red (Mark. 13:10; Op. 7:9, 10). Daarom is toewyding en doop baie belangrik. ’n Persoon wat sy doop onnodig uitstel, kan sy kans verloor om vir ewig te lewe.

5. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

5 Omdat doop so belangrik is, gaan ons die volgende drie vrae bespreek: Wat sê die Bybel oor doop? Wat moet ’n persoon doen voordat hy gedoop kan word? Hoekom moet ons altyd onthou hoe belangrik doop is wanneer ons ons kinders of ’n Bybelstudent leer?

WAT DIE BYBEL OOR DOOP LEER

6, 7. (a) Hoekom het Johannes mense gedoop? (b) Wie se doop was uniek, en hoekom?

6 Die eerste keer wat doop in die Bybel genoem word, is toe Johannes mense gedoop het (Matt. 3:1-6). Almal wat gekom het om deur Johannes gedoop te word, het dit gedoen omdat hulle berou gehad het oor hulle sondes teen die Wet van Moses. Johannes het die unieke voorreg gehad om Jesus, die volmaakte seun van God, te doop (Matt. 3:13-17). Jesus se doop was nie ’n teken van berou nie, want hy was sonder sonde (1 Pet. 2:22). Sy doop het eerder gewys dat hy gereed was om God se wil te doen. — Heb. 10:7.

7 Nadat Jesus begin preek het, het sy dissipels ook mense begin doop (Joh. 3:22; 4:1, 2). Daardie persone is ook gedoop omdat hulle berou gehad het oor hulle sondes teen die Wet van Moses. Maar ná Jesus se dood en opstanding, sou daar ’n ander rede wees hoekom sy volgelinge gedoop word.

8. (a) Watter opdrag het Jesus sy volgelinge kort ná sy opstanding gegee? (b) Hoekom moet Christene gedoop word?

8 In die jaar 33, kort ná Jesus se opstanding, het hy met meer as 500 mans, vroue en moontlik kinders gepraat. Dit was dalk by daardie geleentheid dat hy die volgende opdrag gegee het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 15:6). Ja, dit lyk asof honderde volgelinge van Jesus daar was toe hy hierdie woorde gesê het. Jesus het ook gesê dat elkeen wat sy dissipel wil wees, of sy “juk” wil neem, gedoop moet word (Matt. 11:29, 30). Elkeen wat God wil dien op ’n manier wat Hom gelukkig maak, moet aanvaar dat Jehovah Jesus gebruik om Sy wil uit te voer. Nadat ’n persoon dit gedoen het, kan hy gedoop word. Dit is die enigste soort waterdoop wat God aanvaar. Daar is baie bewyse in die Bybel dat nuwe dissipels van Christus in die eerste eeu verstaan het hoekom dit belangrik was om gedoop te word. En hulle het nie hulle doop onnodig uitgestel nie. — Hand. 2:41; 9:18; 16:14, 15, 32, 33.

MOENIE JOU DOOP UITSTEL NIE

9, 10. Wat kan ons by die Etiopiese man en die apostel Paulus oor doop leer?

9 Lees Handelinge 8:35, 36. ’n Etiopiese man wat die Joodse geloof aangeneem het, was op pad huis toe nadat hy in Jerusalem was om by die tempel te aanbid. Jehovah se engel het Filippus na hom toe gestuur, en Filippus het “die goeie nuus oor Jesus aan hom bekend gemaak”. Hoe het die Etiopiese man gereageer? Hy het gewys dat hy die waarhede wat hy geleer het, werklik waardeer. Hy wou graag doen wat Jehovah van alle Christene verwag, en daarom is hy dadelik gedoop.

10 Nog ’n voorbeeld is van ’n Joodse man wat Christene vervolg het. Hy was deel van ’n nasie wat aan God toegewy was, maar Jehovah het die Jode verwerp omdat hulle ongehoorsaam aan hom was. Die Joodse man het geglo dat die Jode God nog op die regte manier dien, en daarom het hy die Christene vervolg. Maar eendag het Jesus, ná sy opstanding, persoonlik vanuit die hemel met hom gepraat, en die dissipel Ananias na hom toe gestuur. Hoe het die Joodse man gereageer? Hy het na die Christendissipel Ananias geluister. Die Bybel sê oor hierdie man: “Hy het opgestaan en is gedoop” (Hand. 9:17, 18; Gal. 1:14). Hierdie Joodse man was natuurlik die apostel Paulus. Nadat hy verstaan het dat God Jesus gebruik om Sy wil uit te voer, is Paulus dadelik gedoop. — Lees Handelinge 22:12-16.

11. (a) Hoekom besluit Bybelstudente vandag om gedoop te word? (b) Hoe voel ons wanneer iemand gedoop word?

11 Dit is dieselfde met Bybelstudente vandag, of hulle nou jonk of oud is. Iemand wat geloof het en die waarhede in die Bybel regtig waardeer, wil graag sy lewe aan Jehovah toewy en gedoop word. Die dooptoespraak by ons byeenkomste is ’n spesiale geleentheid waarna almal uitsien. Jehovah se Getuies is baie bly wanneer ’n Bybelstudent die waarheid aanvaar en besluit om gedoop te word. En dit maak Christenouers baie gelukkig wanneer hulle kinders dieselfde besluit neem. Gedurende die 2017-diensjaar is meer as 284 000 persone met die “regte gesindheid” gedoop om te wys dat hulle hulle lewe aan Jehovah toegewy het (Hand. 13:48). Hierdie nuwe dissipels het verstaan dat doop ’n vereiste vir Christene is. Maar wat moes hulle doen voordat hulle gedoop kon word?

12. Wat moet ’n Bybelstudent doen voordat hy gedoop kan word?

12 Voordat ’n student gedoop kan word, moet hy geloof opbou. Hy doen dit deur die waarheid oor God te leer, wat Sy voorneme vir die mensdom is en wat Hy gedoen het om hulle te red (1 Tim. 2:3-6). Sulke geloof help die student om op te hou om dinge te doen wat God haat en om volgens Jehovah se standaarde te lewe (Hand. 3:19). Dit is belangrik, want God sal nie die toewyding van iemand aanvaar wat nog steeds dinge doen wat Hy haat nie (1 Kor. 6:9, 10). Maar ons moet meer doen as om net volgens Jehovah se hoë standaarde te lewe. Iemand wat sy lewe aan Jehovah wil toewy, sal ook vergaderinge bywoon, gereeld die goeie nuus verkondig en ander leer. Jesus het gesê dat sy ware volgelinge hierdie werk sou doen (Hand. 1:8). ’n Student moet eers al hierdie dinge doen. Dan kan hy sy lewe in ’n persoonlike gebed aan Jehovah toewy en gedoop word.

’N DOELWIT VIR BYBELSTUDENTE

Verduidelik jy aan jou student hoe belangrik dit is om gedoop te word? (Sien paragraaf 13)

13. Hoekom moet elkeen wat die Bybel met ander studeer, onthou dat doop ’n vereiste vir Christene is?

13 Terwyl ons ons kinders en Bybelstudente help om hierdie belangrike dinge te doen, moet ons onthou dat iemand wat ’n ware dissipel van Jesus wil wees, gedoop moet word. As ons dit in gedagte hou, sal ons op gepaste tye vir hulle sê hoe belangrik toewyding en doop is. Ons wil hê dat ons kinders en Bybelstudente vordering moet maak en gedoop moet word!

14. Hoekom dwing ons niemand om gedoop te word nie?

14 Niemand moet natuurlik voel dat hulle ouer, onderrigter of iemand in die gemeente hulle dwing om gedoop te word nie. Jehovah dwing niemand om hom te dien nie (1 Joh. 4:8). Terwyl ons ander leer, moet ons hulle help om te verstaan hoe belangrik dit is dat hulle self ’n vriendskap met Jehovah opbou. En wanneer ’n Bybelstudent opregte waardering vir die waarheid het, en werklik die dinge wil doen wat ware Christene moet doen, sal hy gedoop wil word. — 2 Kor. 5:14, 15.

15, 16. (a) Moet jy ’n sekere ouderdom wees om gedoop te word? Verduidelik. (b) Hoekom moet ’n Bybelstudent as een van Jehovah se Getuies gedoop word, al was hy voorheen in ’n ander godsdiens gedoop?

15 Jy hoef nie ’n sekere ouderdom te wees om gedoop te word nie. Elke student is anders. Party maak vinniger vordering as ander. Baie is op ’n jong ouderdom gedoop en is nog steeds getrou aan Jehovah. Ander is heelwat ouer wanneer hulle die Bybel studeer en gedoop word. Party is meer as 100 jaar oud!

16 ’n Bejaarde student het haar onderrigter gevra of dit werklik nodig is om weer gedoop te word omdat sy alreeds oor die jare in verskillende godsdienste gedoop was. Haar onderrigter het vir haar tekste uit die Bybel gewys wat haar vraag beantwoord het. Toe die student verstaan wat volgens die Bybel van haar verwag word, het sy haar kort daarna laat doop. Hoewel sy in haar laat 70’s was, het sy besef dat dit nodig was om haar te laat doop. Hierdie voorbeeld leer ons dat Jehovah slegs ons doop sal aanvaar as ons die waarheid omtrent sy wil verstaan. Nuwe dissipels moet gedoop word, al was hulle voorheen in ’n ander godsdiens gedoop. — Lees Handelinge 19:3-5.

17. Waaraan moet ’n persoon dink op die dag wat hy gedoop word?

17 Die dag wat jy gedoop word, is beslis ’n dag van groot blydskap. Dit is ook ’n tyd om na te dink oor wat jou toewyding en doop beteken. Om alles te doen wat van ’n ware Christen verwag word, is harde werk. Daarom het Jesus ons dissipelskap met ’n juk vergelyk. Sy dissipels moet “nie langer vir hulleself . . . lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is”. — 2 Kor. 5:15; Matt. 16:24.

18. Watter vrae gaan ons in die volgende artikel bespreek?

18 Dit is waaraan Maria se ma gedink het toe sy die vrae gevra het wat in die begin van die artikel genoem is. As ’n ouer, wonder jy dalk ook: ‘Is my kind regtig gereed om gedoop te word? Het my kind genoeg kennis om homself aan Jehovah toe te wy? Moet my kind eers verder gaan studeer en ’n werk kry voordat hy gedoop word? Sê nou my kind maak hom skuldig aan ’n ernstige sonde nadat hy gedoop is?’ Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek en hoe Christenouers die regte beskouing van doop kan hê.