Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help jy jou kind om tot doop te vorder?

Help jy jou kind om tot doop te vorder?

“Waarom talm jy nou? Staan op, laat jou doop.” — HAND. 22:16.

LIED: 51, 135

1. Waarvan wil Christenouers seker wees voordat hulle kinders gedoop word?

“EK HET maande lank vir my ma en pa gesê dat ek gedoop wil word, en hulle het baie met my daaroor gesels. Hulle wou seker maak dat ek weet hoe ernstig my besluit is. Op 31 Desember 1934 het hierdie belangrike dag van my lewe aangebreek.” Dit is hoe Blossom Brandt beskryf wat gebeur het toe sy besluit het om gedoop te word. Vandag wil Christenouers ook hulle kinders help om wyse besluite te neem. Hulle weet dat dit hulle kind se vriendskap met Jehovah kan benadeel as hulle, sonder ’n goeie rede, vir hom sê om nog ’n bietjie te wag voordat hy gedoop kan word (Jak. 4:17). Voordat hulle kind gedoop word, sal dit natuurlik wys wees as ouers eers seker maak dat hy gereed is om ’n dissipel van Christus te word.

2. (a) Waaroor is party kringopsieners bekommerd? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Party kringopsieners is bekommerd omdat daar baie jongmense in hulle laat tienerjare en vroeë 20’s is wat in die waarheid grootgeword het, maar wat nog nie gedoop is nie. Die meeste van hierdie jongmense woon vergaderinge by en doen velddiens. Hulle beskou hulleself as Getuies van Jehovah. Maar vir die een of ander rede het hulle nog nie hulle lewe aan Jehovah toegewy nie en is hulle nog nie gedoop nie. Wat kan die rede hiervoor wees? In party gevalle het ouers vir hulle kinders gesê om eers te wag voordat hulle gedoop word. In hierdie artikel gaan ons vier redes bespreek waarom party ouers nie hulle kinders help om tot doop te vorder nie.

IS MY KIND OUD GENOEG?

3. Waaroor het Blossom se ouers gewonder?

3 Blossom se ouers, wat in die eerste paragraaf genoem is, het gewonder of hulle dogter oud genoeg is om te verstaan hoe ernstig doop is en wat dit beteken. Hoe kan ouers weet of hulle kind gereed is om sy lewe aan Jehovah toe te wy?

4. Hoe kan Jesus se opdrag in Matteus 28:19, 20 ouers vandag help?

4 Lees Matteus 28:19, 20. Soos ons in die vorige artikel gesien het, sê die Bybel nie dat ’n persoon op ’n sekere ouderdom gedoop moet word nie. Maar dit sal goed wees as ouers nadink oor wat dit beteken om ’n dissipel te maak. Die Griekse woord wat in Matteus 28:19 met “maak dissipels” vertaal word, beteken om iemand te leer met die doel om hom te help om ’n student, of dissipel, te word. ’n Dissipel is iemand wat Jesus se leringe leer, dit verstaan en vasbeslote is om aan hom gehoorsaam te wees. Daarom moet Christenouers hulle kinders van kleins af leer met die doel om hulle te help om gedoopte dissipels van Christus te word. Hoewel ’n baba nie vir doop sal kwalifiseer nie, wys die Bybel dat selfs jong kinders Bybelwaarhede kan verstaan en daarvoor lief kan word.

5, 6. (a) Wat kan ons oor Timoteus se doop aflei uit die Bybel se beskrywing van sy lewe? (b) Wat is die beste manier waarop wyse ouers hulle kinders kan help?

5 Timoteus was ’n dissipel wat besluit het om Jehovah te dien terwyl hy nog jonk was. Die apostel Paulus het gesê dat Timoteus van kleins af die waarheid in die Skrif geleer het. Timoteus se pa het Jehovah nie gedien nie, maar sy Joodse ma en ouma het Timoteus gehelp om lief te word vir God se Woord. Daarom het hy baie sterk geloof gehad (2 Tim. 1:5; 3:14, 15). Toe Timoteus omtrent 20 jaar oud was, het hy reeds gekwalifiseer om spesiale toewysings in die gemeente te ontvang. — Hand. 16:1-3.

6 Elke kind is anders. Party kinders vat langer om volwasse te word as ander. Sommige kinders verstaan die waarheid, maak wyse besluite en wil gedoop word terwyl hulle nog jonk is. Ander kinders voel dat hulle gedoop wil word wanneer hulle ’n bietjie ouer is. Wyse ouers sal nie hulle kinders dwing om gedoop te word nie. Hulle sal eerder elke kind help om, volgens sy vermoë, geestelik te vorder. Dit maak ouers baie bly wanneer die woorde in Spreuke 27:11 (lees) hulle kind se hart raak en hy goeie besluite neem. Maar hulle moet altyd onthou wat hulle doel is — om hulle kinders te help om dissipels te word. Met dit in gedagte sal ouers hulleself hierdie vraag wil afvra: ‘Het my kind genoeg kennis om homself aan God toe te wy en gedoop te word?’

HET MY KIND GENOEG KENNIS?

7. Moet ’n persoon elke lering in die Bybel ken voordat hy gedoop kan word? Verduidelik.

7 Ouers wil hê dat hulle kinders die waarheid goed moet verstaan. Hierdie kennis kan kinders die begeerte gee om hulle aan God toe te wy. Maar dit beteken nie dat ’n kind al die besonderhede oor elke lering in die Bybel moet weet voordat hy hom aan God kan toewy en gedoop word nie. Alle dissipels moet aanhou leer selfs nadat hulle gedoop is. (Lees Kolossense 1:9, 10.) Maar hoeveel moet ’n persoon weet voordat hy gedoop kan word?

8, 9. Wat kan ons leer uit die verslag oor Paulus en die tronkbewaarder?

8 Ouers kan leer uit die ondervinding van ’n familie in die eerste eeu (Hand. 16:25-33). In ongeveer 50 HJ, terwyl Paulus op sy tweede sendingreis was, het hy die stad Filippi besoek. Terwyl hy daar was, is hy en sy metgesel Silas valslik beskuldig, gearresteer en in die tronk gegooi. Gedurende die nag het ’n aardbewing die deure van die tronk oopgeruk. Die tronkbewaarder het gedink dat die gevangenes ontsnap het, en daarom wou hy selfmoord pleeg. Maar Paulus het hom gekeer. Paulus en Silas kon die tronkbewaarder en sy familie die waarheid oor Jesus vertel. Wat het die tronkbewaarder en sy familie gedoen nadat hulle die waarheid omtrent Jesus geleer het? Hulle het hulle onmiddellik laat doop. Wat leer ons uit hierdie verslag?

9 Die tronkbewaarder was miskien ’n afgetrede Romeinse soldaat. Hy het nie God se Woord geken nie. Daarom moes hy basiese Bybelwaarhede leer, verstaan wat dit beteken om een van God se knegte te wees en Jesus se leringe gehoorsaam as hy ’n Christen wou wees. Die basiese waarhede in God se Woord wat hy in daardie kort tydjie geleer het, het hom motiveer om gedoop te word. Hy het natuurlik ná sy doop aangehou om te leer. Met dit in gedagte, wat kan jy doen as jou kind vir jou sê dat hy gedoop wil word omdat hy lief is vir Jehovah en aan hom gehoorsaam wil wees? Jy kan vir hom sê om met die ouer manne in die gemeente te praat om te sien of hy kwalifiseer om gedoop te word. * Net soos alle gedoopte Christene, sal hy sy hele lewe lank aanhou om meer oor Jehovah te leer. — Rom. 11:33, 34.

WAT IS DIE BESTE OPVOEDING VIR MY KIND?

10, 11. (a) Wat dink party ouers? (b) Wat is die beste beskerming vir ’n kind?

10 Party ouers dink dat dit beter vir hulle kind sal wees om eers verder te gaan leer en ’n goeie werk te kry voordat hy gedoop word. Hierdie ouers het dalk goeie bedoelings, maar sal dit hulle kind help om regtig suksesvol te wees? Nog belangriker, stem dit ooreen met wat die Bybel sê? Wat sê Jehovah se Woord oor hoe ons ons lewe moet lei? — Lees Prediker 12:1.

11 Ons moet onthou dat hierdie wêreld en alles daarin gekant is teen wat Jehovah dink en wat hy wil hê (Jak. 4:7, 8; 1 Joh. 2:15-17; 5:19). ’n Goeie vriendskap met Jehovah is ’n kind se beste beskerming teen Satan, sy wêreld en die slegte denke wat dit bevorder. As ouers opvoeding en ’n goeie werk te veel beklemtoon, kan ’n kind begin dink dat die dinge in hierdie wêreld belangriker is as hulle vriendskap met Jehovah. Wil jy, as ’n liefdevolle ouer, werklik hê dat hierdie wêreld jou kind moet leer wat hom gelukkig sal maak? Die enigste manier om werklik suksesvol en gelukkig te wees, is om Jehovah eerste in ons lewe te stel. — Lees Psalm 1:2, 3.

WAT AS MY KIND SOU SONDIG?

12. Hoekom wil party ouers hê dat hulle kind moet wag voordat hy gedoop word?

12 ’n Ma het verduidelik waarom sy haar dogter teruggehou het om gedoop te word. Sy het gesê: “Ek skaam my om te sê dat ek dit gedoen het omdat sy dalk uitgesit kon word.” Net soos daardie suster, voel baie ouers dat dit beter is dat hulle kind wag om gedoop te word totdat hy oud genoeg is om dwase foute te vermy (Gen. 8:21; Spr. 22:15). Hulle dink dalk: ‘My kind kan nie uitgesit word as hy nie gedoop is nie.’ Maar hoekom is dit verkeerd om so te dink? — Jak. 1:22.

13. Maak dit iemand minder aanspreeklik voor Jehovah as hy nie gedoop is nie? Verduidelik.

13 Christenouers wil natuurlik nie hê dat hulle kind gedoop moet word voordat hy volwasse genoeg is om sy lewe aan Jehovah toe te wy nie. Maar dit sou verkeerd wees om te dink dat ’n kind nie deur Jehovah aanspreeklik gehou kan word as hy nie gedoop is nie. Hoe so? Omdat God ’n kind aanspreeklik hou vir sy dade wanneer hy weet wat reg en wat verkeerd is in Jehovah se oë. (Lees Jakobus 4:17.) Wyse ouers sal nie hulle kind terughou om gedoop te word nie, maar sal eerder hulle bes doen om ’n goeie voorbeeld te stel. Hulle leer hulle kind van kleins af om, net soos hulle, lief te wees vir wat Jehovah sê reg is en om te haat wat Hy sê verkeerd is (Luk. 6:40). Jou kind se liefde vir Jehovah sal hom beskerm, want hy sal wil doen wat reg is in Jehovah se oë. — Jes. 35:8.

ANDER KAN OOK HELP

14. Hoe kan ouer manne ouers help?

14 Ouer manne kan ouers help deur positief te wees wanneer hulle oor geestelike doelwitte praat. ’n Suster wat meer as 70 jaar lank pionier het, onthou nog ’n gesprek wat sy met broer Charles T. Russell gehad het toe sy net ses jaar oud was. Sy het gesê: “Hy het 15 minute opsygesit om my geestelike doelwitte met my te bespreek.” Ja, positiewe woorde en aanmoediging kan ’n groot invloed op ’n persoon se hele lewe hê (Spr. 25:11). Ouer manne kan ouers en hulle kinders vra om te help met projekte by die Koninkryksaal. Hulle kan die kinders vra om takies te doen wat by hulle ouderdom en vermoëns pas.

15. Hoe kan ander in die gemeente jongmense aanmoedig?

15 Ander in die gemeente kan gepaste belangstelling in jongmense toon. Hulle kan byvoorbeeld kyk of daar enige tekens is dat ’n jong persoon geestelike vordering maak. Het ’n jongmens in die gemeente miskien ’n goeie kommentaar gegee of ’n deel op die vergadering in die week gehad? Het hy dalk vir iemand by die skool getuig of die versoeking weerstaan om iets verkeerds te doen? Wees gou om hom te prys. Ons kan ook ’n punt daarvan maak om voor en ná vergaderinge met jongmense te gesels. Wanneer ons dit doen, sal jongmense voel dat hulle deel is van “die groot gemeente”. — Ps. 35:18.

HELP JOU KIND OM TOT DOOP TE VORDER

16, 17. (a) Hoekom is dit belangrik dat jongmense hulle laat doop? (b) Watter vreugde wil alle Christenouers graag hê? (Sien prent aan begin van artikel.)

16 Een van die grootste voorregte wat Christenouers kan hê, is om hulle kind “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4; Ps. 127:3). Kinders in die nasie Israel was aan Jehovah toegewy toe hulle gebore is. Maar dit is nie dieselfde vir die kinders van Christene vandag nie. En liefde vir God en die waarheid word ook nie oorgeërf nie. Van die dag dat hulle kind gebore word, moet dit die ouers se doel wees om ’n dissipel te maak — om hulle kind te help om ’n toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah te word. Wat kan belangriker as dit wees? Dit is ’n persoon se toewyding, doop en getroue diens aan God wat dit vir hom moontlik sal maak om tydens die groot verdrukking gered te word. — Matt. 24:13.

Dit moet ouers se doel wees om hulle kind te help om ’n dissipel te word (Sien paragraaf 16, 17)

17 Toe Blossom Brandt besluit het dat sy gedoop wil word, wou haar ouers seker maak dat sy reg was vir die belangrikste besluit in haar lewe. Toe hulle seker was dat sy gereed is, het hulle haar besluit ondersteun. Blossom het verduidelik wat haar pa die aand voor haar doop gedoen het. Sy het gesê: “Hy het gevra dat ons almal op ons knieë gaan, en hy het ’n gebed gedoen. Hy het vir Jehovah gesê dat hy baie gelukkig is oor sy dogtertjie se besluit om haar aan Hom toe te wy.” Meer as 60 jaar later het Blossom gesê: “Jy kan seker wees dat ek nooit ooit daardie aand sal vergeet nie!” Ouers, mag julle dieselfde vreugde en tevredenheid ervaar wanneer julle sien dat julle kinders hulle lewe toewy en gedoopte knegte van Jehovah word.

^ par. 9 Ouers kan die goeie raad in Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, bl. 304-310, met hulle kinders bespreek. Sien ook die “Vraebus” in Ons Koninkryksbediening vir April 2011, bl. 2.